Resensie: Krismis van Map Jacobs deur Adam Small

  • 1

Foto: Artslink

Krismis van Map Jacobs
deur Adam Small
Met Maurice Paige, Gail Juta, Marlo Minnaar, Charlton George, Shannon B Williams, Duncan Johnson, Shaun Klaasen, Dean van der Ventel, Whaden Johannes en Latasha Storm.
Regie: André Samuels
’n Produksie van Kunstekaap en Cape Heart Gemeenskap- en Opvoedkundige Teatergroep. Nog In die Kunstekaap Arena op 11–15 Mei om 10:30 en 14:00; 16 Mei om 14:00
        

Dit is ’n uitstekende opvoering hierdie van die voortreflike drama deur Adam Small.

Die spelers se spraak is duidelik; hulle bewegings is doelgerig en verras ook. En deurgaans gló jy in hulle. Want hulle spel is werklik deurleefd; hulle ís die karakters.

Kort-kort het ek ontroerd geraak. Ek wou skryf dat dit in golwe oor my gekom het, maar dit sou darem te oordrewe wees.

Ek was die Donderdagoggend beslis die alleroudste in die gehoor. Om my ’n skare leerders wat hierdie drama moontlik reeds in die klaskamer leer ken het. As Map (Johnnie) Jacobs (Maurice Paige) vir die eerste keer verskyn ná hy op parool tuis gekom het, herken hulle hom, is daar so ’n opgewonde gesis en ligte dreunklanke om hom as ’t ware te verwelkom. Gebeur iets gewelddadigs of word dit gerapporteer, giggel sommiges senuagtig. Vir seker is hulle is mét die gebeure.

Toe hulle op ’n keer volstoom lag, het hierdie omie nie geweet wat so snaaks is nie. Dis toe die “gesondheidsfanatikus en selfaangestelde politieke kommentator” Willy la Guma (Duncan Johnson) beskryf hoe die inwoners hulle grys matchbox-huise verf om hulleself te “identify”: “... die een bright red ennie anner een bright blue, en die een paint ’n eagle op sy deur, en die anner een vir Superman ...” Van hulle het dit seker al gesien.

Ons herbeleef die apartheidsjare. Die mense hier op die Kaapse Vlakte is “simply ýt, ýt, ýt (hulle) eie bietjie history ýt (ge-)bulldoze”. In die “matchbox op matchbox, ... op die kaal sand, where flowers an’ grass don’t grow” probeer hulle nou om hulle te onderskei, op verskillende maniere te laat geld.

Mister Cavernelis (Charlton George) is die netjiese man wat sy mooie, sensitiewe dogter Blanchie (Shannon B Williams) en sy omgeëlliede tweede vrou, Maud (Latasha Storm), uit hierdie “wasteland” wil kry. Dit vra geld en hy maak nie genoeg by die poloniefabriek nie, ook nie met die smousery met “petticoats en panties” in sy “suitcasie” agterop sy alte fênsie fiets nie. Nee, die jagse manne wat heeldag kerrim speel, veral hardgebakte Cyril (Dean van der Ventel) en seunsgesig Richie (Shaun Klaasen), sê dié “haitie-taitie dêrre use” vir Blanchie, laat haar werk in die “massage parlour” en vir die “lonely hearts”. Maar hulle moet pasop! Map kom nou uit die tronk en “ammal moet nou beginne cover-up!”

Map het twaalf jaar gekry vir moord, sewe jaar uitgedien en nou’t hy parool gekry. In die tronk het Apostel George (Marlo Minnaar) hom gehelp om tot inkeer te kom. Hoe ’n soort mens gaan hy nou wees?

Tommy Sobotker (Whaden Johannes) is ’n goeie intrigant. Hy is “gemoedelik van natuur”; hy probeer Cyril-hulle keer as hulle te woes wil raak. Kort-kort herinner hy almal dat Map en die Cavernelis-gesin se gedoentes nie hulle besigheid is nie. Wanneer hy vir Map ontmoet, is hy tog te simpatiek, maar dis hy wat stukkie vir stukkie al die skindernuus deurgee vir Map. Ook van Blanchie se aborsie.

’n Toneeltjie wat my bybly, is juis tussen dié twee. Ek kry dit nie in die oorspronklike teks van 1983 nie. Seker een van regisseur André Samuels se vindingryke ingevoegde bewegings. Tommy smous met “bangles en ringe”. Wanneer Map darem net te na aan sy ware kom, lei ’n mens uit Tommy se bewegings om die goed te beskerm af dat juis hy ook nie vir Map vertrou nie.

Ek vermoed daar is heilsame snitte aangebring in die teks en ook tonele verskuif. Ek verwys nou verder na die oorspronklike tonele se nommers.

Tot die ontroerendste tonele hoort die volgende:

Toneel 3, waar Map in die tronk ontvangs kry van sy ma, Antie Grootmeisie (Gail Juta). Sy wat stom is sedert die nag van die moord. Dit was die eerste keer dat ek bedroef geraak het. Juta dra so baie oor met haar gesigspel en liggaamshouding, en Paige gee soveel wisseling in sy uitreiking na haar.

Toneel 6. Weer in die tronk, waar Apostel George vir Map bearbei voor Antie Grootmeisie. Ek kon dit uiteraard nie vasstel nie, maar is hier nie heelwat gesny aan die gedeelte met al die Bybelse toespelings nie? Die weggelate gedeelte was moontlik bedoel om Map se bekering geloofwaardig te maak. Maar hier kry die gedramatiseerde vertelling oor wat presies gebeur het, sterk beklemtoning. Maurice Paige verdien baie lof vir sy volkome betrokkenheid. Daardie pouserings, die huiwering, die gesigsuitdrukking ... En Apostel se bemoediging wat soos ’n inkantasie klink en Antie Grootmeisie se blote teenwoordigheid.

En dan ’n tegniese hoogtepunt. Dit is met die toneel waar Mister Cavernelis ná die ontstellende botsing tussen Maud en Blanchie die nag inry op sy fiets. Die treinligte kom nader en nader na hom en ook na ons in die gehoor.

Onmiddellik ná die opvoering verskyn al die spelers “in karakter” op die verhoog en kan die leerders hulle aanspreek nie as akteurs nie, maar as karakters, en hulle uitvra. Dis ‘n bekende gebruik binne die teater-in-die-onderwys. Ivan Abrahams slaag baie goed daarin om sake aan die gang te kry en netjies te laat verloop. Hier het die akteurs nogmaals uitstekend gevaar. Hulle almal bly karakteriseer en reageer insiggewend. Antie Maud sal sekerlik vir haar ondervraer, ‘n seunskind, ‘n moeilike, selfs narrige mens bly. Vir die wyer interpretasies betrek Abrahams die twee karakters wat welsprekend van aard is: Apostel George en die aktivis La Guma. Die luidste gelag van die oggend het ontstaan toe ’n leerder vir die “loafers” Cyril en Richie vra wat hulle vir ’n lewe doen. Van die groot ou Cyril moet hy hoor: “Mind your own business!”

  • 1

Kommentaar

  • Anthony Wilson

    Ek wens Litnet wil soms net moeite doen met hierdie soort van resensies (Beoordeling). Gee my 'n Paul Boekooi wat weet waarvan hy praat en skryf en onderlê is in die teater.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top