Pynstiller – Op soek na die verlossing

  • 0

Op 24 Junie 2009 skep Fanie Viljoen ’n Facebook-groep, Pynstiller, en publiseer die eerste bladsye van die grafiese weergawe van Pynstiller,’n tienerverhaal met die tema van selfskending. Hy nooi Facebook-vriende en -aanhangers om saam te gesels oor selfskending en die eerste reaksies verskyn binne 'n oogwink. Na aanleiding van die tema, en veral die publikasieruimte van hierdie grafiese verhaal, verskyn 'n akademiese artikel in 2012 op LitNet Akademies: Die skrywer en nuwe publikasiekontekste: Interaktiwiteit en wisselwerking in aanlyngemeenskappe – Fanie Viljoen se Pynstiller as gevallestudie. En vroeg-Januarie 2013 heropen die gesprek oor selfskending op die sosiale platform Twitter. #cuttingforbieber blyk net 'n grap te gewees het, maar die tema van selfskending is nog lank nie klaar ontgin nie. Hier gesels Fanie Viljoen self oor sy skep van Pynstiller op die ruimte waar dit tot stand gekom het, terwyl ander kenners gesels oor die sosiale media as publikasieruimte – en, natuurlik, oor die pynlike tema van mense wat hulself sny.

“Sometimes I even cut myself to see how much it bleeds
It's like adrenaline, the pain is such a sudden rush for me.”
“Stan” – Eminem

Dit het begin as net ’n Engelse kortverhaal wat geskryf is vir ’n MML-kompetisie en uiteindelik afgewys is. Vandaar het Pynstiller verskillende gedaantes aangeneem: ’n vertaling in Afrikaans wat opgeneem is in die bundel Skreeu (Lapa Uitgewers), ’n grafiese verhaal as deel van die NWU se Oor die einders van die bladsy-kunsboekprojek, Facebook-groepe in Engels en Afrikaans waar selfskenders kon bieg, en ’n grafiese selfoonverhaal wat sommige lesers ontstel het en ander ’n stem gegee het.

Met elke gedaanteverwisseling het Pynstiller meer lesers bereik en wonde oopgekrap.

Inspirasie
Omdat ek vir die jeug skryf, hou ek my oë oop vir tendense wat vandag vir tieners saak maak. Dalk het ek dit selfs al vroeër gedoen, want iewers in 1999, voor ek ernstig begin skryf het, kry ek ’n e-pos van ’n kollega wat skaars drie treë van my af in die kantoor sit: “Moet vir niemand vertel nie, maar ek sny myself.” Hoekom sy vir my wou vertel, weet ek nie, want ons het bloot saam gewerk en soms lekker gesels. Dalk is hier al ’n saadjie vir Pynstiller geplant.

’n Paar jaar later staan ’n tingerige buurvrou en haar ou voor my. Ons gesels en toe ek afkyk na haar kaal arms, staan die verhewe littekens kruis en dwars oor haar bleek vel uit – seker maklik vyftig op elke arm. Dit was vir my amper bisar; my oë het telkens daarheen teruggekeer om seker te maak ek het reg gesien. Hoe kan ’n mens dit aan jouself doen, het ek bly wonder.

Facebloed
As deel van die kunsboekprojek het ek Pynstiller verwerk na ’n grafiese verhaal en die illustrasies op Facebook geplaas. Die groep het gou lede gekry en ek het hulle uitgenooi om te vertel hoekom hulle hulself sny, maar tog het ek nie verwag dat daar veel reaksie sou wees nie. Ek was daarom verras toe die muurplasings begin kom. Dit was tegelyk ontstellend en fassinerend dat mense hulself só sou blootstel op ’n publieke platform.
Om dit in Afrikaans te lees, was veral ’n skok. Dié ding gebeur met ons eie mense. Jonk en oud. Daar was inskrywings oor selfhaat, die behoefte om pyn te voel, die eensaamheid.

Die groeplede wat ook wou vertel, maar dit meer privaat wou hou, het vir my boodskappe gestuur van hoe hulle selfs hulle geslagsdele sny omdat die molesteringspyn wat hulle van kindertye af saamdra, steeds binne hulle brand.

Is daar ’n streep?
As skrywer wonder ek of ek die projek so ver moes gevat het. Waar trek jy die streep met jou skryfwerk? Selfs vandag, toe ek weer van die opmerkings lees, slaan die hoendervleis oor my lyf uit.

Moet jeugskrywers hieroor stilbly? Of is dit ons taak om die realiteit oop te skryf? Ja, daar is beslis plek vir die sagte onderwerpe en mooiverpakte eindes, maar die tieners van vandag weet dat die lewe se snykant net so skerp soos ’n skeermeslem kan wees. Hulle weet hierdie goed gebeur met hulle en met hulle vriende. Ek sien dit as ek voor hulle in ’n skoolsaal staan en praat oor Pynstiller. Daar kom gewoonlik so ’n stilte oor die ouens en meisies. Party kyk onderlangs na mekaar, sommiges trek hulle skoolhemde se moue af oor hulle hande.

Ander belangstelling
Die belangstelling in Pynstiller het mettertyd begin uitbrei. Esmé van Rensburg van NWU se Sielkunde-departement het die groeplede se opmerkings dopgehou omdat daar nie spesifiek navorsing onder Afrikaanse mense hieroor is nie. Sy het ook raad verskaf aan snyers en mense wat daardeur geraak word. Met haar toestemming het ek die e-pos op die groep geplaas omdat die grafiese roman en kortverhaal se doel nie was om te predik nie.

Franci Greyling het by konferensies oor die boekprojek, en spesifiek ook oor Pynstiller, gepraat. Dit het reaksie ontlok van oorsese konferensiegangers en een het Pynstiller op Facebook onder andere beskryf as: “Een boeiend project, zowel wat vorm als inhoud betreft!”

Selfs die kinder- en jeugboektydskrif Onnimanni van Swede het van Pynstiller te hore gekom en in 2011 daaroor berig.

Wat doen jy nou met jou pyn?
Die Pynstiller-projekte is nou iets van die verlede vir my, maar wat van die selfskenders? Wat maak hulle met hulle pyn as dit nie wil weggaan nie?

Jy kyk jouself in die oë en jy deal daarmee.

Dit sou die maklike antwoord wees. Maar ons mense is komplekse wesens wat nie eens ons eie wese ten volle verstaan nie. Ons ken nie vandag meer grense nie. Die Franse sosioloog Emile Durkheim het in 1893 in sy boek The Division of Labor in Society, en later in Suicide, al gepraat van hierdie normloosheid in die samelewing. Sy teorie van anomie sê dat mense nie meer weet wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar in die samelewing is nie. Dit lei tot afwykende gedrag.

Is dit nie maar waarom sommige mense hulleself vandag sny nie?

Hulle soek die grense van aanvaarbare gedrag, die grense van die lewe.

Hulle wil weet waar die pyn begin en waar dit ophou.

Hulle wil hulle pyn verstaan en hulle soek redding van die pyn, want ander maniere van verlossing werk nie meer vir hulle nie. Hulle kry dit nie in hulle vriende- of familiekring nie, dalk nie in godsdiens nie. Hulle word soekendes, vreemdelinge. Hulle word niks, maar hulle wil iemand wees en hulle wil iets vóél.

Soos die karakter Chris Burns in my boek BreinBliksem ook sê: “Somehow moet ons net partykeer bloei om te sien of ons nog lewe. Want ons word ’n black hole. En niemand sal ons mis as ons nie daar is nie.”

Om die rowe te heel
Wat kan ander mense omtrent selfskending doen? Baie sal skouers ophaal. Dis nie jou probleem nie, dis die snyer s’n. Dis sy of haar familie se probleem.

Liefde en aanvaarding is die temas van Pynstiller. Ja, dit word op ’n skrikwekkende manier vertel, maar dit is wat onder die oppervlak van die kortverhaal lê as jy sou waag om die lemmetjie op te tel en die vel te klief.

Of dit vir jou troos gaan bring, is ’n ander saak. Die emosionele verligting van selfskending hou immers net ’n oomblik of twee.

Besoek Pynstiller op Facebook:
https://www.facebook.com/groups/94259061126/

Bron
http://www.criminology.fsu.edu/crimtheory/week8.htm

 


Keer terug na die indeksblad van die webseminaar om nog bydraes te lees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top