Ontmoet die naaswenner van LitNet Akademies Kuberklas se wetenskapfiksiekompetisie

  • 0

LitNet Akademies Kuberklas het in 2012 die grootste wetenskapfiksie-kompetisie vir hoërskoolleerders in Afrikaans aangebied. Leerders van graad 10 tot 12 het stapels inskrywings gestuur. (Lees al die inskrywings hier.)

Die beoordelaars, Lauren Beukes, Koos Kombuis, Fanie Viljoen, Elzette Steenkamp en Dirk Laurie, is skrywers, navorsers en kundiges op die gebied van spekulatiewe of wetenskapfiksie. Hulle het Emlyn Allwright as naaswenner aangewys:

Tweede plek: Emlyn Allwright, Bloemhof

"Ek is Emlyn Allwright, en ek is sestien jaar oud. My groot liefdes is diere en die natuur, visuele kuns, musiekmaak, skryfkuns en sommer lekker kampeer in die buitelug. My lewe word meestal bestuur deur my honde, my pen en papier, my kitaar en klavier, en soms, as ek gelukkig is, myself. Ek debatteer graag informeel (enige plek, enige tyd!) en as ek regtig niks anders het om te doen nie, doen ek my huiswerk."

Lees "Papie" hier.

Naomi Meyer het haar 'n paar vrae gevra: 

Hallo Emlyn, vertel ons nog van jouself: wat doen jy as jy nie bobaas-wetenskapfiksieverhale skryf nie?

In my vrye tyd jam ek op my kitaar of klavier, speel ek met Kafka (ons kat) of probeer ek tevergeefs om my van die sjokolade in die kombuiskas te weerhou.

Waar het jy te hore gekom van die kompetisie?

Om eerlik te wees, kan ek glad nie onthou nie!

Wat was die inspirasie vir jou storie? Het die kompetisie jou ‘n idee gegee of broei die gedagte al lank in jou kop?

Nie een nie; ek het net begin skryf en die woorde en idees het vanself gekom.

Kyk jy wetenskapfiksieflieks of lees jy wetenskapfiksieboeke? Wie is jou gunstelingskrywers of -akteurs?

Ek soek iets diepers as net gewere en aliens in 'n wetenskapfiksieboek; daarom is Terry Pratchett my gunstelingwetenskapfiksieskrywer.

Dink jy dis belangrik om wetenskapfiksie juis in Afrikaans te skryf?

Ja. Om wetenskapfiksie in Afrikaans te skryf, bied 'n unieke uitdaging aan die skrywer: daar word verwag dat die storie in Suid-Afrika moet afspeel. Dit maak Afrikaanse wetenskapfiksie 'n genre van sy eie.

Sal jy in die toekoms voortgaan om te skryf?

Nee. My droom is om 'n veearts te word en hoewel ek skryfkuns geniet, het ek geen vooruitsigte om ernstig te skryf nie.

Wat sê die beoordelaars?

Lauren Beukes:

"Papie": Feels like the start of something. An intriguing idea about language and revolution that needs to be carried further. The writer opens up a lot of interesting questions, but the answers are AWOL and the story reads like a set-up for more.

Koos Kombuis:

"Papie": Verrassende storie, hoogs oorspronklik, vol geloofwaardige emosie, ‘n einde wat mens laat nadink, en onkonvensionele idees. Kultureel subversief en heerlik ondermynend. Die verbeelde toekoms-“gadgets” is goed uitgedink en realisties uitgebeeld, en die leser word vinnig ingetrek. Onvergeetlik. 

Fanie Viljoen:

"Papie": Lewendige dialoog maak hierdie verhaal interessant. Dis ook ’n verhaal van idees – futuristies in die sin dat nuwe tegnologie opduik in die vorm van ’n ekstra vel, en vir almal wat bang is dat Afrikaans sal uitsterf, bied die skrywer die moontlikheid aan dat Afrikaans in die toekoms as ’n geheime taal gebruik kan word onder rebelle. Skerp!

 

Kyk wat wen Emlyn.

Klik hier vir nog inligting oor hierdie kompetisie.

Geborg deur:

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top