Oproep om artikels: Karoofokus vir LitNet Akademies
Aandag alle Natuur-, Geestes- en Regswetenskaplikes
KAROOFOKUS VIR LITNET AKADEMIES
Navorsers word genooi om artikels vir ewekniebeoordeling voor te lê.
Benewens normale subsidievloei, is daar ook direkte betaling aan navorsers.
Die Karoo is tans dié gonsruimte in Suid-Afrika, letterlik van die sterre tot die grond(water), met die toekenning van die SKA-projek en die moontlikheid van skaliegasontginning.
LitNet Akademies beoog ’n reeks artikels oor sake rakende die Karoo.
LitNet Akademies is LitNet se node vir geakkrediteerde akademiese skryfwerk in die geesteswetenskappe, natuurwetenskappe en regte.
Artikels is onderhewig aan ewekniebeoordeling voor plasing, en naas die subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys betaal ons R10 000 (Geesteswetenskappe) of R15 000 (Natuurwetenskappe en Regte) per gepubliseerde artikel direk aan die skrywer(s). Ons is nie in ’n posisie om publikasie a priori te waarborg nie.
Aangesien LitNet Akademies ’n akademiese joernaal met drie bene is – Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe en Regte – wil ons die volle spektrum van navorsingsaktiwiteite uitstal. Artikels oor gespesialiseerde onderwerpe en breë oorsigartikels is ewe welkom.
Ons meen dat die sinergie van artikels met so ’n enkele saambindende onderwerp, hoe uiteenlopend die verskillende rigtings ook al mag wees, daartoe sal bydra dat die artikels makliker raakgesien gaan word, en ’n groter impak gaan hê, as wat die geval sou wees indien die artikels een-een in verskillende joernale verskyn.
Ons nooi u uit om ’n voorstel vir ’n artikelvoorlegging aan ons te stuur. Die voorstel word volgens ’n bepaalde formaat gedoen en bevat ’n opsomming van sowat 250 woorde oor ’n onderwerp van u keuse, solank u ’n saak daarvoor kan uitmaak dat dit met die Karoo verband hou. Klik hier om die vorm vir die voorstel van ’n artikelvoorlegging af te laai.
Die redaksie van LitNet Akademies sal voorstelle vir artikelvoorleggings oorweeg en voorleggers sal in kennis gestel word oor die aanvaarding al dan nie van voorstelle.
Hierna kan die voorlegger die artikel ontwikkel, volgens die spesifieke Riglyne vir die onderskeie afdelings van LitNet Akademies, en dit indien. ’n Karoofokus-artikelvoorlegging word dan soos enige ander voorlegging hanteer, naamlik: dit gaan deur ’n proses van redaksionele keuring en word dan vir ewekniebeoordeling uitgestuur. Indien ’n voorlegging vir publikasie aanvaar word, word dit deur ons proefleser afgerond en geskeduleer vir publikasie in die 2012- en 2013-uitgawes van die joernaal.
Etienne van Heerden, Hoofredakteur
Dirk Laurie, Redakteur Natuurwetenskappe
Francis Galloway, Redakteur Geesteswetenskappe
Johann Neethling, Redakteur Regte
Klik hier om die voorleggingsvorm af te laai.