ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Peter Louw (1950–)

Gebore en getoë

Peter Nicolaas Moltke Louw is op 13 Januarie 1950 in Kaapstad gebore, die jongste kind van die digter NP Van Wyk Louw en Truida Pohl. Sy eerste naam, op Afrikaans uitgespreek, is na Truida se pa, die tweede na Van Wyk en sy oupa en dan Van Wyk Louw se pa se naam sonder die “von”.

Peter is een van elf Afrikaanse skrywers wat ’n bloedlyn deel wat na ’n plaas in die Hantam lei en ’n familieverband het met ’n stamvader wat as Oupa Klaas Honderdjaar bekend gestaan het. Amptelik was hy Nicolaas Salmom Louw (1810–1910) en die plaas se naam is Groot Toren, noord van Calvinia. Van die ander skrywers is Peter se pa, sy oom (WEG), Anna M Louw, George Louw, Rona Rupert, Charles Fryer, Willem Steenkamp, Johnita le Roux, Nico Louw en Pieter Strauss.

Van Wyk Louw sou op 31 Januarie 1950 na Nederland vertrek waar hy ’n pos aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam aanvaar het. Omdat Peter so klein was en ’n vorm van geelsug gehad het, het die dokters besluit dat hy nie die seereis saam met sy pa na Nederland kon onderneem nie.

Peter se ouers wou hom ook graag doop voor Van Wyk Louw se vertrek, maar dit was nie moontlik nie en op 11 Februarie 1950 is Peter in die huis gedoop. DJ Opperman was Peter se peetvader en het in sy vader se afwesigheid langs Truida gestaan.

Peter het ’n ouer suster Reinet, asook twee halfsusters, Ria en Nakkie, uit sy vader se vorige huwelik met Joan Wessels.

Truida, Reinet en Peter het op 30 Maart 1950 uit die Kaap per skip vertrek en op 18 April in Antwerpen aangekom. Truida en die kinders het op 17 November 1953 weer op ’n lang vakansie na Suid-Afrika vertrek. Die kinders en hulle ma het die lewe in Suid-Afrika tydens hierdie besoek baie geniet. Hulle is vroeg in April 1954 terug na Nederland.

As ’n kleuter in Nederland het Peter aanvanklik niks anders as Nederlands gepraat nie, hoewel dit net by die Louws se huishoudster en ’n paar speelmaats was van wie hy dit geleer het. Hy het egter soos ’n Swartlander gebry. Hy het ongelukkig op hierdie jong ouderdom begin hakkel en dus wou sy pa nie met sy taalgebruik lol om hom te dwing om Afrikaans te praat nie.

Peter het tydens hulle besoek aan Suid-Afrika allerlei vrae gestel en sy oupa, wat Nederlands goed van sy skooldae af geken het, het Peter se Hollands baie geniet. Peter het in Suid-Afrika ook baie Afrikaans geleer en was ietwat verleë by hulle terugkoms in Nederland as die seuns in die straat vir hom lag as hulle gesels. Voordat hy en Reinet kon lees – hulle pa het hulle albei op vierjarige ouderdom leer lees – het hy vir hulle stories vertel en hulle museums toe geneem. Die rede vir die vroeë lesery, skryf JC Steyn in sy biografie oor NP Van Wyk Louw, was dat hy en Truida albei baie lief vir lees was; hulle het nooit ’n televisie gehad nie en omdat die kinders lastig kon word, het Louw hulle so jonk leer lees.

Louw het vir Peter in België ’n geïllustreerde Kinderbybel gekoop en Truida het onthou dat Peter eendag op sy maag op die vloer gelê en lees het. Toe sy hom vra wat hy lees, was sy antwoord: “De Bijbel – spannend, zeg!”

Reinet is na een van die Rudolf Steiner-skole in Nederland gestuur, maar Peter is nie na dié skool nie, omdat hy ’n sterk-ontwikkelde gevoel vir geregtigheid gehad het en dit nooit sou kon verwerk het dat die hele klas gestraf word as net een kind stout was nie. Reinet is na ongeveer drie jaar uit die skool gehaal en is, soos Peter, na ’n gewone staatskool.

Peter het al op ’n vroeë ouderdom die woordeskat gehad van ’n kind wat vyf, ses jaar ouer is. In die somer van 1956 het Van Wyk Louw vir Reinet en Peter saamgeneem en in Spanje gaan vakansie hou. Peter vertel aan JC Steyn dat hulle op ’n dag ’n middagete by ’n sypaadjiekafee geniet het. Sy pa het vir Peter “Hollandse kaas” bestel soos dit op die spyskaart voorgekom het. Dit het alles baie lekker gelyk, met geel plakkies bo-op mekaar met ’n bietjie slaai daarby, maar toe Peter die eerste plakkie omdraai, “toe sien ek die klein, wit wurmpies wat in die kaas-gaatjies krioel. Nou ja, ek was ’n sesjarige Nederlandertjie wat glad nie aan insekte of stomende, tropiese fauna gewoond was nie – steriele, kliniese netheid was die norm, en ek was ‘horrified’, soos hulle sê, en verontwaardig, en tot my irritasie was my pa glad nie geskok nie. Hy het iets gesê van dat ’n mens dit moet verwag, maar ek het natuurlik volstrek geweier om weer kaas in Spanje te eet.”

Op LitNet skryf Peter oor sy kinderjare in Nederland: “Vir my was die Amsterdam van my grootwordjare (...) ’n wêreld van veiligheid en beskutting, hoewel miskien ietwat eenselwig en kleurloos. As afwisseling van die skool en woonstel was daar wel die weeklikse koms in die straat van die draaiorrelspelers, of anders die ‘scharensliep’ (skêrslyper), die bakker en die melkman op hul trapfietse met ’n syspan waarin hulle hul ware vervoer het. Hulle het hul koms met skor skreeue aangekondig, mans met wye broeke en donker hemde. Amsterdam van die vyftigerjare het ek ervaar as ’n middelpunt van sekerheid en fatsoenlikheid, ondanks of miskien juis vanweë die spoke van die oorlog wat vir die volwassenes nog oral in die agtergrond gedwaal het, maar vir ons kinders verborge was.”

In 1959 het hulle na Suid-Afrika teruggekeer. Tot in 1969 het die gesin in Parkview in Johannesburg gewoon voordat hulle later na Linden verhuis het.

Peter se gehakkel het hom nie veel in familieverband gepla nie, maar op die skoolbanke was dit vir hom ’n nagmerrie. Leeslesse was veral vir die jong Peter absolute hel. Want nie net het die stres in hom opgebou wanneer dit byna sy beurt was om hardop te lees nie, maar hy moes ook die spot van sy maats verduur. Op hoërskool is hy van mondelinge eksamens verskoon, omdat hy dit nie kon doen nie. Hy vertel aan Lucia Gomes: “Dan sê die juffrou my naam en ek veg teen die paniek. Nog een of twee sekondes vóór ek sal moet begin lees, nog ’n paar sekondes van vryheid en onopvallendheid, en amper geniet ek hierdie laaste paar sekondes voordat ek iets moet doen. As ek te lank aarsel, sal die kinders hier en daar begin opkyk: alweer hý ...

“Op die woord ‘dag’ bly ek vassteek. Ek druk my tong teen my tande. Niks gebeur nie. Die klas is doodstil. Ek probeer weer. Dit help nie. Ek voel my wange word rooi en my rug plak vas teen die rugleuning. Ek voel vreemde oë op my. Ek bid dat dit moet end kry. Laat daar net ’n einde aan kom.

“Van al die traumatiese voorvalle waarmee hakkelaars te doen kry, is gebeure in die klaskamer dié wat die grootste indruk maak. As ‘n mens so jonk is, is dit belangriker as ooit om net soos al die ander kinders te wees, om te konformeer.”

Indien ’n onderwyser Peter ‘n vraag gevra het, het hy voorgegee dat hy die antwoord nie ken nie, hoewel hy dit gewoonlik wel geken het. As daar egter die vooruitsig van ’n pak slae was, het hy maar probeer vasbyt om die antwoord uit te kry. Hy was nooit Sondagskool toe nie en is nooit aangeneem nie: “Ek het nie kans gesien vir al die mondelinge nie. Om daardie blokkasie te ervaar, om nie ’n woord te kan uitkry nie – dit was ’n skrikwekkende ervaring toe ek jonger was. Dit is asof jy skielik ’n ledemaat verloor. Dit was asof ek alles soos in ’n rolprent gesien het, of in stadige beweging.”

In 1967 matrikuleer Peter aan die Lindense Hoërskool.

Verdere studies en werk

Na skool is Peter na die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), vandag die Universiteit van Johannesburg (UJ), waar hy in 1972 sy BA Regte-graad verwerf. Universiteit was vir Peter baie ontwrigtend, as gevolg van die gedurige vrae wat in die klasse gevra is en wat hy, vanweë sy hakkelry, nie na behore kon beantwoord nie. “En in kleiner groepsklasse is daar van studente verwag om bydraes te lewer. Ek het so min as moontlik gepraat en gewoonlik voorgegee dat ek die vrae nie ken nie. Ek het ook baie klasse nie bygewoon nie, wat ’n invloed op my akademie gehad het.”

Aan die einde van sy eerste LLB-jaar staak Peter sy studies omdat hy nie al die mondelinge eksamens weens sy hakkelry kon vermy nie.

In 1974 begin hy in die Johannesburgse landdroshof werk as klerk van die siviele hof en vanaf 1975 tot 1976 is hy verslaggewer, vertaler en subredakteur by Die Burger in Kaapstad. Na ’n lang oorsese reis verwerf Peter sy LLB-graad in 1979 aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Peter en Elizabeth van der Merwe van Rawsonville is in 1976 getroud.

Peter is in 1980 aangestel as regsvertaler by die AA Mutual-versekeringsmaatskappy in Johannesburg en in 1982 verwerf hy sy BA Honneurs in Afrikaanse en Nederlandse letterkundecum laude aan die Universiteit van Suid-Afrika. In dieselfde jaar het hy ’n bydrae gelewer tot die reeks Duisend beste boeke, ’n reeks van vier boeke wat deur Leon Rousseau se Rubicon Uitgewers uitgegee is en wat opsommings en besprekings van beroemde boeke bevat. Peter het onder meer die bespreking oor Germanicus van NP Van Wyk Louw gedoen.

Hy bedank in 1986 by AA Mutual en bring sy eie finansiële en regsvertalingbesigheid op die been. In 1987 verhuis hy terug na Kaapstad en in 1988 is hy en Elizabeth geskei. Hy word later senior taalpraktisyn by Ou Mutual in Kaapstad. Hy is op 31 Maart 1990 met Elretha Moolman getroud en ’n seun, Peter Nicolaas, is op 13 November 1992 gebore.

Aan die einde van die 1970’s het Peter begin gedigte skryf wat gedurende die 1980’s in tydskrifte soos Standpunte, Tydskrif vir Letterkunde en Ensovoort gepubliseer is. Van sy gedigte is ook in die Vlaamse tydskrif De brakke hond gepubliseer. Hierdie gedigte is versamel in Peter se bundel Tantalus wat in 1989 by Tafelberg verskyn het. Twee van die gedigte is in Senior verseboek opgeneem en van die gedigte is ook oor die radio voorgedra.

Oor Tantalus skryf Joan Hambidge in Die Burger van 26 Oktober 1989: “’n Mens sou ’n Trivial Pursuit-aand kon reël net oor die verdwene name in die Afrikaanse letterkunde. En dit is met hierdie wete dat ek Peter Louw se nogals skrale debuut Tantalus gelees het. Want die bundel is klein in omvang en die gedigte meestal ook maar kleinerig (die kragtige verwerkings van Baudelaire uitgesonder). Maar nou is dit ook só dat ’n digter huiwerig mag debuteer, net om later grense te verskuif. Johann de Lange se Akwarelle vir die dors was insgelyks ‘klein’; sy Snel grys fantoom beslis indrukwekkender. Juis hierom moet Peter Louw ’n kans gegun word, want plek-plek is daar tekens van ’n spel met die digterlike tradisie. (...)

“Wat ons dan by die titel van die bundel uitbring: Tantalus, aldus die Griekse mitologie, ’n seun van Zeus, het sy seun Pelops se vlees aan die gode opgedien en moes as straf ná sy dood in water staan. Maar water wat bly wegsypel het as hy dit wou drink. Ook die vrugte aan die takke bo die water het hom altyd bly ontglip. So is dit dan met die digterstaak: die volmaakte towervrugte bly die digter keer op keer ontwyk. Hierom dan ook die belangstelling in Baudelaire se ‘Les fleurs de mal’ in Tantalus. Ofskoon die verse nogals klein van opset is, imponeer die ekonomiese taalgebruik, die rymbeheer en die beeldende vermoë. (...)

“Louw se verse word ook gekenmerk deur ’n bedrewe understatement. In ’n gedig soos ‘Waar ons so kalm gesels’ word dit goed geïllustreer. Ook ‘Woonstel 69’ - die slot sê dit! - word ’n wrede verkenning. Juis omdat hierdie gedigte so sotte voce gebeur - lees ‘Lewenslank’ - meen ek dat vele van die ou kritiese smulpape die gedigte gaan geringskat. Insinueer die titel dat die digter hoop om soos Baudelaire te dig? Is die tweede afdeling met sy vrye verwerkings die volmaakte towervrugte wat die digter tans nog ontwyk? Vertalers is verraaiers, kwinkeleer die kenners. Tog dink ek dat Peter Louw se vertaling van ‘Au lecteur’ (42, 43) goed op die oor val. (Miskien kon die uitgewer maar die oorspronklike Franse tekste opgeneem het vir die ywerige leser?) Hierdie leser is van mening dat Peter Louw se naam nie eendag sal opduik in daardie Trivial Pursuit-aand oor verdwene name nie.”

En hoewel daar vir Henning Pieterse enkele hinderlikhede in Tantalus is, soos onder meer oordadige rym, maak die aantal goeie, meervlakkige verse die bundel die moeite werd om te lees.

Vir Jeanette Ferreira toon Tantalus min van die neigings wat so algemeen in debuutbundels voorkom. Peter Louw se verse ontkom aan die hoogs persoonlike, die emosionele belydenis en die hewig hartstogtelike. Sy verse is eerder ’n uitsig op die wêreld “buite”, en “rondom”, in die besonder uit die geïsoleerde enkeling se situasie.

Al die gedigte word, volgens Ferreira, egter nie altyd onder die titel tuisgebring nie. Daar is ’n hele paar verse wat buite dié verband staan. Peter se poësie getuig veral van sy vaardigheid met die klank- en ritmiese taalmiddele, sy vermoë om deur meesal kort verse te kommunikeer. Daar is egter merkwaardig min verse waarin die taal se meerduidigheid ontgin word. Dis juis die kort gedigte wat die verwagting skep dat die gedigte deur gelade taal sal kommunikeer, ’n verwagting wat hier nie ontmoet word nie. Die uitsondering is enkeles, soos “Tweesprong” en “Tantalus”, wat daarop dui dat Louw in hierdie opsig wel ’n meer bevredigende gedig kan skep.

Vir FIJ van Rensburg is Louw se verwerkings van die Baudelaire-gedigte nie gunstig vergelykbaar met Peter Blum s’n nie. Sy verwerkings doen meestal soos vertalings aan. Ook wat sy eie poësie betref, het ’n mens die gevoel dat die digter hom gerus ’n bietjie meer durf kan veroorloof. Die tekens is daar dat hy wel oor durf beskik.

In die vroeë 1980’s het Peter vir Martin Schwartz van Amerika, ’n deskundige op die gebied van hakkel, ontmoet toe hy deur Suid-Afrika getoer het en landwyd werksessies gehou het. Hy het die hakkelprobleem op ’n nuwe en vars manier benader en noem sy behandelingstegniek lugvloeiterapie. Dit is gegrond op die idee dat spanning op die stembande die wortel van alle kwaad is. Die doel van die terapie is dus om die spanning op die stembande self so laag moontlik te hou deur byvoorbeeld sagter en stadiger te praat, ’n laer toonhoogte te hou en ontspanningsoefeninge te doen om die algemene spanningsvlak te verlaag.

Na hierdie kennismaking het ’n groep hakkelaars wat Schwartz se tegniek begin toepas het, ’n “lugvloeiklub” gestig wat gereeld bymekaar gekom het om hul tegniek te beoefen, en die resultate was baie goed. Peter was deel van die groep.

Hierna het Peter in 1987 sy boek Hhhakkel by Tafelberg gepubliseer en Barrie Hough het dit beskryf as een van die beste dinge wat met hakkelaars in Suid-Afrika gebeur het. Vir hom was dit ’n hakkelbybel wat jou op ’n begeleide toer deur die hakkelaar se hel neem. Louw skryf met deernis, liefde en begrip oor sy eie en ander hakkelaars se ervaring op skool, op universiteit, en in die algemene handel en wandel. Een van die sterk punte van die boek is dat Louw nooit sentimenteel of selfbejammerend skryf nie. Sy aanslag is prakties en die probleem van hakkel word fisiologies, sielkundig, maatskaplik en opvoedkundig omskryf sonder dat die persoonlike stem van die skrywer ooit verlore raak. Met Hhhakkel maak Louw die pad vir begrip oop. Dis ’n boek wat deur hakkelaars self, hul ouers, onderwysers, dosente, spraakterapeute en werknemers – trouens, almal wat in die loop van hul lewe met hakkelaars kennis gemaak het – gelees moet word.

Hhhakkel is in Engels vertaal onder die titel Coping with stuttering en in 1991 is ’n bygewerkte uitgawe getiteld Oorwin hhhakkel gepubliseer. Peter was ook voorsitter van die Kaapstadse tak van Speakeasy, ’n nasionale ondersteuning- en selfhelpvereniging vir mense wat hakkel.

Willem Pretorius wou van Peter weet hoe sy pa, NP Van Wyk Louw, sy hakkelry hanteer het. “In daardie tyd het die mense min van hakkel geweet en meestal na spraakterapeute geluister. Hy was altyd daaroor bekommerd, maar in daardie tyd was daar nie baie wat daaraan gedoen kon word nie. Die hakkelprobleme is ook nie so erg wanneer jy by jou naastes is nie, aangesien die stresvlakke dan baie laag is. Ek kan egter nie meer sy presiese reaksie onthou nie.

“Ek het baie van my pa gehou. Hy was wel ’n bietjie koel en afsydig in sy persoonlikheid. Ten spyte daarvan het ek nooit enige twyfel oor sy liefde vir ons kinders gehad nie. Dit was ’n gegewenheid. Hy was ietwat afwesig, maar nooit in die emosionele nie. Dit was ’n vreemde soort liefde. Die soort liefde wat jy nie sterk wys nie.”

Oor om ’n beroemde se seun te wees: “Daar is voor- en nadele. Die voordele sal ek nooit vergeet nie. Hy was ’n voorbeeld vir my denke, lewenshouding en ideale. Dis nou anders as op skool. ’n Seun het eendag verby my gehardloop en geskreeu: ‘Jou pa is ’n p...’. Daar was nie nuanses aan so iets nie.

“Die nadele is egter baie meer subtiel. Volwassenes kwalifiseer jou altyd – en natuurlik vra baie my onmiddellik of ek ook skryf. Die donker kant daarvan om ’n beroemde pa te hê, is altyd meer voorop as jy jonk is. Ek dink egter nie my situasie is uniek nie. Alle kinders van beroemde ouers sukkel seker met dieselfde ding. Dis egter nie ’n juk nie. Dis ’n faktor wat jou in die oë van die gemeenskap definieer. En op daardie vlak is dit ’n probleem.”

In Peter se aantekeninge in Verborge Vuur sê hy oor Van Wyk Louw se “Eerste Sneeu” dat die kunstenaar konflik en pyn nodig het om nuwe hoogtes te bereik. Hoe dan gemaak as dit afwesig is, of moet ’n mens self dan maar pyn en konflik skep? Peter se reaksie teenoor Willem Pretorius se vraag was: “Ek vermoed my pa het daar ’n groot waarheid aangeraak. Ek hoef egter nie pyn of konflik te soek of te skep nie. Daar is genoeg om ons. Om moeilikheid te gaan soek, is moeilikheid soek. As jy genoeg talent het, sal jy kan skryf al het jy ’n rustige bestendige lewe. Dit is natuurlik die ideaal. In die praktyk is daar sterk emosies wat help in die skeppingsproses. Jy kan nie die muse dwing nie. Die muse word aan jou gegee. So was hakkel vir my beslis ’n pynbron waaruit ek kon put.” 

Of hy soos sy pa in die gedig “Ons moet onsself nie dwing nie” glo dat die man die soeker na die waarheid is terwyl die vrou op soek is na die saamwees van ’n liefdesverhouding, sê Peter dat dit sy pa se idee in die gedig is. “Daar is heelwat waarheid in wat feministe seker die josie in sal maak. Baie vroue is nie so nie. Maar as dit in die aard van die vrou is, is dit mos nie so verskriklik nie. Op elke reël is daar ’n uitsondering, maar die uitsondering maak die reël.” 


Publikasies

Publikasie

Hhhakkel

Publikasiedatum

1987

ISBN

0624024326 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Selfhelp

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tantalus

Publikasiedatum

1989

ISBN

0624028240 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oorwin hhhakkel

Publikasiedatum

1991

ISBN

0614031012 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Selfhelp

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels Coping with stuttering 1996

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 


Peter Louw as samesteller

Artikels oor Peter Louw beskikbaar op die internet

Artikels deur Peter Louw beskikbaar op die internet



Bygewerk: 2012-08-15
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address