Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma: ’n Verkenning van Verkenning

  • 1

 

Opsomming 

Traumateorie is vandag ’n belangrike benaderingswyse in die geesteswetenskappe, deels omdat dit ook aspekte van die poststrukturalistiese teorie ondervang. ’n Poststrukturalistiese perspektief op trauma sou byvoorbeeld kon beteken dat die geskiedenis in geheel “gelees” word as traumaties, aangesien trauma nie histories gespesifiseer word nie, maar eerder ontologies gedefinieer word. In hierdie artikel word hierdie twee aspekte van traumateorie (trauma as histories vasstelbare gegewe en trauma as algemene, ontologiese begrip) geïllustreer aan die hand van die postkolonialisme. Postkoloniale teorie betrek onder meer die “traumatiese” ingreep van die koloniale benadering tot die gekoloniseerde, veral in terme van spesifieke historiese gebeure. Tog is ’n belangrike dimensie daarvan ook die koloniale representasie van die “Ander” wat geproblematiseer word. Laasgenoemde kan in verband gebring word met die soortgelyke wyse waarop ontologiese trauma representasie oor die algemeen problematiseer. Die wyse waarop traumateorie aangewend kan word om die postkoloniale diskoers te belig, word voorts aan die hand van die postkoloniale roman Verkenning, deur Karel Schoeman, ondersoek en geïllustreer.

Abstract

Postcolonial literature and the representation of trauma: An exploration of Verkenning

Trauma theory has today become one of the most important theoretical approaches in the humanities, partly because of its ability to include aspects of poststructuralist theory. A poststructuralist view of trauma would mean, for instance,  that the whole of history is “read” as being traumatic, since trauma is not historically specified, but rather defined in ontological terms. In this article these two aspects of trauma (trauma seen as a specified, historical event and trauma as a general, ontological concept) are illustrated with reference to postcolonialism. Amongst others postcolonial theory deals with the “traumatic” impact of the colonial approach on the colonised, especially in terms of specific historic events. But another important aspect deals with the problematic nature of the colonial representation of the “Other” which is brought to the fore. The latter can be linked to the similar way in which ontological trauma presents the difficulties of representation in general. The postcolonial novel Verkenning, by Karel Schoeman, is subsequently used to examine and illustrate the way in which trauma theory can shed some light on the postcolonial discourse.

1. Inleiding

Die impak van traumateorie en “traumastudies” het oor die afgelope twee dekades met rasse skrede binne die kader van, en geïnstitusionaliseerd binne, die geesteswetenskappe toegeneem.1 Een van die belangrikste redes hiervoor is dat traumateorie as benaderingswyse nie uitsluitlik gebruik word om oor spesifieke, historiese insidente te besin nie, maar in navolging van die poststrukturalistiese denke2 ook gesien word as sou dit ’n algemene, epistemologiese problematisering van representasie ondervang. Hiervolgens sou die verlammende “krisis” waartoe die poststrukturalistiese teorie lei, in traumateorie ’n parallel vind: “Caruth finds a parallel between the deadlock of contemporary theory and the paralysis – physical, emotional, epistemological, and narrative – that lies at the heart of the experience of trauma” (Murphy 2004:59).

Die verband tussen dié twee invalshoeke, naamlik trauma as algemene, epistemologiese teorie en die teoretisering van trauma as unieke, empiriese gebeurtenis, sou gedemonstreer kon word deur sommige hedendaagse perspektiewe wat op die geskiedenis en geskiedskrywing gerig is: traumateorie word gebruik om die verlede nie uitsluitlik as eenmalige geskiedenis te verstaan nie, maar ook om dit as traumatiese herinnering, as “memory”, te beleef (kyk o.a. Van Boheemen-Saaf 1999:17). Geskiedenis sou hiervolgens nou per definisie as traumaties getipeer word. Die nadraai van hierdie tipe standpunte is die gevaar dat traumateorie kritiese denke kan koloniseer, sodat dit uiteindelik as ’n nuwe en groots opgesette meesternarratief aangewend word.3

Hierdie artikel stel hom nie ten doel om die ontwikkeling van traumateorie binne die geïnstitusionaliseerde akademiese konteks na te spoor nie, nóg om die verbande wat met die poststrukturalisme gelê kan word, uitvoerig te bespreek.4 Die artikel fokus eerder op die produktiewe kruisbestuiwing wat kan plaasvind tussen literêre traumarepresentasie en postkoloniale teorie. Want uiteindelik moet gepoog word om te waak teen die gevare verbonde aan ’n suiwer poststrukturalistiese benadering tot trauma. Wel kan die poststrukturalistiese dimensie nie heeltemal geïgnoreer word nie, aangesien die bestaande kritiese besinning oor die verhouding tussen poststrukturalisme en postkolonialisme ook relevant, maar kompleks en dikwels ongemaklik is. As voorbeeldteks om hierdie literatuurteoretiese betoog verder te belig, maak ek van die reisroman Verkenning deur Karel Schoeman (1996) gebruik.

2. Trauma

Bondig saamgevat kan twee interpretasies van trauma aangedui word: ’n geredelike konsensus bestaan dat trauma ontstaan wanneer ’n unieke historiese gebeurtenis nie sinvol deur die individu of kollektiewe groep ervaar, gerepresenteer en aan ander gemedieer kan word nie – ’n verskynsel wat LaCapra “historiese trauma” noem (2001:77–8). Tweedens kan trauma byna metafisies gelokaliseer word as ’n ontologiese modus van elke mens se bestaan. Die uniekheid van ’n eenmalige historiese gebeurtenis speel hier geen rol meer nie (of slegs ’n ondergeskikte rol), en die fokus verskuif na ontologiese voorveronderstellings oor die menslike bestaan. Soos wat die sondeval in ’n Christelike tradisie by hierdie idee van ’n “oorspronklike” of “ontstaans”-trauma aansluit, so vind dit byvoorbeeld ook neerslag in die sogenaamde “oorspronklike trauma” in die psigoanalitiese sin van die woord;5 LaCapra verwys na hierdie opvatting as “strukturele trauma”,6 en een van die vernaamste hedendaagse beskrywings van laasgenoemde interpretasie kan gevind word in Žižek (1989) se herlesing van die Lacaniaanse “Real”.7 Hierdie twee interpretasies, dit wil sê trauma histories en struktureel gedefinieer, is in die praktyk saamgevleg, maar beide veronderstel dat die diskursiewe vermoëns voorwaardelik vir sinvolle assimilasie, interpretasie en representasie oorskry word en dat ’n “deadlock of signification” ontstaan (Van Boheemen-Saaf 1999:14, 61). Trauma is dít wat nie sinvol gerepresenteer kán word nie.8

3. ’n Poststrukturalistiese nadraai?

Bostaande definisies van trauma kan slegs water hou indien die “linguistic turn” van poststrukturalistiese teorie as gegewe beskou word. Want enersyds berus dit op die oortuiging dat die werklikheidservaring, en die konstruksies wat dit onderlê, diskursief van aard is. (Hierdie sluit konstruksies van identiteit, die “Ander”, subjek-objek-konstruksies, binêre opposisiepare, seksualiteit,9 ens. in.) Andersyds berus dit egter op ’n dekonstruktiewe skepsis oor die vermoë van taal om enigsins die volle betekenis van die werklikheid te kan ontsluit (Dubiel 2007:127).10

Indien, soos hier bo genoem, trauma nie gerepresenteer kán word nie, draai die hele traumaproblematiek om representasie en dus om dieselfde diskursiwiteit wat sekerlik die belangrikste steunpilaar van poststrukturalistiese denke is. Deurdat, in poststrukturalistiese vaktaal, die een-tot-een-korrelasie tussen betekenaar (of representasie) en betekende (of gerepresenteerde) bevraagteken word (in traumateorie ook histories en ontologies, in poststrukturalisme veral epistemologies), is enige representasie noodwendig eerder metonimies as metafories van aard (Žižek 1989:154).11 Indien dit van toepassing gemaak word op ’n historiese trauma, beteken dit dat die spesifieke trauma nie indeksikaal of metafories gerepresenteer kan word nie. By die suiwer poststrukturalisme (en dus ook by ’n meer ontologiese opvatting van trauma as strukturele gegewe) gaan dit natuurlik oor representasie oor die algemeen. Die strukturele ooreenkomste tussen traumateorie en poststrukturalisme is ooglopend.12 Die vraag is nou: Waar pas postkolonialisme in?

4. Postkolonialisme

Die term postkolonialisme word in die teorie nie altyd eenduidig aangewend nie: die post- word óf histories gebruik as aanduiding vir ’n tydvak wat chronologies volg op kolonialisme, óf as ontwikkelinge wat parallel daarmee plaasvind. Verder kan dit óf as beskrywend van bestaande sosiopolitieke (of -kulturele) omstandighede dien, óf programmaties gebruik word om die aftakeling van beide diskursiewe en sosiopolitieke koloniale strukture in antisipasie van ’n postkoloniale toekoms te beskryf.13 Etiese kwessies oor die definisie en benoemde funksies van postkolonialisme vanuit ’n Westerse “koloniale” perspektief tersyde gelaat, omskryf Dubiel (2007:23) dit breedweg as die programmatiese en verteenwoordigende teoretiese en praktiese opposisie teen historiese en huidige vorme van diskursiewe geweld van die koloniale diskoers.14

Ek wil hier graag fokus op die rol van taal, aangesien postkolonialisme, veral in die literêre teorie, grootliks fokus op die diskursiewe geweld waarin sosiopolitieke magsrelasies gesentreer is; hoe hierdie relasies van dominasie voortspruit uit die wyse waarop die gekoloniseerde of “Ander” gerepresenteer word, en die koloniseerder of Europese subjek sy eie identiteit in terme daarvan opstel.15 In weerwil daarvan dat die koloniseerder wel gekonfronteer word met sy onvermoë om die “Ander” te representeer, geskied koloniale representasie tog in terme van binêre opposisiepare, waar die koloniale subjek (of soewerein representerende “Ek”) (Köhler 2006:17) sigself opstel in terme van sy representasie van ’n gekoloniseerde objek.16 Maar sulke opposisiepare, as resultaat van denke in terme van binêre strukture (Köhler 2006:17), kan slegs gestabiliseer en voorts geïnstitusionaliseer word wanneer die representasie van die “Ander” metafories vasgestel word: dit beteken diskursief gestereotipeer word. Taal speel natuurlik ook op ’n ander wyse ’n belangrike rol: die gekoloniseerde word sy taal ontneem of van sy taalhegemonie onthef deur die koloniale ingreep (Van Boheemen-Saaf 1999:15, 63). Waar laasgenoemde betreklik maklik histories vasstelbaar is (as ’n unieke historiese gegewe met die gekoloniseerde as slagoffer), dui eersgenoemde op ’n algemene problematisering van representasie: Hoe representeer ek die “Ander”, en myself in terme daarvan? Of om dit in koloniale terme te stel: Hoe koloniseer ek die “Ander” met my representasie, en myself in terme daarvan?

Die postkoloniale teorie veronderstel egter ’n algehele problematisering en gevolglike relativering van denke en strukture in terme van binêre opposisiepare. Dit gebeur op drie wyses: die problematisering van die eie (koloniseerder-) identiteit; die problematisering van die identiteit van die “Ander”; en die problematisering van diskursiewe representasiestrategieë om enersyds beide voorafgaande en die verhouding tussen die twee te kan uitdruk. Daar word binne die postkoloniale diskoers ’n bewussyn geskep, nie net vir die “Ander” as deel van die eie identiteit nie,17 maar ook vir die transferensie van aspekte van die subjek-identiteit op die “Ander”. Dubiel (2007:168) stel dit in sy studie baie mooi:

Erstens: Du brauchst mich, denn ohne meine Existenz könntest Du nicht annehmen zu sein, was Du zu sein behauptest. Zweitens: Weil Du mich aber brauchst, um vor mir zu fliehen, kennst Du mich nicht. So muß, was Du in mir zu sehen glaubst, aus Dir selbst kommen. (Sy kursivering)18

Daarom stel hy dit ook duidelik: die “Ander” kán nie geken word nie – selfs ’n beginsel soos hibriditeit moet nie simplisties gesien word as die sintese tussen die eie en die “Ander” nie, maar eerder as die analise van die tese (eie) in terme van die antitese (“Ander”), wat “Differenz”, oftewel die onderskeidende verskille, juis na vore bring (Dubiel 2007:169). Dit gebeur deur sensitief te wees vir die feilbaarheid van representasie en juis hierdie feilbaarheid en gevolglike voorlopigheid van enige representasie te verreken.

Volgens hierdie argumentasie bevind ons ons gevolglik weer terug by die poststrukturalistiese taalskepsis – daarom word die ooreenkomste tussen beide teoretiese perspektiewe baie duidelik aangedui.19 Hutcheon wys hierop:

While I want to argue here that the links between the post-colonial and the postmodern are strong and clear ones, I also want to underline from the start the major difference, a difference post-colonial art and criticism share with various forms of feminism. (1989:150)

Hutcheon sien hierdie verskil in terme van sosiale en politieke aspekte wat in die postkolonialisme ’n praktiese rol speel, iets wat dus verder as blote tekstuele dekonstruksie strek.

Ek wil hier egter ook ’n ander aspek belig: die wedersydse belang van postkolonialisme en traumateorie vir mekaar. Gegewe die algemene “strukturele” definisie van trauma of die algemene postkoloniale problematisering van die representasie van die “Ander”, word dit belangrik om te verhoed dat beide in ’n tekstuele différence versand. Albei moet ook in terme van ’n historiese uniekheid histories geanker word. Die ooreenkomste in die wyses waarop trauma gerepresenteer word en hoe postkoloniale tekste daar uitsien, wys op ’n verband tussen die twee wat nie net epistemologies en ontologies nie, maar ook histories verdedigbaar is en moet wees. Die veralgemenende teoretiserings moet prakties met historiese werklikhede in verband gebring word, sodat trauma nie net struktureel nie, maar ook histories vasstelbaar is.

5. ’n Representasiemodel

Koloniale representasie vind plaas vanuit die veronderstelling van ’n totalitêre verligtingsideaal: alles wat “vreemd” is, ook die “Ander”, word in die beskrywing daarvan en skep van kennis daaroor geapproprieer (“usurpasie”) en in terme van ’n meesternarratief in die kleine verabsoluteer (deur “dichotomie”) (Dubiel 2007:88). Postkoloniale representasie daarenteen veronderstel die teendeel: vertroue in ’n skynbaar finale en outentieke representasie van die vreemde en die “Ander” ontbreek, aangesien ’n selfrefleksiewe onsekerheid ontstaan oor die vermoëns en moontlikhede van tradisionele vorme van waarneming en die gevolglike kennis wat daarop gebaseer is (Dubiel 2007:90, 63). Die fokus verskuif dus tipies poststrukturalisties vanaf dít wat gerepresenteer kan word na die moontlikhede om dit te kán representeer – tesame met ’n bepaalde relativering van die subjek-posisie20 van waaruit waargeneem en beskryf word.21 Dit manifesteer in ’n aantal narratiewe strategieë wat onder die noemer van ’n hibridisering van die teks saamgevat sou kon word.22 Per slot van rekening sou die “Ander” of vreemde nie in geheel nie, maar bloot by benadering gerepresenteer kon word.

Hier word ook die ooreenkoms met die representasie van trauma duidelik, want soos vermeld, is ook trauma dít wat nie sinvol gerepresenteer kán word nie, nietemin slegs by benadering, dit wil sê metonimies. Die mees produktiewe representasie van trauma sou getipeer kon word as ’n selfrefleksiewe representasie of demonstrasie van trauma se onrepresenteerbaarheid: dus ’n representasie wat die suggestie laat dat dit tekortskiet en feilbaar en voorlopig is.23 Júis hierdie selfrefleksie oor die feilbaarheid van representasiestrategieë demonstréér die traumatiese aspek van trauma op metonimiese wyse.24 In stede daarvan om dus die trauma met ’n korrelerende teken (representasie) te benoem, suggereer die bewustelike markering van die teken se tekortkominge die ontglippende “sublieme aard” van die trauma. Hiervolgens sou die spore wat die trauma nalaat, wel gelees kon word, maar sou die trauma as sodanig daarenteen enige vertroue in finale representasies oorweldig.

Hierdie metonimiese wyse van representasie, dus eerder ’n taalperformatiewe demonstrasie van betekenis as mimesis, word in poststrukturalistiese terme deur De Man (in Murphy 2004) beskryf:

[W]e have been aware of something which one could call progression – though it shouldn’t be – a movement, from cognition, from acts of knowledge, from states of cognition, to something which is no longer a cognition but which is to some extent an occurrence, which has the materiality of something that actually happens, that actually occurs [...] But then that doesn’t mean [...] that the performative function of language will then as such be accepted and admitted. It will always be reinscribed within a cognitive system, it will always be recuperated, it will relapse, so to speak, by a kind of reinscription of the performative in the tropological system of cognition again. (Murphy 2004:60; kyk ook 61)

Die performatiwiteit van taal maak dit moontlik om die onrepresenteerbare metonimies te demonstreer, juis in terme van die niesemantiese representasie daarvan. Sodoende ontstaan wat Van Boheemen-Saaf (1999:1) ’n “traumatiese diskursiwiteit” noem, die “mimesis van verlies” (1999:11).25 Maar hierdie taalperformatiewe aspek wat deur De Man beskryf word, is natuurlik onderliggend aan diskursiwiteit oor die algemeen, en énige teks se taalperformatiwiteit sou dus ook betekenis anderkant die semantiese veronderstel. Met betrekking tot trauma en postkolonialisme kan dit natuurlik in verband gebring word met die onrepresenteerbaarheid van die “vreemde” of “Ander” en die historiese of ontologiese traumatiese ervaring.

Maar die gevaar verbonde aan ’n “traumatiese lees” van taalperformatiwiteit is ooglopend, want alle representasie sou hiervolgens op metonimiese wyse trauma impliseer. Die verdere gevaar is dat dít dan oor die boeg van ’n ontologiese definisie van trauma gegooi word, waarvolgens almal dan ook getraumatiseer en ook slagoffers is. En as alles trauma is, wat is trauma? Daar bestaan dus etiese kwessies wanneer trauma nié in terme van die historiese uniekheid daarvan gesien word nie. Postkolonialisme aktiveer beide ontologiese en epistemologiese, asook die empiriese en historiese aspekte van trauma. Want nie net is die koloniale trauma ’n spesifieke historiese gebeurtenis nie, maar pogings tot die representasie daarvan belig ook die ontologiese aspekte van hierdie trauma. Sodoende kan traumateorie ’n uiters produktiewe blik werp op postkoloniale teorie, aangesien dit die geabstraheerde poststrukturalistiese teorie rondom taalperformatiwiteit onder die sambreel van traumateorie stewig kan vasmaak aan daadwerklike historiese gebeurtenisse, sonder om die algemene ontologiese geldigheid daarvan te versaak.

6. Verkenning

Die reisroman Verkenning deur Karel Schoeman (1996) is ’n fassinerende en veelvlakkige werk wat nie gereduseer kan word tot die paradigma van traumarepresentasie of postkolonialisme nie, maar tog as relevante demonstrasie gebruik kan word om die tema onder bespreking verder toe te lig. Ek fokus hier uitsluitlik op aspekte van die werk wat vir hierdie problematiek relevant is, en meer bepaald op drie fasette van “verkenning”, oftewel die “handeling van verken”: eerstens die reisverhaal, wat op verhaalvlak ’n verkenning van die Bataafse kolonie vertel; tweedens die vertelinstansie se verkenning van “hierdie land”, oftewel die geskiedenis van Suid-Afrika; en veral laastens die selfrefleksiewe of performatiewe verkenning van die representasiestrategieë wat metatekstueel so ’n belangrike funksie in die roman vervul. Hierdeur poog ek om enkele aspekte van die werk wat relevant is tot kolonialisme, postkolonialisme en trauma (beide histories en ontologies gesien) in fokus te bring.

6.1 Verkenning op verhaalvlak

Verkenning is ’n postkoloniale, metafiksionele roman wat op verhaalvlak ’n reis26 na die binneland van Suid-Afrika deur ’n anonieme hooffiguur beskryf. Dié vreemdeling en buitestander, ’n Nederlandse boorling, word met sy aankoms in die Bataafse republiek in 1804 deur die goewerneur, Jan Willem Janssens, gevra om ’n tog na die binneland van die kolonie te onderneem. Janssens stel dit soos volg:

“Wat  ek benodig, wat ek op die oomblik dringend benodig, is ’n onafhanklike en onpartydige waarnemer in wie ek vertroue kan stel en wat my noukeuriger oor die situasie in hierdie deel van die volksplanting sal kan inlig as wat die plaaslike ampsdraers dit reeds doen [...]. [S]ou u bereid wees om in u privaat hoedanigheid ’n reis van enige weke na die grensdistrikte te onderneem en op informele wyse aan my verslag te lewer aangaande u waarnemings en gevolgtrekkings?” (32)

As gekultiveerde Europeër27 ervaar die hoofkarakter hierdie reis eers as uitdaging,28 wat vinnig verander in ’n gevoel van oorweldigende konfrontasie met die vreemde, wat lei tot ’n bepaalde singewende disoriëntasie29 en uiteindelik eindig met ’n berusting (of ongeërgdheid) jeens sy opdrag en eindbestemming.30 In die geselskap van ’n enigmatiese mede-Europese reisgenoot sterf hy teen die einde van die roman, die slagoffer van ’n inboorling-gifpyl, op die “limiete” van die kolonie.

Hoewel Schoeman se teks die reis vanaf Kaapstad, via Stellenbosch, Roodezand, Zakrivier, Graaff-Reinet en tot “op die limiete” van die Bataafse kolonie volg, vertoon die teks self ’n fragmentariese aard deur talle intertekstuele verwysings waarvan ’n lys bronne aan die einde van die roman verskyn.31 Hierdie verwysings sluit ’n hele aantal koloniale reisbeskrywings in, wat dan in kursiefgedrukte gedeeltes in die teks ingeweef word. Sowel historiese as fiktiewe karakters verskyn in die roman, asook ’n ryk verskeidenheid afwisselende “taalfragmente, sosiolekte, idiolekte en taalregisters” (Van Vuuren 2002:273).

Op verhaalvlak word die hoofkarakter op sy verkenningstog egter gekonfronteer met tipies koloniale aspekte van die samelewing en die kolonie. Dit gaan hier dus oor histories vasstelbare gegewens – in terme van ’n traumadiskoers dus ’n historiese trauma.

Ek vermeld hier ’n aantal voorbeelde. Binne die verhaalkonteks is slawerny ’n sosiale gegewe – die meeste van die (fiktiewe óf historiese) karakters besit slawe, selfs baie van diegene wat oortuigde ondersteuners van die kerk of sending in die Kaap is. Die Christelike geloof skyn absoluut versoenbaar te wees met die praktyk van slawerny; die houding van die kolonialiste jeens die slawe wissel van neerbuigendheid32 tot brutale geweld,33  en die slawe self geld as voorwerpe van potensiële seksuele plesier34 of ekonomiese kommoditeite.35 Die slawe word gestereotipeer36 en die koloniale identiteit in terme van binêre opposisie bevestig. Dieselfde, en soveel te meer, geld die inheemse bevolkingsgroepe – hier funksioneer die inwoners egter ook as potensiële navorsingsobjek.37 Geweld en brutaliteit38 is hier die vernaamste manifestasie van koloniale gedrag, en veral die derdepersoonsverteller vermeld by herhaling die gevolge van die enorme koloniale ingreep op die binneland van Suid-Afrika, byvoorbeeld (in die mond van Lichtenstein) “die stelselmatige uitroeiing van die Bossiesmans, wat soos wilde diere oor die veld agternagesit word” (99).39 Selfs die hoofkarakter se dood geskied nadat ’n kommando jag gemaak het op van die inheemse bewoners.

Die gevolge hiervan word in geen onduidelike terme gestel nie:

Die stamme raak verstrooi, die krale verbrokkel, die plekke waar hulle eens gestaan het, nie meer uitkenbaar nie, en uiteindelik kan selfs die oudste van die oorlewendes nie meer onthou waar hul weivelde eens gestrek het of selfs dat daar so ’n stam bestaan het nie, die taal en die liedere en die danse almal vergete. Drywend, dobberend op die stroom, om later in die stroom self op te gaan en te verdwyn, soos water wat die pad van die minste weerstand soek en langs die skeure en vore en gleuwe vir hom ’n loop vind en onder die onsekere beskerming van een of ander man kan voortbestaan, kinders genadeloos oorgelewer, familiegroepe, bendes, swerwers, ontheemdes en weerloses wat toevallig saamgedrywe en ewe toevallig weer verstrooi kan raak. (289)

Hierdie gewelddadige stroping van die gekoloniseerde se identiteit word bestendig in die diskursiewe geweld wat plaasvind: die taal word die subjek ontneem, sodat net ’n vreemde en verwarrende medium tot uitdrukking oorbly:

So het sy ook geleer om op ander willekeurige woorde te reageer wat tot haar gerig is, en sekeres kon sy met bepaalde voorwerpe, handelinge of handelswyses in verband bring: die woord “water” het sy byvoorbeeld geken, “vuur”, “kamer”, “vleis”, “gou”, “brood”, en “mes”. Meer as dit het sy nie nodig gehad om te weet nie [...] en verwonderd het sy die woorde wat sy so lank laas gehoor het weer opgevang en herken en verstaan tot die allerlaastes en daarmee uiteindelik aan die slaap geraak in die donker. (393–4; kyk ook 382)

In terme van diskursiewe geweld word ook die rol van die sendelinge in die roman in geen rooskleurige lig gestel nie. Hierdie rol word dikwels geskets as ’n (dikwels onbewustelike) patroniserende houding jeens die gekoloniseerde, wat alle moontlike geestelike waardes ten spyt, ook daartoe dien om die koloniale projek te ondersteun.40 Die hoofkarakter is hiervan alte deeglik bewus:

Wie is hulle, wat dink hulle, wat ervaar hulle; wat beteken die psalms en sendinggesange waarin ’n vreemde, halfbarbaarse ondertoon deur die vertroude Nederlandse ritmes en ryme pols, wat beteken die hartstogtelike krete? Dit is Christene wat hulle verenig het om die Nederlandse Bybelvertaling aan te hoor en die Nederlandse psalmberymings te sing, maar hul motiewe is vir my duister; die taal van die versugtings kan ek verstaan, maar hul betekenis bly ondeurgrondelik. Afgronde skei ons van mekaar, besoekers en gemeente, hier waar ons mekaar met so ’n geringe meetbare afstand tussen ons konfronteer, en buite die deur bied die barre landskap ook geen vertroudheid of vertroosting nie. (285–6)

Maar afgesien van die koloniale ingreep as histories vasstelbare trauma, skemer ook ’n ander aspek deur: die “Ander” is nie beperk tot die “barbaarse inwoners” van die land nie – ook die land op sigself skyn vir die koloniale subjek oorweldigend te wees. Rossouw (2002)41 fokus op die landskap as “onverskillig en anargisties”, ’n ruimte waarteen skanse opgerig word. Die oorweldigende landskap word in die roman telkens weer gekontrasteer met die koloniale pogings tot struktuur – selfs Kaapstad, die gedeelte van die Bataafse republiek wat teen 1804 die “mees beskaafd” was, word as niks meer as ’n “speelgoed-nedersetting met sy bedoeninkies en bedrywighede, sy voetgangers en rytuie en seilskippies in die baai” (18; kyk ook 7, 17, 40, 79–80, 356–7) gesien nie. Dit word deur die hoofkarakter verder gevoer wanneer hy oor die groter kollektiwiteit van “die land” opmerk: “Met volharding en geduld kan die buitelyne moontlik op hierdie wyse vasgestel word; maar die land self moet onverken en onverkenbaar bly” (270). ’n Koloniale poging tot “assimilasie” word naamgewing: “Nederlandse name bewaak die ingang na die vasteland” (103); en hierdie name is “gerusstellend” (74).42 Verder skyn beide dier en plant te wag op die kolonialis, die “naamgewer om hulle identiteit te gee” (243). Die diskursiewe aard van die koloniale projek, om die vreemde en die “Ander” nominaal te approprieer, spreek hieruit. En soos hier bo aangetoon, is dit juis dít wat nie algemeen gesproke kognitief vasgestel kan word nie, wat die ontologiese aspek van trauma aktiveer.

Maar hierdie konfrontasie van die koloniale representasiemodel met die haas onrepresenteerbare word ook op ’n ander wyse daargestel: dit sluit aan by ’n ongewone tendens van die vertellersinstansie om in die verhaal figure en aspekte wat gewoonlik op die agtergrond huiwer, op die voorgrond te plaas. Só word byvoorbeeld na die voorwerp van ’n silwertressie verwys:

[...] ’n toevallige klein vergete voorwerp in die stof van die plein wat ’n hele eie werklikheid verteenwoordig. Sit dit terug, laat dit daar lê, dat ’n slaaf dit kan optel en bewaar en koester, ’n blink, helder ding wat moontlik iets beteken in ’n bestaan wat min helderheid ken, om gebêre te word [...]”. (85)43

Die silwertressie is inderdaad ’n onbenullige voorwerp, wat op verhaalvlak absoluut geen rol speel nie. In soverre bied dit egter wel “weerstand” teen ’n koloniale diskoers, deurdat dit ’n eiesoortige werklikheid suggereer wat nie deel van die koloniale diskoers vorm nie. Juis die vooropstelling van hierdie onbenullige voorwerp dui op die verskralende en reduserende aard van die koloniale diskoers, want die voorwerp is immers intiem verweef met die bestaan van ’n potensiële slaaf vir wie dit van groot betekenis sou kon wees. As sodanig kan hierdie voorwerp in verband gebring word met die Žižekiaanse “Real”, aangesien dit ’n voorwerp veronderstel waarvan die volle betekenis nie binne die parameters van die roman, en ook nie as historiese artefak, ten volle geëksploiteer kan word nie. Dit dui op ’n werklikheid anderkant die fiktiewe diskursiwiteit van die roman en die historiese diskursiwiteit van die koloniale diskoers en kan dus in terme van die ontologiese dimensie van trauma geïnterpreteer word.

Hierdie ontologiese of strukturele dimensie van trauma word op die spits gedryf wanneer die blote aanwesigheid van die slawe as ’n nie-artikulerende teenwoordigheid telkens deur die verteller aangedui word. Die observerende teenwoordigheid is daar as medegetuie van die geskiedenis, maar kry nie in die roman (en by implikasie in die geskiedenis) gereeld ’n spreekbeurt nie:

Waar geen getuie vermoed word nie, is getuies aanwesig wat sal sien en hoor en onthou, in die skadu van die bome of die prieel of die waenhuis, in die binnehof waar die vensters oopstaan, of in die kombuis [...]. (47)44

Hier is dan ’n duidelik postkoloniale aspek in die roman aanwesig: die binêre opposisiepaar van koloniale subjek en geobjektiveerde gekoloniseerde word deurbreek deurdat wel aan die gekoloniseerde ’n subjektiewe teenwoordigheid toegeken word, maar dít sonder om sy stem in die teks te approprieer.45

Die belangrikste ander postkoloniale impetus in die roman is op verhaalvlak die buitestandersperspektief van die hoofkarakter (kyk bv. 63–5).

Op verhaalvlak bring die verkenningsreis van die hoofkarakter dus duidelike aspekte van kolonialisme na vore, waarvan die belangrikste dui op die histories vasstelbare trauma wat in die kolonisasieproses van Suid-Afrika plaasgevind het: vanaf die uitwissing van die inheemse bevolking tot die diskursiewe geweld en bestendiging van diskriminerende praktyke en representasies. Daarmee saam bestaan ook die ontologiese interpretasie van trauma, waar die onrepresenteerbaarheid van sowel die “Ander” as die landskap, of die betekenis van skynbaar onbenullige voorwerpe, op ’n immanente tekortkoming in die representasiepotensiaal van die diskursiewe konteks dui.

6.2 Verkenning van die Suid-Afrikaanse geskiedenis

Die vertellersinstansie in Verkenning stel dit duidelik dat die verhaal en teks uiteindelik nie oor die karakters gaan nie:

Hier eweneens sal inligting toegestaan word soos dit benodig word en kennis en moontlik selfs begrip algaande verwerf word; dog in sy laaste instansie gaan hierdie boek nie oor die jong man in die grys reisbaadjie en blink stewels nie, die Nederlander uit ’n denkbeeldige Gelderse pastorie, ook nie oor hom nie: dit gaan oor hierdie land. (161)

Die gefingeerde hoofkarakter is wel die fokus uit wie se perspektief dikwels waargeneem of selfs vertel word,46 maar ook hy speel ’n ondergeskikte rol:

Hoeveel duisterheid, vergetelheid en doelbewuste verswyging is ten slotte nie in die donker van hierdie land ingevleg nie, in die lewens van die dolende bevolking, die swerwers, die talle mense sonder aantoonbare herkoms of verlede, die enigmatiese skoenmakers, timmermans of smede, die geheimsinnige oud-soldate of -matrose, die onterfdes, drosters, voortvlugtiges, die opdrifsels uit Europa wat nooit tuis sal wees in die vreemde wêrelddeel waar hulle bestem is om hul lewens te eindig nie. ’n Enkele gesig te midde van duisende wat lankal vergete geraak het, ’n enkele man, gefingeer of nie, in die anonieme massa, ’n enkele stem miskien om in ’n tapkamer of in die klowe op die hitte van die dag terloops en toevallig iets van al daardie vergete lewens te verwoord en ’n verdere fragment te help vaslê en behou van wat eens hier gebeur het. (317)

Dit gaan in Verkenning oor die land, oor die geskiedenis van die land, oor ’n poging om nie tot kennis nie, maar tot begrip te kom van die geskiedenis van hierdie “eindhoek” waar soveel geslagte van boorlinge, buitestanders, gekoloniseerdes en koloniseerders “’n bestaan moe[s] maak” (351). Die slot, waar die hoofkarakter byna berusting in sy dood vind, terwyl sy medereisiger, Paap, op enigmatiese wyse die gebeure op die limiete van die kolonie met vanselfsprekendheid aanvaar, moet teen die agtergrond van hierdie poging tot historiese begrip gelees word.47

Met betrekking tot die roman word twee probleme egter relevant wanneer gepoog word om die verlede te representeer en historiese begrip te wek: eerstens die kontras wat bestaan tussen ’n fiktiewe en ’n wetenskaplik-historiese representasie van die verlede, en tweedens die toegang, al dan nie, wat die hedendaagse mens tot hierdie verlede het. Veral met verwysing na laasgenoemde skyn die verteller byvoorbeeld oortuig te wees van die feit dat die verlede, hoewel naby,48 tog ook inherent ontoeganklik is om ten volle geken te word. Dit is weerbarstig om die volle betekenis daarvan prys te gee, daarom word dít wat wel in die teks gerepresenteer word, niks meer as “[w]ensdenkery en bedrog, ’n verbeeldingsvlug, ’n hersenskim, ’n droom” nie (43; kyk ook 87).

Wanneer geredelike ontoeganklikheid bestaan, word die vraag na ’n “wetenskaplike” omgaan met die verlede relevant, oftewel, die rol wat ’n fiktiewe omgaan met die verlede kan speel om die lakunes wat dus ontstaan, te vul. Hierdie fiktiwiteit word in Verkenning te berde gebring en daarom is dit ook nie nodig om aansprake in die teks “aan ’n kliniese ondersoek te onderwerp of aan die wette van historiese moontlikheid of waarskynlikheid te toets nie” (44); en “[o]or die oneindig gapende donker van die afgrond kan mens die verlede slegs betrag en onbegrypend opteken wat jy daar sien” (202). Die probleem is dat begrip in nabetragting nie moontlik is nie “vir ’n generasie vir wie die terminologie grotendeels onbegryplik sal wees en vir wie daar min sekerhede oorgebly het” (203). Historiese kennis kan wel in ’n mindere of meerdere mate op ’n rytjie geplaas word, maar ’n indringende begrip oor die verlede skiet tekort. En daarom skyn ’n getroue representasie van die verlede onmoontlik te wees. Dus: anderkant die onmoontlikheid om historiese trauma daar te stel skyn geskiedenis as sodanig en oor die algemeen aan representasie te ontglip. Geskiedskrywing bemoei sigself dus met ’n onrepresenteerbare “objek”, of dan, ’n trauma ontologies gesetel in die beperkinge van die historiese diskoers.

Ek lees in Schoeman se romanteks ’n poging om deur middel van “gefingeerde” elemente in die teks wel te poog om eerder begrip te skep as om kennis oor die verlede te rekonstrueer en konsolideer: “’n Raamwerk van datums en feite kan mens opstel, maar die inhoud daarvan het lankal reeds verlore geraak” (257). Dit is die doel van “fiktiewe” representasie om begrip oor hierdie inhoud te ontsluit – en daarom kan “[w]at hier gebeur, [...] nie aan perke gelê word deur wat in die werklikheid toevallig reeds plaasgevind het nie” (169; kyk ook 212, 255). Wat hier voorop gestel word, is die representasie as representasie, en die werklikheid word as “toevalligheid” op die agtergrond geskuif. Dit is die teks wat die diskursiwiteit van die mens se geskiedeniservaring, en uiteindelike geskiedenisrepresentasie, op die voorgrond plaas, tesame met die implikasie dat hierdie representasies inherent tekortskiet. Sodoende word dit dus in verband gebring met ’n algemene, ontologiese omskrywing van trauma. Want in hierdie sin wórd geskiedenis dus trauma – bo en behalwe die histories vasstelbare koloniale trauma wat veral op verhaalvlak beskryf word. Hier word die belang van beide aspekte van traumateorie vir die postkoloniale diskoers belangrik, want nie net ondervang dit die algemene problematisering van (koloniale, historiese) representasie nie, maar dit moet ook help anker aan die historisiteit van gespesifiseerde gebeure.

6.3 Verkenning van representasiestrategieë

Die diskursiewe aard van geskiedenis en die omgang daarmee, kenmerkend van ’n poststrukturalistiese perspektief, word deur verskeie narratiewe strategieë in die roman belig. Die proses van verkenning beweeg in die roman kennelik verder weg van wat op verhaalvlak gebeur, of die problematiek van geskiedskrywing, na ’n herwaardering van die representasiemoontlikhede oor die algemeen (hoewel al drie aspekte natuurlik ook interafhanklik is).49 Die intertekstuele aard van die roman is ’n strategie om hierdie tekstualiteit van die werklikheid aan te dui: die teks verwys na ander tekste, ’n différence van uitgestelde betekenis. Nog ’n wyse is om die “fiktiwititeit” van die teks verder te beklemtoon deur gedurig tekstuele waarheidsaansprake te ondergrawe deur middel van metatekstuele kommentaar deur die vertellersinstansie.50 Die spanning wat sodoende tussen “begrip” oor die geskiedenis en die “raamwerk van datums en feite” ontstaan, word dus in die romanteks tuisgebring.

Nog ’n wyse om die tekstualiteit te belig, is die spel met identiteit en perspektief. Met verwysing na die estetiese teorie van Adorno verwys Duvenage (2002:322, 326) na die subjek-geproblematiseerde aard van Schoeman se latere romans, en by name Verkenning. Rossouw (2002:335) verwys weer na die “oorweldigde, ontredderde subjek”. Die hooffiguur in Verkenning is anoniem: deels verteller, deels fokalisator, deels waargenome karakter, en word deels selfs met die ouktoriële verteller, die skrywende “ek” van die roman, geassosieer. Dus wissel die perspektief deur die teks vanaf persoonlike ervaring tot objektiewe aantekening, en dobber die identiteit rond op die voorwaardelike bestendiging wat die onderskeie fragmente bied. Die beginsel van binêre opposisie, wat ook binne die koloniale diskoers so ’n belangrike funksie vervul, hier in terme van die verkennende subjek en die waargenome objek (die verhaal, die geskiedenis?), word heeltemal gerelativeer deur die oorvleueling van perspektiewe:

As jy hom [die hoofkarakter] onhoorbaar oor die ongelyk vloer sou probeer nader, sou dit miskien moontlik wees om oor sy skouer in die skemerdonker in die hoek van die kamer in daardie fragment spieëlglas sy gesig of ’n deel van sy gesig uit te maak; dog alhoewel dit vroeër belangrik gelyk het, het sodanige ondersoek enige sin wat dit ooit besit het lankal reeds verloor. Dit is beter om nie eers die poging aan te wend nie, om niks meer te onderneem nie, en liewer net te wag en waar te neem, dankbaar vir wat jou gegee word. En as jy moes opstaan, as jy hom moes nader, geruisloos deur die donker oor die ongelyk vloer, watter gesig sou jy sien in daardie fragment van die spieël? Moontlik selfs jou eie. (366; my kursivering)

Die belangrikste is egter dat die verteller sigself daarstel as verteller, wat te alle tye bewus is van sy gefingeerde rekonstruksie te midde van sy ontvanklikheid vir die geskiedenis as kollektiewe uiting van ’n verskeidenheid “betroubare stemme” (49).51

In my bespreking van ’n nuttige representasiemodel vir trauma het ek verwys na die sinvolheid om dit te sien as die selfrefleksiewe representasie of demonstrasie van die onrepresenteerbaarheid daarvan. So ook is verwys na postkoloniale narratiewe strategieë as sou dit op soortgelyke wyse die koloniale meesternarratiewe op verantwoordbare wyse kon relativeer. In die bespreking van Verkenning het ek gepoog om sowel die selfrefleksiewe aard van die vertelling as die onrepresenteerbaarheid met betrekking tot die vertellersinstansie se inskatting van historiese representasie te probeer aandui.

Die laaste aspek waaraan ek egter aandag wil gee, gaan oor die tekstuele demonstrasie van die trauma; hier bo is daarna verwys in terme van die performatiwiteit van taal. Schoeman maak in sy roman gebruik van ’n taalperformatiwiteit wat sekerlik eerder aansluit by Austin (1976) se gebruik van die begrip in How to do things with words, waar performatiewe uitdrukkings nie net inligting meedeel nie, maar ook inherent ’n aksie uitvoer of veronderstel. (Tog skemer steeds ook die De Maniaanse bewussyn van die kognitiewe beperkings van representasie deur, soos wat hier bo aangehaal is.) Want verskeie kere in die teks vind die leser metatekstuele kommentaar van die ouktoriële verteller waar hy by homself aandring om te luister (10–11), ontvanklik te wees vir die stemme van die geskiedenis, moet poog om die brug te slaan na die verlede, as ’t ware te beur teen die deur na die verlede om toegang moontlik te maak (43, 171). Die gevolg is dat die leser bewus gemaak word van die teks as handeling, as “organiese wordingsproses” (Van Vuuren 2002:274), deurdat die problematiek van ’n omgaan met die verlede, asook die voorlopigheid en feilbaarheid van die diskursiewe vermoëns om dit te doen, geïllustreer word (160). Dít gebeur in terme van die representasie van die geskiedenis, in terme van die representasie van die historiese trauma van kolonialisme, en in terme van die feilbaarheid van diskursiewe strategieë oor die algemeen.

Veral twee aanhalings waar hierdie performatiewe uitdrukkings duidelik word, is hier van belang:

[J]y hoor opnuut die swaar, reëlmatige asemhaling van die slapers en jy sit jou verkenning voort, gerusgestel, bladsy vir bladsy in jou langsaam tastende vordering deur die donker, paragraaf vir paragraaf; soms selfs sin vir sin; soms byna woord vir woord. Wat jy weet, wat jy aflei, wat jy raai en wat vir jou noodgedwonge onbekend moet bly, is ten slotte nie van belang nie, want so soos dit is, is dit goed, so is dit voldoende.” (43)

En:    

Dit is geen feitelike verslag, geen herskepping van iets wat op ’n chronologies bepaalbare oomblik in ’n agterhaalbare verlede gebeur het nie. Aan die ander kant is dit egter ewe min versinsel, maar iets met ’n eie bestaansreg en geldigheid wat nou besig is om te gebeur, hier op die papier. (170; my kursivering)

Hierdie “iets met ’n eie bestaansreg” sien ek as die proses van omgang met die onrepresenteerbare, hetsy dit gaan oor trauma in die koloniale historiese spesifisiteit daarvan, of dit in ’n poststrukturele ontologiese feilbaarheid van taal wortel. Die wyse om om te gaan met die feilbaarheid van representasie wat beide ten grondslag lê, is deur ’n selfrefleksiewe proses – noem dit selfs ’n verwerking daarvan – om op metonimiese wyse iets van die aard daarvan aan te dui. Hierdie proses, gesetel in die performatiewe demonstrasie van die teks, maak geen waarheidsaansprake nie, maar is eweseer geldig as enigste verantwoordbare wyse om met trauma oor die algemeen en ook die koloniale verlede om te gaan. Want uiteindelik is dít “goed soos wat dit is”; is dit “voldoende”.

7. Slot

Die koloniale geskiedenis van Suid-Afrika is ook ’n geskiedenis van trauma, iets wat nie in terme van die diskursiewe praktyke van die koloniale diskoers verreken kan word nie; soos wat ook die volle betekenis van geskiedenis se kompleksiteit nooit in terme van ’n finale narratief vasgelê kan word nie. Traumateorie figureer enersyds binne die konteks van ’n omskrywing van unieke, historiese gebeurtenisse en andersyds as ’n algemene beskrywing van elke individu en groep se ontologiese en diskursiewe bestaan.

Die vraag is waar en in hoeverre hierdie twee aspekte van traumabeskrywing struktureel met mekaar oorvleuel – iets wat by uitstek gedemonstreer kan word met ’n postkoloniale diskoers wat enersyds handel oor historiese gebeure en andersyds die vermoëns waaroor ons beskik om die “vreemde”, ook die “vreemde” in onsself, te representeer. Beide trauma en die postkoloniale diskoers moet vanuit ’n epistemologiese en ontologiese perspektief belig word, maar beide moet ook geanker word in die historiese uniekheid daarvan. Hierdie “anker” is van enorme belang in die wyse waarop teorie oor die algemeen en spesifiek ook poststrukturalistiese teoretisering bedryf word. Ankersmit (2010) betreur in ’n insiggewende artikel die vervreemding van wetenskaplike teorie van die werklikheid gedurende die afgelope aantal dekades. Hierby kan ongetwyfeld ook postkoloniale en traumateorie ingereken word. Op hierdie navorsingsgebiede by uitstek bestaan ’n morele imperatief om te midde van teoretiese kontekstualiserings ook historiese gegewens en empiriese probleme te verreken.

Schoeman is welbekend as beide historikus en romanskrywer en selfs sy fiktiewe werk het dikwels die verlede as tema. Verkenning is ’n historiese roman wat ook die spektrum ondersoek wat ’n omgaan met die verlede behels: vanaf die daarstel van historiese kennis tot die skep van historiese begrip. Buiten die problematisering van geskiedskrywing, belig hierdie roman egter ook ’n tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat maklik as traumaties getipeer sou kon word. Deur middel van postkoloniale narratiewe strategieë vind nie net selfrefleksie oor die aard van fiktiewe (en wetenskaplike) geskiedskrywing plaas nie, maar word ook die representasiemoontlikhede verken om trauma daar te stel. Gelees as historiese roman, postkoloniale roman of ’n trauma-narratief, stel hierdie werk een van die mees genuanseerde verkennings van die balans tussen historiese en ontologiese trauma in die Afrikaanse letterkunde daar. Die feit dat hierdie balans juis in ’n fiktiewe werk gevind word, beklemtoon die betekenis van die literêre kunswerk: Verkenning word so óók ’n appèl dat begrip soms deur die literatuur moontlik gemaak word wanneer blote feitekennis faal.

Bibliografie

Ankersmit, F. 2010. Waarheid is nodig maar niet genoeg in de republiek der letteren. De Gids, 173(3):268–84.

Ashcroft, B., G. Griffiths en H. Tiffin (reds.). 1995. The post-colonial studies reader. Londen en New York: Routledge.

Austin, J.L. 1976. How to do things with words. Londen: Oxford University Press.

Ball, K. 2000. Trauma and its cultural aftereffects. Cultural Critique, 46:1–41.

Bezuidenhout, S-L. 2009. Verwonding, verwoording en verwerking: ’n Beskouing van Henning J. Pieterse se kortverhaalbundel Omdat ons alles is vanuit ’n terapeutiese perspektief. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Brydon, D. 1995. The white inuit speaks: Contamination as literary strategy. In Ashcroft e.a. (reds.) 1995.

Burger, W. en H. van Vuuren (reds.). 2002. Sluiswagter by die dam van stemme. Pretoria: Protea Boekhuis.

Butler, J. 1993. Bodies that matter: On the discursive limits of “sex”. New York: Routledge.

Dubiel, J. 2007. Dialektik der postkolonialen Hybridität: Die intrakulturelle Überwindung des kolonialen Blicks in der Literatur. Bielefeld: Aisthesis Verlag.

Duvenage, P. 2002. Die skone, kaal skouers en die geseling: ’n Voorlopige lesing van Verkenning. In Burger en Van Vuuren (reds.) 2002.

Erasmus, M. 1995. Die verlede en versoening: Afrikaanse oorlogsliteratuur as (alternatiewe) bron van geskiedskrywing oor die indiwidu. Literator, 16(2):137–55.

Hutcheon, L. 1989. “Circling the downspout of empire”: Postcolonialism and postmodernism. Ariel, 20(4):149–75.

JanMohammed, A.R. 1995. The economy of Manichean allegory. In Ashcroft e.a. (reds.) 1995.

John, P. 2006. Die terapeutiese imperatief, stories en letterkunde: ’n Repliek aan H.P. van Coller. Tydskrif vir Letterkunde, 43(1):155–67.

—. 2002. Blom, pyl en fluit: Oor die limiete van Verkenning en moralistiese literatuurkritiek. In Burger en Van Vuuren (reds.) 2002.

—. 2000. Versoening, Aufarbeitung, Renaissance, Verligting: Wat eis die Suid-Afrikaanse verlede van ons? Stilet, 12(2):43–62.

Köhler, S.G. 2006. Körper mit Gesicht: Rhetorische Performanz und postkoloniale Repräsentation in der Literatur am Ende des 20. Jahrhunderts. Keulen, Weimar en Wene: Böhlau Verlag.

LaCapra, D. 2001. Writing history, writing trauma. Baltimore en Londen: The Johns Hopkins University Press.

—. 1999. Trauma, absence, loss. Critical Inquiry, 25(4):696–727.

Lützeler, P.M. 2005. Postmoderne und postkoloniale deutschsprachige Literatur. Bielefeld: Aisthesis Verlag.

Marais, N-M. 2005. ’n Diskursiewe ondersoek van enkele verteenwoordigende Afrikaanse en Nederlandse historiese romans. Ongepubliseerde PhD-tesis, Universiteit van die Vrystaat.

Mowitt, J. 2000. Trauma envy. Cultural Critique, 46:272–97.

Murphy, J.S. 2004. Past irony: Trauma and the historical turn in Fragments and The swimming-pool library. Literature and History, 13(1):58–75.

Rossouw, J. 2002. ’n Ondermyning van Immanuel Kant: Oor Verkenning. In Burger en Van Vuuren (reds.) 2002.

Said, E.W. 1995. Orientalism. In Ashcroft e.a. (reds.) 1995.

Schoeman, K. 1996. Verkenning. Kaapstad: Human & Rousseau.

Tiffin, H. 1995. Post-colonial literatures and counter-discourse. In Ashcroft e.a. (reds.) 1995.

Van Boheemen-Saaf, C. 1999. Joyce, Derrida, Lacan, and the trauma of history. Cambridge: Cambridge University Press.

Van Coller, H.P. 2005. Anderkant die stilte (André P. Brink) en die verwerking van trauma. Tydskrif vir Letterkunde, 42(1):117–33.

—. 1997. Die Waarheidskommissie in die Afrikaanse letterkunde: Die Afrikaanse prosa in die jare negentig. Stilet, 9(2):9–21.

—. 1988. Die historisiteit van die literêre werk met verwysing na Houd-den-Bek van André P. Brink. Acta Academica, Nuwe Reeks B, (7):175–225.

Van Coller, H.P. en D.F.M. Strauss. 2006. “Die dissonansie van die dissidente diskoers”: Oor metodologie en vakbeoefening in die geesteswetenskappe. Tydskrif vir Letterkunde, 43(2):79–90.

Van der Merwe, C. 2007. ’n “Terapeutiese perspektief” op Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005). Stilet, 19(1):103–14.

Van der Merwe, C. en P. Gobodo-Madikizela. 2007. Narrating our healing: Perspectives on working through trauma. Newcastle: Cambridge Scholars.

Van Vuuren, H. 2002. “Op die limiete”: Verkenning (1996). In Burger en Van Vuuren (reds.) 2002.

Žižek, S. 1989. The sublime object of ideology. Londen en New York: Verso.

 

Eindnotas

1 Kyk die insiggewende “Introduction: Trauma and its institutional destinies” deur Ball (2000) en die artikel “Trauma envy” deur Mowitt (2000) in ’n spesiale uitgawe van Cultural Critique (46) getiteld Trauma and its cultural aftereffects, waar ’n historisering van traumastudies en die dikwels etiese dilemmas daarrondom onder die loep geneem word. Sien ook Murphy (2004).

2 Traumateorie word verder volgens vele kritici dikwels deur die psigoanalitiese teorie gekaap. Kyk byvoorbeeld Mowitt (2000) se bespreking van Žižek se herlesing van die Lacaniaanse “Real”.

3 “Because everything must be related to the catastrophe, trauma theory sometimes obscures those aspects of the past that escaped or grew beyond the catastrophe’s shadow and in so doing it risks turning trauma into another metanarrative” (Murphy 2004:73).

4 Hierdie artikel se fokus is ook nie die terapeutiese waarde, al dan nie, van traumarepresentasie nie. Alhoewel “verwerking” volgens die definisie wat hier gebruik word, afhanklik is van “representasie”, is die omgekeerde nie altyd die geval nie. Traumarepresentasie kan trouens juis ’n transmissie van trauma veronderstel. Binne die Afrikaanse letterkundige diskoers is die oorweldigende fokus in die debat rondom trauma egter die terapeutiese potensiaal van die teks. Van Coller (1997) neig tot ’n optimistiese evaluering van die verwerkingspotensiaal van narratiewe representasie. John (2000) reageer met ’n veel meer pessimistiese inskatting en beroep hom op ’n “waansinnige benadering tot skuld” (2000:52). Die polemiek word voortgesit in Van Coller (2005), John (2006) en Van Coller en Strauss (2006). Kyk ook Marais (2005:175–81) en Bezuidenhout (2009:25–58) vir meer toeligting hieroor. Van der Merwe (bv. 2007) publiseer heelwat oor die terapeutiese potensiaal van letterkunde deur veral te steun op die werk van Ricoeur. Saam met Gobodo-Madikizela publiseer hy Narrating our healing: Perspectives on working through trauma (2007), waarvolgens “die omvorming van trauma tot literêre narratief die omvorming van chaos tot struktuur is” (Bezuidenhout 2009:17), wat uiteindelik ook tot die verwerking van trauma lei.

Interessant genoeg figureer die polemiek verder digby die problematisering van die verhouding tussen historiografie en letterkunde binne die Afrikaanse kritiese diskoers – ’n tema wat selfs effe verder terug in die verlede lê as dié rondom traumaverwerking. Hier kan Van Coller (1988) vermeld word, asook Erasmus (1995), wat reeds in die titel eksemplaries die domeine van (potensiële) traumaverwerking en letterkunde-as-alternatiewe-historiografie betrek. Die verhandeling van Bezuidenhout (2009) stel die hele debat rondom traumaverwerking in die Afrikaanse letterkundige diskoers aan die orde.

5 “It is the merit of Ernest Laclau and Chantal Mouffe that they have [...] developed a theory of the social field founded on such a notion of antagonism – on an acknowledgement of an original ‘trauma’, an impossible kernel which resists symbolization, totalization, symbolic integration. Every attempt at symbolization-totalization comes afterwards, it is an attempt to suture an original cleft – an attempt which is, in the last resort, by definition doomed to failure” (Žižek 1989:5–6).

6 “One may argue that structural trauma is related to (even correlated with) transhistorical absence (absence of/at the origin) and appears in different ways in all societies and all lives. As I indicated earlier, it may be evoked or addressed in various fashions – in terms of the separation from the (m)other, the passage from nature to culture, the eruption of the pre-oedipal or presymbolic in the symbolic, the entry into language, the encounter with the ‘real’, alienation from species-being, the anxiety-ridden thrownness of Dasein, the inevitable generation of the aporia, the constitutive nature of originary melancholic loss in relation to subjectivity, and so forth [...] Historical trauma is specific, and not everyone is subject to it or entitled to the subject position associated with it (LaCapra 2001:77, 78; kyk ook LaCapra 1999). Hierin sluimer iets van Freud se “Unheimliche”, maar dit hou ook baie implikasies in vir die omskrywing van die subjek se identiteit. Kyk Dubiel (2007:172), Žižek (1989:175, 180) en Van Boheemen-Saaf (1999:19).

7 “The Real is therefore simultaneously both the hard, impenetrable kernel resisting symbolization and a pure chimerical entity which has in itself no ontological consistency. To use Kripkean terminology, the Real is the rock upon which every attempt at symbolization stumbles, the hard core which remains the same in all possible worlds (symbolic universes); but at the same time its status is thoroughly precarious; it is something that persists only as failed, missed, in a shadow, and dissolves itself as soon as we try to grasp it in its positive nature” (Žižek 1989:169; kyk ook 97, 206).

8 Dit beteken natuurlik nie dat representasie nie behoort plaas te vind nie. Adorno se uitspraak dat gedigte ná die Tweede Wêreldoorlog nie meer geskryf behoort te word nie, kan ook gelees word as ’n appèl vir die teendeel om te gebeur.

9 Köhler (2006) fokus op die diskursief-bepaalde aard van die subjek, sy/haar liggaam en die “Ander”, met spesifieke verwysing na Judith Butler se bekende werk Bodies that matter (1993).

10 Interessant genoeg is Žižek vanuit sy Lacaniaanse perspektief uiters krities jeens die poststrukturalisme, hoewel hy die talige strukturering van die werklikheid onderskryf. Hy verwys na poststrukturaliste wat weens hulle taalskepsis representasie per definisie as metonimies en nie metafories nie sien, terwyl hy self steun op wat hy noem ’n “metaphorical cut” (1989:154–5).

11 Of dan soos Van Boheemen-Saaf (1999:71) daarna verwys: eerder metonimies as indeksikaal.

12 Soos wat Van Boheemen-Saaf (1999:197) die historiese (en postkoloniale) situasie van James Joyce as skrywer met die dekonstruksie van Derrida vergelyk: “This co-extensiveness between Derrida and Joyce is not only a tribute to both, it is also disturbing. Joyce’s self-alienation stems from the specific historical condition of Irishness, whereas Derrida projects that state as a universal condition of subjectivity in an age of technological innovation” (my kursivering).

13 “Bei der Theorie des Postkolonialen geht es darum, das intellektuelle Werkzeug zu erarbeiten, um (deskriptiv) sowohl die Erfassung ehemaliger und neuer kolonialer Abhängigkeiten zu ermöglichen wie auch (programmatisch) eben diese Dependenzen im Sinne einer Dekolonisierung abzubauen. Der operative Aspekt bezeichnet die Absicht, jenen Zustand zu erreichen, der durch die Vorsilbe ‘post’ signalisiert wird, d.h. es geht letzlich darum, die künftige Beziehungen der Dritten zur Ersten Welt auf eine neue, im Wortsinne nach-koloniale Basis zu stellen. Der postkoloniale Blick ist also gleichzeitig nüchtern und visionär” (Lützeler 2005:24; kyk ook Dubiel 2007:21).

14 Oor die koloniale diskoers: “Colonialist literature is an exploration and a representation of a world at the boundaries of ‘civilization’, a world that has not (yet) been domesticated by European signification or codified in detail by its ideology. That world is therefore perceived as uncontrollable, chaotic, unattainable, and ultimately evil. Motivated by his desire to conquer and dominate, the imperialist configures the colonial realm as a confrontation based on differences in race, language, social customs, cultural values, and modes of production” (JanMohammed 1995:18).

15 Hier setel egter ook een van die vernaamste punte van kritiek teen die postkolonialisme: daar bestaan baie empiriese vorme van koloniale onderdrukking (of het bestaan), wat nie op grondvlak direk opgelos kan word deur middel van diskoers-analise nie. Vir postkoloniale teorie om ’n daadwerklike sosiopolitieke impak te hê, moet ook baie meer pragmatiese en praktiese ingrepe plaasvind (kyk onder meer Dubiel 2007:28–37).

16 Said (1995:87) verwys byvoorbeeld na die rol wat die “Orient” gespeel het: “In addition, the Orient has helped to define Europe (or the West) as its contrasting image, idea, personality, experience. Yet none of this Orient is merely imaginitive. The Orient is an integral part of European material civilization and culture. Orientalism expresses and represents that part culturally and even ideologically as a mode of discourse with supporting institutions, vocabulary, scholarship, imaginary, doctrines, even colonial bureaucracies and colonial styles.” Kyk ook Köhler (2006:218).

17 Vanaf ’n Lacaniaanse perspektief bring Žižek (1989:48) die aanwesigheid van die “onbekende” in die self, wat dan op die “Ander” geprojekteer word, in verband met die ontologiese status van die subjek (wat natuurlik ook aansluit by sy siening van die traumatiese “Real”): “Let us examine anti-Semitism. It is not enough to say that we must liberate ourselves of so-called ‘anti-Semitic prejudices’ and learn to see Jews as they really are – in this way we will certainly remain victims of these so-called prejudices. We must confront ourselves with how the ideological figure of the ‘Jew’ is invested with our unconscious desire, with how we have constructed this figure to escape a certain deadlock of desire.”

18 Eerstens: Jy het my nodig, want sonder my bestaan sou jy nie kon aanvaar dat jy is wat jy beweer jy is nie. Tweedens: Omdat jy my egter nodig het om van my te kan vlug, ken jy my nie. Dus moet dít wat jy glo jy in my sien, uit jouself kom” (my vertaling).

19 Kyk onder meer Lützeler (2005:18–9, 48), Dubiel (2007:95–7), Tiffin (1995:95–6) en Brydon (1995:137).

20 “‘Der Begriff der Identität selbst, der die Übereinstimmung zwischen Sein und Bewußtsein eines ‘Selbst’ anzeigt, wird im Zuge der postkolonialen Entwicklung fraglich, zeigt sich hier doch, dass die Grundlagen von Identität [...] keineswegs dauerhaft festliegen, sondern wandelbar sind’” (Dubiel 2007:92). Die “vreemde” in die eie identiteit en die transferensie van die “bekende” in die eie identiteit op die “Ander” speel hier ’n rol (kyk ook Dubiel 2007:176).

21 Köhler (2006:60, 218) beklemtoon dat die uitsluitingsmeganismes van ’n binêre representasielogika deurbreek moet word en ’n ander representasielogika en “representasie-ekonomie” gebruik moet word.

22 Hieronder tel dialogisiteit, intertekstualiteit, intermedialiteit, hibridisering van karakters, hibridisering van topografie, temporale hibridisering en hibridisering van handeling (kyk Dubiel 2007:189–214).

23 Filosofies gesproke bied Adorno se metodologie van “Negative dialektik” ’n produktiewe wyse om met die “vreemde” om te gaan, hetsy dit gedefinieer word in terme van ’n “Ander” of trauma (Dubiel 2007:177–88).

24 Hetsy trauma gesien as histories of ontologies. Žižek (1989:172) verwys na laasgenoemde: “The Real is of course, in a first approach, that which cannot be inscribed, which ‘doesn’t cease not to inscribe itself [...]’ – the rock upon which every formalization stumbles. But it is precisely through this failure that we can in a way encircle, locate the empty place of the Real. In other words, the Real cannot be inscribed, but we can inscribe this impossibility itself, we can locate its place: a traumatic place which causes a series of failures. And Lacan’s whole point is that the Real is nothing but this impossibility of its inscription: the Real is not a transcendent positive entity, persisting somewhere beyond the symbolic order like a hard kernel inaccessible to it, some kind of Kantian ‘Thing-in-itself’ – in itself it is nothing at all, just a void, an emptiness in a symbolic structure marking some central impossibility.” (Kyk ook 173, 175, 203, 206.)

25 “Some forms of writing, the symptomatic ‘art of trauma’ of a Joyce or a Celan, re-enact an occurrence of an act of violence which affects symbolization itself, and add to history a new dimension, a spot of numbness or failure of articulation, which becomes an unconscious within discourse, adding a psychic dimension to discourse. The muted suffering of colonial oppression may be understood as an actual historical event which inscribed the experience of death-in-life into history and subjectivity, encrypting an ontological void” (Van Boheemen-Saaf 1999:8; ook 9, 24, 31, 34, 36, 197, 199, 200, 209). Kyk ook Köhler (2006:43–5, 223–5) vir ’n effens ander interpretasie van “performatiwiteit”.

26 John (2002:348) noem dat die “reis” ’n bekende literêre motief is en stel dat dit ook met betrekking tot Verkenning as ’n psigologiese reis gelees kan word. Ek gebruik hier die begrip verkenning as ’n parallelle begrip tot die “reis”-beginsel en fokus net op die drie aspekte wat in hierdie studie van toepassing is. Beide die “reis”- en die “verkenning”-motiewe sou verder en meer omvangryk bespreek kon word.

27 “Vir die Kapenaars onder wie hy tans verkeer, sal sodanige nuanses egter nie merkbaar wees nie, en hulle sal slegs bewus wees van die algemene feit dat hy ’n Hollander is, soos hulle dit bestempel, ’n buitestaander, ’n verbygaande besoeker. Meestal verstaanbaar maar in die algemeen tog onmiskenbaar vreemd, soos die ingevoerde amptenare of offisiere in die Kasteel” (Schoeman 1996:82).

28 “Dit het begin, die reis, die sending, die avontuur” (Schoeman 1996:108).

29 “Oomblik na oomblik groei die proses van verkenning aan, alhoewel die uiteindelike sin daarvan eers sal blyk wanneer die eindpunt bereik is en dit moontlik is om terug te blik op die voltooide reis in sy geheel” (Schoeman 1996:160; kyk ook 179, 192).

30 “Ek sou nooit teruggaan nie, die gang van daardie strome sou ek nooit volg nie, nòg sou die verre kus van Java ooit voor my oprys, die dakke, torings en onbekende bome van Batavia, en die skielike sekerheid, hoe onverklaarbaar dit ook was, was vir my tewens gerusstellend” (Schoeman 1996:379).

31 “Die kolofon aan die einde van die teks gee erkenning aan historiese, argivale, en literêre intertekste waarvan ruim gebruik gemaak is in die opbou van ’n tydgenootlike, vroeg neëntiende-eeuse raamwerk” (Van Vuuren 2002:277). Kyk ook Van Vuuren (2002) se bespreking van die belangrikste intertekste: Hinrich Lichtenstein se beskrywing van sy reise in die binneland tussen 1803 en 1806; Heinrich von Kleist se Lebensspuren. Dokumenten und Berichte der Zeitgenossen, Goethe se Die Leiden des jungen Werthers, Klopstock se Der Messias en The Destruction of the Jews deur Flavius Josephus.

32 “‘Julle is algar goeie meidjies, nie waar nie? Julle sal nie dat iemand die nonnies kwaad aandoen nie’” (Schoeman 1996:77). Of: “‘Hulle is nou eenmaal nes kinders’” (131; kyk ook 153).

33 Die hoofkarakter vind die waarneming van ’n openbare geseling besonder ontstellend – veral wanneer dit gekontrasteer word met ’n besoek aan die teater later dieselfde aand. Openbare geseling en teregstelling word aangemerk as gereelde en alledaagse gebeure in die kolonie (Schoeman 1996:92 e.v.; kyk ook 131–2).

34 “‘Maar vir diegene van ons wat minder streng oor die lewe oordeel,’ hervat hy dan, ‘is daar gelukkig egter die Kaapse slavinnetjies om vir alles te vergoed. Vir diegene wat effense blasheid bo blondheid verkies, staan ’n huisslavin in niks by haar meesteres agter nie – skoonheid, bekoorlikheid, sierlikheid, elegansie ...’” (Schoeman 1996:22).

35 “‘Dis Lucia, my kind, ek het haar ’n maand of twee gelede gekoop, oom Gysbert Gravenhorst moes mos van sy slawe van die hand sit nadat sy vrou oorlede is, toe kon ek haar goedkoop kry, ’n baie oulike meisie’” (Schoeman 1996:75).

36 Stereotipering vind op verskeie wyses plaas en neem verskeie vorme aan, daarom dat Dubiel (2007) eerder van ’n “fetish” as ’n stereotipe praat. Die “fetish” is veelfasettig, wat beteken dat selfs opponerende aspekte van die slawe uitgelig en gestereotipeer word: hulle kan byvoorbeeld enersyds as skelm of andersyds as eenvoudig gedienstig en getrou bevestig word. Kyk ook Schoeman (1996:53).

37 “‘O, hierdie uithoek bied voldoende moontlikhede vir diegene wat voldoende tyd en belangstelling het en die nodige moeite wil doen om dit beter te leer ken: jag, botaniseer, geologiese ondersoeke, die bestudering van ’n wye verskeidenheid van diersoorte, van minder bekende mensetipes en rasse ...’” (Schoeman 1996:14; kyk ook 229–31, 297).

38 Dit wissel van teregstellings (Schoeman 1996:88–9) tot uitroeiing, of dan in moderne terme volksmoord. Dit is egter ook interessant om daarop te let dat die hoofkarakter in sy gesprek met dokter Lichtenstein daarop gewys word dat soortgelyke vorme van geweld ook in Europa plaasvind, maar wel dan buite die openbare sfeer (100). Wat dus hier plaasvind, is dat die “donker sy” van die appropriërende Verligtingsideaal à la Adorno, wat parallel met die koloniale projek bestaan het, duideliker in die kolonies sigbaar word as wat die geval was op die vasteland van Europa. Die implikasie is dat die Dialektik der Aufklärung wat gewelddadig manifesteer in die holocaust, trouens vroeër reeds in die kolonies duidelik sigbaar was. 

39 Kyk ook Schoeman (1996:225, 230, 258–60, 368, 374, 390–94).

40 Dubiel (2007:50) stel dit duidelik: “Die messianistische Hybris, welche im Falle der Mission das offensichtliche Paradoxon zwischen religiöser Lehre einerseits und brutaler Art und Weise ihrer Verbreitung andererseits verschleiert, kann als Konsens aller an der Etablierung des kolonialen Blicks beteiligten Diskurse begriffen werden.” (Kyk ook 52–3.) Rossouw (2002:331) assosieer “vroomheid” in die roman met ’n (koloniale) “skans” wat gerig word teen die oorweldigende aard van die land. In die roman self is verskeie kritiese uitlatings oor die gaping tussen die behoeftes van slawe en die sendingboodskap (bv. Schoeman 1996:22, 63–4, 113, 185, 187–9, 204).

41 Rossouw (2002:331) stel dit byvoorbeeld so: “Dit is te verstane dat die Europese subjek op verskillende maniere op hierdie onverskillige ruimte sou reageer, waarvan die oprigting van skanse een manier is.”

42 Kyk Dubiel (2007:79–80) oor naamgewing; asook Said (1995:89): “Therefore, as much as the West itself, the Orient is an idea that has a history and a tradition of thought, imagery, and vocabulary that has given it reality and presence in and for the West.” Dieselfde geld ook vir die koloniseringsproses in Suid-Afrika.

43 Verskeie voorbeelde kan genoem word. Kyk byvoorbeeld Schoeman (1996:70, 71, 83–5, 116, 117, 215, ens.).

44 Kyk ook Schoeman (1996:52, 83–5, 110, 140–43, 189, 205, 258).

45 Schoeman gee wel in sy roman stem aan van die slawe- en inheemse perspektiewe. Dit is egter op ’n sekere vlak minder geslaagd as hierdie gedeeltes waar die byna omineuse, onpeilbare getuies van die geskiedenis en die verhaal aangemerk word. Tog is die slot van die verhaal by monde van ’n slavin op ’n ander vlak van groot simboliese belang.

46 Kyk byvoorbeeld Schoeman (1996:262–3).

47 Kyk ook die artikel van John (2002).

48 “So naby is die verlede” (Schoeman 1996:11).

49 “Saam met die beskrywing van landskap in Verkenning kom daar ook ’n intense bemoeienis met taal na vore. Kan mens werklik die landskap, verlede en die psige in taal uitdruk? Staan ons nie hier voortdurend op die grensposte van kennis nie?” (Duvenage 2002:323)

50 Kyk Schoeman (1996:89, 90, 117, 169, 170, 212–3, 365–6). Kyk ook Van Vuuren (2002:277).

51 Kyk Schoeman (1996:41–6, 82, 86, 110, 160–61, 171, 200, 202, 255, 257, 262, 302, 365).

 



  • 1

Kommentaar

  • Die sleutel tot sukses in handel is emosionele dissipline. As intelligensie die sleutel was, sou daar baie meer mense geld maak wat handel dryf ... Ek weet dit sal soos 'n cliché klink, maar die enkele belangrikste rede waarom mense geld verloor op die finansiële markte, is dat hulle nie hul verliese kortliks sny nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top