Ope brief aan Johan Kotzé
Hierdie skrywe rig ek persoonlik aan jou. Dit is nie oor die een of ander siek behoefte aan my kant dat ek die soeklig met jou wil deel waar jy in die vuurtonge dans nie. Dit is ‘n vorm van psigologiese reiniging. ‘n Eerste brief vanuit die buitenste duisternis. Inaggenome die huidige stand van die kollektiewe bewussyn sidder ek om te dink wat nog sal kop uitsteek indien die mensdom môre tot verantwoording geroep word. Of jy ooit hierdie woorde lees is ‘n bysaak.
Ek het doelbewus besluit om jou op jou naam aan te spreek. In die media staan jy bekend as die “Modimolle monster”. ‘n Opskrif soos “Kotzé martel en moor” beskik ook oor alliterasie maar dit rol nie so lekker van die tong af nie en die menslike ondertoon blyk onvanpas. Dis nie asof jy eens met tien vingers en tien tone in liefde ontvang is nie, nee, jy is ‘n monster en ons is mense. ‘n Gebore monster? Gemaak? Soos ek vroeër gemeld het is enigiets moontlik deesdae. My swaer byvoorbeeld is tans besig om homself dood te drink en sy pragtige gesin in die proses te verwoes oor sy ma hom as baba bottelskerwe gevoer het en ander euwels van die wanfunksionele huishouding waarin hy grootgeword het. Nie dat ek jou vermeende of sy dade wil regverdig nie. Ek is geen apologeet vir die keuses wat julle maak nie. Wat ek wel wil stel is dat elke kruisiging sy geskikte naamplaatjie het. Die groot verskil egter is dat jy of hy nie die een onskuldige party uit drie is nie.
Dalk moet ek in ‘n Aha-oomblik ‘n Oprah op myself trek en sê: “If you know better you do better.” Of myself op die oorspronklike teks beroep: “Vergewe hulle Vader want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Maar wat weet ‘n worstelende siel iewers verlore in die kerkbanke van Damaskus?
Ek sien in die hof plakkate wat versoeke rig van geen genade. Ongetwyfeld moet jy die swaar straf uitdien wat jou toekom. In jou geval (en ver het jy geval) worstel ek met die eindelose genade van God. Eindeloos is ‘n term wat mense nie eers behoorlik kan begryp nie al bestaan dit in hulle woordeskat. Genade is net so groot woord. Word dit verdien? Ontvang? Bepleit? Word dit deur die Alleenbeskikker toegestaan? Of geweier soos toe dit in jou hande was? Een ding is verseker, God gaan nie op ‘n goeie dag my op die skouer tik en jou ewige lot in my hande plaas nie.
Daar staan iewers dat mens eendag ‘n nuwe naam sal ontvang. Ek het al baie gewonder oor my nuwe naam. Dit moet ‘n naam wees wat die kern van my wees aanspreek. As ek dan die kern van my wees na baie selfondersoek moet saamvat, dit wat ek dalk nie nou alreeds is nie maar wat ek graag wil wees, sal ek volstaan by die woorde: Niemand mag verlore gaan. En nou sit ek met ‘n groot dilemma in jou geval. Sal ek aansluit by die koor en Good riddance to bad rubbish sing? Jy maak dit bitterlik moeilik vir my om jou lief te hê. Die vermeende dade wat jy gepleeg het, het nie net ons ganse volk van ‘n belowende seun ontneem nie maar ook sy moeder onskatbare leed aangedoen.
Jy was eens Johan Kotzé. Nou is jy in die volksmond die Modimolle monster. Indien jy steeds ‘n behoefte daaraan het om eendag ‘n nuwe naam te ontvang, wat sal dit wees volgens jou?
Adriaan