Op 't tog met Medisyne

  • 0

Waar het gestruktueerde mediese opleiding in Suid-Afrika die eerste wortel geskiet?  Die poging van John Fitzgerald verdien vermelding.

Dié Ier van geboorte was ’n mediese student te Glasgow. In Maart 1865 word hy aangestel in die Medical Department of British Kaffraria as Superintendent of Native Hospitals. Hy het onmiddellik begin om ‘gepaste hospitaalpersoneel’ in basiese  mediese tegnieke op te lei.  As voorbeeld, Nana Ganya het die voorste tandetrekker geword. Fitzgerald het vryelik sy professionele en tegniese vaardighede met die leke personeel gedeel.

Na twee jaar, in Maart 1858, skryf hy aan die Chief Commissioner: “Sir, I have the honour to request you to ask His Excellency, the High Commissioner, … to allow the new Public Hospital in King William’s Town  to be called Grey Hospital and Frontier Medical School”. Die hospitaal sou vergroot word tot 120 beddens en opleiding verskaf aan mediese studente deur middel van die Kaffrarian Medical Course.

Die kursus sou oor drie jaar strek met ’n eksamen aan die einde daarvan. Suksesvolle kandidate sou 10 ghienies vir die sertifikaat moes opdok en verder 10 ghienies per jaar, vooruit, om in die hospitaal te mag praktiseer.

Grey-hospitaal is amptelik deur prins Alfred, die Hertog van Saxe-Coburg en Gotha (die tweede aanspraakmaker op die Britse kroon) in 1860 geopen — Alfred het in 1866 die Hertog van Edinburgh geword.  Fitzgerald het gereeld gloeiende verslae oor die hospitaal uitgereik wat duidelik aangedik was om die hospitaal-in-benardheid te ondersteun.

Inderdaad, het twee studente van the Reverend Mr Govan van  Lovedale, te  wete  William Daniels en Govan Koboka die general knowledge examination van die English College of Surgeons in 1864 geslaag maar hulle was verplig om vir drie jaar in Engeland te studeer en aan die einde daarvan moes hulle die membership-eksamen slaag.  Wat van hulle geword het, is onbekend.

Fitzgerald het oor 35 jaar, tot 1891 toe hy in Ramsgate, Engeland afgetree het, ’n reuse-bydrae gelewer In 1865 het hy karbolsuur in die behandeling van wonde gebruik kort nadat Joseph Lister sy ontdekkings in antisepsis wêreldkundig gemaak het. Fitzgerald het volgens beraming 135 000 pasiënte behandel waaronder ongeveer 200 blindes ingesluit is in wie hy sig herstel het.

Die vlagskip mediese tydskrif, die South African Medical Journal (SAMJ) het die eerste-lewe (later gevolg deur ’n ‘tweede-lewe’ en ’n derde-lewe’)  betree in 1884 in Oos-Londen onder die redakteurspen van dr William Darley-Hartley as ’n private venture en het in 1889 ‘gevou’ weens ’n gebrek aan ondersteuning — soos ook die lot was van die eerste mediese tydskrif  The Cape Town Medical Gazette wat in 1847 met dr Ebden as redakteur ontstaan het en kort daarna gefaal het.

Met die Kimberley Exhibition in 1892 is die eerste ‘Suid-Afrikaanse’ mediese kongres gehou — en tydens die kongres is besluit om ’n tydskrif as ’n “organ of Congress” uit te gee en so is die ’tweede-lewe’ aan die SAMJ in Mei 1893 gebied met dr Alexander Edington as eerste redakteur. Dié tweede reeks van SAMJ is in 1899 met die aanvang van Anglo-Boere-oorlog gestaak.*

The Colonial Bacteriological Institute is in 1891 gevestig deur Edington, Suid-Afrika se eerste amptelike bakterioloog, in die Old Engineers Department te Grahamstad. Hulle was primêr betrokke by veeartseny met siektes soos perdesiekte maar het ook hul kundigheid aangewend in die bestryding van siektes van die mens, soos difterie (witseerkeel).

Edington se ideaal was om ’n instituut vir voorkomende geneeskunde te vestig, gelykstaande aan enige in die wêreld.

In 1895 het Edington se instituut groter klem geplaas op die voorsiening van laboratoriumprodukte en diagnostiese metodes vir die analise van water en sputum. Hul produkte is versprei oor Suid-Afrika en verder soos aan Duitse buiteposte in Oos-Afrika en selfs na Australië — maar ’n misverstand met die Zuid Afrikaansche Republiek (ZAR ) het tot die ontstaan van Onderstepoort gelei.

President Paul Kruger het in 1893 adverteer vir ’n persoon wat ‘inentingstof-limf’ (vaccine lymph) kan vervaardig. Arnold Theiler het aansoek gedoen.  Op die vraag “Het jy al limf gemaak?” was sy antwoord.  “Nee … maar ek weet hoe.” Hy was ’n Switserse veearts wat na Pretoria gekom het en nie professionele werk kon vind nie — sy linkerarm was weens komplikasies met infeksie geamputeer. Al werk wat hy kon kry was by die stalle van ’n konsulêre amptenaar wat in Pretoria gesetel was. Hy het hom egter vertroud met die plaaslike omstandighede gemaak deur die sleepspoor van diere wat gevrek het uit dorps-areas  te volg en dan lykskouings op die karkasse te doen. Sy enorme kennis van dieresiektes en sy wetenskaplike aanslag het hom in die oë van baie een van die leidende (indien nie dié leidende) wetenskaplikes van die tyd in Afrika gemaak. Hy was instrumenteel om Robert Koch aan Suid-Afrika bekend te stel.  In 1907 is Theiler tot ridder geslaan.  Sy seun, Max wat in 1899 in Pretoria gebore is, is as Amerikaanse burger in 1951 met die Nobelprys vir Medisyne vereer vir die ontwikkeling van die Geelkoors-entstof.

Naas Viljoen

* Die ‘derde-lewe’ is aan SAMJ gebied in 1932 toe dit as ’n tweetalige tydskrif, die South African Medical Journal — Suid-Afrikaanse Tydskrif van Geneeskunde met dr C Louis Leipoldt as redakteur verskyn het.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top