PJ Bosman (1933–)

  • 0
Foto: Jakkie Pretorius
Geplaas met vriendelike vergunning van NALN

Sêgoed van PJ Bosman

In 1993: “Baie skrywers met die moontlikhede van ’n Breytenbach, Jonker en Krog gaan in die dop verkluim omdat daar nie geld is om debuutbundels te publiseer nie.” (Volksblad, 26 April 1993)

“Ek wonder steeds waar kom die buitemuurs in buitemuurse studie vandaan, want al die lesingsale had mure en was onderdak.” (Inligtingstuk vir Tafelberg Uitgewers)

“As gevolg van talle skoolvakansies op familieplase en my huwelik met ’n plaasmeisie, skryf ek die graagste oor boere en plattelandse mense en hulle dinge.” (Inligtingstuk vir Tafelberg Uitgewers)

Oor die liefde: “In die ‘hoge’ literatuur is volgehoue romantiek byna verbode. Die groot meesters sluk nie die mite van happily ever after nie. Om durend lief te hê, verg ’n wilsbesluit en harde werk (én humorsin!). Dié wat slaag, pluk die vrugte van vertroue, gemeensaamheid en, dalk bo alles, verknogtheid.”

Gebore en getoë

Paul Johannes Bosman is op 12 Augustus 1933 op Bothaville in die Vrystaat gebore. Sy pa, dr ID Bosman, was op daardie stadium skoolhoof van die plaaslike hoërskool. Paul is die egpaar se tweede seun. Sy een broer, Wim, is die bekende strokiesprentskrywer van veral Louis die Laeveldleeu. DB Bosman, die woordeboekmaker, is Paul se oom. Wim beskryf in later jare vir Paul as die maltrap onder die kinders. Paul gebruik die skrywersnaam PJ Bosman.

In 1935 verhuis die gesin na Pretoria, waar Paul se pa aangestel is as professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria en later dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte geword het. Hy was ook voorsitter van die Konvokasie van die Universiteit van Pretoria, asook huisvader van Sonopkoshuis (1939–1947). Paul se pa is in 1947 op vyftigjarige ouderdom oorlede, waarna sy ma met die drie jongste seuns na Bethlehem in die Oos-Vrystaat verhuis het.
 
Paul beskou homself as gelukkig dat hy ten spyte van die ekonomiese depressie en droogte van die dertigerjare in ’n baie stabiele en liefdevolle huishouding kon grootword, vertel hy in ’n inligtingstuk van Tafelberg Uitgewers. “Daarom ly ek nie aan depressie nie en kan nie daarop aanspraak maak dat ek ‘groot skrywers stukkende mense’ is nie. Oor die ‘groot’ kan gedebatteer word.”

Hy was op hoërskool bekend daarvoor dat hy goeie opstelle kon skryf en het gereeld bydraes tot die skool se jaarblad gelewer. Hy het gedigte verslind en kon DJ Opperman se Joernaal van Jorik uit sy kop opsê. Ook was hy altyd lief vir gedigte skryf en iewers in die sestigerjare is ’n gediggie, “Mummie”, in Huisgenoot gepubliseer, vertel hy in ’n biografiese skets aan NALN.

In 1951 matrikuleer Paul aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, waar sy Afrikaans-onderwyser, mnr Chris Theron, een van die belangrikste persone was wat by Paul ’n liefde vir die Afrikaanse digkuns en literatuur gewek het.

Verdere studie en werk

Na skool gaan Paul terug na Pretoria, waar hy in die staatsdiens werk en vir agtien jaar as navorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). In 1993 tree hy af as onderwyskundige by die hoofkantoor van die Departement van Onderwys en Opleiding in Pretoria.

Deur buitemuurse studie aan die Universiteit van Pretoria verwerf hy die grade BA met Afrikaans III en BA Honneurs in Sielkunde, asook die Hoër Onderwysdiploma. Hy behaal sy MA-graad in Voorligtingsielkunde aan Unisa. Nog iemand wat Paul se liefde vir die Afrikaanse digkuns en letterkunde aangewakker het, is prof Merwe Scholtz, wat destyds dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria was.

In 1958 is Paul getroud met Kotie van Wyk, ’n plaasnooi van Wolmaransstad. Hulle het twee dogters en ’n seun, maar die seun is op 19-jarige ouderdom in ’n motorongeluk oorlede. Hulle woon in Pretoria.

Sy stokperdjie is handgemaakte modelmotortjies.

Tussen sy studie en werk deur begin Paul gedigte skryf, hoofsaaklik oor sy ervarings van sy plaasvakansies in die Frankfort-distrik in die Oos-Vrystaat. In 1984 stuur hy die gedigte aan Tafelberg Uitgewers, waar dit baie positiewe kommentaar van Petra Müller ontlok het. Dit is egter teruggestuur met die uitspraak dat hierdie soort verse nie “nou” aanvaarbaar is nie, dit wil sê nie in die mode is nie.

In 1991 lê Paul weer die verse aan ’n uitgewer voor – hierdie keer aan HAUM-Literêr. Hulle aanvaar dit vir publikasie met die voorbehoud dat ’n borgskap gevind word. Prof Louis van Biljon, ’n jare lange vriend van Paul, voorsien die borgskap en einde 1992 verskyn die gedigte onder die titel Ryp geel kring. Op 24 April 1993 word dit met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Dit was ook op die kortlys vir die CNA-prys.

Prof Louis Venter, een van die beoordelaars, van die Universiteit van die Vrystaat het gesê Bosman se poësie is onbeskaamd, dit is Afrikaanse boerepoësie. “Hiervan getuig die portret en die opdrag aan die begin van die bundel onomwese. Die bundel is ‘opgedra aan die gedagtenis van al my ooms en tantes uit die adellike boergeslag’. In hierdie tyd van oorgevoeligheid en selfs skaamte oor Afrikaans en die boereverlede van die volk is dit ’n dapper en broodnodige digterlike eerbetoon.” (Beeld, 26 April 1993)

Vir Paul Bosman was dit ’n groot eer toe die Ingrid Jonker-prys aan hom toegeken is: “Sy is my gunstelingdigter. Sy het my bekoor met haar werk. Ek dink ‘Bitterbessie dagbreek’ is een van die seerste gedigte in Afrikaans.” (Beeld, 26 April 1993)

Daniel Hugo, een van die beoordelaars, skryf dat die bundel ’n bewuste poging is om die ongereptheid van ’n gelukkige en ongekompliseerde jeug getrou op te roep – om die “ryp geel kring” van die jeug na te trek. “Die bundeltitel is ontleen aan ’n gedig van Sheila Cussons. Hierdie bundel behoort baie lesers vir die Afrikaanse poësie terug te wen. Dit is verse sonder intertekstuele speletjies of intellektuele vernaamdoenery. En tog onderskat dit nie die leser se intelligensie of taalgevoeligheid nie. Bosman bewys hier klinkklaar goeie poësie hoef nie modieus te wees nie.” (Die Burger, 16 Maart 1993)

Joan Hambidge (Beeld, 18 Januarie 1993) skryf: “Soos die meeste ek-onthou-gedigte is die toonaard liries en word daar telkens aangetoon dat dié wêreld waaroor geskryf word, nie meer bestaan nie. Hier word telkens verwys na ’n agrariese, idilliese bestaan. Dit is dan inderdaad ’n beleë poësie-siklus met eg ontroerende verse. […]

“In die nagkwatryne bevestig die digter sy vermoë om ’n meer gestruktureerde gedig te skryf met rymbindinge. In die geheel gesien is dit verse wat losser gestruktureer is: hulle werk assosiatief, klankmatig en is dikwels in ’n mineurtoon geskryf. Vir my was dit ’n lieflike bundel, nie ’n groot een nie, maar ontroerend-mooi en ’n netjies afgewerkte debuut.”

In Volksblad (5 April 1993) is Hennie van Coller die resensent en is hy van mening dat die publikasie van Ryp geel kring van PJ Bosman in etlike opsigte merkwaardig is: “[D]it word gepubliseer met die hulp van ’n private donateur, dit is die debuut van ’n vrywel onbekende skrywer op die vooraand van sy 60ste verjaardag en dit wyk skerp af van die heersende tendens in die Afrikaanse poësie wat as intellektueel, en soms selfs intellektualisties, bestempel sou kon word.

“Bosman se verse lyk op die eerste oogopslag inderdaad na die poëtiese ekwivalent van wat na my gevoel geringskattend genoem word ‘middelmoot prosa’. Die verstaanbaarheid en oopheid van die verse kan ’n mens maklik verlei om dit te sien as ongekompliseerde herinneringe. Hoewel daar insinkings is in afsonderlike gedigte wat bly vassteek in die besondere en ‘lokale’, tref ons in veel meer verse ’n essensiële peiling aan van kernaspekte van die menslike bestaan.

“Die bundel het ’n sterk outobiografiese aanbod – beklemtoon deur die familiefoto voorin. Dit staan ook heel duidelik in ’n bekende tradisie van ‘onthou’ wat in die Afrikaanse literatuur nie net neerslag vind in nie-fiktiewe werke nie, maar ook juis in die fiksie van ’n Alexander Strachan en ’n Koos Prinsloo om maar enkele skrywers by name te noem. Vanselfsprekend bestaan daar ook ooreenkomste tussen hierdie bundel met sy agrariese inslag, en die bekende tradisie van die plaasroman. […]

Ryp geel kring is ’n toeganklike en bekoorlike bundel wat leesbare én genietbare poësie bied teen ’n uiters billike prys.”

Hierna skakel Paul oor na die skryf van kortverhale, en in 1998 word sy eerste kortverhaalbundel, Soms mis die hart ’n slag, deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer.

“Hierdie agtien kortverhale omspan feitlik die hele twintigste eeu: daar is stories uit die ou Afrikaner-lewensfeer van plaasskole, smouse en huisgodsdiens, ’n liefdesverhaal uit die tyd van die Groot Griep, ’n storie oor ’n Duitse duikboot wat tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n Suid-Afrikaanse kusdorpie aandoen, vertellings uit die vyftiger-sestigerjare en dan ook verhale wat hedendaagse werklikhede raak verwoord,” skryf Marion Hattingh. (Insig, Augustus 1998) “Die wye kultuurhistoriese verskeidenheid en vernuftige vertelwyse het my beïndruk. So ook die ongewone afloop van gebeure aan die einde van elke vertelling wat in sommige gevalle so wonderbaarlik is dat dit na die oorvertelling van tipiese plattelandse of stadslegendes klink.

“Op ’n berekend toeganklike wyse stel die verteller in die verskillende verhale die leser binne enkele sinne aan ’n situasie bekend en boei hy onmiddellik deur die karakters se verskillende reaksies op hul omstandighede.

“Die hoofkarakter(s) se selfvertroue en sekerhede word teen die einde van die vertellings altyd weens een of ander gebeurtenis of onthulling gekonfronteer met die insig dat dit wat voor die hand liggend lyk, deur onvoorsiene interpretasiemoontlikhede ondermyn kan word. Sekere inligting word strategies weerhou sodat die leser se hart teen die einde, nes dié van die karakters telkens ‘’n slag mis’, soos die bundeltitel byvoorbaat aandui.”

Louise Viljoen (Rapport, 16 Augustus 1998) se mening oor Soms mis die hart ’n slag lui as volg: “Hierdie bundel bevestig dat Bosman inderdaad ’n storieverteller is wat die kuns ken om ’n storie te maak met ’n duidelik herkenbare begin, middel en einde soos ons dit geken het voor die koms van die postmodernisme. Hy weet naamlik waar om sy storie op te tel, hoe om dit met nodige balans te ontwikkel en sekuur af te skryf op ’n onthullende slot. [...]

“Die eerste verhale speel af in die tydperk net ná die Anglo-Boereoorlog, die griepepidemie van 1918 en die Tweede Wêreldoorlog. In toon en inkleding herinner hulle ’n mens aan dié van Leipoldt en Marais. […]

“Die sjarme van die verhale uit die vroeër tyd is daarin geleë dat hulle met fyn aanvoeling fisieke en kulturele landskappe beskryf wat dalk besig is om uit die Suid-Afrikaanse geheue te verdwyn. Die vertel van ’n boeiende verhaal bly egter hoofsaak en die ‘lokale kleur’ meng nooit in met die ontvouing van gebeure en emosies wat sentraal staan in die verhale. […]

“Bosman se bundel bevat dus verhale met ’n ouwêreldse sjarme sowel as ’n hedendaagse byt. Daar is iets vir die smaak van elke leser, tot die kieskeurigste, in hierdie bundel.”

Joan Hambidge (Die Burger, 8 Julie 1998) beskryf Bosman as die “meester van die subteks oftewel dit wat ónder die gesprekke of situasies in die verhale plaasvind”.

Op Radio Sonder Grense se Skrywers & Boeke (13 September 1998) het JP Smuts as volg geskryf: “Bosman se digbundel skep die verwagting dat ’n mens in Soms mis die hart ’n slag verhale sal kry waarin die taal sensitief en sekuur gehanteer word, en dit vind jy in ’n baie groot mate in die bundel. Die stukke wys terselfdertyd uit dat Bosman ook in staat is om ’n verhaal goed te struktureer. Die strukturering mag wel konvensioneel wees, maar dan konvensioneel in die goeie sin van die woord. Die meeste verhale is lynvertellings waarin die slot ’n verhelderende oomblik bring, maar ’n mens moet dadelik sê dat dit momente is wat nie net verras nie, maar ook die vertellings verdiep.”

Paul se tweede bundel kortverhale, Vergissing, word in 2003 deur Protea Boekhuis uitgegee. “In ’n sekere mate stem dit ooreen met Soms mis die hart ’n slag deurdat die tydperke waarin die verhale afspeel weer oor die hele twintigste eeu afspeel – vanaf 1900 tot vandag met sy e-posse en kletskamers,” skryf Philip John in Die Burger van 2 Junie 2003.

“Die meeste van die karakters in die verhale is gewone mense, en ’n verskeidenheid verteltegnieke word aangewend om die wêrelde en lotgevalle van hierdie karakters vir die leser lewend te maak. […] Die trefkrag van die verhale word verhoog deur die fyn, gedetailleerde historiese informasie wat in die verhale ingevleg is. […]

“Die meeste trefkrag word egter elke keer gereserveer vir die karakteristieke angel aan die einde van die verhale. Hier help dit om na die titel van die bundel te kyk. Terwyl die titel van die eerste bundel, Soms mis die hart ’n slag, die klem plaas op die emosionele sy van die menslike bestaan, verskuif die titel Vergissing die klem so dat dit val op die verstandelike. Dié klein verskuiwing is voordelig omdat dit die aard van Bosman se vertelkuns duideliker uitdruk.

“Dit maak duidelik dat die ‘gemiste hartslag’ wat die leser met die lees van die verhale ervaar, te make het met ’n (onoorbrugbare) kloof tussen aan die een kant konseptuele voorstellings (van die self en van die wêreld) en aan die ander kant ’n werklik onkenbare wêreld waarin daar altyd nog ’n kinkel is waarvan ons (oftewel, die karakters in die verhale) nie bewus was nie. Dit is verhale wat werk met die siening dat daar altyd iets onvoorsiens is wat enige ‘plan’ kelder, maak nie saak hoe sorgvuldig die plan gemaak is nie. […]

“Die verhale in Vergissing styg uit bo die kleinmenslike na iets meer universeel, aangrypend en ontstellend, soos in die werk van een van die meesters van die kortkuns, Jorge Luis Borges.”

Vir Abraham H de Vries (Rapport, 15 Junie 2003) ontwikkel die verhale in Vergissing byna almal tot sterk, goed-vertelde verhale “met daardie onverwagte kinkel in die slot wat jou laat regop sit”.

In Sarie (Julie 2003) beskryf Elize Parker die bundel as “wondermooi met ’n agtien stuks suiwer en bittersoet kortverhale waarin Bosman bewys dat hy meester is van subtiele buigings van woord en struktuur. […]

“Bosman gebruik sy verhale se dikwels onthullende knalslotte om die verhaal en karakters te ontluister. Daar is gewoonlik ook ’n skerpioenstekie of twee in die laaste paragraaf. Hy weet hoe om vir sy lesers sleutels te gee om die verhale se subteks oop te sluit met ’n tweede of derde herlees. Die komiese bly nie agterweë in die bundel nie, hoewel daar ook hierin ’n effense byt is. ’n Moet vir kortverhaalslawe.”

In 2007 wend Paul hom tot ’n nuwe genre met die publikasie van sy eerste roman, Uitsig op Perdekop. Die roman was in 2008 een van die finaliste vir die ATKV se Woordveertjie in die kategorie vir liefdesromans.

“Hierdie nogal lywige roman (meer as 350 bladsye) skop af met ’n nostalgiese en idilliese uitbeelding van die plaaslewe soos waargeneem deur ’n kind, Alwyn Brink. Alwyn, die hoofkarakter, het as kind gereeld saam met sy ma en pa op sy oom se plaas, Rietkuil, gaan kuier. Maar toe sterf sy pa onverwags en word hy deur sy oom en tante aangeneem,” sit Jaybee Roux (Die Burger, 17 September 2007) die storie uiteen. “Dié gedeelte is ietwat uitgerek, maar is so vlot en liries geskryf dat dit die meeste lesers nie sal steur nie.”

Dan raak Alwyn en sy niggie, Bella, verlief op mekaar en dit mag nie, want dit is bloedskande en hulle kan ook nie sommer net wegloop nie.

Roux skryf verder: “Hierdie problematiek – die amper oorweldigende liefde tussen neef en niggie – sou sterk genoeg kon wees om lesers meer as 300 bladsye lank te boei. Maar vir die grootste deel van die verhaal is Alwyn en Bella se liefde nie ter sprake nie. Uitsig op Perdekop word helaas niks meer nie as ’n langdradige, meestal gemoedelike relaas oor Alwyn se grootword en ouer word, en die vroue wat in die een of ander mate ’n rol in sy lewe speel. Daar is eenvoudig nie genoeg spanning en intrige nie.

Uitsig op Perdekop herinner sterk aan die klassieke Oupa Landman se viool, maar Bosman se boek kan, wat struktuur en intrige betref, nie met Oupa Landman saamgesels nie. Daar is ’n gaping in die mark vir lywige ontspanningsverhale met ’n goeie dosis romantiek, maar ongelukkig het die uitgewer se oordeel hom hierdie keer in die steek gelaat. As groot ondersteuner van hierdie genre breek dit my hart om te moet sê Uitsig op Perdekop sou slegs ná indringende herskrywing geskik wees vir publikasie. Of dalk glad nie.”

Volgens Vincent Pienaar (Beeld, 4 Junie 2007) is al die bestanddele daar om van Uitsig op Perdekop ’n romantiese liefdesverhaal te maak, maar dit lyk vir Pienaar of dit bedoel is as ’n “markoefening”, hoewel die gedeeltes aan die begin wat die plaaslewe beskryf, besonder knap geskryf is.

Publikasies:

Publikasie

Ryp geel kring

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798633387 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ingrid Jonker-prys 1993

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Hambidge, Joan: “Ryp geel kring” ontroerend, goed afgewerk. Beeld, 18 Januarie 1993
  • Hugo, Daniel: Leser-vriendelike verse. Die Burger, 16 Maart 1993
  • Kannemeyer, JC: Die lewe as ’n ryp geel kring … Rapport, 14 Februarie 1993
  • Van Coller, Hennie: Leesbare poësie teen billike prys. Volksblad, 5 April 1993

 

Publikasie

Soms mis die hart ’n slag

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036634 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Burger, Willem: Bosman se “Soms mis die hart ’n slag” sterk debuut. Beeld, 6 Julie 1998
  • Hambidge, Joan: Bosman hanteer sub-teks subtiel. Die Burger, 8 Julie 1998
  • Hattingh, Marion: Verhale wat die hart aanspreek. Insig, Augustus 1998
  • Smuts, JP: Soms mis die hart ’n slag. Radio Sonder Grense: Skrywers & Boeke, 13 September 1998
  • Viljoen, Louise: Iets vir elkeen in hierdie bundel. Rapport, 16 Augustus 1998

 

Publikasie

Vergissing

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190130 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • De Vries, Abraham H: Gemengde kruie in dié kortverhale. Rapport, 15 Junie 2003
  • John, Philip: Oor die innerlike kloof. Die Burger, 2 Junie 2003
  • Parker, Elize: Vergissing deur PJ Bosman. Sarie, Julie 2003
  • Wybenga, Gretel: Toeganklike kortverhale. Beeld, 12 Mei 2003

 

Publikasie

Uitsig op Perdekop

Publikasiedatum

2007

ISBN

97870798147934 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Pienaar, Vincent: Leser moet self besluit of boek “eerlik” is. Beeld, 4 Junie 2007
  • Roux, Jaybee: Lywige eersteling-roman beproef leser se geduld. Die Burger, 17 September 2007
  • Uitsig op Perdekop


Artikels oor PJ Bosman beskikbaar op die internet:

 

PJ Bosman se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-09-09 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top