Regsalmanak: Besproeiingspype

  • 1

Fotobron van Jonkershoekvallei: wikipedia

In die Jonkershoekvallei, Stellenbosch, is daar ’n plaas met die mooi naam Konstanz. Die bestuurder van die plaas, ene mnr Kriel, het by ’n onderneming met die naam Pumps for Africa ’n besproeiingstelsel gekoop wat bestaan het uit pompe, pype, kleppe en dies meer. Dié stelsel sou op Konstanz geïnstalleer word.

Pumps for Africa het weer op sy beurt die besproeiingstoerusting gekoop by ’n groothandelaar in Bellville met die naam Spilhaus. ’n Voorwaarde van die kontrak tussen Pumps for Africa en Spilhaus was dat Spilhaus die eienaar van die pomptoerusting sou bly totdat Pumps for Africa daarvoor betaal het. Hiervan het die uiteindelike koper – mnr Kriel van Konstanz – niks geweet toe hy Pumps for Africa se rekening volledig betaal het nie.

Op Konstanz het mnr Kriel die pype, pompe en dies meer aan mekaar gekoppel sodat dit een geïntegreerde stelsel gevorm het. Dele daarvan, soos die vyf kilometer lange pyplyn, is ondergronds gelê en die grond daaroor is gekompakteer. Mnr Kriel het ook ’n pomphuis van bakstene met stewige fondasie en ’n betonvloer opgerig. Twee pompe is in hierdie pomphuis met ankerboute aan die betonvloer vasgebout.

Toe Pumps for Africa nie hulle rekening by Spilhaus betaal nie, het Spilhaus ’n dagvaarding uitgereik en uiteindelik vonnis teen Pumps for Africa geneem. Die vonnis het onder meer bepaal dat Spilhaus daarop geregtig was om die pomptoerusting te gaan verwyder van Konstanz af, want jy moet nou onthou dat Spilhaus eiendomsreg in die pomptoerusting voorbehou het totdat Pumps for Africa daarvoor sou betaal het. Dit is amper soos wanneer ’n mens ’n motor op huurkoop by ’n bank koop: die bank bly die eienaar van die voertuig totdat dit ten volle betaal is. As die koper agterstallig sou raak met sy paaiemente, sou die bank daarop geregtig wees om die voertuig terug te neem.

Toe Konstanz se eienaar van dié toedrag van sake te hore kom, het hy by die hooggeregshof aansoek gedoen vir die tersydestelling van die vonnis en ’n gepaardgaande bevel wat dit bo twyfel sou stel dat die plaas Konstanz wel die eienaar van die pomptoerusting geword het.

Konstanz het sy saak op twee beginsels gebaseer: die eerste was dat die pomptoerusting, wat roerend was, deur aanhegting deel van die onroerende eiendom – die plaas – geword het. Dis ’n ou beginsel in ons reg. Die tweede argument was dat Spilhaus estop, of belet, sou word om sy eiendomsreg teen Konstanz af te dwing. Ek sal dit nou-nou verder verduidelik.

Konstanz se eienaar het sy saak verloor en toe na die hoogste hof van appèl in Bloemfontein geappelleer. Die saak het voor vyf appèlregters gedien, waarna appèlregter Nienaber die hof se interessante uitspraak gelewer het.

Die eerste verweer – dat die besproeiingstoerusting, wat roerend was, deur aanhegting deel geword het van die onroerende eiendom, naamlik die plaas Konstanz – het nie voor die hoogste hof van appèl geslaag nie. Die hof het beslis dat die vraag of losgoed deur aanhegting vaste, onroerende eiendom word, van omstandighede afhang. Geen enkele maatstaf kan vir alle gevalle voorsiening maak nie. Daar is drie toetse: die eerste is die aard van die roerende saak wat aangeheg word. Kan dit maklik geassimileer word, versoen word, met die onroerende eiendom? Die tweede toets is die wyse van aanhegting, soos in die geval van die pompe wat in die pomphuisie op Konstanz vasgebout is. Sou dit maklik verwyder kon word sonder beskadiging van óf die een óf die ander? Die derde toets is die bedoeling waarmee die aanhegting geskied het. Hier het ’n interessante vraag ontstaan: Wié se bedoeling sou deurslag gee? Die eienaar van Konstanz s’n of dié van Spilhaus, wat aangevoer het dat hulle nog steeds eienaar van die goed was?

Op dié punt het die appèlhof uiteindelik beslis dat Spilhaus se bedoeling deurslaggewend was en dat die eienaar van Konstanz nie bewys het dat die pompe, pype en dies meer deur aanhegting deel van die plaas geword het nie.

Daar was egter ’n tweede argument aan die kant van Konstanz se eienaar: hy het aangevoer dat Spilhaus estop – of belet – moes word om sy eiendomsreg oor die losgoed af te dwing. Die argument was dat Spilhaus, deur die goedere aan Pumps for Africa te lewer, by die uiteindelike koper, die eienaar van Konstanz, die indruk gewek het dat Pumps for Africa daarop geregtig was om eiendomsreg in die verkoopte goed aan Konstanz oor te dra. Die voorstelling is op ’n nalatige wyse gemaak, met die gevolg dat die eienaar van Konstanz op grond van dié voorstelling tot sy nadeel gehandel het deur vir die goedere te betaal terwyl Spilhaus daarna nog steeds die eienaar daarvan sou bly en wel tot hy op sy beurt deur Pumps for Africa betaal sou word.

In regstaal word hierdie verweer estoppel genoem. Dit kom daarop neer dat as iemand op ’n skuldige, of nalatige, wyse ’n voorstelling aan iemand anders maak en sodanige persoon op grond van daardie voorstel tot sy nadeel handel, die persoon wat die voorstel gemaak het, hom nie later op die ware toedrag van sake kan beroep nie.

Appèlregter Nienaber het die volgende feite in ag geneem: Spilhaus is ’n groothandelaar wat pompe en ander besproeiingstoerusting aan kleinhandelaars soos Pumps for Africa verskaf. Spilhaus was bewus van die algemene aard van Pumps for Africa se besigheid, naamlik as beplanners en verskaffers van besproeiingstelsels aan boere. Spilhaus het eiendomsreg in die goedere voorbehou, maar nogtans toegelaat dat Pumps for Africa dit aan ’n klant, soos Konstanz, verkoop. Volgens appèlregter Nienaber is dit analoog aan die geval waar ’n eienaar toelaat dat sy eiendom deel word van die handelsware van ’n openbare verkoper wat dit in die gewone loop van sake aan lede van die publiek van die hand sit. Onder dáárdie omstandighede – is meermale in ons reg beslis – kan die eienaar verhinder word om hom teenoor ’n onskuldige derde (wat die voorraad van die handelaar koop) op sy eiendomsreg te beroep.

Uiteindelik wen die eienaar van die pragtige plaas Konstanz dan sy saak op hierdie punt teen Spilhaus en het die appèlhof beslis dat Spilhaus nie geregtig was op teruggawe van die pompe en pomptoerusting nie. Spilhaus moes op die ou end ook nog Konstanz se baas se aansienlike regskoste betaal.

 

  • 1

Kommentaar

  • Waarom is die "vark van die verhaal", Pumps for Africa, nie aanspreeklik gehou vir Spilhaus se verliese nie? Laat my dink aan die mense wat eiendomme oor en oor verkoop en wegloop met wins.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top