Resensie: Elysium word hoog aanbeveel

  • 0

Elysium

Regisseur: Neill Blomkamp

Rolverdeling: Matt Damon, Jodie Foster, Sharlto Copley, Brandon Auret, Diego Luna

Neill Blomkamp doen dit weer! Met District 9 het die fliekwêreld behoorlik kennis geneem van hierdie Suid-Afrikaans gebore regisseur, en Elysium behoort sy reputasie finaal te vestig. Met hierdie fliek betree hy die eerste liga.

Die verhaal speel af in 2154. Die wêreld soos ons dit nou ken, is basies vernietig. Daar is nie meer oop stukke veld of wilde diere nie, en die aarde is ontsettend oorbevolk en dig bewoon. Dis net siekte, armoede, ellende en chaos waar jy kyk. Maar lank voor dinge hierdie punt bereik het, het die superrykes verskuif na die ruimtestasie wat hulle laat bou het, Elysium, om daar voort te leef in die gemaklike, lugversorgde vakuum waaraan hulle op aarde gewoond was. Natuurlik is hierdie perfekte stad in die wolke die paradys waarna elke aardbewoner streef, en vir die hoofkarakter Max (Matt Damon) was dit van kleins af ’n hartsbegeerte om na Elysium te gaan. Dis egter bykans onmoontlik, daarvoor sorg die onverbiddelike minister van verdediging, Delacourt  (Jodie Foster). Een van haar bondgenote is Kruger (Sharlto Copley), ’n soort huursoldaat wat namens haar ministerie die nodige opruimingswerk op aarde doen.

Elysium is ’n veelkantige film: wetenskapfiksie, allegorie, toekomsblik, sosiale kommentaar. Dis opvallend on-Amerikaans – die profiel van die VSA se bewoners het lankal verander na Spaanstalig, en die enigste oorblywende Noord-Amerikaners soos ons hulle nou ken, sit in Elysium.

Vir my is die grootste aantrekking van die fliek die wrang humor – van die Quentin Tarantino-soort, maar gelukkig nie ’n nabootsing van Tarantino nie. Kruger en sy bende doen hul werk met ’n tipe uitbundige anargie wat alte bekend is aan Suid-Afrikaners, maar wat oorsese kykers dalk in hul springmielies sal laat stik. En die Afrikaanse woorde wat hulle tussenin gooi, is priceless!

Elysium word hoog aanbeveel. Mense wat nie gewoonlik hierdie tipe film gaan kyk nie (wetenskapfiksie en aksie) kan dit gerus ’n kans gee.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top