Repliek op Pieter Redelinghuys se Afrikanerskapskaal
Op 15 Oktober lewer Pieter Redelinghuys spottenderwys kommentaar oor wat hy reken die tipiese Afrikaner sou wees. Kennelik assosieer hy hom nie met hierdie 'tradisionele' Afrikaner nie; hy en sy 'demokraties-liberale' (Piet Croukamp se klassifikasie) genote is nou die 'Nuwe' Afrikaner, iets wat jy moet wees in Die Nuwe! Verbeterde! Suid-Afrika (erkenning aan Anton Barnard vir hierdie term). Hier volg 'n paar tipiese eienskappe van hierdie Nuwe! Afrikaners:
- Hulle beveel aan dat jy dit moet vermy om jouself 'n Afrikaner te noem; dit gee blykbaar aanstoot. Piet Croukamp noem dit 'verpak'; 'jy moet jouself nie as Afrikaner verpak nie.' Terselfdertyd dring hulle daarop aan dat die bruines ook Afrikaners genoem moet word. Bietjie van 'n anomalie hier; hoe werk dit? Miskien moet hulle ons hieromtrent inlig.
- Hulle speel vir die nuwe gehoor, probeer Browniepunte verdien; maak alles wat as Afrikaans beskou kan word verdag, agterlik en/of belaglik.
- Rep nie 'n woord oor die agteruitgang van Afrikaans en Afrikaanse instellings nie want dit sal veroorsaak dat hulle Browniepunte verloor want dit stel die bedeling, waarvoor hulle hulself beywer het, in 'n swak lig.
- Sprak g'n sprook oor die straat- en dorpnaamveranderinge nie. Om die waarheid te sê, hulle praat dit partykeer nog goed ook. Max du Preez het op 'n stadium gesê ons het ook name verander, hulle (die nuwe regering) kan dit ook mos nou doen.
- Hulle praat goed Engels of probeer hulle bes om goed Engels te praat. Hulle sal liewer tien dode sterf as om uitgevang te word dat hulle nie kan Engels praat nie. Hulle is tot so 'n mate in die verleentheid dat baie van hulle hul kinders Engels grootmaak en die gevolglike verengelsing van die nageslag maak nie saak nie.
- Hulle praat swak Afrikaans. Die ou Afrikaanse stasie is deur hulle gekaap (word nou RSG genoem) en die hoeveelheid Engels neem by die dag toe. Baie van die omroepers se Afrikaans is so swak ek twyfel of hulle standerd 8 Standaard-afrikaans sal deurkom.
- Hulle vermy dit om na die mislukte staat te verwys – brandende bande, vervalle infrastruktuur, klipgooiery, gewelddadige stakings, korrupsie, onbekwaamheid, die soort van ding. Mens kan hulle seker nie kwalik neem nie; hulle het hulself beywer vir die totstandkoming van hierdie bedeling.
- Hulle is paternalisties by uitstek; niks mag gesê word wat as anti-swart vertolk kan word nie. Die arme Annelie Botes en die sogenaamde Reitz-vier was verguis tot in die aarde in. Malema se oproep tot geweld teen wittes is so te sê ignoreer.
- Hulle moet kort-kort daarop wys op die wonderlike en bevrydende gebeurtenis van '94, hoe slegter dit gaan hoe kort-korter verwys hulle daarna. Terselfdertyd maak hulle dan ook weer verskoning vir sogenaamde apartheid.
- Hulle ignoreer grootliks die aanvalle op weerlose plaasmense. Waar hulle nie anders kan nie, waar hulle byvoorbeeld direk daarmee gekonfronteer word, maak hulle dit af as óf gewone misdaad óf as verdiende wraak op die boer óf as ons slegte voorbeeld.
Wat 'n verleentheid. Ek hoop die wêreld daarbuite besef Ons Is Nie Almal So Nie.
Jan Rap