Onderhoud: Theunis Engelbrecht oor Papegaaislaai

  • 0

Papegaaislaai
Theunis Engelbrecht
Umuzi
ISBN: 9781415207147

Skrywers oor hul nuwe boeke: Beyers de Vos vra vir Theunis Engelbrecht oor sy boek Papegaaislaai.

Theunis, hierdie is jou eerste boek in amper dertig jaar. Wat het jou terug gelok na boekskryf? Hoekom juis Papegaaislaai?

Ek was sowat twintig jaar lank popmusiekjoernalis by Beeld in Johannesburg. Ek moes uit die aard van my werk baie partytjies, bekendstellings en shows bywoon en het agtergekom wanneer rolspelers in die Afrikaanse musiekbedryf – kunstenaars, bemarkers, skakelbeamptes, promotors en maatskappybase – dronk raak by sulke geleenthede, hoor ’n mens die ongelooflikste stories. Soos oor dinge wat tussen die lakens gebeur, sangers wat rowwe partytjies met kaal kelners hou, kokaïensnuiwery, seksmisdade, ambisieuse bimbo’s wat die volgende blonde sangsensasie wil wees en enigiets sal doen om dit reg te kry, die ongelooflike geknoei en gekonkel agter die skerms, die dinge wat sterre bereid is om te doen net om ’n bietjie publisiteit te kry, ensovoorts, ensovoorts. Toe ek dus uittree as popmusiekjoernalis, het ek baie materiaal gehad wat gesmeek het om ’n storie te word.

 Die boek word bemark as ’n “rowwe roman”. Wat word hiermee bedoel?

Die verteller, Malletjie Malan, is ’n fotograaf wat geretrench is by ’n poniekoerant. (Ek weet “afgelê” is die korrekte Afrikaanse woord vir “retrench”, maar het al agtergekom jongmense weet nie wat “afgelê” beteken nie; hulle dink dis as jy ’n bloutjie loop wanneer jy op sosiale media flankeer. En indien hulle nie weet wat ’n poniekoerant is nie: tabloid. Geelpers.) Malletjie leef in ’n wêreld van harde en koue realiteite, nie in ’n knus kokon nie. Dus is sy taalgebruik rof en grof en onbeskof. Hy draai nie doekies om nie en bak nie mooi broodjies nie. Hy het al genoeg dinge in die lewe gesien om hom hard te maak. Hy en sy buddy – Rocky Johnson, ’n trans DJ wat onder die naam DJ Funk Soul Brother werk – beleef ook rowwe avonture in plekke soos ’n hoerhuis in Hillbrow, die Blou Bul Bush Pub in die Bosveld, die Brakpan-dam, Adult World in Melville en ’n miljoenêrswoning in Dainfern. Mense wat dit al gelees het, het vir my gesê dit het soos ’n roller coaster ride (ekskuus: ’n rit op ’n wipwaentjie) gevoel, en ook in daardie opsig is dit rof.

Vertel ons oor die verhouding tussen Malletjie en Rocky. Is dit regverdig om hulle verhaal te klassifiseer as ’n liefdesverhaal (van aard)?

Ek laat dit liefs aan die leser oor om self te besluit; ek wil niemand se pret bederf nie.

Die satire in die roman fokus veral op die Afrikaanse musiekbedryf, maar tot ’n mate ook die Afrikaanse kultuur en ons beheptheid met beroemdheid en skandale. Wat was dit oor die vermaaklikheidsbedryf wat jou fassineer as onderwerp?

Die illusionêre en oppervlakkige aard daarvan. Hoe belaglik dit is as sogenaamde celebrities soos die Kardashians en al die ander kardoesjiane aanbid word asof die son nie net uit hulle gatte skyn nie, maar ook soggens daaruit opkom en saans daarin ondergaan. Die verdomming en vervlakking wat dit in die hand werk. Hoe die consumers daarvan basies soos skape gebrainwash word. Die hele idee van vals bewussyne wat sodoende ontstaan. Die skynheiligheid en rugstekery in die bedryf. Hoe sekere sterre se ego’s opgeblaas raak en dit van hulle klein monstertjies kan maak.

Ook die joernalistiekbedryf word betrek. Jy het lank in dié bedryf gewerk – hoeveel van die beskrywing in die verhaal is oordrewe en wat is jou mening oor die toekoms van joernalistiek in Suid-Afrika?

Alle nuusberigte en koerant- en tydskrifopskrifte waarna in Papegaaislaai verwys word – met die uitsondering van dié van die fiktiewe tabloid Die Volksmond en wat oor die verdwyning van die gefiksionaliseerde sanger Zander Stander handel – is net so uit die nuusbronne geneem in die tyd waarin die verhaal hom afspeel, van 15 tot 21 Desember 2012 (die dag waarop baie mense gedink het die wêreld sou vergaan). Een voorbeeld is die berigte oor regses wat gevang is omdat hulle Zuma by die ANC-kongres in Bloemfontein wou gaan opblaas. Maar daar is nog baie ander.

Die toekoms van joernalistiek in Suid-Afrika? Solank die klem op goeie, sterk inhoud is en joernaliste voortgaan om sosiale onreg, korrupsie, menseregteskendings en vermorsing van belastingbetalersgeld oop te vlek en aan die kaak te stel, is die saak reg, maak nie saak in watter formaat dit gedoen word nie.

Gesels oor die taalgebruik in die roman: die woordspeletjies wat Malletjie en Rocky kwytraak, asook die spanning tussen Malletjie en Rocky se “normale” growwer Afrikaans en die “suiwer” Afrikaans wat ander karakters (soos die onderwyser van Potchefstroom en die predikantsvrou) gebruik, wat die kern van baie van die roman se humor is.

Toe ek die boek geskryf het, het ek net weer besef wat ’n befokte taal Afrikaans is. (Mense wat dit nie wil glo nie, kan maar net Boerneef se gedigte gaan lees.) Ek sal in geen ander taal wil skryf nie. Malletjie is Afrikaans- en Rocky Engelssprekend, so uit die aard van die saak praat hulle nie suiwer Afrikaans met mekaar nie, maar ’n mengsel van die twee tale. Dis ’n soort straattaal wat ek elke dag in die handel en wandel hoor en wat ek meer kleurryk en dinamies vind as vaal, hiperkorrekte koekstruiftaal. Rocky hoor heeltyd lekker Afrikaanse woorde en sêgoed by Malletjie, en hy wil hê Malletjie moet hom meer daarvan leer. En in die proses gaan hulle mal en speel baie met taal.

Een van jou karakters lees in die fiktiewe boek Die ontwakende man: “Sommige skrywers gaan tot sulke uiterstes in die gebruik van hulle verbeelding dat wat hulle skryf eenvoudig ’n weergawe is van dagdrome wat hulle gehad het … Dit laat [hulle] in ’n kammawêreld leef. Dit is die vernaamste rede waarom dit nie wenslik is om fiksie te lees nie.” Dit voel vir my asof Papegaaislaai ’n direkte aanval op die idee is. Is Papegaaislaai jou dagdroom?

Ek sou nie sê Papegaaislaai is my dagdroom nie, omdat die grootste deel van die boek op werklike gebeure gegrond is en dit by tye, veral wanneer dit by die onderwêreld van die Afrikaanse musiekbedryf kom, eerder ’n soort nagmerriewêreld is wat Malletjie en Rocky beleef. En glo dit of nie, maar Die ontwakende man is nie ’n fiktiewe boek nie. Dit bestaan regtig, maar is al uit druk uit. Omdat dit die soort boek is waarmee baie Afrikaanse seuns in vroeër jare gebreinspoel is oor betaamlike gedrag en seks en wat dit kwansuis beteken om ’n ware man te wees, kon ek dit nie weerstaan om dit ook in die verhaal te betrek en af te rip nie. Want as kinders geleer word om nie fiksie te lees nie, is dit ’n skande. Om nie eens te praat wat alles oor seks in Die ontwakende man geskryf word nie, maar dit kry ook aandag in Papegaaislaai.

Soos jy reeds gesê het, speel die roman af in die week voor 21 Desember 2012, toe die wêreld veronderstel was om te vergaan. Watter rol speel die einde van die wêreld in die roman? Hoekom juis hierdie tydperk?

Baie mense het haywire gegaan in daai week en dit het die gevoel van ’n crazy wêreld in die verhaal versterk. (Die motto van die roman is van Henry Miller: “There is no salvation in becoming adapted to a world which is crazy.”) Ek wou ook graag ’n lekker paartie scene in die storie hê, en wat beter as ’n End of the World-paartie?

Die roman handel ook oor ongesonde seksualiteit en die nagevolge van ’n onderdrukte seksualiteit, gewoonlik as ’n gevolg van verouderde tradisionele waardes. Maar tog is hierdie waardes nog steeds algemeen in Suid-Afrika?

Ja, dit lyk inderdaad of hierdie mens-onterende waardes nog steeds algemeen voorkom – nie net in Suid-Afrika nie, maar oral in die wêreld. Daar is baie verregse, hiperkonserwatiewe groeperinge met ’n Middeleeuse mentaliteit. Maar gelukkig is daar darem ook al meer oopkop mense is as twintig jaar gelede.

Sou dit regverdig wees om te sê Papegaaislaai maak ’n uitspraak oor die verskil tussen “goeie” en “slegte” musiek? Wat presies is dié verskil?

Ja. Vir my is goeie musiek dié waarin op ’n oorspronklike manier omgegaan word met sosiale werklikhede, sonder oogklappe. Slegte musiek is dié wat niks te sê het nie en vol clichés is en ’n mens nie laat nadink oor enigiets nie. Die lirieke van die meeste kommersiële ligte Afrikaanse musiek klink of dit die skryfwerk van ’n graad 5-leerling in ’n skooljaarblad is. (As jy my nie glo nie, skakel net vir ’n uur lank in op kanaal 146 op DStv.) Dit is wat die lirieke betref. Wat die musiek self betref, is verbeeldingryke arrangements en cutting-edge production en die gewilligheid om grense te verskuif en nuwe dinge te doen die soort goed waarby ek aanklank vind. Daarom is dit so ’n skreiende skande dat die MK-kanaal op DStv toegemaak is, want dit was al kanaal waar ’n mens nog ordentlike musiek kon hoor en na ordentlike musiekvideo’s kon kyk. Dankie tog vir YouTube.

Sou jy saamstem dat jou roman ook handel oor Afrikaner-manlikheid en die korrupsie daarvan? Malletjie en Rocky moet die idees oor man-wees in ’n moderne wêreld baasraak. Hoe sien jy die rol van mans en manlikheid in die Afrikaanse kultuur?

Ek het nie doelbewus so daaraan gedink toe ek dit geskryf het nie, maar kan insien dat dit op daardie vlak so gelees kan word, byvoorbeeld in die toneel waar die klomp boere aan die suip gaan in die Blou Bul Bush Pub tussen Brits en Thabazimbi en die seksskandale waarby van die sangers in die storie betrek word, en dan dié wat gay is maar vir hulle bewonderaars voorgee dat hulle straight is. Ja, dit lewer inderdaad kommentaar op die rol van mans en manlikheid in die Afrikaanse kultuur. Wat die kommentaar presies is, laat ek helaas ook aan die leser oor om self daaroor te besluit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top