Op’t tog met Medisyne 3

  • 0

Die VOC het na die hoogtepunt van 1680 toe daar 107 Nederlandse skepe beskikbaar was vir die ‘Oos-Indiese’ handel begin stoom verloor en het met die verloop van die 18de eeu in kreeftegang verval.  Die hoofoorsaak was toenemende en meer aggressiewe mededinging deur die British East India Company (“The John Company”) en die Franse Compagnie Française des Indes Orientales.  Met die stigting van die Bataafse Republiek in 1795 het die doodsklok vir die VOC gelui. Op 1 Maart 1796 is die bewindhebbers van die maatskappy ontslaan en die oktrooi van ontbinding het tot 31 Desember1798 gegeld. Die eens trotse ‘machtsymbool’ is spottend verklaar as “Vergaan Onder Corruptie”. 

Met die tweede Britse-besetting van die Kaap in 1806 het die chirurgen majeur van verskillende regimente van die Bataafse Jagers verkies om in die Kaap aan te bly – en het bekende dokters van die vroe? negentiende eeu geword. Onder hulle was Friedrich Ludwig Liesching, Ludwig Gottlob Biccard en Johann Wehr – die seuns van Liesching (Louis) en Biccard (Francois) was bekende geneeshere aan die Kaap in die tweede helfte van die negentiende eeu.

Weens die stimulering van die ‘intellektuele klimaat’ in die Kaap tydens die ‘Somerset-era’ het die dokters bymekaar gekom en in 1827 ’n society gestig – en dit het floreer vir twintig jaar. Volgens die notuleboek is die vergaderings goed bygewoon en was daar entoesiastiese bespreking oor ’n wye veld van onderwerpe  Die vereniging het verskeie tydskrifte aangekoop insluitend Lancet wat tot vandag toe ’n voorste plek beklee onder mediese vaktydskrifte. Dié tydskrif was toe in die vyfde jaar van publikasie.

Die vereniging het dit goed gedink om Lancet op 1 Julie 1828 van hul lys te skrap “owing to its offensive scurrility and personality”. Dit was as gevolg van ’n lasteraksie teen die redaktuur deur ’n chirurg van Guy’s Hospital, Londen.  Lancet het ’n grusame beskrywing van ‘cutting for stone‘ (verwydering van ’n blaassteen deur ’n snit in die perineum) wat 55 minute geduur het – tot die pasi?nt dood is – publiseer  Die skrywer van die artikel het die chirurg van “incompetence and losing his nerve” beskuldig.  Dié lasteraksie “was a surgical cause célèbre” – die chirurg het die saak gewen !

 

Die Somerset Hospital was gebou deur die insiatief van Samuel Silverthorne Bailey. Hy het as ’n skeeps-chirurg op HMS June gedien tydens die slag van Trafalgar. Hy is geregistreer as surgeon and male midwife in die Kaap op 17 Junie 1814 en het met Hesther Aletta van Reenen getrou. Die hospitaal is op 6 Julie 1818 geopen. Henry Bickersteth was in 1832 aangestel as resident chirurg en het hom onmiddelik begin beywer vir ’n nuwe hospitaal. Enkele dae na Bickersteth se dood in 1862 open New Somerset Hospital (met 231 beddens) sy deure vir pasiënte.

In 1862 stel die Kaapse Wetgewende Raad ’n komitee saam om die toestand van mediese dienste in die Kolonie te ondersoek. Hulle bevind dat mediese sorg uiters gebrekkig in landelike gebiede was. Regulasies is vryelik verbreek en kwaksalwery het floreer. In Engeland is apothecaries verbied deur die Mediese Wet van 1858 wat hulle verplig het om ook in chirurgie en verloskunde te kwalifiseer. In Nederland is land artsen in 1874 verbied. Baie lede van dié twee groepe ‘uitgeworpenes’ het hulle skrede na die Kaap (en ander kolonies) gewend. In 1880 was daar 9 algemene hospitale in die Kaap Kolonie, ook 298 dokters en 179 aptekers – diegene in militêre diens uitgesluit.

Uitstaande aan die einde van die negentiende eeu was Johannes Hendricus Meiring Beck. Hy is in 1855 gebore en behaal MB CM (1ste klas) aan Edinburgh, Skotland in 1879. Hy was vanwe? akademiese briljantheid daar bekend as ‘Star of South Africa’. Nadat hy kampkoors (tifoïede) in Kimberley opgedoen het en distriksgeneesheer in Worcester was, vestig hy hom in Rondebosch (Kaap) in 1885. Die aanspraak word gemaak dat hy in 1896 die eerste X-foto plate in Suid Afrika geneem het. Hy word in 1916 as Sir JH Meiring Beck opgeneem as Minister van Pos en Telegraafwese in die Botha kabinet.

Die Britse setlaars vestig hulle vanaf 1820 oos van die Kaap in ’n landstreek, bekend as British Kaffraria. Dit was “afgesonder van die Kaap deur berge, riviere en uiterse klimaatstoestande”. In 1834 doen die Eastern Committee in Grahamstown aansoek om die praktisering van medisyne in hulle area te administreer. Die versoek word deur die Koloniale Sekretaris gesetel in Kaapstad goedgekeur. Die komitee van drie wat die aansoeke, kwalifikasies en getuigskrifte oorweeg het, was onder die voorsitterskap van John Atherstone, distriksgeneesheer van Albany.

 

John se seun (William Guybon) was ses jaar oud toe hy in 1820  met sy ouers geland het. Hy was ’n uitsonderlike student en het as dokter in Dublin, Ierland, kwalifiseer waarna hy aan Heidelberg, Duitsland, (“die beste Kontinentale universiteit”) MD insigne cum laude  gradueer in 1832. Hy keer terug na Grahamstad om by sy vader in praktyk aan te sluit.

Op 16 Junie 1847 doen hy ’n bobeen-amputasie op Frederick Carlisle, deputy sherrif van Albany. Hy is bygestaan deur sy pa, John, en twee regimental surgeons, drs Hadaway en Irwin. Die uitsonderlikheid van die operasie is dat dit onder eter narkose gedoen is, slegs agt maande nadat Morton die eerste eter narkose toegedien het.

Wie het die eerste narkose in Suid Afrika gegee? Dit is bekend dat tandartse reeds ‘vroeg’ eter toegedien het, maar geen rekords wat Suid Afrika betref is beskikbaar nie.

In April 1847 land Ether Frolics aan die Kaap. Vrywilligers snuif eter en maak hulself belaglik voor entoesiastiese toeskouers. Eter word toe aan ‘perde en koeie’ toegedien. “Later”,volgens dié aanspraak, was Henry Anderson Ebden (’n Kapenaar van geboorte) eerste toe hy eter aan ’n pasi?nt van Bickersteth in die Somerset Hospitaal toegedien het. Ebden “with leonine features, was the very beau ideal of the loved family physician. It was said that ‘Dr Stewart (a rival practitioner) did not see his patients often enough and Dr Ebden saw them too often’ ”.

Ebden het nie sy geval (gevalle) publiseer nie, terwyl Atherstone sy geval tot in die fynste detail beskryf het in die Grahamstown Journal van 26 Junie 1847. Die operasie was ’n “ unqualified success”.

Atherstone het noukeurig rekords gehou. Oor bloed in die uriene het hy opgemerk dat dit in sekere areas voorkom:  “among the natives girls are not subjected to it and they do not bathe. Hottentot children drink the filthiest water and did not develop the disease.” Sy gevolgtrekking was dat die oorsaak  Bilharzia was en dat die slak wat die parasiet dra in die Palmietrivier teenwoordig was.

Hy is in 1863 verkies tot Fellow of the Royal College of Surgeons – FRCS (Eng).

Atherstone was ’n geoloog van formaat. Hy het die Enon konglomeraat* na ’n vloed in die Zwartkopsrivier ontdek en het in Maart 1867 die eerste diamant wat in Suid Afrika gevind is, identifiseer  (meer hieroor later).

Sy veelsydigheid het verder gestrek. As paleontoloog  het hy ’n saurian ( die skelet van ’n reuse uitgestorwe likkewaan) aan die Britse Museum geskenk. Dit staan bekend as Tapinocephalus atherstonii. Hy het as toegewyde botanis skaars plante versamel en was primêr verantwoordelik vir die vestiging van die botaniese tuin in Grahamstad.

Atherstone was ’n entoesiastiese amateur-sterrekundige en ’n pionier-fotograaf – hy het Daguerre se demonstrasies in Parys bygewoon en self sy nat-glas negatiewe plate voorberei. Van sy kwaliteit-foto's van Grahamstad het behoue gebly.

Op 67-jarige ouderdom word hy in 1881 verkies tot die Kaapse Parlement en was waarskynlik die outeur van die ontwerp van die  Medical and Pharmacy Act ( no 34 of 1891). Aan die einde van sy lewe was hy in 1896 President van die 4de Suid-Afrikaanse Mediese Kongres in Grahamstad. Atherstone sterf, totaal blind, op 84-jarige ouderdom in 1898.

 

* Die Enon konglomeraat is ’n sagterots formasie bestaande uit oranje-rooi kwartsiet sandsteen, modderstene en skalie wat 60 miljoen jaar gelede as sediment onder water neergelê is op Tafelberg sandsteen en daarna deur ontsaglike kragte gekantel is en nadat dit, meer onlangs, uitgedroog het, vertoon dit as ’n landskap van uitsonderlike kleure.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top