Ons is besorg oor die US se taalbeleid

  • 0


Hierdie is nie ’n “mosie van wantroue” soos plek-plek berig is nie. Ons is bloot besorg oor die US se huidige taalbeleid en die beleid van dubbelmedium-onderrig, spesifiek by wyse van die sogenaamde T-opsie wat as uitgangspunt ’n voorgraadse Afrikaanse aanbod van 60 persent waarborg. Ons is besorg oor die praktiese implikasie van die T-opsie, deurdat dit:

  • op voorgraadse vlak ’n 60 persent Afrikaanse aanbod waarborg, maar dat dit in werklikheid nie die ware toedrag van sake is nie en in werklikheid lei tot ’n wesenlike de facto-daling in Afrikaans aan die US
  • nie naastenby die beloofde universiteitsgemiddelde 60 persent Afrikaanse aanbod volhoubaar sal lewer nie, omdat die toepassing daarvan in klaskamerverband nie doeltreffend gemonitor word nie
  • in die praktyk na ’n oorwegend Engelse aanbod verskuif
  • in klaskamerverband buitengewone taaleise aan die dosent en student stel en in die praktyk meestal lei tot 'n vetoreg deur die dikwels klein getal studente wat nie Afrikaans verstaan nie, ten koste van Afrikaans
  • die Afrikaanse opsie met tot tien persent in ses fakulteite laat afneem het – en dat toepassing daarvan binnekort tot die verdere afskaling van Afrikaanse onderrig in hierdie fakulteite sal lei.

Ons is bekommerd oor die afname van Afrikaans op universiteitsvlak, veral by die US, en die implikasies wat dit inhou nie net vir Afrikaans op skoolvlak nie, maar ook die breëre taalgemeenskap, sakewêreld, beroepswêreld en die media in Suid-Afrika, sou dit op universiteitsvlak verdwyn. Hierdie bekommernis word vererger deur die feit dat die US die enigste oorblywende universiteit in die Wes-Kaap – ’n Afrikaansmeerderheidsprovinsie – is wat nog onderrig in Afrikaans aanbied binne ’n veeltalige en multikulturele Suid-Afrika. Die US word deur die Staat gesubsidieer. Ons meen dat die staat ingevolge artikel 2 van die Grondwet sy verpligtinge ingevolge artikel 29 moet nakom en verseker dat Afrikaanssprekendes hul reg om opvoeding in die taal van hul keuse te ontvang, moet kan uitoefen.

As alternatief tot die huidige dubbelmedium – (en T-) opsie behoort die US parallelmedium-onderrig en/of tolking te oorweeg om sodoende die de facto-afname in Afrikaans by die US om te keer. Ons meen dat die US se ankertaal Afrikaans moet wees, maar binne 'n veeltalige raamwerk, en dat hierdie doelwit ten beste bereik kan word dmv parallelmedium en/of tolking.

Die huidige mosie is belangrik weens:

  • die reg van Afrikaanssprekendes op onderrig in die taal van hul keuse – veral in ’n provinsie waar Afrikaans die meerderheidstaal is
  • die voortgesette de facto-afname in die Afrikaans-aanbod – veral in ses belangrike fakulteite
  • die onbevredigende aard van die T-opsie
  • die beskikbaarheid van meer belowende alternatiewe opsies (parallelmedium/tolking) wat die posisie van Afrikaans binne ’n veeltalige omgewing sal kan verseker.

Wat dinge moontlik anders maak betreffende die huidige mosie, is dat dit ’n jonger stem dra van jong of betreklik jong Maties/oud-Maties wat dieselfde kommer deel, asook die steun van ’n hele aantal gerespekteerde burgerregte-organisasies. Dit dui duidelik daarop (asook die reaksie wat ons rondom die aangeleentheid ontvang het) dat daar ’n definitiewe behoefte bestaan aan moedertaalonderrig op universitêre vlak, veral dan in Afrikaans, alhoewel die debat wyer gaan as net Afrikaans – dit gaan ook oor ons ander amptelike landstale. Dit is verder verfrissend om te weet dat daar vanuit ’n baie sterk grondwetregtelike hoek uit beweeg word, want dit vorm die basis van die mosie, en dit is bemoedigend om te weet dat (hopelik!) mense kennis neem van hul grondwetlike reg om in Afrikaans onderrig te ontvang, binne die raamwerk wat artikel 29(2) van die Grondwet stel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top