Oor meme, mites en Waarheid
Naas,
Jou kommentaar op my brief verwys.
Ek is nogal verbaas dat jy nie kan agterkom wat aangaan met die Waarheid en Godsdiens, nie en dit vir my probeer afmaak aan die hand van ’n sekulêre studie in die sielkunde, soos die spiral dynamics-teorie, oor sogenaamde menslike ontwikkeling. Voor die publikasie daarvan in 1996 was die soort van beginsels alreeds bekend in die sielkunde en destyds is dit voorgestel as ’n tipe piramiede van ontwikkeling. Ek onthou dat nagraadse studente by Tukkies wat sielkunde as nagraadse vak geswot het, verwys is na hierdie piramied van ‘ontwikkeling’ en het, interessant genoeg, juis vir dr Anthony Rupert (Anton Rupert) gebruik as model van iemand wat die sogenaamde pinakel van ontwikkeling in hierdie piramiede bereik het, omdat hy juis buite sy eie selfgesentreerde selfontwikkeling kon vorder tot op ’n vlak waar hy homself ontwikkel het deur sy betrokkenheid op alle vlakke van die ontwikkeling van sosiale en natuurbewaring verantwoordelikhede. En Rupert was nie ’n agnostikus, nie.
Maar kom ons kyk na jou spiral dynamics model.
Volgens daardie model is die hoogste vlak van ontwikkeling juis die sogenaamde ‘turkoois’ vlak, waar individue dit kan regkry om ’n holistiese lewensbeskouing te handhaaf as persoonlike vervullingsmodel waarin die mens die nodige sogenaamde eiebelang uitoefen in harmonie en met inagneming van die gemeenskapsbelang waarin hy leef. Volgens jou studiemodel, die spiral dynamics, is die ‘turkoois-vlak’ ’n ontwikkelingsvlak wat eers in die Sewentigerjare ontstaan het en nog besig is om te vorm.
Maar, watter louter snert is dié bewering, nie. Die probleem van die spiral dynamics model is dat dit ’n model is wat deur sekulariste en agnostici ontwikkel is gebaseer op ander agnostici se werk. Neem, byvoorbeeld, meme. Meme is Richard Dawkins se gunsteling-instrument wat hy aanwend om geloof en Godsdiens mee te probeer afmaak.
Maar, ’n meem is ’n konsep wat deur die agnostikus geskep is om iets mee te kategoriseer, waarvan hy die voorkoms noodwendig móét erken omdat dit vry algemeen voorkom, maar nie kan begryp hoe dit ontstaan en ontwikkel het, nie. ’n Meem sou dan nou kwansuis ’n sogenaamde self-propagerende idee, gewoonte of kulturele gebruik wees. Maar daar is nie iets soos ’n self-propagerende idee, nie. Die propagandis, as mens dit so kan noem, van geloof en Godsdiens, is juis die inherente bekwaamheid wat die mens het tot spiritualiteit. Maar omdat die geharde agnostikus spiritueel onbekwaam en onaktief is, sal hy die manifestasie van spiritualiteit elders as op die regte plek gaan soek, maar nie vind, nie. Nou word die fenomeen dan vir hom kamstig ’n sogenaamde self-propagerende idee, gebruik of gewoonte. Nie verbasend nie, want só ‘verklaar’ die agnostikus vir homself ook die ontstaan van lewe, wat hy ook nie kan verstaan en verklaar nie, as synde uit hierdie enigmatiese, mitologiese self-repliseerder self wat kamstig só fenomenaal oor tyd heen self-gerepliseer (self-propageer) het. Kan jy die ooreenkoms insien? Só 'verklaar' die agnostikus sinneloos álles wat bo sy begripsvermoë is maar waarvan hy die bestaan nie kan ontken, nie. Só maak hy ook met God. Daarom dat hulle die spirituele werking van geloof in God, as só ’n ‘meem’ probeer afmaak.
Jou outeurs, Beck en Cowan noem dit nou ‘mites’. Maar dit het nie lank geneem vir dié twee om hul paaie te skei, nie, want toe moes hulle nou weer probeer voorsiening maak vir die werklikheid van bestaan van patologie binne dié meem- of mite-ontwikkelings en daaroor kon hulle nie eenstemmigheid bereik, nie.
Maar die werklikheid leer vir ons weereens tot watter mate die agnostikus, selfs op sy beste, self net eenvoudig nie bo die vlak van mite kan uitstyg, nie. Jy doen die agnostici in hul ateïstiese formaat selfs ’n guns om hulle in die laer garde van die groen-vlek te kategoriseer, want hulle het allermins die rooi-vlak (bevordering van eiebelang sonder skaamte en skuldgevoel) ontgroei. Ook het hulle nog nié die groen-vlak, hoewel ’n heelwat laer vlak, ontgroei, nie. Kyk gerus na die gesprekke van agnostici op hierdie forum. Gedurig is daardie beroep deur hulle op ooglopende mitologie uit die Griekse en Romeinse kultuur. Alles wat hulle nie kan begryp nie, is vir hulle analoog aan dié mitologie. Die massa mense, daarenteen, kan geredelik onderskei tussen mitologie en werklikheid.
Die werklikheid is dat daar wél ’n universele Waarheid is (Johannes 14:6-7), waaraan alle ander waarheid as komponente ontleen, word. Hierdie universele Waarheid transendeer alles, want dit is oorspronklik. God is daardie Waarheid. Dus, dáárdie Waarheid, is die maatstaf waaraan alle ander fenomene wat op waarheid en feit aanspraak maak, gemeet staan te word en dit word al vir báie derduisende jare lank, só gedoen. Daar is geen mites of meme by betrokke, nie.
Maar kom ons bekyk jou spiral dynamics model se hoogs ontwikkelde vlak, die turkoois-vlak. Soos gesê, beweer jou outers dat dié ontwikkel het sedert die Sewentigerjare en gekenmerk word deur individue wat hulle eiebelang temper en selfs modereer om die gemeenskapsbelang te akkommodeer. Dus, daar is dus hierdie kommunale sienswyse eerder as ’n egoïstiese sienswyse – die holisme.
Nou kyk ons na die Woord en ons sien waar dié hoogste turkoois-ontwikkelingsvlak van jou spiral dynamics sy oorsprong, het.
Die volgende uit die Woord, skep die grondslag :
“En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” – Mattheus 22:37-40. Hierdie bron gee ook sommer vir jou die oorsprong van dié Waarheid.
Nie in die Sewentigerjare, nie, maar derduisende jare gelede waar die universele beginsels van die Goddelike waardes vir die mens as maatstaf uitgespel, is. Die Mattheus Woord is egter nie die eerste waar ons daarvan lees, nie.
Meer as ’n duisend jaar vóór die Mattheus Woord, is die beginsels al vasgelê deur God in die wette wat HY deur SY profeet Moses vasgelê het. Let gerus op die bepalings in die Ou Testament en verdere Nuwe-Testamentiese verwysings, waar hierdie beginsels uitgespel word (Eksodus 22:21; 23:9; Levitikus 19:18; Deuteronomium 10:19Matteus 5:43; 19:19; Markus 12:31; Lukas 10:27; Romeine 13:9; Galasiërs 5:14; Jakobus 2:8). Lukas 6:36 maak ook die beginsel en die oorsprong daarvan baie duidelik – wees barmhartig, omdat julle Vader barmhartig is.
Soos jy kan sien, is God die universele Waarheid. Selfs en veral, kinders wat nie aan sulke sosiale en kulturele invloede soos wat jou studie insinueer, blootgestel is nie, omdat hulle nie ag slaan daarop nie, is spiritueel hoogs ontwikkeld omdat Geestelikheid, Spiritualiteit, juis van buite die mens is, maar ’n werklikheid wat die mens direk beïnvloed. Dit is eers later, wanneer die mens groter word en sommige van hulle die werking van spiritualiteit met hulle sogenaamde intellek probeer teëwerk, dat die spiritualiteit by hulle onderdruk word, terwyl die intellek juis saam met die spiritualiteit as aksessore vaardighede aangewend behoort te word . Waarom is julle nie in staat om die eenvoudige dinge in te sien, nie?
Dit is verbasend dat die jy die dinge nie insien nie. Die ‘moderne’ mens-sans-God het blykbaar die slaaf van sy eie intellek geword, wat van hom ’n willose slaaf van ander sy pogings maak, sónder dat hy die vermoë het om bo die ‘denke’ en sogenaamde intellektuele bonttrappery en deurmekaarpratery van die ewe rigtinglose ander wat hy klakkeloos papegaai, kan uitstyg.
Ongeloof is die mens se grootste vyand, want dit lei tot Goddeloosheid en gevolglike stagnasie en onkunde en irrelevansie, soos ons dit maar te dikwels by sommige agnostici sien, veral dié wat hier skrywe.
Terloops, jou ANC as meerderheid-waarheid analogie is werklik so irrelevant dat dit skaars kommentaar verg. Watter 'waarheid' van hulle staan hulle dan kwansuis voor wat as sulks geïdentifiseer kan word? Die enigste universele waarheid wat in ANC verband geld is dat die oorgrote meerderheid van hulle lede, nie-blankes is en dit is inderdaad die waarheid.
Jy het heeltemal begrip vir die term Waarheid waarna ek verwys, verloor.
Groete,
Kobus de Klerk