RAMfest groter as ooit tevore

  • 0

RAMfest trek ’n nuwe baadjie aan en vier sy wedergeboorte vanjaar. Só vertel Dawid Fourie, die stigter en feesbestuurder van die immergewilde alternatiewe musiekfees.

2012 was ’n jaar van plaaslike feeste wat op verskeie vlakke teleurgestel het, stem hy saam. Juis daarom is hulle opgewonde oor die nuwe uitdagings wat voorlê. Die grootste kritiek wat dié fees verlede jaar moes sluk, was dat Kapenaars nie ingenome was dat hulle feesnaweek tot een dag beperk is nie. “Mense was kwaad daaroor, maar dis okay, want ons is maar net sewe jaar oud en ons leer nog,” sê Dawid. Dit was verlede jaar die eerste jaar wat RAMfest uitgebrei het, en daar was net nie genoeg kunstenaars om in die verskeie stede feeste vir langer as ’n dag te hou nie.  

“Dis moeilik om die line-up te kies, want Suid-Afrika het nie ’n groot verskeidenheid goeie kunstenaars om van te kies nie.” En dis juis dié nuwe baadjie wat die fees wil aantrek, deur jonger kunstenaars van verskillende genres ’n kans te gee.

“Dit help nie jy herwin die ouer groepe oor en oor nie,” sê Dawid. Hy’s veral opgewonde oor plaaslike groepe soos Woodstock Mafia, Beast en Goodnight Wembley. “Dis gesoute musikante, maar met nuwe musiek en jong, opwindende projekte.”

RAMfest het oor die jare bekend geword as ’n fees vir uitsluitlik alternatiewe musiekliefhebbers met meestal metal- en rockmusiek op die verhoog. Hierdie jaar fokus hulle ook veral op Indie musiek met die BOOM verhoog, waar kunstenaars soos Tailor en Red Huxley gaan optree.

Wat die gunstelinge betref gaan Van Coke Kartel ’n 90 minute vertoning bied. “Dit gaan ’n spectacular wees met vuur en ligte.”Die gewilde groep Pendulum, wat in 2010 die eerste groot internasionale groep by hierdie fees was, sal ook vanjaar optree.

Hierdie jaar is RAMfest nóg groter. Oor die internasionale groep Rise Against is Dawid (wat self  ’n groot aanhanger is) baie opgewonde. “Ons probeer al van 2010 af om Rise Against  in SA te kry.” Die Amerikaanse punk rock groep van Chicago gaan vir die eerste keer in Suid-Afrika optree.

Rise Against

“Die fees begin nou sy eie identiteit kry,” sê Dawid wat al sewe jaar lank aan roer van sake is. Dis ’n hele jaar se werk vir hom en sy twee broers, wat die fees vanuit ’n klein kantoortjie in Stellenbosch reël. “RAMfest is nou ’n tiener wat begin kop kry.”

Dit sal die eerste keer wees dat ’n internasionale groep in Port Elizabeth optree. RAMfest vind vanjaar in Kaapstad, Johannesburg, Port Elizabeth en Durban plaas.

Kapenaars sal bly wees om te hoor dat die fees oudergewoonte weer ’n hele naweek sal duur en Johannesburg gaan ook twee dae lank partytjie hou by die Riversands Farm in Fourways.

RAMfest was ook in die nuus toe daar in 2011 ’n groep rowers (geklee in swart soos ninjas) oor die rivier by die Nekkies-kampterrein naby Worcester geswem het en verskeie feesgangers besteel het. “Daar is nie ninjas by die nuwe venue nie,” sê Dawid. “Dis een van die groot redes hoekom ons ’n nuwe venue vir die Kaapstad-naweek gekies het.”

Die nuwe feesterrein is buite Riviersonderend (170 km vanaf Kaapstad). “Dis is een van die mooiste feesvenues wat ek al gesien het.” Met groot bome, grasperke en ’n rivier beloof RAMfest om die standaarde te lig.

Vir meer inligting besoek www.ramfest.co.za of bespreek nou jou kaartjies by Ticketbreak.
 

 

Hier is 'n paar lusmakertjie-video’s vir julle:

 
 

 

Rise Against - "Savior"

 

 

Bring Me The Horizon - "Shadow Moses"

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top