LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) | LitNet Academic

 
Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk

Opsomming 

Ekopoësie gaan, volgens Skinner (2001:7), oor die verhouding tussen mens en natuur in die omgewing wat ons deel – huis, of plek, soos dit in taal verwoord en ingebed word. Dit veronderstel ’n skryfpraktyk wat deel is van die proses wat die plek leefbaar en huislik maak. Wanneer plek in die ekogedig aangespreek word, geskied dit binne die raamwerk van ’n aantal kernterme – Buell (2005:65) praat van “emplacement” en Russo (s.j.:2) van “emplaced writing” en “writing within”. Buell (2005:63), ’n vooraanstaande navorser binne die ekokritiese beweging, identifiseer drie onlosmaaklike dimensies van plek: (i) die fisiese materialiteit van die omgewing, (ii) die sosiokulturele  persepsie en linguistiese konstruksie van plek en (iii) die individuele en persoonlike verwantskap en verhouding met die plek. Hierdie artikel stel ondersoek in na die teorie van plek aan die hand van die genoemde drie merkers van Buell teen die breë agtergrond van die ekopoësie en die ekokritiek. Ek stel voor dat emplacement en emplaced writing met ingeplaastheid en ingeplaaste skryf vertaal word. Ek stel ook die term en konsep ingeplaaste lees as teoretiese nuutskepping voor om die verwantskap van die leser met die ekogedig en met die natuurlike omgewing wat daarin aangespreek word, te definieer. Nog ’n nuutskepping wat voorgestel word, is die term en konsep plektyd as teenstellende teoretiese beginsel van ruimtetyd. Daarmee word bedoel dat plektyd nie ’n ruimtelike abstraksie soos ruimtetyd is nie, maar in die werklikheid gesitueer is en berus op die belewing van plek binne reële tyd. Die artikel toon aan hoedat ingeplaastheid sentraal is aan omgewingskryfaksies en gesien kan word as een van die mees basiese identifiseerbare eienskappe van ekopoësie. Die artikel sluit af met ’n omvattende vertaalde glossarium van bestaande literêre terme asook die nuutskeppings ingeplaaste lees, plektyd en verhalende materie wat voorgestel word.

Trefwoorde: ekokritiek; ekopoësie; groen poësie; binne-die-plek-skryf; ingeplaaste skryf; ingeplaastheid; natuur as Ander; plek; nieplekke; omgewingskryfaksie; omgewingsgerigte skryfaksie; omgewingskritiek; omgewingsliteratuur; ruimtetyd; plektyd; ingeplaaste lees; nuwe materialiteit; translokaliteit; transliggaamlikheid; verhaalde materie; verhalende materie



Abstract

Place and emplaced writing. A theoretical investigation of emplaced writing as ecopoetic writing practice

Ecology as a discipline studies the interrelationships among all organisms, human and non-human, and their environment or place; ecocriticism and ecopoetics have been defined as the relationship between people and nature and the environment that we share – the house or eco in which we all live – as articulated and embedded in language. In the field of literature it conceptualises a writing practice that is part of the process of making place habitable and it investigates the relationship with the natural environment in terms of literary reading and writing practices and the cultural products of such practices.

Jonathan Skinner, founder of the journal ecopoetics, has described ecopoetics as follows: 

“Eco” here signals – no more, no less – the house we share with several million other species, our planet Earth. “Poetics” is used as poesis [sic] or making, not necessarily to emphasize the critical over the creative act (nor vice versa). Thus: ecopoetics, a house making. (2001:5)

Introducing the discipline of ecopoetics within Afrikaans literature, Smith (2012:15), in her article, “Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman”, has offered an encompassing definition of ecopoetry as poetry that does not deal exclusively with nature and ecological questions, but is searching for a way in which, through language, it appreciates and understands the coherence and co-existence of humankind and nature and to express these as actions.

The definition offered by Smith further states that ecopoetry is more than nature poetry. It is a movement that has arisen from the tension created when the relationship between people and nature reached a turning point, and it tries to express the coherence and order of the totality in a systematic way, often through destabilising the poem.

She continues by saying that destabilisation of the text results in the reader’s becoming aware of the inherent tension in the poem and looking critically at the human-nature relationship, thus resulting in action. This action in turn aims to be instrumental in creating a changed social consciousness and ideology, thus the political nature of ecopoetry. Through the establishment of a new totality or a new concept of beauty, a new “home” or “place” is created, a place we share with all other species on the planet.

Ecopoetics as area of investigation has not yet received much attention in Afrikaans literary criticism. I propose in this article to broaden the understanding of ecopoetics and its application by showing how place is central to the analysis and interpretation of ecopoetry and by proposing a restructuring and broadening of the existing concepts of place. In doing so, some of the existing gaps in the investigation of ecocritical and ecopoetical practices in Afrikaans literature will be bridged.

The article draws on the work of researchers such as Lawrence Buell and Linda Russo and introduces a place-centred approach to the understanding and analysis of poetry texts. Buell, a prominent researcher in the area of ecopoetics, believes that the restructuring of people’s concept of place is a fundamental dimension of both lived experience and art (2005:ix). Redefining place is necessary because of the vulnerability of place and the constantly shifting relationship between being human and the physical context of existence. Buell identifies three inextricable ways in which place is represented in a text. Place refers to (i) the physical materiality of the environment, (ii) the social-cultural perception and linguistic construction of place and (iii) the individual’s personal relationship with and affinity to place (2005:63).

The article focuses on these three dimensions of place (as Buell calls them), offering an investigation of the ways in which each of the dimensions functions, and, through selected Afrikaans poetry texts, shows how these dimensions can be used as markers to analyse poems through the lens of ecopoetics. The focus is mainly on the theory underlying place and a selection of poetry texts is used to demonstrate how these three markers could function in analysing a text. Although, for convenience, the three aspects are considered separately in turn, they interconnect as an interdependent totality.

Researchers in the field of ecopoetics argue that place should be studied in the same way as class, race and gender. All human experience commences with place. When place is addressed in an ecopoem, it happens against a framework of certain key terminologies – Buell (2005:65) speaks of “emplacement” while Russo (s.j.:2) introduces the concepts of “emplaced writing” and “writing within”.

In this article I propose the Afrikaans terms ingeplaastheid and ingeplaaste skryf, derived for the terms emplacement and emplaced writing used by Russo and Buell. I also propose the new term emplaced reading (ingeplaaste lees) as a theoretical neologism to define the specific relationship of the reader with the ecopoem and with the natural environment addressed within the poem. The existing definitions of ecopoetry (Buell, Skinner, Glotfelty and Fromm) are expanded to show how emplacement and emplaced writing are key aspects of ecopoetry, thus creating a theory of place. Another term coined in this article is placetime as opposed to the existing theoretical principle of spacetime, as used by Relke (1999:312) in connection with ecocriticism. It implies that, as distinct from spacetime, placetime is not a spatial abstraction but situated in reality and based on experiencing place in real time. This article shows emplacement as central to environmental writing and that it can be seen as one of the most fundamental identifiable aspects of ecopoetry.

The most significant contribution of this research is the opening up of an area of literary theory that has, until recently, to a large extent been neglected in Afrikaans literary theory and criticism. The value of understanding the difference between space and place, the role of bioregionality in ecopoetics, and the application of the three markers of place as part of emplaced writing is that it offers a new lens for looking at poetry texts, both new ones and also as a rediscovery of  many older ones. I propose that a thorough analysis of the role of place and emplaced writing and reading over a broad spectrum of existing poetry texts could yield newly recognised layers of meaning.

The article concludes with an extensive glossary of literary terms in the area of ecocriticism and ecopoetics, with their Afrikaans translations, including the newly coined terms emplaced reading (ingeplaaste lees), storying matter (verhalende materie) and placetime (plektyd).

Key words: ecocriticism; ecopoetry; ecopoetics; green poetry; writing within; emplaced writing; emplacement; emplaced reading, nature as Other; non-places; environmental writing; environmental criticism; environmental literature; spacetime; placetime; emplaced reading; new materialism; trans-locality; trans-corporeality; storied matter; storying matter



1. Inleiding

Die doelstelling van literêre teorie, soos ook die geval met enige ander teoretiese benadering, is die bestudering en interpretasie van die onderwerp. Ekologie1 as dissipline hou sigself besig met die bestudering van die verhouding tussen alle organismes, menslik en niemenslik, en hul omgewing of plek – al die dele van die geheel. Ekokritiek en ekopoësie  ondersoek hierdie verhouding aan die hand van literêre skryf- en leespraktyke en die kultuurprodukte van hierdie praktyke.

Die oorsprong van die woorddeel eko- in ekopoësie kan teruggevoer word na die Griekse woord oikos, wat na huis of blyplek verwys, terwyl die wortel van die moderne woord, poësie, afkomstig is van die Griekse woord poieō, wat beteken “om te maak” en wat aanvanklik ’n werkwoord was, ’n aksie wat die wêreld transformeer en laat voortgaan (Smith 2012:502, 509). Ekopoësie word só deur Jonathan Skinner, stigter van die tydskrif ecopoetics, gedefinieer:

“Eco” here signals – no more, no less – the house we share with several million other species, our planet Earth. “Poetics” is used as poesis [sic] or making, not necessarily to emphasize the critical over the creative act (nor vice versa). Thus: ecopoetics, a house making. (Skinner 2001:5)

In Smith (2012:512) verskaf ek ’n omvattende definisie van ekopoësie:

Ekopoësie is poësie wat nie uitsluitlik oor die natuur en ekologiese vraagstukke handel nie, maar op soek is na ’n wyse om deur middel van taal die samehang van die mensdom en die natuur te waardeer en te verstaan en as aksie uit te druk. Ekopoësie is meer as natuurpoësie: dit is beweging wat spruit uit die spanning waar die verhouding tussen mens en natuur ’n kruispunt bereik en poog om die sistematiese samehang en ordening van die geheel uit te druk, dikwels juis deur die destabilisering van die gedig. Destabilisering het tot gevolg dat die leser bewus gemaak word van die inherente spanning in die teks en krities na die mens-natuur-verhouding kyk en tot aksie oorgehaal word, wat veranderde sosiale gewete en bewussyn en uiteindelik ideologieë tot gevolg het – vandaar die politiese aard van ekopoësie. Deur die daarstelling van ’n nuwe geheel of ’n nuwe konsep van skoonheid word ’n nuwe “huis” of “plek” verwoord en tot stand gebring, ’n plek wat ons met al die ander spesies op hierdie planeet deel.

In die onderhawige artikel sal hierdie definisie van ekopoësie verbreed word deur te wys hoedat ingeplaastheid (ingeplaaste skryfaksie en ingeplaaste leesaksie) ’n kernaspek van ekopoësie vorm.

Alle menslike ondervinding begin by plek. Buell (2005:ix) voer aan dat die herstrukturering van plek ’n fundamentele dimensie van beide kuns en die geleefde ervaring is. Die herdefiniëring van die konsep plek is, volgens Buell (2005:62), meer as ooit tevore noodsaaklik juis weens die broosheid daarvan en die immer verskuiwende verhouding tussen menswees en fisiese konteks. Dit vra om ’n kritiese benadering en heroriëntasie ten opsigte van bestaande konsepte van plek en ruimte, wat die belofte van politieke verset teen bestaande persepsies van ruimtelike kolonisasie inhou. Buell (2005:1) maak melding van die wyse waarop die materiële wêreld nog altyd betrokke was by, gestalte gegee het aan en meegevoer was deur teorie, verbeelding en tegnologie en hoe hierdie aspekte in die kreatiewe kuns en kritiese navorsing weerspieël word. Juis teen hierdie agtergrond vind hy dit vreemd dat omgewingsgerigte literatuurkritiese studies oor plek steeds so ’n liminale posisie beklee.

Die ekopoëtiese blik wat in hierdie artikel gewerp word, kan as inklusief eerder as eksklusief beskou word, deurdat dit, soos aangetoon in Smith (2012:506), voorsiening maak vir die interaksie wat deur die interdissiplinêre aard van ekopoësie en ekokritiek teweeggebring word. So byvoorbeeld speel geokritiek (een van talle interdissiplinêre ekotone) toenemend ’n rol in ekokritiese ondersoeke waar daar na die mens en sy verwantskap met plek gekyk word. Soos in ekokritiek word daar in geokritiek klem gelê op die persoonlike, subjektiewe en fenomenologiese kant van geografie. Eko-opvoeringsteorie, nog ’n interdissiplinêre ekotoon van ondersoek wat uit ekokritiek ontstaan het, wys weer op die evokatiewe en sensoriese taal van opvoering wat eweneens die teenwoordigheid van die liggaam in die teks en in plek beklemtoon.

Die belangrikheid van plek as wetenskaplike ondersoekterrein word deur Evernden (1996:100–1) beklemtoon as hy daarop wys dat die tot stand kom van self onmoontlik is sonder die konteks van plek. Volgens hom is “[t]he significance of place [...] a very personal thing, [a] battle for the right to know ‘where I am from’”. Dit is daardie klein skyfie van die omgewing waarin die mens pas en waardeur hy gedefinieer word. In aansluiting hierby maak Shepard (1977:32) reeds in 1977 die volgende uitspraak oor plek: “[K]nowing who you are is impossible without knowing where you are from.”  Om plek te benoem kan gesien word as ’n uitbreiding van die self in die omgewing (Evernden 1996:101). Die proses waardeur oor plek geskryf en ’n naam aan die plek toegeken word, is deel van die proses van identiteitskepping, beide van die plek en van die self.

’n Ondersoek na die verwantskap tussen die twee dele in die woord ekopoësie het tot gevolg dat ekokritici indringend selfondersoek moet instel, nie net na die wat nie, maar ook na die hoe en waar van plek in ekokritiek en ekopoësie. Teen die agtergrond van vorige verromantiseerde blikke op natuur- en omgewingspoësie (waarna verderaan in die artikel teruggekeer sal word) bied ’n ondersoek na die skryfpraktyke, en in die besonder ingeplaaste skryf, juis hierdie herdefiniëring van plek.

In hierdie artikel word daar aansluiting gevind by die genoemde drie dimensies van plek soos deur Buell (2005:63) geïdentifiseer, naamlik (i) die fisiese materialiteit van die omgewing, (ii) die sosiokulturele persepsie en linguistiese konstruksie van plek en (iii) die individuele verwantskap met die plek. Hoewel hierdie drie aspekte afsonderlik ondersoek word, moet in ag geneem word dat die onderdele van die geheel nou verweef is en dat die drie dimensies nie gekompartementaliseer behoort te word nie, maar in interafhanklikheid en wisselwerking tot mekaar staan. Omdat die hooffokus van hierdie artikel teoreties van aard is, word slegs oorsigtelik na enkele voorbeelde van hierdie aspekte in gedigte verwys. ’n Grondiger ontleding van die rol van plek en ingeplaaste skryf oor ’n wye spektrum van bestaande poësie behoort onderneem te word, waardeur tot dusver verborge lae betekenis ontgin kan word.



2. Plek as materiële, fisiese omgewing: die materiële dimensie van plek

Die jaar 2010 word deur Iovino (2012:134) uitgesonder as die jaar waarin daar oor ’n wye spektrum van dissiplines ’n ontploffing in navorsing plaasgevind het oor nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie/OO (Object Oriented Ontology, OOO) wat ook uiteraard ’n invloed op ekokritiek gehad het. Dit is ’n teoretiese denkrigting wat ’n herbesinning oor materialiteit tot gevolg het: dit waaruit ons liggame en die natuurlike wêreld om ons gemaak is. Dit poog om die verdeling tussen materie en die kulturele konstruksie daarvan – ’n direkte uitvloeisel van die postmodernisme en die poststrukturalisme – te oorbrug. Nuwe materialisme as teoretiese raamwerk sien natuur nie as ’n passiewe sosiale konstruksie nie, maar eerder as ’n bemiddelende krag wat interaksie met en verandering van ander elemente teweegbring, insluitende die mens. Materie is ’n meervlakkige konsep: dit is die materialiteit van die menslike liggaam en die natuurlike wêreld. Iovino (2012:135) wys op die volgende:

[Matter is …] the substance of being, but also, more expansively, as a terrain of knowledge and action, something which enriches the ontological perspective with a wider field of significance. Accordingly, material formations, human and nonhuman bodies, are “emergences” whose existence and meanings are strictly connected to the discursive dimensions with which they are entangled.

Die krag van materie om dinamiese betekenis in en oor beide menslike en niemenslike liggame te bou, vind uiting in narratiewe oor materie, of verhaalde materie (storied matter, soos Iovino 2012:137 dit noem). Iovino (2012:136) sê die vertrekpunt vir ’n ondersoek na die narratiewe van materie wat die gedeelde dimensie van die menslike en die niemenslike ondersoek, is die liggaam as die middelplek. Verhaalde materie beklemtoon die materialiteit van omgewing en plek en sluit aan by wat Alaimo (2008:9) trans-corporeality (transliggaamlikheid) noem en Buell (2005:62–3, 76–8) se konsep van translokaliteit, waardeur die oorgang tussen binne en buite van elke liggaamlike vorm, hetsy menslik of niemenslik, gekarteer word.

By ’n ekokritiese herlees van ’n gedig soos “Te klip om te boom” van D.J. Opperman (Edms. Bpk., 1970) kan aangetoon word hoe transliggaamlikheid bewerkstellig word in die oorgang van wat tradisioneel lewend en nielewend beskou word. Materie (“klip”) vertoon dinamiese eienskappe wat die verdeling tussen die lewende mens en die nielewende materie oorbrug. Die antroposentriese posisie van die mens as wese wat kan voortplant, word sodoende omvergewerp.

klip kan net klip,
sy teel is onderverdeel
tot stomme klippertjies
[...]

vóór boom kan boom
moet klip eers klip.

Die werkwoordfunksie wat op die selfstandige naamwoorde “klip” en “boom” oorgedra word, het tot gevolg dat die grense van liggaamlikheid vervaag en gelykstelling van menslike en niemenslike plaasvind wat die hiërargiese, antroposentriese orde uitdaag.

Antjie Krog se gedig “narratief van klip” (Kleur kom nooit alleen nie, 2000) sluit by hierdie diskoers aan wanneer ’n aanspraak op transliggaamlikheid gemaak word as die klip in tweegesprek met die digter tree. Aanvanklik probeer die klip sy eie niemenslike aard bevestig, maar deur die gesprek word buite die bestaande grense van niemenslikheid  opgetree:

“dé ek is klip”, sê dit
“net klip
in sy lelikste klipste klip
ja vatso, ek is fokkenklipdiklelik
ék smyt die eerste klip en donnerswil trash wat jy dag berg is of klip
of klip of God is
[...]

ek’s ding, hoor jy!
kyk my in die oghe, face my
ek is ding
ek verweer brutaal
tot klipskilfers teen kaal helse skuinstes
vieslike deurmekaar klipbleddievlokke
[...]

ek’s klipbefok
in my klipveld is ek
stoned”.

So word materiële formasies of “emergences” (in die woorde van Iovino) van die menslike (die digter) en die niemenslike (klip en plek) en hulle bestaan en betekenis tot stand gebring in ’n diskursiewe dimensie waarbinne hulle in ’n verbintenis met mekaar tree. Die voorwerp, klip, reageer – voorwerp-reaksie vind plaas – terwyl daar ’n bepaalde reaksie van die digter-onderwerp verwag word, wat onderwerpverantwoordelikheid veronderstel. Ekokrities gelees demonstreer die gedig nie net verhaalde materie nie, maar tree klip ook self verhalend en dinamies handelend op – ’n konsep wat, na analogie van Iovino se verhaalde materie, verhalende materie genoem kan word.   

Gedigte waarin nie net die problematiese aard van die verbintenis met plek raakgelees kan word nie, maar ook die plek self wat handelend en emosioneel optree, is byvoorbeeld Krog se gedig “grond” (Brink 2008:654):

onder bevele van my voorgeslagte was jy besit
had ek taal kon ek skryf want jy was grond my grond

maar my wou jy nooit

[...]

mý wou jy nooit
my verduur kon jy nooit.

Aanvanklik is die verhouding van die spreker-digter met grond bloot as ’n nielewende, niehandelende ding, ’n blote objek: “jy was grond”. Maar sy voeg onmiddellik by: “my grond”, waardeur besitterskap en mag, soos in ’n vroeër bestel, uitgedruk word. Dan verkry grond ’n lewende, handelende identiteit, word meer as objek, wanneer die grond ’n menslike wilsbesluit neem om haar nie te aanvaar nie, ten spyte van haar “vergeefser as vroeër liefhet” daarvan.

Die fisiese, materiële dimensie van plek, maar ook die problematiek van plek en eiendom en mag wat daarmee saamhang, kan ook in Opperman se gedig “Edms. Bpk.” (Edms. Bpk., 1970) nagegaan word, waarin die “ouderwetse”, oerstem, van die natuur die uiteindelike besitterskap opeis:

Ek het ’n stukkie grond gekoop
met melkhout op; dit afgekamp
en teen die hek ’n naam geverf
sodat verbygangers besef:
Dis Dirk se erf.

Janfiskaal sit op my melkhoutboom,
sit op ’n kruin, sit op ’n rots,
en proklameer in sy lied
soggens en saans luidkeels:
“Dis my gebied.”

Bakkapel glip uit my melkhoutbos,
verby die kruin, verby die rots,
en teken op sandkolle waar hy kom
oral in ouderwetse skrif:
“Alles ... alles my eiendom.”

’n Verromantisering van natuur, en spesifiek plek, in die poësie berus op die siening van natuur as stemlose objek, ondergeskik aan die mens, ’n duidelike mens-natuur-skeiding asook ’n natuur-kultuur-dualisme. Bellarsi (2009:4) wys op die patrone van persepsie wat hiermee geassosieer word en wat in ’n postpastorale siening ondersoek behoort te word. Een van hierdie patrone is die aanwesigheid van melankolie – ’n terughunkering na die ongeskonde staat van natuur en die landelike omgewing, wat in kontras gestel word met die stad en die gepaardgaande ontwikkeling en tegnologie. ’n Voorbeeld hiervan word gevind in die gedigte van G.A. Watermeyer, “Reën in die voorwinter” en “Vertevlug” in die bundel Sekel en Simbaal (1948) en ook in D.J. Opperman se “Ballade van die Grysland” (Negester oor Ninevé, 1947).

In Smith (2012:510) wys ek daarop dat ekopoësie nie gelyk gestel moet word aan natuurpoësie nie: 

Een van die belangrikste terreinafbakenings vir die ekopoësie is die stelling van Arigo (s.j.:2), wat onomwonde verklaar dat “ekopoësie” nie noodwendig “natuurpoësie” beteken nie. Hy sê dat tradisionele natuurpoësie, waarin die mens-onderwerp mediteer oor die landskap/dier-voorwerp as toegang tot dieper betekenis in die mens-onderwerp se lewe, problematies en simplisties is, veral gesien in die lig van die postmoderne wêreld waarin ons leef.

Hoewel Bryson (2002:5–6) sekere ooreenkomste met natuurpoësie erken, identifiseer hy drie areas waarin ekopoësie van natuurpoësie verskil, naamlik die erkenning van die interafhanklike aard van die wêreld, die nederigheid in die verhouding met beide die menslike en die niemenslike wêreld en ‘n intense skeptisisme met betrekking tot hiperwerklikheid en oordrewe tegnologie.

Nog een van wat Bellarsi (2009:4) patrone van persepsies noem, is die tipiese natuur-kultuur-dualisme. So ’n patroon kom byvoorbeeld na vore in N.P. Van Wyk Louw se epiese gedig Raka. Olivier (1998:626) sê: “Terwyl woorde wat met dierlikheid, donker en modder verband hou telkens in die beskrywing van Raka voorkom, is adjektiewe soos ‘skoon’, ‘helder’ en ‘blank’ kenmerkend van Koki. Die stam se beskawing word veral beskryf deur woorde wat struktuur en orde aandui, soos die net, die web en die band.” Die natuur-kultuur-dualisme wat kenmerkend van die pastorale en romantiese siening van natuur is, vorm die grondslag van hierdie gedig: oerwoud teenoor beskawing; natuur teenoor kultuur; struktuur teenoor chaos; dierlikheid teenoor menslikheid; die goeie teenoor die bose. ’n Ekokritiese herlees van hierdie gedig open die moontlikheid om natuur as die Ander te lees en nuwe perspektiewe van binne en buite en translokaliteit te ondersoek.

In Gestaltes en diere (1942) span Van Wyk Louw natuur in “as objektivering van ’n innerlike toestand” (Olivier 1998:623) en natuurelemente, soos lug en wolke, see en horison (“Vooraf gespeel”) word volgens Olivier ’n “verontrustende woeling” – in ooreenstemming met die beeld van natuur as chaoties en onordelik. Van Wyk Louw maak dikwels van hierdie objektiverende werkwyse gebruik waarin natuur tot dieper betekenis en insig van die mens se lewe lei. Vergelyk byvoorbeeld die gedig “Vroegherfs” (Die halwe kring,1958). Olivier (1998:621–2) beskryf die ontvangs van die gedig só:

“Vroegherfs”, met sy besadigde ritme en trae gang, evokeer die rypwording van die herfs as voorspel tot die sestet, waarin die spreker om suiwering en heilwording bid. Dié saamgaan van seisoen en geestelike ervaring word dan in die res van die siklus voortgesit, met in die laaste gedig “Eerste sneeu”, ‘n metaforiese vereniging van natuurgebeure en innerlike ervaring [...].

Hieruit is dit duidelik hoe die natuur, in teenstelling met die assosiasie van die bose en die chaotiese, as romanties en selfs verhewe voorgestel word.

Gedigte soos Ernst van Heerden  se “Papegaai” (Verklaarde Nag, 1965), “Akkedis” (Die sewe vrese, 1951), “Bergskilpad” (Reisiger, 1953), “Vlermuis” (Koraal van die dood, 1956), “Dood van die akkedis” (Die klop, 1961) en “Skulpkennis” (Kwadratuur van die sirkel, 1990), D.J. Opperman se “Paddas” (Blom en baaierd, 1956) en “Dennebol” (Dolosse, 1963), C. Louis Leipoldt  se “’n Handvol gruis” (Uit drie wêrelddele, 1934) en Eugène Marais se “Dans van die reën” (Versamelde gedigte, 1936) is maar enkele voorbeelde van die vroeëre sogenaamde natuurpoësie in Afrikaans waarin natuurelemente op pastorale wyse gelees en ontvang is en wat ’n herlees regverdig.

Lefebvre (1991:31) se bekende teorieë oor die produksie van ruimte wat elke sosiale formasie as ’n verteenwoordiging van ruimte sien, het waarskynlik ’n dramatiese invloed op die verloop van ruimtelike studies in die 20ste eeu gehad. Die onderskeid tussen ruimte en plek verdien egter opnuut aandag. Foucault (1984:23) maak die volgende belangrike uitspraak oor plek/ruimte:

The space in which we live, which draws us out of ourselves, in which the erosion of our lives, our time and our history occurs, is also, in itself, a heterogeneous space. In other words, we do not live inside a void that could be colored with diverse shades of light, we live inside a set of relations that delineates sites which are irreducible to one another and absolutely not superimposable on one another.

In die onlangse ekokritiese navorsing is dit veral Buell (2005) wat op die persoonlike verbintenis en verwantskap van die mens met plek fokus en die materiële aard van plek beklemtoon:

Place is succinctly definable as space that is bounded and marked as humanly meaningful through personal attachment, social relations, and physiographic distinctiveness. Placeness, then, is co-constituted environmentally, socially, and phenomenologically through acts of perception. Place connotes not simply bounded and meaningful location but also dynamic process, including the shaping of place by outside as well as internal influences. (145)

Hoewel plek en ruimte nie as antonieme gesien moet word nie, kan geargumenteer word dat die twee konsepte mekaar nodig het vir definisie. Ruimte benodig nie die konsep van plek nie, terwyl fisiese plek wel gelokaliseer is in ruimte. Om die materiële aard van plek te ondersoek, is dit nuttig om die onderskeid tussen plek en ruimte te verwoord.

2.1 Plek en ruimte

Daar word toenemend geredeneer dat tyd en ruimte praktyke is waarvolgens ons dink, terwyl plek te doen het met die fisiese omstandighede waarin ons leef. Kobialka (2012:4) noem ruimte “the countersite” van plek, “an open field to potentialities”. Volgens Lefebvre (1991:31) beskik ruimte oor kodes, simboliek en mag, laasgenoemde wat veral ook waar is van plek.

Ruimte, sê die ekokritikus Linda Russo, is ’n abstraksie wat uitgedruk kan word as behoefte of konsep, terwyl plek ’n spesifieke materiële ruimtelike lokaliteit is. Jy kan daar arriveer of terugkeer daarheen en jy kan dit fotografies en selfs klankmatig vaslê. Russo (s.j.:2) brei hierop uit: “One inhabits, experiences and so owns sensually the sounds, textures, smells, of a place.” Bryson (2002) gebruik die sieninge van Tuan (1977:6), wat saamstem dat ruimte meer abstrak as plek is: “What begins as undifferentiated space becomes place as we get to know it better and endow it with value.” Tuan (1977:4) wys daarop dat plekke “centers of felt value” is, buigsame areas waarbinne sosiale verhoudings gesitueer is en waarmee mense kan identifiseer. Die tasbare aard van plek word deur Casey (1996:31) beklemtoon deur die stelling dat plek onafskeidbaar is van die konkrete en gedefinieer word deur fisiese merkers. Ruimte word gesien as geometriese en topografiese abstraksie en ook as relatief, terwyl plek die konkrete geometriese terrein betrek.

Die wyse waarop sosiale en politieke waarde toegeken word aan plek, asook die spesifieke ruimtelike lokaliteit daarvan, kan nagegaan word in die gedig “Puine” (Tristia, 1962) van Van Wyk Louw waarin plek en die uitdrukking van mag deur naamgewing alreeds in 1962 aangespreek word:

I: Imperialisme
Milner se park
wilde wrak?

Jameson se saal
vuil en betaal

Kitchenerlaan
loop oor moorde begaan

Empireweg
Empire wég?

Die onderskeid tussen plek en ruimte kan ook kragtens die assosiatiewe aard daarvan gedefinieer word. Volgens Buell (2005:63) is die assosiasies rondom plek diggeweef, terwyl assosiasies van ruimte yl is. Die uitsondering is, volgens hom, dié sublieme ruimtes wat as heilige spasies uitgesonder word. Mens sou kon argumenteer dat hierdie sublieme ruimtes waarvan Buell praat, nie ruimtes is nie, maar plekke, en daardeur assosiatief gelade en betekenisvol.

Die verhouding tussen digter en plek is nie bloot ’n eensydige nostalgiese of reaksionêre terugroep van plek nie, maar ’n persoonlike verhouding met en herkenning van die tydelike dimensie van die konstruksie, plek. Dit beklemtoon oorspronge en essensies en dit herfokus die aandag op die interafhanklike aard van die verhouding. Plek word geproduseer as menslike ondervinding, emosionele verbondenheid en materiële omgewing. Volgens Oscarson (2010:10) is plek ’n komplekse interaksie van die lokale en die globale waardeur beide die materialiteit van plek en die toenemend mobiele, tegnologies bemiddelde wêreld in ag geneem word.

George Weideman beskryf byvoorbeeld in “Virtual reality” (’n Staning onder sterre,1997) die wyse waarop die materiële, tasbare plek van “mossies tussen blare” en die “lowerlushof” vervang word deur ’n virtuele ruimte wat op ’n “kosmieser manier” deur taal in stand gehou word:

Ons is nie verdryf nie
ons het dit afgesweer:
die lowerlushof van weleer
word deur ’n gerub met ’n gasmasker
en ’n randsnyer beheer.

Spraak het nie verdwyn nie
ons het dit bloot verleer:
die storievertellers floreer
nou op ’n elektroniese,
kosmieser manier.

Selde kyk ons buitentoe
waar mossies tussen blare speel.
Die vensters van die rekenaar
bied uitsig op ’n binnestad
waarna ons gehipnotiseer

en volkome onversadig staar.

Anders as ruimte, kan plek nie geabstraheer of geobjektiveer word nie, maar dit is gegrond in subjektiewe ondervinding, op ’n gegewe tyd. Dit wys uitwaarts na die tasbare wêreld, maar binnetoe na die persepsies wat deur die interaksie tot stand kom. Dit is gegrond in reële tyd, en hoewel ’n kenner soos Diana Relke van plek-ondervinding “in real spacetime” (1999:312) praat, wil ek in hierdie artikel die term en konsep plektyd voorstel wat klem lê op die belewing van plek binne die hier en nou van reële tyd en daarmee terselfdertyd die onderskeid tussen ruimte en plek in ag neem. Hierteenoor word met die begrip spacetime, soos deur Relke gebruik, of dan ruimtetyd, die abstrakte saambestaan van ruimte en tyd in ’n enkele kontinuum veronderstel, waarin ruimte en duur vry langs mekaar saambestaan. Plektyd, daarenteen, sien ek as konkreet en opeenvolgend; dit wil op die mens se liggaamlike ingeplaastheid en selfs beperktheid binne hierdie fisiese omgewing wys en sluit ook plekgesentreerde gebeure in. Dit veronderstel ’n lineêre voortgang van tyd en van ervaring en plek-gebeure.

As voorbeeld hiervan kan die volgende dien: wanneer ’n woud uitgekap word, is dit ’n gebeure in plektyd, iets wat nie onklaar gemaak kan word nie en wat lineêr, reël en konkreet met plek saamhang. Dit is nie ’n ruimtelike abstraksie nie, maar in die werklikheid gesitueer. Die ekodigter staan in ’n verbondenheid tot plektyd deur emosioneel, affektief en intellektueel deel te word van die ervaring en daarop te reageer. Hy ken die plek; hy is sensories deel van dit wat in plektyd gebeur. Wanneer daar egter na die abstrakte begrip van ontbossing verwys word, word ruimtetyd geaktiveer. Dit bly ’n abstraksie waarna in algemene (hoewel feitelike) terme verwys word. Die oomblik wanneer die ekodigter in gesprek tree met hierdie ruimtelike verwysing, betree hy egter die dimensie van plektyd waardeur hy sensories, visueel en intellektueel betrokke raak by plek en gebeure. Hy raak reaktief daarby betrokke deur middel van sy ingeplaaste skryfaksie.

In ’n ekokritiese interpretasie van die bekende gedig “wy” van Breyten Breytenbach (Die ysterkoei moet sweet,1964) word plektyd veronderstel: plekgebondenheid van die digter deur emosioneel, affektief en intellektueel daarop te reageer en liggaamlik deel daarvan te wees:

my hart is in die boland en niks
kan dit ontwy nie dis gebêre in
’n kissie in wit wellington.

Die gewig wat die woord “in” deur die beklemtoonde posisie aan die einde van reël 2 en deur driedubbele herhaling dra, word ’n bevestiging van die digter-spreker se ingeplaaste posisie in die landskap van sy jeug, al is hierdie plek nie onaangeraak deur menslike ingryping en magsmisbruik nie, soos die “hande vol bloed” suggereer. Buell (2005:62) maak die volgende opmerking:

The sense of being environed or emplaced begins to yield to a more self-consciously dialectical relationship between being and habitat, such that environment presents itself somewhat paradoxically as a more reified and detached surround, which nurtures or binds as the case may be, even as it becomes less stable.

Die lokaal-spesifisiteite van plek, “wellington” en “in die boland” dra by tot die konkretisering en materialiteit van plek in hierdie gedig.

Die ontologiese aspek van ruimte en ruimtetyd behels onder andere die nagaan van die geskiedenis van plek. Dit veronderstel ’n ondersoek na dit wat agtergelaat is en die spore van die afwesige (Ander). Kobialka (2012:4) sê: “The ontology of space will always be imbued with the traces betraying the presence of bodies and thoughts that had disappeared, no longer speak a language that is intelligible to us, or are glossed over by the memories that will forget them to allow the living to exist elsewhere.” Die ondersoek na die spore en oorblyfsels wat gelaat is, plaas die ondersoek binne ruimtetyd, terwyl die spore self – selfs die afwesigheid daarvan – en die digter se reaktiewe betrokkenheid plektyd aanspreek.

Ruimte en ruimtelikheid word geassosieer met vryheid, wat tot die transendentale spreek, dus, om nie (tot ’n spesifieke plek) gebonde of ingeperk te wees nie. Vir die ekopoësie is die teenoorgestelde van krag: dit gaan juis daaroor om in die materialiteit van plek gegrondves te wees en nié die materiële plek te transendeer nie. Bryson (2002:105) wys daarop dat wanneer ons in ruimte inbeweeg, dit op ironiese wyse demonstreer wat die omvang van ons beperkinge is, eerder as ons vryheid.

Oscarson (2010:10–1) maak die volgende stelling oor plek:

Place is a space that a subject has delimited in some way and to which the subject has attributed some type of meaning. It exists in contrast to other spaces and, as such, it must be understood contextually and as part of a network of relations linking both a subject and an object.

In die onlangse verlede is plek in die literatuur oorheers deur ruimte. Oor die universele en abstrakte aard van ruimte laat Oscarson (2010:11) hom só uit:

The historically recent dominance of the idea of space over place has been fueled by various appeals to universalist discourses of religion, science, ethics, and politics alike. Whereas place is constructed out of specificity and context, space has the appeal of an abstract universality.

Die verskynsel van waardevermindering van plek is gevarieerd en uitgebreid. Internasionale tendense soos transnasionalisme, migrasie, ontheemding en verplasing is maar enkele van die faktore wat aanleiding gee tot hierdie tendens. Die belangrikste uitvloeisels van waardevermindering van plek is die verlies aan die sin vir plek vir die individu, wat ’n gebrekkige persoonlike verhouding tot plek en die misbruik van die natuurlike omgewing tot gevolg het. ’n Sin vir plek word nie eensydig op ’n landskap afgedwing nie, maar vloei voort uit ’n verhouding tussen plek en mens. Oscarson (2010:10) praat van die produksie van plek as interaksie tussen menslike ondervinding en materiële omgewing. Die gewaande vervangbaarheid en omruilbaarheid van plek lei volgens Oscarson (2010:12) tot die tendens om die konkrete en lokale met die universele en fantasmagoriese te vervang. Die mens se fisiese verwyderdheid van plek en die verwisselbaarheid van plek lei tot toenemende gebrek aan begrip vir plek en verlies aan sensitiwiteit; die impak van besluite en aksies word geëksternaliseer. Dit kan op sy beurt vervreemding en reaksionêre nostalgie tot gevolg hê. Buitengewone ontwikkeling op verskeie tegnologiese gebiede het ’n radikale verandering teweeggebring in die kernbegrip en voorstelling van tyd en plek. Die rol van globalisasie en die belangrikheid van die universele is sigbaar in die wyse waarop politiek bedryf word sonder inagneming van die omgewing. Oscarson (2010:11) wys daarop dat dit onder andere hierdie tegnologieë is wat rampspoedige wêreldoorloë tot gevolg gehad het wat die sekuriteit van plek ondermyn en oneindige verplasing tot gevolg gehad het.

Die ingrypende effek van elektroniese tegnologie maak dit toenemend irrelevant waar die mens hom bevind: die verhouding met die afwesige “ander”, wat in ligging en lokaliteit ver verwyderd is en met wie verhoudings globaal opgebou word, bedreig en verskraal die sin vir plek en die gebondenheid aan ’n tasbare, persoonlike interaksie wat in materiële plek en ruimte bestaan. Die mens bring toenemend meer tyd deur in ’n kunsmatige plek wat tot gevolg het dat plek uitruilbaar en vervangend word. Volgens Giddens (1990:18–9) word plek en lokaliteit binnegedring en gevorm deur sosiale invloede ver daarvan verwyderd. Tyd en ruimte word op so ’n wyse georganiseer dat aanwesigheid en afwesigheid daardeur verbind word (Giddens 1990:14).

Die omgekeerde ruimte-plek-hiërargie kan egter ook gevind word. Buell (2005:65) wys daarop dat daar stemme opgaan vir die herlewing van plekteorie waarin die sentrale saak die ondersoek is na die liggaam-as-plek.

Die skeiding van plek en ruimte het die skepping van die interessante konsep nieplekke (non-places) tot gevolg, ’n begrip/term wat deur Marc Augé ontwikkel word. Volgens Augé (1995:78–9) is nieplekke “the real measure of our time”, omdat die mensdom toenemend meer tyd in nieplekke deurbring wat voorspelbaar en omruilbaar is. Nieplekke is volgens hom byvoorbeeld snelweë, lughawens, hospitale, kantore, winkelsentrums – oorgangsplekke wat nie genoeg gewig dra om plek genoem te word nie, maar waarvan die mens nogtans afhanklik is en wat selfs as aantrekkingskrag ervaar word. Dit is plekke wat ontwerp is vir doeltreffendheid en gerief, daarop fokus om mobiliteit te fasiliteer en verwyderd is van die gekompliseerdheid wat die tradisionele sin vir plek sou meebring. Oscarson (2010:13) argumenteer dat hierdie nieplekke en, daarmee gepaardgaande, die verlies aan vertroudheid en verbintenis met plaaslike ekosisteme, tot ’n gevoel van vervreemding, onsensitiwiteit vir natuurlike prosesse en ’n fundamentele misverstaan van die unieke eienskappe van ’n spesifieke ekosisteem kan lei.

Buell (2005:64–5) wys daarop dat die geskiedenis van die wêreld ’n geskiedenis is van ruimte wat sonder vorm was en wat plek geword het, ’n proses wat tans weer aan die omkeer is. In die ou beskawings was plek en samelewing saamgesmelt tot ’n eenheid, terwyl verskuiwinge, ontheemding, diaspora en ontworteling omgekeerd bydra tot die produksie vanaf plek na ruimte. Wanneer ’n plek van vroeëre betekenis en belangrikheid gestroop word, vind deterritorialisering plaas en dan word hierdie ruimtes op ’n nuwe wyse bestuur, in ooreenstemming met die gerief en belange van die kapitalistiese magsbasis, wat herterritorialisering tot gevolg het. Verplasing en ontheemding geskied as ruiltransaksie vir die sogenaamde opgradering na kommoditeitsgedrewe identiteitlose behuising, winkelsentrums, kantooremporia en gepaardgaande strukture.

Soos wat die gebied uitbrei en verwater, vervaag plekgehegtheid, terwyl lokale plekgehegtheid ook beïnvloed word deur makrososiale kragte. (Die begrip plekgehegtheid hou volgens Buell ook verband met die derde dimensie van plek en sal verderaan breedvoerig bespreek word.) Die vraag ontstaan dus of die mens se sin vir plek en waardetoekenning aan ’n plek daarvan afhang dat hy in een plek bly en of verplasing, migrasie en verandering die langtermyn plekgebaseerde gehegtheid en toewyding van die mens aan ’n spesifieke plek ondergrawe. Buell (2005:68) wys daarop dat kritici soos Henry Thoreau en Wendell Berry wel so dink, maar hy self is van mening dat daar nie ’n klinkklare antwoord hierop is nie en dat herbewoning of -inwoning van plek nodig is vir die omgewingsgerigte digter en kritikus om ’n sinvolle bydrae te maak.

Die afleiding kan uiteindelik gemaak word dat die aksie van plekmaak (placemaking – die term van Bryson 2002:102) en huismaak voortspruit uit die onderskeid tussen plek en ruimte, en behels dat die wyse waarop die ekodigter sy gehoor vanuit ’n bestaan binne ’n abstrakte ruimte waarin hulle net besoekers is, wil intrek na plek as herkenning van hul huidige omgewing en dus as huis. Die gevoel van afgeslotenheid moet vervang word deur ’n begrip daarvoor dat die grense tussen wat buite is en wat binne is, vervaag. Dit vra vir begrip dat as die een beskadig word, ook die ander een skade ly. So ’n ingesteldheid lei tot ’n plekgesentreerde en plekbewuste oortuiging; dit lei tot spesifieke plekgebaseerde kennis en ’n voortdurende uitbreiding van daardie kennis. Die ekogedig word gebore uit wat die digter nié weet nie, sê Bryson (2002:105), en hy skryf vanaf wat hy weet na wat hy nie weet nie. Hy is voortdurend besig om (nuwe) plek te maak.

2.2 Ingeplaaste skryf en bioregionaliteit

Seker die belangrikste aspek van plek as materiële konstruksie word gevind in die uitgangspunt dat ekopoësie in essensie emplacement is, ’n term wat deur Buell (2005:65) gebruik word en wat ek met ingeplaastheid vertaal. Hierby sluit aan die term “emplaced writing”, ’n term wat Russo (s.j.:2) gebruik in samehang met ’n skryfpraktyk van skryf-binne (“writing within”) en ’n gesitueerde skryfpraktyk (“situated writing”). Russo brei uit: “[F]irst I must stand my ground on this concept of emplaced writing – what I’m going to call ‘writing within’. [I]t recognizes a material emplacement within a complicated set of conditions and relations.”

Die term ingeplaaste skryf is van kernbelang vir die ekopoësie, omdat dit al drie die dimensies wat Buell (2005:63) aan plek toeken, insluit. Die term veronderstel eerstens die materiële, fisiese geplaastheid van die digter in ’n spesifieke plek; tweedens suggereer dit die verband en persoonlike kontak van die digter met plek waardeur die digter in tweegesprek met plek tree; en die term maak verder ook voorsiening vir ’n taalbewuste skryfaksie, waardeur taal as sosiale waarnemings- en konstruksie-instrument ingespan word en daardeur die sosiale dimensie van taal aktiveer. Russo (s.j.:2) praat hier van die taal as “a perceiving and construction tool”:

Thus addressing place, and more specifically the “being located” or localism that is central to environmental writing, enables consideration of the material “emplacement” of “environ-ment” of the writer, of language as a perceiving and construction tool, and of connection (affect, bond) in many senses.

Ingeplaaste skryf behels ’n aktiewe bewuswees van die self en van die plek wat op daardie oomblik fisies deur die digter se liggaam in beslag geneem word en hoe die liggaam binne die plek pas. Die ekodigter vra die vrae: Waar is hier? En hoe pas ek nou, op hierdie oomblik in die hier? “I want to know where I am. […] Exploring my ecosystem, it seems, will require mappings and tracings of connections […]. These include familiar places I visit on foot regularly” (Russo s.j.:1).

Buell (2005:63) beskryf plek onder andere as “spatial container” waardeur die suggestie van plek as behouering of houer uitgedruk word, wat aansluit by die konsep van binne te plaas (nog ’n motivering vir die geskiktheid van die doeltaalterm ingeplaaste skryf vir Afrikaans). Ingeplaaste skryf beteken dat die digter bewus moet wees van hoe die plek gewees het, hoe dit geword het soos dit tans is, hoe dit geaktualiseer word en wat dit kan word. In essensie is dít “a house making” (Skinner 2001:7) en dus “poiesis”. Russo (s.j.:2) sê: “[A]n ecopoetics of writing within is concerned equally with engaging these things and with poiesis: with making poetry.” Dit beteken ’n ekopoëtiese praktyk van materiële, linguistiese en digter-ingeplaastheid: “In an ecopoetical practice that considers material and linguistic emplacement (or how we situate language as a framing ‘tool’, to use Buell’s term), environment and language and poet are ineluctable presences” (Russo s.j.:2).

Materiële ingeplaastheid is nie los te maak van die taal of van die digter nie. Die fisieke materialiteit van plek veronderstel ’n sensoriese, emotiewe en intellektuele bewussyn van wat ek noem ’n binne-die-liggaam ervaring van die digter. Relke (1999:312) sê: “The body is our primary means of communication with nonhuman nature because it’s our bodies as much as our texts that define our environment for us.” Sy stel ’n proses voor waardeur daar heraansluiting met die liggaamlike gevind word, waardeur die materialiteit en sentraliteit van die menslike liggaam herken en erken word. Sy wys voorts daarop dat die postmodernisme en dekonstruksieteorieë dikwels met die gefrakteerdheid van die geheel werk, terwyl die ekokritiek juis na die samehang en interafhanklikheid kyk. Teen hierdie agtergrond sou ’n ingeplaaste skryfaksie juis ook dui op ’n in-die-liggaam-ervaring, ’n plekverbondenheid en plekgehegtheid van die digter.

In die gedig “Die kluisenaarskrap op my kriewelrige palm” (Monsterverse, 1984) van Wilma Stockenström vind die leser hierdie tasbare, binne-die-liggaam-ervaring in die volgende woorde:

 29
Die kluisenaarskrap op my kriewelrige palm
speel monster-monster, skrik vir my skrik,
[...]

... Vorentoe
loer sal ek, knypers uitsteek sal ek,
my huis vervang namate my lyf

(waaraan ek skaam geheg is) groei en groei,
en ek, verleë krap, die sierlike vreeslike
wasdom in weggooiwonings gedruk moet kry
[...]

Klankmatig, deur die herhalende eksplosiewe en trillers, trek die spreker-digter die leser in by die sensoriese aard van die gedig. Die grense tussen die mens en die niemenslike word opgehef wanneer die digter rolle omruil en self krap word.

Die sensoriese ervaring van plek word ook deur Carr (2012:63) beskryf en sy lê veral klem op die aksie van luister:

After all, the basic gesture of language is listening. Exposed, close your eyes. Cored out. Ears open as stars. Listening, you render the fixed bounds of the world permeable to what is not perceived, not permitted, unbound. Listening, the world burns clear of preconception. You begin to feel it giving birth to your position. […] So you come to inhabit your body, like music.

Weer Stockenström, die gedig “Die hotnotsgot tik teen die ruit, tik-tik” (Monsterverse, 1984), wat met ’n opstapeling van eksplosiewe musikaliteit bewerkstellig:

50
Die hotnotsgot tik teen die ruit, tik-tik.
Klein klop klein klop van bitter verkondiging
tik die gothotsnot met opgehewe kleine klou
teen ons aller ruite groot en glimmend

soos die vloeistof wat reën is
soos die vloeistof wat glas is.
[...]

Russo (s.j.:2) wys voorts daarop dat ’n ingeplaaste skryfpraktyk van die digter verg om bioregionaliteit in ag te neem, ’n praktyk wat die gekompliseerde interafhanklike aard van ekopoësie en ekopoëtiese skryfprosesse beklemtoon. Dit kom dus weer eens daarop neer dat ’n pleksensitiwiteit en plekbewussyn deur die digter veronderstel word. Die term bioregionalism is oorspronklik deur Peter Berg en Raymond Dasmann (1977:399–400) ontwikkel en deur hierdie term word beide ’n geografiese terrein en die terrein van die onderbewuste veronderstel. Die konsep van bioregionalisme word deur Buell (2005:83) as een van ekokritiek se mees onderskeidende bydraes in die taksonomie van plek-skale bestempel.

In ’n omvattende definisie beskryf Flint (2005:1) ’n biostreek as ’n geografiese streek wat omskryf word in terme van sy unieke kombinasie van plante, diere, geologie, klimaat en waterlewe. Dit is ’n area wat gedefinieer word deur natuurlike grense en sy lewende gemeenskappe. Biostreek verwys na sowel die geografiese terrein as die terrein van die onderbewussyn – ’n plek en die idees wat ontwikkel het oor hoe om op daardie plek te leef. Dus is natuurlike vorme en lewende gemeenskappe, insluitende mense, die definiërende kenmerke van elke biostreek, eerder as die politieke grense van land en staat en nasie. Thomashow (1999:121) wys daarop dat bioregionalisme ’n poging is “to integrate ecological and cultural affiliations within the framework of a place-based sensibility”.

Goldberg (2011) maak die belangrike stelling dat bioregionaliteit veronderstel dat sekere kenmerkende eienskappe van ’n bepaalde geografiese streek ingesluit word. Bioregionaliteit is dus meer as net die skryf oor die omgewing; dit tree ook ideaal gesproke in gesprek met die uitstaande en onderskeidende kenmerke van ’n genoemde streek, is plek-spesifiek en dra by tot die produksie en instandhouding van inheemse kennissisteme. Die taak van bioregionaliteit is nie die letterlike herkartering van die grense van streke nie, maar die vestiging van die aandag op die interaksie van topografie, klimaat, niemenslike lewe en hoe mense daar geleef het en behoort te leef.

In aansluiting by die gedagte van bioregionaliteit as weerspieëling van lewende gemeenskappe, insluitende mense en die definiërende kenmerke van so ’n streek, kan Johann Lodewyk Marais se “Langrietvlei II” (Diorama, 2010) as voorbeeld dien:

Die mooiste werf in dié bergewêreld
is oom Ben en tannie Hannie Marais s’n
op Langrietvlei, het my pa volgehou,
terwyl hy op Sans Souci die steiltes
met terrasse tem en ’n rotstuin bou.
“Dié huis was altyd vir my ’n vesting,
maar ek weet nie meer nie,” sê Annatjie,
terwyl ek op die vlak Harrismith-kweek
opkyk na die Himalaja-seders
waar die geel wewers hulle neste breek.

Die spreker-digter bevind homself fisies aanwesig in die landskap, deur bloed verbonde, terwyl die plaas- en persoonsname tot die spesifieke lokaliteit van plek bydra. Die kontras tussen huismaak en “neste breek” is opvallend, waardeur die mens–natuur-verhouding gerelativeer word.

Russo (s.j.:1) brei uit op bioregionalisme deur te sê dat dit nie net haar onmiddellike woonruimte insluit nie, maar ook die plekke wat sy ken en gereeld (te voet) besoek. Sy sê: “My intuition is that my bioregion – the one I am located in – is peculiar to my body and where it goes.” Sy erken dat so ’n siening beperkend is en dat die ekopoëtiese skryfpraktyk nie noodwendig gelokaliseerd en beperkend moet wees nie, maar dat die lokaliteit van die digter ’n beginpunt is. Russo merk voorts op: “An ecopoetics occurs somewhere; it is an event, one that necessarily exists alongside other human and nonhuman events in the world.” Die gevolgtrekking is dus dat ekopoësie ten nouste verwant is aan plek en dat die verwantskap tussen die digter en plek onlosmaaklik verweef is.

Ook die dubbele spanning wat in die bioregionale gedig ontstaan, word deur Russo (s.j.:6) uitgewys:

At some moments the poem is an account of the world-as-it-is, at other moments a [sic] idiosyncratic self emerges like a sprite. Yet, the poem announces a concerted effort to write as a way to displace self from phenomenal experience. [… It is a] poetics in which these two acts – of being, and of “letting be” – work in concert.

Die ekogedig word dus self plek: plek waarin die materialiteit van plante en diere en water en lug en son en maan verweef word met die gedagtes en wese van die digter. Die groen gedig is die raam waarbinne die interaksie tussen landskap en taal en mens plaasvind, die plek van in voeling wees met, van tuis wees, van samehang. Weer eens Russo (s.j.:6): “The poem is porous, a duration. Not a slice of life, but an instance of inhabiting […] a site of ecological being.” Plek is waar die materialiteit van die gedig en die materialiteit van die omgewing en van die digter in gesprek met mekaar tree.

Deur op bioregionaliteit te fokus word nie gesuggereer dat ’n ekopoëtiese skryfpraktyk noodwendig slegs gelokaliseerd of beperk moet wees tot die onmiddellike of een area waarin die digter hom bevind nie. ’n Ekogedig gebeur egter iewers, dit is ’n gebeurtenis en ervaring wat plaasvind naas en in samehang met ander menslike en niemenslike gebeurtenisse in die wêreld. Dit deel ’n bepaalde materialiteit met ’n menigte ander aksies en gebeurtenisse. Om biostreeksgerig te dink, laat ruimte vir stedelike areas en selfs tuine. Buell (2005:87, 88) wys daarop dat ons ten minste begin om ’n inkorporering van stedelike en verwante beskadigde plekke in ekokritiek te sien in wat hy “city writing” noem. Hierdeur word die stad as plek herken as iets meer as ’n nieplek. Hy sê: “Perhaps what especially differentiates modern bioregionalism, be it rural or urban, from traditional regionalism is the sense of vulnerability and flux.”

Net soos met die tot stand kom van die konsep nieplekke, het ekokritici ook terme ontwikkel om verwante geskepte plekke, veral stedelike plekke, te definieer. So het daar benamings ontstaan soos groenruimte (greenspace), groenveld (greenfields), grysruimte (greyspace) en bruinveld (brownfields).

Biosentrisme impliseer uiteindelik vir die digter ’n bewussyn van die omringende plek, ’n ondersoekende skryfpraktyk wat deur die lens van verantwoordelikheid en balans en onderlinge samehang na plek kyk. Dit is die vormende skryfproses waardeur ’n komplekse kennis van plek tot stand gebring word. Wat dikwels daarmee saamhang, is ’n poging om die eeue oue antroposentrisme op sy kop te draai. Die uiteenlopende aard van ekopoëtiese en ekokritiese onderwerpe herken die materiële ingeplaastheid binne ’n gekompliseerde sisteem van voorwaardes, verhoudings en onderskeidende kenmerke.

Teen hierdie agtergrond is dit ironies dat, hoe ingeplaas die digter ook al in sy omgewing en plek is, sy bestaan vir alle praktiese doeleindes binne daardie plek opgehef word wanneer hy skryf – hy betree die abstrakte ruimte van idees en boeke, sy liggaam bewegingloos, behalwe die flikkerende vingers op die sleutelbord van die rekenaar (Buell 2005:70).

Hierdeur word aansluiting gevind by die volgende merker, naamlik plek as linguistiese konstruksie.



3. Plek as linguistiese konstruksie: die sosiale en kulturele dimensie van plek

Die ekodigter bevind hom tussen twee wêrelde – die groen wêreld van geelhoute en aalwyne en bosbontrokkies en die ander wêreld van woorde, taal en poësie. Die onderskeid tussen die dinge in die natuurlike wêreld om ons en ons woorde daarvoor maak ons opnuut bewus van die beperkinge van taal, maar ook van die sosiale en kulturele geladenheid daarvan. Daar is reeds gewys op Russo (s.j.:2) se definisie van taal as ’n instrument van persepsie en konstruksie, waardeur plek gekarteer word, ’n proses wat Relke (1999:322) as kognitiewe kartering beskryf.

Een van die groot uitdagings in teorievorming oor plek is, volgens Oscarson (2010:14), om te verstaan hoe plek en natuur kultureel en linguisties gekonstrueer word, maar om terselfdertyd oop te bly vir die teenwoordigheid en invloed van die meer-as-menslike wêreld. Kritici soos Henri Lefebvre en David Harvey sê byvoorbeeld dat plek hoofsaaklik, indien nie eksklusief nie, ’n sosiokulturele en linguistiese konstruksie is. In dié verband skryf Harvey (1996:293–4): “Place, in whatever guise, is like space and time, a social construct […]. The only interesting question that can then be asked is: by what social process(es) is place constructed?” Oscarson kritiseer die eensydige aard van hierdie siening wat nie rekening hou met die materialiteit van plek (Buell se eerste merker) nie. Hy skaar hom by Buell (2001:60–1) se standpunt, naamlik dat geen toekomstige teorie oor plek standhoudend kan wees as dit nie al drie dimensies, subjektief, sosiaal en materieel, herken nie.

Taal is onlosmaaklik deel van die proses van die kulturele en sosiale produksie van plek. Die tekstualisering van omgewing open ’n hele reeks kwessies rondom die verhouding tussen woord-plek en reële plek. Die ondersoeke na die artistieke aanbod van die fisiese omgewing moet aandag gee aan die verhouding tussen die tekswêreld en die wêreld van die histories beleefde ervaring. Buell (2005:30) sê in dié verband:

The majority of ecocritics, whether or not they theorize their positions, look upon their texts of reference as refractions of physical environments and human interaction with those environments, notwithstanding the artifactual properties of textual representation and their mediation by ideological and other sociohistorical factors.

Hy raak in hierdie aanhaling enkele kernaspekte aan. Die eerste saak wat uitgelig word, is die feit dat die aangebode teks gesien word as ’n breukdeel van die fisiese, materiële geheel en die menslike interaksie daarin en daarmee. Buell (2005:30) sê byvoorbeeld dat “all artistic work hinges upon the evocation of imagined worlds that may or may not bear a close resemblance to literal or historical environments”. Hy wys verder ook op die feit dat tekstuele voorstelling bemiddel word deur ideologiese en sosiohistoriese faktore. In Smith (2012:507) verwys ek na die rol wat ideologie in die vorming van ekologiese persepsies speel:

Elke heersende ideologie bepaal sy eie stel waardes wat mettertyd gevestig raak. ’n Ideologie bevestig die mens in ’n bepaalde rol wat weerspieël word in die verhouding tussen die mens en sy omgewing. [...] Die geskiedenis is egter nie altyd so eenvoudig, onveranderbaar en eenstemmig as wat ons algemeen aanvaar nie; grense vervaag, word bevraagteken en opgehef; en hierdie veranderlike en interafhanklike aard beïnvloed ideologiese verskuiwinge en posisionering, ook dan ten opsigte van die perspektief op en verhouding tot die natuur en die niemenslike omgewing.

In die gedig “rondeau in vier dele” (Verweerskrif, 2006) van Antjie Krog word die bioregionale en die sosiokulturele dimensies van plek geaktiveer. Die Khoi- (“Hoerikwaggo”), Zoeloe- (“Umlindi Wemingizimu”) en Portuguese (“Golfo dentro das Serras”) naamgewinge van Tafelberg en -baai word opgeroep, waardeur ’n bewussyn van naamsverandering wat plaasgevind het (waardeur besitterskap en mag uitgeoefen was), asook ’n spesifieke streeksgebonde lokaliteit weerspieël word: 

[...]
van binne Camissa van binne soet water
van binne Camissa van buite vars water

van buite Golfo van buite Golfo dentro
van buite Golfo detro das Serras van buite

Umlindi
Umlindi We
Umlindi Wemingizi
Umlindi Wemingizimu
[...]
Umlindi Wemingizimu Hoerikwaggo Mons Mensa
berge van buite is die wêreld van binne
is buite nou binne en binne nou buite

party bestyg berge om verder te sien
party bestyg berge om die self af te lê
party bestyg berge om ’n God te aanbid
party bly bloot teen die hange.

Deur die klankryke herhalende aard van die gedig word ‘n eenwording met die berg en met natuur bewerkstellig, die berg soos hy deur al die eeue en al die magshebbers se periodes van bewind was, soos hy vir die oog van buite gelyk het, maar ook soos die tasbare, materiële binnekennis van die digter suggereer.  

Pleksimboliek en die assosiatiewe en kulturele waarde wat aan plek en sy inhoud toegeken word, is geen konstante gegewe nie. Dit ondergaan voortdurende veranderinge en kan verruim of verskraal na gelang van die heersende ideologieë en sosiale bewussyn. ’n Bepaalde ideologie is op ’n gegewe tydstip in die geskiedenis aktief en dominant as gevolg van die sosiale ordeninge, historiese perspektiewe en die magstrukture van daardie tyd.

Dit sluit aan by Savory (2011:80) se uitspraak: “Ecocriticism reads texts through a politically engaged lens for their representation of ecology, past, present and looking forward to the future.” Ook Olivier (2010:1) wys daarop dat ekokritiek ’n politiese boodskap kommunikeer wat daarop gemik is om handelinge aan te spoor wat die uitbuiting en agteruitgang as gevolg van ’n ekonomiese en politieke sisteem van mag teenstaan. Verandering in handelinge spruit voort uit ’n veranderde sosiale gewete en bewussyn, wat op hul beurt weer deur veranderde ideologieë geaktiveer word. Die politiek van taal kan dus gesien word as deel van die taal-konstruksie van plek, ’n aksie wat Relke (1999:289) “résistance writing” noem.

Die woord-wêreld-verbintenis gee aanleiding tot verdeeldheid ten opsigte van voorstellingswyse en tekstualisering van plek wat kan wissel vanaf die bykans pastorale realistiese aanbieding waar feitelikheid en akkuraatheid en mimesis belangrik geag word, tot die postmoderne aanbieding waarin die teks selfrefleksief bewus is van sy eie status as tekstuele artefak. Tussen hierdie uiterstes word daar gesoek na ’n middeweg van tekstuele voorstelling waar daar ’n bewussyn is van die feit dat daar geen een-tot-een-korrelasie tussen teks en wêreld is nie, maar eerder ’n omgewingstoespeling of omgewingsgerigte verwysingsraamwerk. Die menslike taal is veel meer beperkend as die ekologiese prosesse van die natuur en ekodigters behoort die grense van taal in die aanbieding van plek te herken – ’n herkenning wat volgens Gilcrest (2002:19) as bevestiging dien dat natuur en plek in die ekogedig as selfstandig gesien word en nie as ondergeskik aan ’n hoër menslike bewussyn nie. Die stereotipering van die niemenslike in ‘n ondergeskikte rol behoort aangespreek te word, byvoorbeeld Eden, Arkadia, die paradys, wildernis, oerwoud en selfs moeder natuur. Herdefiniëring is nodig om bevryding van vooropgestelde kulturele en linguistiese persepsies te bewerkstellig.

Die wyse waarop kernbegrippe oor plek histories, sosiaal en kultureel gedefinieer en begryp word, dra by tot die gekompliseerde aard van die linguistiese konstruksie van plek. So byvoorbeeld is daar groot verskille in die gebruik van die term landskap, wat in verskillende kulture uiteenlopend gedefinieer word. In Engels verwys landscape uitsluitlik na kulturele produksie (Oscarson 2010:18), dus ’n mensgemaakte, herskepte landskap, wat na alle waarskynlikheid oorgeneem is uit die Nederlandse landschap. Hierdie landskap, sê Schama (1995:10), “signified a unit of human occupation, indeed a jurisdiction” en het oorspronklik betrekking op die Nederlandse drooggelegde land wat deur menslike ingenieurspraktyke tot stand gebring is. In ander tale, soos Sweeds en ook Afrikaans, verwys landskap na beide die natuurlike en die herskepte landskap. Oscarson haal aan uit die roman van Kersten Ekman (Händelser vid vatten, 1993 [Engelse vertaling, Blackwater, 1997]), waarin landskap beskryf word as iets wat altyd deur die menslike blik en ons beskrywings daarvan gevorm word. Ekman (1997:308) skryf: “[T]here is nothing that is not nature. We are all nature. Even the big cities will be broken down into quarries where eagles nest and lizards sun themselves on the walls. Into jungles or secretive formations of spruce forests.” Landskap verander sowel die wyse waarop mense kyk as wát hulle sien. Fleming (2002:43) voel byvoorbeeld dat landskap as werkwoord gebruik behoort te word om idees, houdings en persepsies te verander. Só ’n konsep sou kon beteken dat daar aansluiting gevind word by die Griekse woord waarvan die woord poësie oorspronklik kom. Daardeur word aksie uitgedruk en landskap of plek as lewende, handelende instansie gesien. Landskap en plek is altyd ekologies in die sin dat plek altyd tot stand kom deur die ineenskakelende verhoudings tussen die gevonde, materiële plek en die kulturele en sosiale konstruksie wat daarop geprojekteer word deur die mens.

Oscarson (2010:19) brei hierop uit:

The one acts and depends upon the other much as organisms in an ecosystem. In other words, place is created where “the ground respond(s) to the foot”, it exists both within a natural ecosystem and also within a discursive ecosystem and both systems are fundamentally interrelated.

Met hierdie stelling sluit hy aan by die idee van die hersiene of postmoderne sublieme, soos in Smith (2012:510–1) uiteengesit. Volgens die siening van die hersiene sublieme kan die gedig onder andere demonstreer hoe die natuurlike ekologiese samehang versteur word deur menslike ingryping en nuwe samehang en saambestaan (as kulturele konstruksie) in die gedig tot stand kom. Uiteindelik kan plek gesien word as iets wat bestaan tussen die subjek en die objek, tussen sisteem en individu, ’n evoluerende, veranderende ekotoon.

In die gedig “Eendagskoon” van Martjie Bosman (Toevallige tekens, 2010) word ’n voorbeeld gevind van die wyse waarop die hersiene sublieme in ’n gedig aanwesig is. In Smith (2012:510–1) wys ek hoe die hersiene sublieme die teenwoordigheid van beide skoonheid en nieskoonheid veronderstel, waardeur ’n nuwe samehang tot stand kom. Tussen “bourommel op oop erwe”, “sinkplate aan ‘t roes teen slap heiningdrade”, “motorwrakke” en “verval” bestaan die skoonheid wel:

Dan, onverwags om nog ’n hoek,
word jou asem weggeslaan
waar ’n gordyn van glorieryke blou
geil afrank in ’n slordige tuin
en soos ’n toevallige teken
die toonaard van die ganse buurt verstel.

Die stelling van Oscarson hier bo wys verder op die belangrike aspek van plek as sistemies, as deel van ’n interafhanklike, interaktiewe en ineenskakelende geheel. Plek is dus beide natuurlike gegewe en kulturele konstruksie, deur ingryping van die mens en as sentrale gegewe van die ekopoësie, omvattend, sistemies en inklusief.

Nog ’n kernbegrip in die ondersoek na plek as sosiale en kulturele konstruksie lê opgesluit in die herdefiniëring van die begrippe wildernis, wildheid en wild en die onderskeid wat tussen wildernis en paradys getref word. Dit gaan oor die mens en sy wisselende persepsies van en assosiasies met hierdie twee begrippe deur die eeue, in die geskiedenis, letterkunde, religie, en mitologie en op vele ander terreine. Die paradys is simbool van die begin van lewe, die goddelik volmaakte tuin, maar roep ook die sondeval en uitwerping op. Die begrip wildernis veronderstel terra incognita, ’n terrein wat onversteurd deur permanente inwoners is (Buell 2005:148–9). Wildernis is natuur in ’n onbesoedelde staat, ’n plek wat gemobiliseer word vir die bewaring van spesifieke habitats en spesies, en besit volgens Garrard (2012:66) bykans heilige waarde wat die belofte van herlewing en ’n hernude, oorspronklike verhouding tussen mens en aarde inhou.

Garrard (2012:91) beweer verder dat wildernis nadergebring kan word aan die self: ons liggame is wild – iets wat byvoorbeeld na vore kom in ons universele reaksies in ’n oomblik van gevaar. Gary Snyder se ekogedigte keer volgens Garrard (2012:92) effektief die opposisie orde/chaos = beskawing/wildernis om deur beskawing as ’n pad van chaos en wanorde te beskryf en wildernis as die beliggaming van vrye selforganisasie.

Ook persepsies van geslag speel ’n rol in die definiëring van wildernis en van natuur. Meestal word natuur as vroulik uitgebeeld. In die gedig “Ekologie” van Elisabeth Eybers (Nuweling, 1994) word die spreker-digter manlik voorgestel teenoor die vroulike aarde. In die gedig “apologie” (Sprokkelster, 1977) van Marlene van Niekerk kom die vroulikheid van die aarde na vore, ’n vrou wie se skaamte deur “toiings tooisels en rafels” bedek moet word, terwyl die aarde, “sy, die saggeaarde”, genoem word in “Almoeder” van Wilma Stockenström (Vir die bysiende leser, 1990).

Opposisies soos ’n manlike wildernis teenoor vroulike huislikheid word in die ekogedig bevraagteken. Volgens Buell (2005:109) dien geslag as die lens waardeur die dubbele paradoks van natuur as beide androsentriese domein van die man en as vroulik-gekodeerde huislike ruimte aangebied word. Aan die een kant word wildernis gesien as geen plek vir ’n vrou nie, viriel, soms gewelddadig en die speelruimte vir gewaagde en avontuurlustige ervaringe. Dit skep ’n problematiese ambivalente ervaring vir mans waarin “the myth of the masculine hero conquering the virginal landscape” (Norwood 1996:323) breedvoerig in die literatuur beskryf is. Hierteenoor argumenteer ekofeministe soos Vera Norwood dat vroue wildenis anders beskryf as die man, “immersion rather than confrontation, recognition rather than challenge” (Norwood 1996:344).

Ten opsigte van die bundel Otters in bronslaai (1981) van Antjie Krog wys Gouws (1998:555) byvoorbeeld daarop hoe “otter” as simbool vir manlikheid en viriliteit gelees word en “bronslaai” die “huislike kode” en vroulikheid simboliseer. ’n Herlees van hierdie bundel kan interessante lig werp op die wyse waarop “otter” as natuur en wildernis gelees kan word.

Die voorstelling van natuur en plek in die Westerse kultuur het ’n verrykende invloed gehad op die ontwikkeling van Westerse regstelsels (as sosiale en kulturele instellings), veral waargeneem in die antieke kulture waarin daar dikwels ’n hegte interaksie tussen natuur as simbool en narratief en die norme en wette van ’n gemeenskap was (Godden 2000:22–3). Uitvloeisels van ’n ontwikkelende sosiale bewussyn van ekologie en veranderde persepsies van plek is die ontstaan van aardregaardregkunde en wildernisreg, juridiese interdissiplinêre terreine waarbinne natuurlike gemeenskappe en ekosisteme as wettige instansies met wetlike regte gesien word.

Ook die herdefiniëring van die Ander, of die nuwe Ander, om natuur, natuurplek en die niemenslike wêreld in te sluit, kan gesien word as deel van die wyse waarop taal as persepsie- en konstruksie-instrument gebruik word. In teenstelling met die uitgangspunte van teoretici soos Derrida, Foucault, Saïd en Spivak, sien Scigaj (1999:78) natuur as “a separate and at least equal other. [...] It does not subordinate nature to a superior human consciousness or reduce nature to immanence.” Natuur word volgens hierdie siening ‘n afsonderlike eie stem gegee, gelyk aan dié van die mens. Van Derrida se teorieë sê Scigaj: “Derrida’s system, by reducing the real to the textual, also created a dualistic split between the textual and the impossible other, the natural world” (1999:61).

Nie almal stem egter met hierdie herdefiniëring saam nie. Russo (s.j.:1) bestempel die idee van natuur as die nuwe Ander as “an overtly romantic conception”. Sy voer aan dat die stem van die natuur niks anders is nie as ’n menslike (taal-)konstruksie en dat ekogedigte ’n konteks skep waarbinne ons na onsself luister, besig om waar te neem, te oorweeg en te verstaan.

Herdefiniëring van kernbegrippe soos die bogenoemde veronderstel ’n skryfpraktyk wat plek in ag neem en wat die digter dwing om ’n komplekse kennis van (die) plek op te bou, waardeur antroposentriese beskouinge vervang word deur biosentrisme. Dit is ’n praktyk wat die dualisme wat tussen materie en betekenis en tussen liggaam en denke bestaan, ophef. Die tekstualisering van plek behoort dus teenstrydighede – soos besondere/algemene, feitelike/fiktiewe, letterlike/figuurlike en ander – in ag te neem. Dit dwing ook die teoretikus om krities en vernuwend na bestaande literêre teorieë te kyk.

Relke (1999:288–9) stel ’n skryfpraktyk voor wat dien as ’n herontdekking van die materialiteit van literêre teorieë: “The reintegration of material embodiment into theories of culture opens up the possibility of exploring the limitations of current discourse theory and literary criticism […].” Postmoderne teorieë van dekonstruksie en poststrukturalisme se abstrakte, tekstuele siening van die werklikheid het tot gevolg dat teorie en materie geskei word en dat diskursiewe of linguistiese fundamentalisme op die voorgrond gestel word. Dit lei volgens Relke tot die skeiding van betekenis en materie en sy argumenteer ten gunste van ‘n kognitiewe kartering van die verhouding tussen die abstrakte en die reële (1999:322–33). Sy voeg by: “Matter matters. I […] became convinced that what’s missing in Foucault, Lacan, and Derrida – founding fathers of postmodernist theory – is a structured system other than the system of signs” (1999:321).

Scigaj (1999:41) gee toe dat taal heelwat meer beperk is as die ekologiese prosesse van  natuur en dat ekopoësie hierdie beperkinge erken. Hy beweer dat wat hy bestempel as die hernubare gedig, in samehang met, maar ook in teenstelling met, die postmoderne bewussyn van die afgelope dertig jaar optree en wys daarop hoe ekodigters nou argumenteer vir “the reverse of the poststructural position that all experience is mediated by language” (Scigaj 1999:29).

Campbell (1996:133–4) druk haar nog sterker uit ten opsigte van die postmoderne teorie:

Theory sees everything as textuality, as networks of signifying systems of all kinds. Foucault sees an idea like madness as text; Lacan sees a human being as a text; Derrida argues that everything is text in the sense that everything signifies something else. But ecology insists that we pay attention not to the way things have meaning for us, but to the way the rest of the world – the nonhuman part – exists apart from us and our languages. […] The systems of meaning that matter are ecosystems. 

As Derrida in sy seminale stelling “there is nothing outside the text” (1997:158) argumenteer dat alles teks is, bedoelende dat die konteks en alles wat buite die teks lê, deel van die teks is en dat teks voortdurend na iets anders verwys as deel van ’n netwerk van verwysende sisteme, wil ekologie daarop aandring dat ons aandag moet terugkeer na die erkenning van die wyse waarop natuur net soveel bydra tot ons konstruksie as mense as die tekens wat vir natuur en plek instaan. Dit vra om ’n teoretiese herposisionering van realiteit en waar en hoe ons onsself sien. Daar is alreeds hier bo gewys op Relke (1999:312) se beklemtoning van die liggaam, liggaamlikheid en materialiteit, net soveel soos die teks, wat ons omgewing definieer. Hiermee word die mens se onlosmaaklike verwantskap aan en verbondenheid met plek bevestig.



4. Verbondenheid aan en verwantskap met plek: die subjektiewe dimensie van plek

Die produksie van dokumentêre programme oor natuur, oor wilde diere en plantegroei het die mens se bewustheid van hierdie dikwels afgeleë, verwyderde natuurlike omgewing verhoog. Dit is egter die persoonlike verhouding waarin die mens tot sy onmiddellike omgewing staan wat ’n subjektiewe dimensie aan plek verleen. Die verwantskap van die digter met plek word, soos reeds genoem, vervat in die konsep ingeplaaste skryf.

Wat deur Buell as die verbondenheid en verwantskap van die mens met plek beskryf word, is een van die belangrikste eienskappe van ekopoësie en hang saam met die sensitiwiteit vir  verbondenheid en intimiteit van die spreker-digter met plek. Die plek, as ruimte waar die digter voel dat hy hoort, en die veranderinge wat die plek ondergaan, staan voorop. In Smith (2012:414) stel ek dit so: 

Die verhouding tussen die spreker-digter en die landskap staan sentraal in die ekogedig en is seker een van die belangrikste kenmerke van ekopoësie. Wanneer die landskap verandering ondergaan, hetsy fisies, polities of ekonomies, het dit ’n effek op die spreker-digter. Dit is vir die digter onmoontlik om homself van die landskap óf die sosiopolitieke en ekonomiese konteks los te skeur.

Die konsep van subjektiewe plekverbondenheid of -gehegtheid wat alreeds in 2001 deur Buell ontwikkel is, word soos volg deur hom (2005:72) saamgevat:

Place consciousness and bonding involve not just orientation in space but temporal orientation also. At the spatial level, at least three kinds of mental mapping are involved. The most traditional and still prevalent might be imaged as concentric circles of diminishingly strong emotional identification (and increasing anxiety and fear of the unknown) fanning out from the home base or home range close to which most of one’s life is led.

Globalisering bring mee dat plekbewustheid en -gehegtheid heelwat wyer uitkring as die tradisionele plekgebondenheid hier bo deur Buell beskryf, ’n feit wat hy dan ook aantoon. Die mens ervaar in die loop van sy lewe ’n hele aantal verwyderings en verplasings van plekke waar hy gebly het en aan geheg was. Buell beskryf dit as “dispersement” (2005:72) – verstrooiing, wat ’n gevoel van verlies tot gevolg het. Hoewel veelvoudige plekgehegtheid die verbintenis tot net een plek kan verwater, is dit nie noodwendig die geval nie.

Die mens kan selfs aan plek geheg raak suiwer deur die krag van verbeelding. Buell (2005:72) se siening van plekgehegtheid strek selfs wyer as werklike plekke: “The places that haunt one’s dreams and to some extent define one’s character can range from versions of actual places to the utterly fictitious. […]  It is entirely possible to care more about places you’ve never been […] than the ones you know first hand.” Die feit dat die mens nie fisies in die plek was waarin hy homself verbeel het nie, en dalk nooit daar sál wees nie, verminder beswaarlik die intensiteit van so ’n verbeelde en verhaalde plek en die gevoel van verlange en lojaliteit. Dit kan selfs daartoe lei dat hy so betrokke by daardie plek raak dat hy ’n daadwerklike invloed daarop kan uitoefen of gedrag teenoor so ’n plek kan beïnvloed (Buell 2005:73).

Die temporale dimensie van plekverbondenheid word gereflekteer in die opgegaarde plek-ervaringe van ’n leeftyd. Die herinnering van een plek het ’n uitwerking op die mens se reaksie op al die ander plekke waarin hy hom daarná bevind. Hoe ’n bepaalde lokaliteit as plek ervaar word, sal geaffekteer word deur faktore soos hoe diepgewortel of vervlietend die vorige ervaringe was, watter tipe omgewing hy aan gekondisioneer was om as vreemd of bekend, koesterend of bedreigend te ervaar, ensovoorts. Buell (2005:73) sien ’n gevoeligheid vir plek as ’n soort “palimpsest of serial place-experiences”. 

Plek is dus emosioneel gelade. Dit is plek wat natuur en kultuur met mekaar verbind. Buell (2005:66) wys daarop dat pleksensitiwiteit beide ’n emosionele en ’n kritiese benadering tot plek veronderstel en dat pleksensitiwiteit derhalwe ook aanpassing impliseer, prosesse waardeur natuur en kultuur nogeens saamgebind word. Een van die probleme wat hy voorsien, is dat wanneer die area van plek fisies groter word, plek-sensitiwiteit meestal kleiner word. Hy (2005:68) brei uit: “If every place on earth is cared for as we like to think a ‘protected’ reserve is cared for, then perhaps the health of the planet and people might be secured.”

Die spreker-digter is die interpreterende, ervarende ek deur wie ’n interaksie met plek in taal uitgedruk word. Plek is ’n sentrum van aanvoelbare waarde (Tuan 1977:4) waarmee die mens kan identifiseer. Dit geskied hetsy op fisiese vlak deurdat plek gevoel, geruik, gesien en gehoor kan word of op emosionele vlak deurdat plek gehaat, gevrees of liefgehê kan word en verbintenis tussen die fisiese en die emosionele kwaliteite van plek tot stand kom. Die emosionele verbondenheid lei tot simboliese verbondenheid. In die onderskeid wat Augé tussen plek en nieplekke tref, is dit veral insiggewend dat hy van die teenwoordigheid al dan nie van simboliese bande met plek praat (Augé 2008:126). Hierdie simboliese aspek sluit weer aan by die sosiaal-kulturele dimensie van plek.

Prosesse van die menslike liggaam en die omgewing word met mekaar verbind. Meer as wat die skryf van poësie ’n produk van die rede en logika is, is dit ’n sintuiglike proses. Omdat poësie voortspruit uit die sensoriese persepsies van die liggaam, word in die skryf en ook in die lees van die gedig veronderstel dat die liggaam sentraal tot die poëtiese ervaring is.

Die subjektiewe, liggaamlike verbintenis met plek hou volgens Koch (s.j.:1) verband met die ondervindinge wat sy as binne-liggaamlike en buite-liggaamlike ervaringe definieer. Die grense tussen binne-liggaamlike en buite-liggaamlike ervaringe vervaag – die grense tussen die materialiteit van die omgewing/plek (uiterlike materialiteit) en materialiteit van die digter en sy emosionele verbintenis (innerlike materialiteit) word dus opgehef. Dit gebeur dus wanneer die digter in ‘n ingeplaaste verhouding met plek verkeer. Volgens Koch het die “[o]uter workings of the natural world” ’n effek op die “inner workings of the body”, waardeur ’n skakel geskep word tussen die gedig en die toestand van die omgewing. 

Die verbondenheid en verwantskap van liggaam met plek word deur Russo (s.j.:7) beskryf as “environed making” en die ekogedig as ‘n terugkeer na hierdie toneel – “of walking, breathing ...” Russo wys daarop hoe ’n ekogedig haar laat terugkeer na die toneel van “environed making – of walking, breathing, looking, listening, all before language; writing is cogently within material, intellectual, and affective fields at once – in that rich ecopoetical nexus”. Dit veronderstel ‘n skryf saam met die omgewing, “trying to write with the trees. Crooked, organic lines of text return to a tree-like within-the-environment-ness” (Russo s.j.:7).

Ekopoësie behoort die mens meer sensitief te maak en ’n groter bewustheid te skep nie net van die natuurlike wêreld nie, maar ook van homself en sy plek binne hierdie groter konteks. ’n Selfrefleksiewe aksie is nodig, vir beide ekodigter en die leser van ekogedigte. Die materialiteit in die gedig en van die gedig skep ’n skakel met die liggaam en met die onmiddellikheid van die hede. Deur middel van visuele beelde en assosiasies plaas die ekodigter die leser in ’n bepaalde plek. Die gevolg hiervan is dus wat ek wil benoem as ’n ingeplaaste leesaksie, as uitbreiding van die term ingeplaaste skryfaksie. Dit open die kritiese veld vir verdere navorsing rondom die rol van die leser in die ekopoëtiese dissipline, die wyse waarop betekenis deur middel van plekoordrag gegenereer word en hoe veranderde persepsies en aksies daaruit kan volg.

Ingeplaastheid veronderstel dus beide ingeplaaste skryfaksie en ingeplaaste leesaksie, ’n interaksie en interverhouding tussen die menslike, die poëtiese en fisiese natuurlike terrein binne die konteks van die groter heelal.



5. Gevolgtrekking

In hierdie artikel is aangetoon hoe die definiëring van Buell se drie merkers van plek ’n waardevolle verwysingsraamwerk aan die ekodigter en -kritikus bied waarbinne daar na plek gekyk kan word as sentrale merker van die ekopoëtiese skryfaksie. Daar word voorsien dat die konsep van ingeplaaste skryf en die genoemde merkers aangewend kan word om ‘n verruiming en herinterpretasie van bestaande en veral ook ouer tekste teweeg te bring. ‘n Verkenning van ingeplaaste lees wat die verwantskap tussen die leser en die ekogedig en  plek in die ekogedig ondersoek, sal eweneens ‘n waardevolle bydrae tot die ondersoekterrein lewer.

Ekopoësie bied uiteindelik die ontsnapping van ’n mensgemaakte kunsmatige wêreld; dit vra weerstand teen gemaklike definisies en vooropgestelde patrone van skryf en van lees, van na die wêreld kyk. Ekopoëtiese ingeplaastheid skep ’n kultuur van plek; dit herinterpreteer wat behoort beteken: nie die omgewing wat aan ons behoort nie, maar ons wat omgewe is van ’n omgewing waaraan ons behoort. Dit sien plek as meer as net die lokale: dit is gerig op die belangrikheid van plek op streeksvlak, op nasionale vlak, transhemisferies, topografies, histories en kultureel.

Ekologiese samehang en die  interafhanklike saambestaan van alle spesies (en alle materie)  word só in die gedig “’n Boom swel koel en sag van mis” (Aan die Kaap geskryf, 1994) van Stockenström beskryf:

’n Boom swel koel en sag van mis;
skimstil sy makkers en hy, verdigting
van die tekstuur van lug en die weer se lis
om vorms los te maak van hul vorm,

misleidend uit te dy, buite perke,
en loop ek in my buurt, voel ek self
ek word mismaak. Nat voël sonder vlerke
tuur ek bedremmeld en mishaaglik,

waggel ek, word ek ding, en onding,
iets wat nie meer is nie, maar mis
geword het, een wat sou wou hande wring
en roep, een met wat om my is.

 

Bibliografie

Alaimo, S. 2010. Bodily natures: Science, environment, and the material self. Bloomington: Indiana University Press.

—. 2008. Trans-corporeal feminism and the ethical space of nature. In Alaimo en Hekman (reds.) 2008.

Alaimo, S. en S. Hekman (reds.). 2008. Material feminism. Bloomington: Indiana University Press.

Arigo, C. s.j. Notes toward an ecopoetics: Revising the postmodern sublime and Juliana Spahr’s This connection of everyone with lungs. how2journal,3(2). (20 Julie 2012 geraadpleeg).

Armbruster, K. en K. Wallace (reds.). 2001. Beyond nature writing: Expounding the boundaries of ecocriticism. Charlotteville en Londen: University Press Virginia.

Augé, M. 2008. Places and non-places – a conversation with Marc Augé. On the Move, Skirra. (20 Julie 2012 geraadpleeg).

—. 1995. Non-Places: Introduction to an anthropology of supermodernity. Vertaal deur J. Howe. New York: Verso.

Bealer, A. 2012. Reading out loud: Performing ecocriticism as a practice of the wild. Interdisciplinary Studies in Literature and Environment (ISLE), 19(1):5–22.

Bellarsi, F.A. 2009. Introduction: “Eleven windows into post-pastoral exploration”. Journal of Ecocriticism, 1(2):1–10.

Berg, P. en R. Dasmann. 1977. Reinhabiting California. The Ecologist, 7(10):399–401.

Berry, G. 2011. Modernism, climate change and dystopia: An ecocritical reading of light symbology in Conrad's Heart of Darkness and Eliot's The Waste Land. COLLOQUY text theory critique, 21:81–100. Monash: Monash University. (20 Julie 2012 geraadpleeg).

Brink, A.P. 2008. Groot Verseboek. Deel 2. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Bryson, J.S. 2002. Between the earth and silence. Place and space in the poetry of W.S. Merwin. In Bryson (red.). 2002.

Bryson, J.S. (red.). 2002. Ecopoetry. A critical introduction. Salt Lake City: The University of Utah Press.

Buell, L. 2005. The future of environmental criticism. Malden, MA: Blackwell Publishing.

—. 2001. Writing for an endangered world: Literature, culture, and environment in the U.S. and beyond. Cambridge, Mass.: Belknap Press of Harvard University Press.

—. 1995. The environmental imagination: Thoreau, nature writing, and the formation of American culture. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Campbell, S. 1996. The land and language of desire: Where deep ecology and post-structuralism meet. In Glotfelty en Fromm (reds.). 1996.

Carr, E. 2012. Or to begin again: besmilr brigham. Interdisciplinary Studies in Literature and Environment (ISLE), 19(1):62–81.

Casey, E. 1996. How to get from space to place in a fairly short stretch of time: Phenomenological prolegomena. In Field en Basso (reds.) 1996.

Childs, P. en R. Fowler. 2006 [1973]. The Routledge Dictionary of Literary Terms. Londen en New York: Routledge & Kegan.

Cullinan, C. 2008. If nature had rights. Orion, Januarie.(19 Julie 2012 geraadpleeg).

—. 2002. Wild law: A manifesto for earth justice. Kaapstad: Siber Ink.

De Loughrey, E. en G. Handley (reds.). 2011. Postcolonial ecologies: Literature of the environment. New York: Oxford University Press.

Derrida, J. 1997. Of grammatology. Vertaal deur G.C. Spivak. Baltimore en Londen: Johns Hopkins University Press.

Dimock, W.C. en L. Buell (reds.). 2007. Shades of the planet: American literature as world literature. Princeton: Princeton University Press.

Ekman, K. 1993. Händelser vid vatten. Vertaal deur J. Tate. 1997. Blackwater. New York: Picador.

Evernden, N. 1996. Beyond ecology. Self, place, and the pathetic fallacy. In Glotfelty en Fromm (reds.) 1996.

Foucault, M. 1984. [1967]. Of other spaces. Vertaal deur J. Miskowiec. Diacritics, 16(1):22–7.

Field, S. en K. Basso (reds.). 1996. Senses of place. Santa Fe, NM: School of American Research Press.

Fleming, D. 2002. Landscape and the self in W.B. Yeats and Robinson Jeffers. In Bryson (red.) 2002.

Flint, R. 2005. 2005-2010 Sustainability now! Napa, CA. (20 Julie 2012 geraadpleeg).

Garrard, G. 2012. Ecocriticism. Londen en New York: Routledge.

Giddens, A. 1990. The consequences of modernity. Stanford: Stanford University Press.

Gilcrest, D. 2002. Regarding silence. Cross-cultural roots of ecopoetic mediation. In Bryson (red.). 2002.

Glotfelty, C. en H. Fromm (reds.). 1996. The ecocriticism reader: Landmarks in literary ecology. Athene en Londen: University of Georgia Press.

Godden, L. 2000. Nature as other: The legal ordering of the natural world. Ongepubliseerde Ph.D-proefskrif. Griffith University. (20 Julie 2012 geraadpleeg).

Goldberg, K. 2011. Bioregionalism and ecopoetry. TCR. The Capilano Review (The George Stanley Issue),3(14). (20 Julie 2012 geraadpleeg).

Gouws, T. 1887. “Antjie Krog (1952–). In Van Coller (red.). 1998.

Harvey, D. 1996. Justice, nature and the geography of difference. Cambridge, MA: Blackwell Publishers.

Iovino, S. 2012. Steps to a material ecocriticism. The recent literature about the “New Materialism” and its implications for ecocritical theory. Ecozon@, 3(1):134–45.

Kobialka, M. 2012b. Of space forevermore. Forum: University of Edinburgh Postgraduate Journal of Culture & the Arts, 10.. (20 Junie 2012 geraadpleeg).

Koch, C. s.j. Koch on ecopoetics. (20 Julie 2012 geraadpleeg).

Lefebvre, H. 1991. The production of space. Vertaal deur D. Nicholson-Smith. Oxford: Blackwell Publishers.

McGinnis, M. (red.). 1999. Bioregionalism. Londen: Routledge.

Meintjes, G. 1995. Die ekologie as (vernuwende) leesstrategie. Stilet, 7(2):22–85.

Morton, T. 2011. Objects as Temporary Autonomous Zones. Continent.1(3):149–55.

Norwood, V. 1996. Heroines of nature: four women respond to the American landscape. In
Glotfelty en Fromm (reds.). 1996.

Olivier, B. 2010. AVATAR: Ecopolitics, technology, science, art and myth. SAJAH, 25(3):1–16.

Olivier, G. 1998.  In Van Coller (red.). 1998.

Oscarson, C. 2010. Where the ground responds to the foot: Kerstin Elkman, ecology, and the sense of place in a globalized world. Ecozon@, 1(2):8–21.

Pak, C. 2010. Ecocriticism and Terraforming: Building Critical Spaces. Space/s, 10. . (22 November 2012 geraadpleeg).

Prieto, E. 2012. Geocriticism meets ecocriticism: Bertrand Westphal and environmental thinking. (20 Julie 2012 geraadpleeg).

Relke, D. 1999. Greenwor(l)ds. Ecocritical readings of Canadian women’s poetry. Calgary, Alberta: University of Calgary Press.

Rueckert, W. 1978. Literature and ecology: An experiment in ecocriticism. Iowa Review, 9(1):71–86.

Russo, L. s.j. Writing within: Notes on ecopoetics as spatial practice. How2, 3(2). (20 Julie 2012 geraadpleeg).

Savory, E. 2011. Towards a Carribean ecopoetics: Derek Walcott’s Language of plants. In De Loughrey en Handley (reds.). 2011.

Schama, S. 1995. Landscape and memory. New York: A.A. Knopf.

Scigaj, L. 1999. Sustainable poetry: Four American ecopoetics. Lexington, KY: University of Kentucky Press.

Shepard, P. 1977. Place in American culture. North American Review, 262:22–32.

Skinner, J. 2001. Editor’s statement. Ecopoetics,1 (Winter):5–8.

Smith, S. 2012. Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman. LitNet Akademies, 9(2):500–23. (20 Julie 2012 geraadpleeg)

Sweeting, A. en T. Crochunis. 2001. Performing the wild: Rethinking wilderness and theater spaces. In Armbruster en Wallace (reds.). 2001.

Tally, R.T. 2011. Translator’s preface. In Westphal (red.). 2011.

Thomashow, M. 1999. Toward a cosmopolitan biogregionalism. In McGinnis (red.). 1999.

Tuan, Y. 1977. Space and place: The perspective of experience. St. Paul: University of Minnesota Press.

Van Coller, H.P. (red.). 1998. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik Uitgewers.

Westphal, B. 2011. Geocriticism. Real and fictional spaces. Vertaal deur R.T. Tally. New York: Palgrave Macmillan.

Williams, R. 1973. The country and the city. New York: Oxford University Press.



Glossarium

aardreg (earth law), aardregkunde (earth jurisprudence) en wildernisreg (wild law)
Aardreg definieer en erken moeder natuur juridies as ’n lewende sisteem wat gevorm is deur die onverdeelbare samehang van alle sisteme en lewende wesens wat onderling verbonde, interafhanklik en aanvullend tot mekaar staan en ’n lotsbestemming deel. Die mens en sy gemeenskappe word as deel van moeder aarde en van die geïntegreerde lewensisteme gesien. Lewensisteme word gedefinieer as komplekse en dinamiese gemeenskappe van plante, diere, mikro-organismes en ander wesens in hulle omgewing. Interaksie vind plaas tussen mensgemeenskappe en die res van die natuur waarin alle partye optree en onderhewig is aan die invloed van klimaats-, fisiografiese en geologiese faktore en waarin die geheel as ’n eenheid funksioneer. Die definisie is inklusief en sluit doelbewus die sosiale, kulturele en ekonomiese dimensie van mensgemeenskappe in.

Wildernisreg (wild law) is die nuutskepping van Cormac Cullinan, ’n Suid-Afrikaanse omgewingsprokureur, een van die voorste kenners op die gebied en skrywer van die belangrike werk Wild law: A manifesto for earth justice (2002). ’n Wilderniswet is ’n wet wat deur mense gemaak word om die mens se gedrag te reguleer – gedrag wat die integriteit en funksionering van die hele aardse gemeenskap op langter myn bó die belange van enige spesie (insluitende die mens) op ’n gegewe tydstip handhaaf. Cullinan stel die erkenning van natuurlike gemeenskappe en ekosisteme as wetlike instansies met wetlike regte voor. Hy sê: “In an Earth-centered community, all institutions through which humans act collectively would be designed to require behavior that is socially responsible from the perspective of the whole community. […] It may well be that Earth-centered legal systems will have to grow organically out of human-scale communities, and communities of communities, that understand that they must function as integrated parts of wider natural communities” (Cullinan 2008). Dit kom dus neer op menseregte wat in ooreenstemming is met aardregkunde (earth jurisprudence). Aardregkundeis ’n mensregtelike regeringsbestuursfilosofie wat gebaseer is op die idee dat mense maar een deel van ’n groter gemeenskap van wesens is en dat die welstand van elke lid van daardie gemeenskap berus op die welstand van die aarde as ’n geheel.

Aardregkunde is daarop gemik om ons begrip te verbreed van die belangrikheid van ’n regeringstelsel wat verder as die mensheid strek om die hele aardse gemeenskap in te sluit, wat dus aardsentries eerder as antroposentries is. Aardregkunde wil ’n filosofiese basis daarstel vir die ontwikkeling en implementering van menslike regeringsisteme wat etiek, die reg, beleid en ander praktyke insluit en wat klem lê op die internalisering van sulke insigte en lei tot persoonlike praktyk – om te leef in ooreenstemming met aardjurisprudensie as ’n leefwyse. 

aardsentrisme
Aardsentrisme is ’n denkwyse in teenstelling met antroposentrisme wat die aarde en sy belange in die sentrum plaas.

antroposentrisme
Garrard (2012:206) definieer antroposentrisme as ’n sisteem van gelowe en praktyke wat die mens bo ander organismes begunstig. Buell (2005:134) wys daarop dat die algemene aanname is dat menslike belange ’n hoër prioriteit geniet as dié van die niemenslike spesies, maar dat antroposentrisme ’n verskeidenheid van posisies insluit, vanaf die positiewe oortuiging dat menslike belange te alle tye bevoordeel behoort te word (sterk antroposentrisme) tot die geloof dat antroposentrisme nie 100% toegepas kan word nie en dat bepaalde biosentriese waardes erken moet word (swak antroposentrisme).

bioregionalisme; biostreeksgerigte; biostreeksgesitueerde (bioregionalism) Volgens die HAT: “bio- met betrekking tot lewe [G. bios lewe]”; “regio s.nw.(-ne) (meestal mv.; L.; w.g.) Streek, gebied”; “regionalisme s.nw. (w.g.) teorie, leer waarvolgens streeksgewys opgetree, gehandel word; die kweek van aparte tradisies, kultuur, ens. vir ’n streek”. 

Volgens Buell (2005:135) is bioregionalisme ’n filosofie of ’n visie wat gedurende die 1970’s in die weste van Amerika tot stand gekom het, “of life in place conducted in so far as possible in deference to the ecological limits of the place where one lives”. Vanuit die ekologiese perspektief is ’n bioregio of biostreek ’n geografiese area waar dieselfde klimaat en ekosisteem en groepe van spesies gevind kan word. Bioregionalisme sien egter die biostreek nie net as ’n gebied wat deur natuurlike merkers afgebaken word nie, maar ook as ’n domein van bewussyn en fokus van mense, wat konvensionele politiese grense uitdaag. Bioregionalisme wil graag die respek vir natuurlike sisteme herstel en terselfdertyd op ’n volhoubare manier die basiese menslike behoeftes bevredig – iets wat meer waarskynlik sal slaag in geografiese eenhede wat relatief klein is (Buell 2005:135).

biosentrisme (biocentrism)
Die siening dat alle organismes, insluitend die mens, deel is van ’n groter biotiese web of gemeenskap wie se belange die menslike belange moet beperk of rig (Buell 2005:134).

ekokritiek
Ekokritiek kan breedweg gesien word as die studie van kultuurprodukte soos kunswerke, skryfwerk en wetenskaplike teorieë wat hulle bemoei met die menslike verhouding met die natuurlike wêreld. Cheryll Glotfelty en Harold Fromm, pioniers van die ekokritiese literatuurteorie, definieer ecocriticism in die seminale publikasie The ecocriticism reader (1996:xviii) as “the study of the relationship between literature and the physical environment”, terwyl die term in The Routledge dictionary of literary terms (Childs en Fowler 2006:65) weergegee word as “[t]he study of literary texts with reference to the interaction between human activity and the vast range of ‘natural’ or non-human phenomena which bears upon human experience – encompassing (amongst many things) issues concerning fauna, flora, landscape, environment and weather”. Nog ’n baanbreker op die gebied is Lawrence Buell met sy tekste The environmental imagination (1995) en The future of environmental criticism (2005). Die term is egter alreeds so vroeg as 1978 gebruik deur William Rueckert in sy artikel “Literature and ecology: An experiment in ecocriticism” (1978:71), waarin hy ondersoek instel na die toepassing van ekologiese konsepte op die studie van literatuur. (Sien Smith 2012:505–8.)

ekologie
Die term ekologie kan teruggevoer word na die Duitse dierkundige Ernst Haeckel, wat die woord Ökologie vir die eerste keer in 1873, ongeveer ’n eeu voor die geboorte van die nuwe dissipline, ekokritiek, gebruik het (Arigo s.j., Voorwoord). Die oorsprong van die woord kan teruggevoer word na die Griekse woord oikos, wat na “huis” of “blyplek”verwys, terwyl die tweede deel van die woord verwys na logos, wat “woord” beteken. Ekologie beteken dus letterlik “woorde oor tuistes”, maar ook “woordtuiste”,soos deur Meintjes (1995:78) uitgewys.

Buell (2005:130) bied die volgende bondige definisie van ekologie: dis die studie van die interaksies tussen organismes en die omgewing.

eko-opvoeringsteorie (eco-performance theory)
Eko-opvoeringsteorie lê klem op die interdissiplinêre wisselwerking tussen ekokritiek en kontemporêre opvoeringsteorie deur daarop te wys hoe beide teorieë voorsiening maak vir ’n fokus op tekste van multi-etniese stemme en beide aandag gee aan die veelvuldige verhoudings tussen literatuur en die fisiese omgewing. Die diskursiewe en performatiewe aard / opvoeringsgerigte aard van talle ekotekste maak inherent voorsiening vir die oorskrydende toetrede in die gapings en ruimtes tussen opvoering (“performance”) en performatiwiteit (“performativity”) as sosiale konstruksie (Bealer 2012:5). Bealer (2012:5) wys voorts daarop dat ’n opvoeringsgerigte perspektief ekokritiek se sosiale rol versterk: “A performance-centered perspective would strengthen ecocriticism’s role in promoting the activism embodied in the environmental literature it critiques.” Die kommunikatiewe aard van opvoeringspraktyk veronderstel meelewing van die gehoor en bied die geleentheid tot verandering, in gemeenskappe en selfs in kulture.

Eko-opvoeringsteorie, as een van die interdissiplinêre ekotone van ondersoek wat uit ekokritiek ontstaan het, wys op die evokatiewe en sensoriese taal van opvoering wat eweneens die teenwoordigheid van die liggaam in die teks beklemtoon. Deur die interdissiplinêre bril van die eko-opvoeringsteorie word plek nie gesien as ’n beweginglose gegewe toestand nie, maar as “something called into being by human and more-than-human performance, the interconnectedness of seemingly disparate gestures, places, and times” (Sweeting en Crochunis 2001:331). Volgens die eko-opvoeringsteorie veronderstel opvoering dinamiese liggaam-tot-liggaam- en liggaam-tot-niemenslike-liggaam-interaksie wat aansluit by liggaamlike ingeplaastheid. Deur materiële ingeplaastheid in die teks te sien nie net as dié van die digter en die leser nie, maar ook van die akteur en die gehoor, word die weg gebaan vir intieme en ingeplaaste meelewing.

Bealer (2012:12) wys op die volgende:

Ecocriticism must be equally sensuous in its critical method, alert to performances of listening, feeling, smelling, and tasting. […] Performative writing gives shape and agency to memory, unwriting static, and official histories, remembering bodies long dead, and making visible the Other obscured by hegemonic construction.

Opvoering kan gesien word as ’n funksie van beide die materiële en die diskursiewe omgewing. Eko-opvoeringsteorie en -praktyk bied die geleentheid om stem en liggaam te gee aan die afwesige en die verlore niemenslike; dit bied geleentheid vir die herwinning en herlewing van die geheue. As sosiale en kulturele konstruksie speel eko-opvoeringsteorie ’n belangrike rol deur die in-beweging-bring van die leser en die gehoor as medekreatiewe vennote van akteurs en digters. Bealer (2012:6) voeg by: “[P]erformance theory recognizes that performance occurs between the constructions of nature and culture, in the very moment of their construction.” Eko-opvoeringsteorie spreek dus die sosiale en kulturele dimensie van omgewing en plek aan.

ekopoësie
Ekopoësie as kritiese teorie ontstaan as uitvloeisel van ekokritiek en fokus op die ekokritiese teorie en uitgangspunte se toepassing op poësie. Beide hierdie kritiese bewegings ondersoek die verhouding tussen mens en natuur aan die hand van literêre skryf- en leespraktyke en die kultuurprodukte (tekste) van hierdie praktyke. Jonathan Skinner (2001:5) se bekende aanhaling oor die oorsprong van die woord ecopoetry (waarin hy aandui hoe die woorddeel eco na “huis” of “blyplek” verwys en poetry verwys na “om te maak, om te transformeer”) bied ’n belangrike afspringplek vir ’n definisie van die begrip. Smith (2012:11) wys daarop dat ekopoësie nie uitsluitlik oor die natuur en ekologiese vraagstukke handel nie, maar op soek is na ’n wyse om deur middel van taal die samehang van die mensdom en die natuur te waardeer en te verstaan en as aksie uit te druk. In hierdie artikel word die definisie uitgebrei deur ingeplaastheid (beide die ingeplaaste skryfaksie en die ingeplaaste leesaksie) as kernkonsepte by ’n definisie van ekopoësie in te sluit.

ekotoon (ecotone)
Arigo (s.j.:2) sê dat ekopoësie ’n sogenaamde ekotoon tussen dissiplines is – tussen ekologie, poësie en etnopoëtika. ’n Eenvoudige definisie van ekotoon is: dit is ’n biologiese term wat die oorgangsgebied tussen twee aangrensende ekosisteme beskryf, ’n area wat dikwels ’n grenseffek tot gevolg het, wat die werklike grens tussen twee habitats aandui. Daar word dus van die veronderstelling uitgegaan dat ekopoësie op die grens van talle dissiplines is – “on the cutting edge of poetic innovation and ecological thinking” (Arigo s.j.:1). Die woord ekotoon is afgelei van die Griekse woord tonos, wat “spanning” beteken, en wil ’n aanduiding wees van die spanning tussen twee ekologieë. Net so is ekopoësie in spanning met die talle dissiplines wat dit omring en is die ekodigter se ingesteldheid interdissiplinêr. ’n Ekotoon veronderstel diversiteit van metodologie; dit veronderstel ’n dinamiese omgewing, ’n plek waarin die storie vertel word en waarin die lewenskrag van prosesse en effekte gelees kan word. (Arigo s.j.:2 sluit sy betoog vir die terminologie af met die volgende woorde: “A good ecopoem then is a house made founded on the tension between the cutting edge of innovation and ecological thinking.” Buell (2005:140) wys op die metaforiese gebruik van die term in ekokritiek om sinergie van teenstrydige of uiteenlopende perspektiewe te impliseer.

geokritiek
Geokritiek kan gedefinieer word as die metode van ontleding en literêre teorie wat die studie van geografiese ruimte as onderwerp het. Een van die mees toonaangewende navorsers op die gebied is Bertrand Westphal (2011) wat die konsep géocritique ontwikkel het. In die voorwoord tot sy vertaling van Westphal se La Géocritique, beskryf  Robert Tally (Westphal 2011:v) geokritiek as literêre kartografie, en Westphal (2011:6) beskryf hoe geokritiek ondersoek instel na die kulturele interaksie in en deur ruimte wat die mimetiese kunste wil weergee. Sy geokritiese teorie is gebaseer op drie teoretiese konsepte, naamlik ruimte-tydelikheid, grensoorskryding en referensialiteit (spatiotemporality, transgressivity en referentiality). Ruimte-tydelikheid ondersoek die wyse waarop tydmetafore binne die literêre teks verruimtelik word. Oorskryding verwys na die vermoë van ruimte om beweeglik te wees en grense oor te steek, terwyl referensialiteit volgens Westphal verwys na die verhouding tussen realiteit en fiksie, tussen ruimtes in die realiteit en die ruimtes in die teks.

Prieto (2012) wys daarop dat daar stemme vanuit die ekokritiese beweging opgaan wat geokritiek as deel van die ekokritiese beweging wil sien. Hy sê: “Given their mutual interest in issues like place, space, landscape, and nature it is not surprising to find this kind of convergence between ecocriticism and geocriticism.” En verder: “By asking geographical questions of literary texts and asking literary questions of geographical representations, geocriticism brings together in a productive way the social sciences and the humanities.”

gesitueerde skryfpraktyk (situated writing practice)
Sien ingeplaaste skryfwerk

groenruimte, groenveld (greenspace, greenfields); bruinveld (brownfields) en grysruimte (greyspace)
Groenruimte en groenveld kan gesien word as gekultiveerde plekke wat tot stand kom deur menslike bemiddeling en ingryping, veral in meer gegoede stedelike en voorstedelike gebiede, waar ’n behoefte ontstaan het om terreine wat gesondheidsrisiko’s inhou, te rehabiliteer. Bruinveld is ’n term wat in die vroeë negentigs geskep is om toksiese terreine te benoem (Buell 2005:135). Bruinveld is die teenoorgestelde van groenveld en groenruimte en verwys na antropogenies gedegradeerde landskappe, veral in stedelike industriële sones (Buell 2005:135). Die voorkoms van bruinveld in arm woonbuurte en die bedreiging wat dit inhou dat verdere agteruitgang sal plaasvind, het internasionaal ’n sleutelrol gespeel om die omgewingsreg-beweging (sien aardreg) in beweging te bring. Grysruimte word gedefinieer as die geboude omgewing wat uit geboue, paaie en sypaadjies bestaan. Tradisioneel hou grysruimte beperkte of geen voordeel vir biodiversiteit in nie.

ingeplaastheid (emplacement); ingeplaaste skryf (emplaced writing); ruimtelik-geplaaste skryfwerk; gesitueerde skryf
Ek kies die term ingeplaaste skryfaksie of ingeplaaste skryf as voorgestelde doeltaalterm bó geplaaste, verskanste of opgestelde skryfpraktyk (Groot Woordeboek) weens die verband wat die woord met die kernwoord plek hou. Alternatiewe terme sou plekmatigheid en plekmatige skryf kon wees. Hierdie terme laat egter nie reg geskied aan die aspek van plasing binne plek nie en aktiveer slegs een van die betekeniskomponente wat met die term bedoel word. Dit is egter nie bedoel as die laaste sê nie en laat ruimte vir voortgesette bespreking.

Ingeplaastheid het ‘n drieledige verwysing: dit veronderstel ’n materële, fisiese geplaastheid van die digter in ’n spesifieke plek; dit suggereer die verband en persoonlike kontak van die digter met plek en in plek waardeur die digter in tweegesprek met plek tree; en dit maak verder ook voorsiening vir ’n taalbewustheid waardeur taal as waarnemings- en konstruksie-instrument ingespan word (en waardeur die sosiale dimensie van taal geaktiveer word). Russo (s.j.:2) praat hier van die taal as “a perceiving and construction tool”.

ingeplaaste lees
Sien Glossarium van nuutskeppings

natuur
Die woord natuur is afgelei van die Latyn natura wat in die antieke tye letterlik “geboorte” beteken het. Die konsep van die natuur as ‘n geheel, die fisiese heelal, is een van verskeie uitbreidings op die oorspronklike gedagte. Die woord nature word deur Raymond Williams, die Britse Marxistiese kritikus, as “perhaps the most complex word in the language” bestempel (1983:219). Buell (2005:154) wys daarop dat Williams drie basiese betekenisse identifiseer: natuur as essensiële karakter van iets; natuur as inherente mag wat die wêreld stuur; en natuur as materiële wêreld, wat in sekere gevalle ook die mens insluit. Daar word ook verwys na natuur as die natuurlike wêreld, die fisiese wêreld en die materiële wêreld. Die onderskeid tussen eerste natuur (die primordiale natuur) en tweede natuur, wat alles wat deur die mens geskep is, insluit, kan as is ’n nuttige definisie in die ekokritiek gebruik word.

nieplekke (non-places)
Die term wat deur Augé bekendgestel is, verwys na neutrale, mensgemaakte plekke soos lughawens, hotelle, ens. wat ontwerp is om sekuriteit te verskaf aan verplaaste mense en mense wat besig is om van een plek na ’n ander te reis. Dit beskik nie oor dieselfde gelaagde en diggeweefde identiteite en betekenisse as wat deur plek veronderstel word nie (Buell 2005:145).

neomaterialisme, nuwe materialisme (neo-materialism, new materialism); objekgeoriënteerde ontologie / OO (Object Oriented Ontology / OOO); ekomaterialisme
Een van die mees opwindende ontwikkelinge in ekokritiese teorie in die onlangse aantal maande is ondersoeke na ’n terrein wat nuwe materialisme genoem word. Dit spruit hoofsaaklik voort uit wetenskapstudies, maar sluit ook interdissiplinêr aan by sisteemteorie, biosemiotiek en die fenomenologie. ’n Term wat met nuwe materialisme verband hou, is OOO, oftewel Object Oriented Ontology (hier vertaal met Objekgeoriënteerde Ontologie of OOO).

Nuwe materialisme bied ’n uitdaging aan sommige van die mees basiese voorveronderstellinge wat ten grondslag lê aan die moderne wêreld – insluitend die normatiewe siening van die mens, materiële praktyke en ons interaksie met die natuur. Dit is bemiddelend en kommunikatief en stel ingewikkelde en ope prosesse van interaksie tussen menslike en niemenslike bewerkers op die voorgrond.

In Material feminism (2008), onder redaksie van Stacy Alaimo en Susan Hekman, word die belangrikste teoretiese basis vir nuwe materialisme gelê. Iovino (2012:136) beskryf ekokritiese materialiteit soos volg:  

This new, “material” ecocriticism could trace narratives of matter not only as they are re-created by literature and other cultural forms, but also as they emerge in physical configurations, those “viscously porous” interlacements of flesh and symbolic imaginaries. There are many points from which we can start exploring “narratives” about materiality. The body is certainly one of those. Being the “middle place” where matter encounters and enmeshes with the discursive forces of politics, society, technology, identity, the body is the site where matter more clearly performs its narratives.

Ekomaterialisme, as uitvloeisel van nuwe materialisme, is die studie van die narratologie van materie in ekokritiese verband. Binne ’n natuur-ontologiese raamwerk is die belangrikste uitgangspunt dat natuur nie as ’n passiewe sosiale konstruksie gesien word nie, maar eerder as ’n bemiddelende krag wat in wisselwerking tree met ander elemente (waaronder die mens) waardeur verandering van al die elemente teweeggebring word. Volgens Iovino (2012:135) is een van die grootste probleme die oorbrugging van die gaping tussen materie en sy kulturele konstruksie soos dit deur postmoderne en poststrukturalistiese neigings geproduseer is, waardeur die materiële en die diskursiewe verenig word. Materie is ’n multidimensionele konsep: dit is die materialiteit van die menslike liggaam en van die natuurlike wêreld en, volgens Iovino (2012:135), “the substance of being, but also, more expansively, as a terrain of knowledge and action, something which enriches the ontological perspective with a wider field of significance”.

pastoraal, postpastoraal
Aanvanklik is die pastorale gesien as ’n gestileerde aanbieding van plattelandse landelikheid in teenstelling met, en dikwels as satire van, die stedelike en het meestal daarop gefokus om die natuur te vier as ruimte van plesier en ontspanning eerder as werkende ruimte. Algaande het die konsep meer gekompliseerd geraak en gedurende die jare sestig fel Marx die oordeel dat die pastorale nie werklik oor natuur gaan nie en verpolitiseer daardeur die pastorale. Tans heers daar die postpastorale siening dat die mens sy verhouding met die natuur as ons “buurman/-vrou” op die planeet moet verbeter (Buell 2005:144–5).

plekoordrag (transfer of place)
Sien ingeplaaste lees (Glossarium van nuutskeppings)

plektyd
Sien Glossarium van nuutskeppings

ruimte
Ruimte moet relatief tot plek gesien word, soos vroeër aangetoon. Buell (2005:147) sê dat ruimte op areële vorme in die abstrakte dui, of dit nou oor terreine gaan en of dit metafories gesien word. Ruimte is nie waarde-neutraal nie, maar druk beide waarde en emosie uit. Moderne sosiale teorieë gebruik ruimte om te verwys na sosiaal-institusionele konsepte en praktyke in die oormerk en toewysing van grondgebied (2005:147). Wat grootliks tot hierdie konsepte bygedra het, is die formulering van Henri Lefebvre se teorieë oor ruimte in sy seminale teks The production of space (1991), waarin hy ruimte as ’n produk van sosiohistoriese prosesse sien. Lefebvre lê klem daarop dat absolute ruimte (premoderne, ongerepte landskappe) deur moderne kapitalistiese magte herproduseer word tot abstrakte ruimte. Hierdie uitgangspunt ondersteun hegemoniese manipulasie van ruimte (en plek) tot nadeel van die integriteit en diversiteit van plek. Buell (2005:147, 148) sê dat selfs Foucault (1984:24) se teorie van heterotopias as “ware plekke” wat in elke kultuur gevind kan word, en wat funksioneer as “counter-sites, […] a sort of simultaneously mythic and real contestation of space in which we live” as teorie van ruimte en ruimtelike praktyke, met agterdog bejeën behoort te word.

ruimtetyd (spacetime)
In fisika word ruimtetyd gesien as enige wiskundige model wat ruimte en tyd in ’n enkele kontinuum kombineer. Ruimtetyd word gewoonlik geïnterpreteer as ruimte wat driedimensioneel is, terwyl tyd ’n vierde dimensie byvoeg. In tyd word alles as lineêr gesien en in ruimte alles as langs mekaar en gelyktydig. In ’n kombinasie van ruimtetyd is die gelyktydige saambestaan van al die dimensies moontlik. Op die gebied van die ekokritiek is dit onder andere Chris Pak (2010:1), Diana Relke (1999:312) en Timothy Morton (2011:151) wat na spacetime verwys. Sien ook plektyd.

transliggaamlikheid (trans-corporeality)
Stacy Alaimo stel dié begripbekend in haar artikel “Trans-corporeal feminism and the ethical space of nature” (2008:238); dit is ’n konseptuele merker wat die vloei van materie en diskoers regoor menslike en niemenslike liggame karteer. Dit veronderstel die herdefiniëring van grense tussen self en omgewing en tussen alle materiële stowwe in ’n materiële konteks, “the time-space where human corporeality, in all its material fleshiness, is inseparable from ‘nature’ and ‘environment’” (Alaimo en Hekman 2008:238). Die term kan gelees en geïnterpreteer word in samehang met die idee van translokaliteit.

translokaliteit (trans-locality)
Die konsep translokaliteit word deur Buell (2005:62–3) gebruik om die oorskryding van grense tussen plek en die sosiale persepsie en konstruksie daarvan te beskryf.

verhaalde materie (storied matter)
Verhaalde materie, Iovino se storied matter (2012:136), kan gesien word as narratiewe oor materie. Die idee van ‘n materie-narratief (“narratives of matter”, Iovino 2012:136) dui op die strukturele kompleksiteit van hierdie narratiewe wat handel oor die lewe wat die mens met die nielewende wesens deel, ‘n saamleef van stories en bewussyn van die gedeelde dimensie waarin ons leef.

verhalende materie (storying matter)
Sien Glossarium van nuutskeppings

wildernis
Wildernis, wildheid en wild deel, volgens Buell (2005:148), almal die konsep van “ongetem wees”. Wildernis verwys meestal na ’n ruimtelike area terwyl wildheid na ’n kwaliteit eerder as ’n plek verwys en oral kan wees. Die beskrywing van die mens, eerder as die natuur of ’n dier, as wild het tradisioneel die pejoratiewe konnotasie van “versteurd” en “verward”. Buell wys daarop dat wildheid ‘n kwaliteit is wat die mens met die niemenslike wêreld deel, terwyl wildernis na terra incognita verwys, ‘n groot ruimte, “the abode of beasts rather than of humans: a place where civilized people supposedly do not (yet) dwell” (Buell 2005:149).

Glossarium van nuutskeppings

ingeplaaste lees
Ek stel in hierdie artikel die term ingeplaaste leesaksie of ingeplaaste lees voor in samehang met, en as uitbreiding op, die term ingeplaaste skryfaksie of kortweg ingeplaaste skryf. Ingeplaaste lees fokus op die leser se betrokkenheid en plasing binne die ekoteks en die wyse waarop plekoordrag gedurende die leesproses plaasvind vanaf die digter na die leser. Ek voorsien verdere navorsing wat hierdie konsep kan ontwikkel en aansluiting vind by al die belangrike merkers van plek en ingeplaaste skryf.

emplaced reading
In this article I propose the term emplaced reading in conjunction with, and as an extension of, the term emplaced writing. Emplaced reading focuses on the engagement and interaction of the reader and his or her placing within the ecotext and the way transfer of place happens from the poet to the reader through the interactive reading process. I foresee that research on this concept will in future yield useful results in the area of emplacement and emplaced writing.  

plektyd
Plektyd is die nuutskepping wat ek voorstel beide in samehang met en teenstellend tot ruimtetyd. Ek sien plektyd as konkreet en opeenvolgend; dit is ook lineêr en reëel. Daarmee word bedoel dat plektyd nie ’n ruimtelike abstraksie soos ruimtetyd is nie, maar in die werklikheid gesitueer is en berus op die belewing van plek binne die hier en nou van reële tyd. Ingeplaastheid en plekgesentreerde gebeure staan sentraal in hierdie konsep. Sien ook ruimtetyd.

placetime
Placetime is a neologism which I propose both in conjunction with and opposed to spacetime, as used by Diana Relke (1999:312). I see placetime as concrete and sequential; it is also linear and real. Placetime differs from spacetime in not being abstract, but situated in reality, supported by the experiencing of place in the here and now of real time. Emplacement and place-centred actions are central to this concept. Also see spacetime.

verhalende materie
Verhalende materie, ‘n nuutskepping in hierdie artikel na aanleiding van Iovino (2012:136) se storied matter (verhaalde materie), veronderstel dat materie self narratologies optree. In teenstelling met verhaalde materie (storied matter), wat handel oor die wyse waarop die verhale wat oor materie handel, vertel word, is verhalende materie se fokus op materie self wat ‘n aktiewe verhalende rol speel. Sien ook verhaalde materie.

storying matter
Storying matter, a neologism in this article, is created by analogy of the term storied matter by Iovino (2012:136). It assumes that matter itself acts as a/the narrator. Opposed to storied matter or narratives of matter, which deal with stories on matter and how they are told as “a site of narrativity” (Iovino 2012:136), storying matter focuses on matter itself which plays an active, narrative role. Also see storied matter.



Eindnota


1 Sien glossarium vir omskrywing van terme
 








Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address