Resensie: Noah

  • 1

Noah
Regisseur: Darren Aronofsky
Akteurs:  Russell Crowe, Jennifer Connelly, Anthony Hopkins en Emma Watson

Darren Aronofsky se Noah is ’n fliekbelewenis wat my ’n paar dae sal bybly. Nie oor die visuele skouspel of die toneelspel nie, maar omdat dit my ’n paar dae gaan neem om te besluit wat die regisseur en draaiboekskrywers moes gerook het om hierdie storielyn te kon uitdink.

Maak nie saak of ’n mens uit ’n agnostiese, ateïstiese of godsdiensperspektief daarna kyk nie – die fliek vernietig ’n goeie storie. As Aronofsky by die Bybelverhaal van Noag en die ark gehou het, sou dit ’n goeie fliek kon gewees het – nie oor die inhoud van die verhaal nie, maar omdat al die spesiale effekte slegs ’n element van belaglikheid bydra. As alle verwysings na die Bybelverhaal uitgelaat sou word en ’n mens hier en daar ’n bietjie gespeel het met die ark-storielyn, sou dit goeie sci-fi of fantasie kon gewees het. Want dit lyk asof Aronofsky moeite gedoen het om elemente van omtrent elke groot en minder groot fliek in daardie genres by te werk.

Dié resensie gaan jou een van twee dinge laat besluit:
1. Daar’s geen manier dat jy R58 gaan betaal om dit te kyk nie (nie 3D nie); of
2. Jy gaan nie kan wag om dit te sien nie.

Noag (Russell Crowe) baklei beter as Steven Seagal of Jet Li. Dit sorg vir ’n bietjie kykgenot. Dat hy klere dra wat uit Cape Union Mart se winterreeks kon gekom het, doen wel afbreuk aan die hele genre-geloofwaardigheid. Aan die begin van die storie bly almal in die Boesmanland. Dis net klippe waar jy kyk. Die res van die mensdom eet enigiets wat leef, maar Noag en sy gesin pluk blommetjies en is op ’n meer delikate dieet ingestel. Noag se een seun, Gam (ons weet sommer hy gaan die swart skaap word), pluk ’n blom en word deur sy pa aangepraat dat ’n mens net dit moet vat wat jy nodig het. Enkele minute later maak Noag drie mense dood wat ’n hond/armadillo gejag het. Terloops, dié kreatuur het my onwillekeurig laat dink aan wat ’n mens sou kry as jy ’n vibrator en ’n armadillo sou kruis – ’n armadildo!

Noag se oupa is natuurlik Metusalag (Anthony Hopkins), wat volgens ongegronde bronne 969 jaar oud geword het. Dié bly in ’n grot in die berg en kan blykbaar raad gee oor hierdie einde-van-die-wêreld scenario’s wat Noag sien in drome waarin hy glo die Skepper met hom kommunikeer. Die inligting kom nie altyd so glashelder deur nie, dié dat Noag Oupa se raad gaan vra. Oupa lyk soos die druïde Getafix in die Asterix-boeke en kan ook konkoksies maak en ’n bietjie toor om homself te vermaak. Inderdaad “get-a-fix” toe hy vir Noag tee laat drink wat dieselfde tot gevolg gehad het as sommige onwettige middels wat in my studentejare op kampus beskikbaar was!

Met die arkbouery word Noag bygestaan deur groot Hellboy-agtige klipmonsters wat blykbaar gevalle engele verteenwoordig. Hulle klink ook baie soos die Transformers, maar loop asof hulle knieprobleme en artritis het. Dis nou met dié soort ding dat die belaglikheid mooi vorm aanneem en waar ’n mens glad nie die kloutjie by die oor kan kry met ’n Bybelverhaal nie.

Die bouproses verloop vinniger as by Nkandla en gou-gou staan die houtreplika van die Titanic daar. Die diere het blykbaar die memo gekry en stroom letterlik die ark in – mossies, ganse, makoue, bere, bokke en katte. Almal. (Ek het wel geen pikkewyne, ysbere of muskiete gewaar nie.)

Noag wroeg baie. Moet almal doodgaan, of kan sy gesin bly leef? Die droom was effe vaag oor daardie kwessie. Dit het ook ’n invloed op sy seuns. Sem se meisie, Ila, kan nie kinders kry nie, wat Noag tevrede laat dat sy gesin nie sal voortplant nie en sodoende nie die sonde sal kan laat voortleef nie. Hy glo dis die Groot Gedagte. Gam is nie heeltemal op dieselfde bladsy as sy pa oor hierdie kwessie nie, en dit lei tot geskille, verskille en drama.

Gepraat van drama, dit begin eers as die ark dryf en die wêreld onder water is. Beknopte ruimtes en die reuk van vars dieremis is nie vir almal nie, dus kan ons verstaan dat Noag nie homself voel nie. Voeg daarby die drome en die onsekerheid oor wat hy nou eintlik moet doen, en ons kan hom nie verkwalik nie.

Uiteindelik begin die mens maar weer om die aarde te bevolk en die hele ou (bose) siklus begin van voor af. Kom ons wonder maar nie te veel oor die praktiese aspekte van hoe een gesin dit reggekry het nie. Klaarblyklik was my pa reg: As jy nog nie jou niggie gevry het nie, het jy nog nie gevry nie!
 

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Francois Hill

    Wel ek het nie die voorskou van die fliek so negatief ervaar nie. Ek het actually gedink dat dit nogal cool is dat 'n 'gospel' movie actually so groot is, klomp effects in het en bekende akteurs in het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top