Menings | Opinions

 
R se veelbewoë lewe van sy jeug

Hulle het bitter arm groot geword. Toe hy nog betreklik klein was het hulle in ’n baie klein huisie gewoon in Southdene en op stukkende sponsmatrasse geslaap op ’n sementvloer. Hy het my die plek gaan wys, dis in die bosse in langs die lughawe, nog net die fondamente van die huisies was laas nog daar. Later het hulle aanbeweeg van een armbuurt na ’n ander, soos die owerhede hulle geskuif het.

Sy pa was ’n skisofreen wat nie sy medikasie wou neem nie en hulle baie probleme gegee het. Vir ’n ruk op ’n vroeë stadium het hy nog gewerk by ’n fabriek en vir hulle goed met sy hande gemaak uit metaal, soos voëls vir die tuintjie en ek dink swaaie. Maar later kon hy glad nie meer werk nie en was dit ’n geweldige gesukkel met hom en met hul armoede. Sy ma was dislekties en hoewel hulle almal baie lief was vir haar, kon sy niks doen om te help nie en kon sy ook nie goed kook nie. Die kos was maar taamlik smaakloos, die kinders het later geleer om self te kook.

Soos hy groter geword het, het hy die Nasionale Party, die NGK (dalk alle kerke) en die “Boere” gehaat. Hy was vir die onderdruktes en armes. Maar op omtrent agtien jaar moes hy natuurlik diensplig gaan doen, wat hy gehaat het as deel van die “Boere” (Afrikaner) establishment. Wat kerke betref het hy ondermeer gesê dat sy pa altyd gegaan het na die kerk wat die meeste kos en ander goed gee. Hy het ook al vir my gesê dat, as jy honger is, kom daar nie ’n engel met ’n bord kos uit die hemel uit nie.

Sy dienspligjare was vir hom troumaties. Hy is na Grahamstad gestuur vir sy basies en het dit natuurlik gehaat. Op ’n dag is hy daar weg sonder verlof (AWOL). Hoe hy in PE gekom het, weet ek nie, maar hy het toe vir ’n tydlank gekuier by M, wat saam met ander mense in ’n huis in Parsons Hill gewoon het. Hy en ’n ander jong man besluit toe om duim te gooi Kaap toe en hulle is daar weg. In Knysna gekom was hulle moeg en honger – hulle het geen geld gehad nie. Buite die dorp staan hulle en wag en daar staan melkkanne wat ’n boer daar afgelaai het vir die melklorrie om op te tel. Hulle maak toe een van die kanne oop en drink daarvan. ’n Boer sien hulle en laat die polisie weet. Die boere het blykbaar baie gesukkel met mense wat die melk steel. Toe hulle weer sien, daag die polisie op en arresteer hulle. Hy weet nie wat van die ander outjie geword het nie, want hy het hom nooit weer gesien nie, tot vandag toe.

Hy is toe opgesluit in die plaaslike tronk – nou ’n museum – tot hy moes voorkom. In die hof kry hy later ’n opgeskorte vonnis en word steeds aangehou tot die weermag hom kom haal en na Oudtshoorn neem. Van Oudtshoorn af stuur hulle hom toe onder begeleiding met die trein na Port Elizabeth en hier kom haal ’n ander begeleier hom, wat hom met die trein terug na Grahamstad neem. Op pad spring hy van die stadigbewegende trein af. Gelukkig kom hy niks oor nie en stap toe al met die treinspoor langs, hy sê hy weet nie eens of hy na Noord of Suid of Oos of Wes op pad was nie. So in die veld keer swart plaaswerkers hom voor, hulle is dalk gesê om op die uitkyk te wees vir AWOL-gevalle en hulle hou hom aan totdat die weermag hom weer kom haal.

In Grahamstad kom hy toe voor –  ’n militêre hof – en word gevonnis tot sestig dae in detensie.

Hoe dit gekom het weet ek nie, maar hy word toe Pretoria toe gestuur en werk nou in die kombuis. Daar AWOL hy weer en gaan bly ’n tyd by ’n man in Johannesburg. Hy wou toe weer duimgooi PE toe, maar het nie geld nie en steel ’n ring by die man om dit te verkoop vir kontant. Die man lê ’n klagte, hy word weer gevang en in die hof word hy ses hou met ’n rottang opgelê.

Met die lyfstraf moet sy boude kaal wees en hy lê met sy onderlyf oor iets om sy boude op te lig, dan kry hy ’n soort kussing om agter en onder sy privaat dele in te druk tussen sy bene. Hulle gooi net ’n dun lappie oor sy boude en slaan dan. Op ten minste een plek was sy vel stukkend.

Die uiteinde van sy weglopery en die tye in detensie was dat sy basiese opleiding met die betrokke tydperke verleng is. Later moes hy ook ’n aantal grenskampe doen, een keer was dit twee in een jaar, dan loop hulle patrollie in die bos. By een kamp waar hy was, is hulle in die aand/nag aangeval met mortiere en toe hulle die volgende oggend met trokke die spore volg (die spoorsnyer sit voor buite op die voertuig), het die trok voor hulle oor ’n mynbom gegaan. Die spoorsnyer se bene is afgeruk en hy is dood. R se trok het tot stilstand geruk en hy het sy kop gestamp teen sy geweer, wat hy voor hom regop gehou het.

’n Ander keer het hulle patrollie geloop tot laat middag en ’n helikopter het gekom om hulle op te pik, maar daar was nie plek vir almal nie en hy en een ander outjie moes daar wag tot die helikopter weer kom, natuurlik vrek bang. 

 Ek het hom na sy basiese opleiding ontmoet, saam met M in die straat.

Tydens die kampe het ons gekorrespondeer en het ek vir hom noodsaaklikhede per pakketpos gestuur, een keer ’n flitslig omdat hy bang was vir slange as hy snags toilet toe gaan, hy was te skaam om bedags na die patetiese geriewe toe te gaan.

Sy briewe, wat ek nie meer het nie, was gewoonlik gesensor, met dele uitgekrap met ’n swart Koki-pen.

Gay ou man


Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
CorneliusHenn
2012-12-11 @21:10
Dankie Gay ou man ... so besef ek weereens hoe erg ’n ander se skoene aan my voete sou brand... ’n geseënde Christusfees vir jou en jou geliefdes ... jou broer in Jesus, Cornelius.
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address