Mandela: Long Walk to Freedom

  • 0

Regisseur: Justin Chadwick
Draaiboek: William Nicholson, gegrond op die gelyknamige boek
Spelers: Idris Elba, Naomie Harris, Terry Pheto, Jamie Bartlett, Fana Mokoena, Gys de Villiers, Deon Lotz

Wat sal ’n mens dit noem: toeval, sinkronisiteit, die Voorsienigheid? Want ’n week nadat hierdie fliek begin speel het, sterf ons oudpresident. Nóú is die tyd om daarna te gaan kyk, en ook om terug te kyk op ons eerste twintig jaar van demokrasie.

Sekerlik die grootste uitdaging wanneer so ’n projek aangepak word, is die omvang daarvan – Nelson Mandela se outobiografie is so dik soos ’n baksteen. Maar die regisseur en draaiboekskrywer, al twee ervare en met groot fliekname op hul kerfstok, kry dit uitstekend reg om met die regte keuse van tonele ’n behoorlike blik op die lewe van dié groot man te gee.

Die fliek handhaaf ’n goeie balans tussen die groter gebeure – die politiek en die struggle – en die persoonlike. Mandela (Idris Elba) se verhouding met sy eerste vrou, Evelyn (Terry Pheto) sowel as Winnie (Naomie Harris) word in detail uitgebeeld. Hy word ook nie as ’n engel voorgestel nie: ’n mens sien hoe hy Evelyn verneuk en rondpluk toe daar ’n stryery tussen hulle ontstaan. Die fliek het my ’n nuwe begrip vir Winnie Mandela gegee, en soos Nelson tereg sê: die verlies aan sy vrou en sy huwelik is al waar die apartheidsregering hom oorwin het.

Die groot vraag is natuurlik hoe die buitelandse akteurs in hierdie ikoniese rolle vaar. Idris Elba: baie goed, met ’n verbasend goeie nabootsing van Mandela se aksent en stem. Naomie Harris: nie so goed nie. Sy het regtig hard probeer met die Suid-Afrikaanse aksent, maar kry dit net nie behoorlik reg nie. En hoewel sy ’n mooi vrou is, het sy nie die tipe skoonheid van die jong Winnie Mandela nie. Interessant genoeg speel sy die ouer Winnie beter.

Berei jou voor op ’n lang sit (140 minute), maar dis noodsaaklik vir elke Suid-Afrikaner om hierdie fliek te sien. Om weer ’n slag behoorlik te kyk na wat agter ons lê, sodat ons beter kan meewerk aan dit wat voor ons lê.

Sterre: 5

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top