Thinus gee vir Dorothy die vuilste kyk waartoe hy in staat is. Aangesien hy eeue laas naby aan ’n kraan was, was dit redelik vuil; nog vuiler omdat dit eers deur Dorothy se gekoekte kuifie moes deursyfer. Dorothy merk nie eens op nie, sy grawe in haar plastieksak na iets wat sy nie kan kry nie. Na ’n tydjie vergeet sy waarna sy op soek is, en los die sak. Sy kyk op na Thinus, wat leun-staan teen die muur van die viswinkel. Die winkel is al toe, maar netnou gaan die ou man uitkom met die oorskot-tjips. Koud, olierig, taai, maar dis tog kos. Meer kan hulle nie bekostig nie - hulle laaste geld is vroeër uitgegee op die papsak wat hulle so pas uitgedrink het. Dis juis die papsak wat Thinus toe opgeblaas het vir sports, wat Dorothy laat besef het sy wil ’n bybie kry.
’n Bybie! Kan jy dit glo! Die vrou staan seker binne grypafstand van die einde van haar lewe, en nou wil sy ’n bybie kry! Thinus kan nie verstaan hoekom Dorothy nie besef dat bybies geld kos nie, nog meer geld as wat hulle in ’n volle dag voor Woolworths kan insamel, al hou hulle elke liewe sent! Seker meer as wat hulle in ’n week kan kry, meer as …
Thinus se brein vervaag, hy was nog nooit slim met nommers nie. Hy sê altyd dis dié dat hy net genoeg bymekaar maak om te koop wat hy nodig het, en nie meer nie. As jy mos geld vra totdat jy twee papsakke kan koop, dan begin daar probleme kom. Miskien wil jy dan ’n bottel koop eerder as twee papsakke, want julle's mos nou grand dat julle soveel geld het en julle wil vir die mense by die drankwinkel wys julle's mos nie skollies nie … en ’n bottel is gou klaar, en maak agterna seer as julle eers begin veg. Nee, hou maar liewer by die papsakke. Maar dan, wat van ’n stukkie brood? ’n Halwe brood en ’n papsak, plaas van twee papsakke? Maar jy weet mos, mense gee maklik kos, nie so maklik geld nie, en die wyn gee hulle ook nie. Hou maar by die papsakke. Thinus sê hardop vir Dorothy sy moet maar vergeet, hulle koop maar die twee papsakke, onthou toe hulle geld is klaar, en gaan sit op die rand van die sypaadjie.
Dorothy steur haar nie aan Thinus nie. Sy's al lankal gewoond aan die onderbroke gesprekke wat hy driftig met homself voer. Maar die bybie-saak gaan sy nie so maklik laat lê nie. Sy los hom net vir eers en vat die oorskot-tjips by die winkeleienaar. Thinus kyk nie eens op nie - sy kop hang onderstebo op sy gevoude arms waar hy sit, en Dorothy sien hoe ruk sy skouers soos hy snik. Nou ja, sug sy, dronkverdriet, laat hy ma' huil, as hy nie wil etie issit sy eie probleem. Sy gaan sit langs hom, sit die koerantpapier neer op die grond tussen hulle, en begin om die smaaklose kosstof in haar mond te druk.
*
Die oggend lê nog stil en slapend oor die boomryke voorstede. Thinus se arm hang nog slap langs sy sy, die verband al donkergrys en blink, al was dit net eergister by die hospitaal aangesit. Die vingers wat onder uitsteek, lyk maar valerig, ’n ligter skakering van die kleur van die verband, en Dorothy weet net die suster gaan raas as hulle môre teruggaan. Die wond het ’n klomp steke in, en hulle moes lank wag in die tou voor hulle eers by die dokter uitgekom het, maar toe Thinus begin kla het, het die verpleegster hom die leviete begin voorlees dat hy nooit sy sin klaargepraat het nie. Dorothy weet dit wag nog, daar binne sy kieste, soos halfgekoude vleis wat nie wil af nie.
Sy stoot vandag die trollie, weens Thinus se arm. Die trollie loop nie meer reguit nie, sy een wiel sit vas en hy kort ’n bietjie olie hier en daar. Sy dink dis die Duiwel se werktuig, maar Thinus sê dan is hy die Duiwel, want die ding behoort aan hom. Sy vra is sy naam dan Raymond Ackerman, want daar staan op die trollie "Pick ‘n Pay", en as dit wel so is, hoekom koop hy nie vir hulle ’n lekker huisie sommer hier in die mooi buurt, met ’n swembad en alles, en ’n lekker groot tuin vir die bybie nie.
Die bybie. Sy't lanklaas van die bybie gepraat, maar Thinus moes geweet het sy sou nie so maklik daarvan vergeet nie. Dis ook nie reg nie - sy belofte was onder dwang gegee, die steekwond was nog vol glasstukke en hy was bang hy bloei hom dood. As Dorothy hom nie in die trollie gestop het en hospitaal toe gestoot het, hét hy seker, maar in ruil vir sy lewe het hy duur betaal. Wat wil die simpel vrou nou met ’n bybie maak? Die winter kom, boonop. Skuilplek is nie deesdae so maklik nie met so baie mense op straat. Die trollie staan langs die vullisblik en Thinus lig die deksel. Die reuk van nat koerantpapier, hondedrolle en vrot vis rys stadig hemel toe, ’n offerande aan die gode van stadslewe. Thinus vroetel bietjie rond, maak dan weer die deksel toe en stap verder. Hoe sou hulle ooit ’n bybie aan die lewe kon hou? Hulle sukkel nou al so baie, en hulle is net twee.
Hy kyk om - Dorothy is nie by nie. Sy staan nog daar by die blik, kyk êrens in die verte in. Hy roep vies na haar, maar sy vloek hom nie eers terug nie. Hy stap stadig terug, en merk op hoe kruip die traanspore oor haar gesig af. Daar, aan die onderkant van die straat, stoot ’n jong moeder ’n babawaentjie terwyl sy draf. Die blink, lycra-bekleede lyf verdwyn, en Dorothy betree stadig weer die hede. "Wat kyk djy so?" skel sy. "Vir loer kry djy niks!" Thinus kyk verstom na haar. "Aag, djou pa se pap piel in ’n visblik!" voeg sy moedeloos by, vat weer aan die yslike trollie en stoot, stoot langs die stil straat af.
*
Die son hang aan die blaarpunt soos ’n druppel water, koud en glinsterend. Thinus en Dorothy sit dig teen mekaar op die parkbankie, Shoprite-sakke oor die nat hout gesprei. Ongewoon, is albei stil. Die reën het mense by die huis gehou, en hulle het maar min geldjies vandag gekry. Selfs die viswinkel was toe - die eienaar glo siek - en hulle hol mae en nugter gebeentes het maar sleg teen die koue gevaar. Die drom was papsopnat, ’n vuur was onmoontlik, al het hulle vuurhoutjies gehad, en hulle stukkende skoene het soos sponse die water opgesuig. Woorde was te kort.
Dorothy kyk sylangs na Thinus waar hy sit en neurie. Sy lig haar hand om hom teen die wang te klap dat hy moet ophou, maar die klap versag in ’n streelgebaar. Thinus kyk verslae op. Hy sien die skrale Dorothy waar sy sit en bibber, haar arm nog uitgestrek, haar gesig volgeskryf van al die lewe se gedigte. Sy verkluimde tone voel hy nie meer nie, maar iewers tussen sy knieë en sy maag begin ’n vuurhoutjie vonk vat. Hy vat vir Dorothy aan haar hand en trek haar nader. Agter die glyplank staan ’n toiletgebou. Hulle weet dis gesluit - hulle weet ook hulle is die rede daarvoor - maar hulle stap nogtans soontoe. Op die naakte sement voor die vroue-ingang gaan sit hulle.
Thinus se lippe is vandag blou van die koue en nie as gevolg van Bloutrein nie, maar sy asem brand nog soos spiritus teen Dorothy se bevrore oor. Sy hande vat saggies aan haar skouer, trek haar stadig agteroor, laat haar kop op sy arm lê. In sy beste Steve Hofmeyr-stem begin hy vir haar sêreneid.
Dorothy kyk stip na Thinus, die ou verrinneweerde gesig, die vaal haartjies wat onder sy keppie uitklouter. Sy vryf met haar vingers teen die taai hare, en glimlag droewig vir hom. Hy soen haar vingerpunte, vat dit binne sy mond en streel daaroor met sy tong. Terwyl hy saggies aan haar vingers suig, streel Dorothy met haar ander hand oor sy rug. Die flenterhemp lig op, dat haar hand die warm vel raak. Thinus skuif effens, sit regop en trek sy hemp uit. Dié maak hy in ’n bondel en sit dit agter Dorothy se kop as kussing.
Hoendervleis breek op sy bors en maag uit, en sy tepels staan op aandag soos speelgoedsoldaatjies. Dorothy trek hom nader, vryf met haar hande oor sy rug om hom warm te kry. Die hoendervleis word afgeskrik, maar die dapper soldaatjies bly staan. Thinus soen liggies vir Dorothy teen haar voorkop, voel liggies met sy hand oor haar trui, waar haar verwoeste borsies skuil. Hy lig die trui op, soek die tepels met sy mond, terwyl haar hande streel, flikker, vas vat aan die manslyf wat bo haar huiwer.
Dorothy voel hoe haar liggaam skril van opwinding, haar verlepte tepels orent struikel, die klamheid tussen haar bene begin vloei. Ou vadoek wat sy is, voel sy weer soos ’n vrou. Sy maak haar bene oop, skuif Thinus se kop ondertoe, en voel hoe die romp oor haar knieë gelig word. Haar onderbroek word eenkant toe gerek, en ’n warmte soos sjokolade omhels haar onderlyf. Baardhare vryf teen haar dye, en die vasberade natheid van Thinus se tong klop by haar voordeur aan. Sy maak oop, voel hoe hy die vertrek binnekom, hoe die lig die vertrek in ’n paradys omskep. Dorothy gooi haar kop agtertoe, teen die powere hempkussing, en skreeu van die lag.
*
Die flou strale van die winterson trek stadig die twee straatmense se ooglede oop. Die grond voel hard en koud onder hulle moeë liggame, die liefdesweet al lankal droog teen hulle velle. Die speelparkie lê blink en glinsterend bedek in sy nagreën, en druppels spat waar voëltjies tussen die nat blare op takkies hulle oggendliedere kom sing. Agter op die koue sementvloer lê die straatpaartjie, nog uitgeput van plesiermaak. Die deurweekte grond om hulle staan rypkoud en afwerpend, maar binne die heilige sirkel van hulle genot lê dit droog en beskermd.
Thinus kyk teer na Dorothy en mompel met oggendasem: "Miskien kry djy nou djou bybie."
Dorothy kyk hom verbysterd aan. "My vrouegoed is al lankal uitgehaal!" roep sy uit, "maar ons kan nog altyd weer probeer!" Sy gryp vir Thinus om sy nek en druk sy kop af na haar borste. Thinus vroetel met sy gulp, maak hom lag-lag gereed. Die Kaapse winterdag omskep hom om hulle in warm vreugde, en die bome kyk weg om hulle ’n bietjie privaatheid te verleen.
Toe die opsigter later opdaag en hulle daar sien lê, nog uitgetrek dog snoesig in die winterkoue, skud hy maar net sy kop en stap weg. "Hawu!" roep hy uit, na die voëls wat onder hulle vlerke vir mekaar titter. "Hawu!" skud hy sy kop vir die bome wat hulle takke voor hulle oë hou. "Hawu!" dink hy aan die kinders wat na skool hier gaan kom speel. Maar Thinus en Dorothy lê lekker lepel, ongesteurd in die warm omhelsing van die son.