Onderhoud met Debra Meyer

  • 1

Debra Meyer (foto: Netwerk24)

Die bekende Debra Meyer, wat bekendheid verwerf het as ’n Afrikaanse weeraanbieder op SABC 2, is onlangs as dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg aangestel. Jason Lloyd het haar met ’n paar vrae oor die wetenskap en Afrikaans gepols.  

Jy het bekendheid verwerf as ’n Afrikaanse weeraanbieder op SABC 2 vir meer as 13 jaar lank en is met ingang vanjaar aangestel as dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg. Wat beteken dié aanstelling vir jou?

Die aanstelling is ’n bevestiging van wat harde werk vermag. Dis ’n kompliment om baie redes – ’n vrou in ’n leierskapsposisie in die wetenskappe; ’n bruin/swart vrou in die posisie; ’n vrou vanuit die townships, ens – maar die belangrikste een vir my is dat ek bewys ’n vrou uit Eldorado Park verstaan die wetenskap op die vlak van enige man, veral ’n wit man.

Jy, wat voorheen professor en hoof van die Departement Biochemie aan die Universiteit van Pretoria was, is ’n gerekende wetenskaplike en ’n top vigsnavorser. Om dekaan te wees beteken eintlik jy is die administratiewe hoof van die fakulteit. Gaan jy nog navorsing doen?

My aanstelling vereis dat ek 20% van my tyd aan navorsing spandeer. Dis natuurlik makliker gesê as gedaan, maar ek gaan my bes probeer. Daar is nog studies wat ek wil uitvoer en ek gaan dit hoofsaaklik met nadoktorale studente hanteer. Ek het op die oomblik agt nagraadse studente onder my leiding: 4 PhD’s, 3 MSc’s en 1 nadoktorale student, maar die meeste van hulle behoort hierdie jaar hul studies te voltooi.

Hoe gaan jy jou administratiewe verpligtinge en jou rol as akademikus of navorser balanseer, siende dat akademici altyd mompel dat administratiewe verpligtinge in die pad van hul navorsingsuitsette staan?

As mens ’n dekaanspos aanvaar, is administratiewe verpligtinge ’n baie groot deel van die pos en kan mens nie daarvan wegkom nie. Dis meer algemeen vir dekane om administratiewe en bestuursverpligtinge na te kom as om navorsing te doen, maar daar is mense wat dit regkry en ek beplan om een van hulle te wees. Op die oomblik vorder ek nie te sleg nie en het reeds vyf publikasies vir die jaar.

Hoe sien jy die rol van die wetenskap in die bemagtiging van veral voorheen benadeelde gemeenskappe en vroue?

Hoe die wetenskap oor die algemeen aangebied was, was “off-putting” vir minder bevoorregtes en vroue. Die konteks van die student was nie noodwendig in wetenskapopvoeding in ag geneem nie. Dit verander namate meer rassegroepe en vroue die wetenskap as loopbaan kies en hul eie perspektiewe en ervaringe inbring. Vroue het ’n perspektief wat iets nuuts bied wat die wetenskap tot op hede nog nie in oorvloed gehad het nie. Inheemse kennis is lankal deel van wetenskaplike ontdekkings, maar tradisionele gemeenskappe het nie altyd voordeel getrek hieruit nie, maar wetenskaplikes wat sensitief is vir hierdie soort kennis gaan hierdie situasie heeltemal verander. Die wetenskap bied oplossings wat die kwaliteit van lewe vir almal op die planeet bevorder en soos wat meer vroue en rassegroepe as wetenskaplikes kwalifiseer, maak hulle ook sogenaamde Westerse uitvindings meer aanvaarbaar in omgewings waar dit gewoonlik met agterdog bejeën sou word.

Universiteit Johannesburg (foto: wikipedia)

Jy is ook bekend as iemand wat onbeskaamd bruin is met ’n voorliefde vir jou moedertaal Afrikaans. Hoe leef jy dit uit as iemand wat glo in nierassigheid as ’n baie spesifiek Suid-Afrikaans-ontwikkelde politieke begrip en samelewingskonsep?

Ons is waar ons grootword. Ons is ons kultuur en taal. My kultuur is bruin en my taal Afrikaans, en waar ek myself leer ken het, was in die townships. Ons kan nie alles aan apartheid toeskryf en aanhou terugkyk nie. Ek is trots Suid-Afrikaans, maar die mikro-omgewing van my kleintyd het my gevorm en ek verander dit vir niemand nie. Mens onthou die verlede, nie om die heeltyd verskonings te soek nie, maar om te keer dat iemand anders ooit weer dikteer wie jy is.

Daar word deesdae baie gepraat en geskryf oor die sogenaamde verswakkende posisie van Afrikaans na 1994. Dink jy dié bekommernis is geldig? Indien wel, hoe moet Afrikaans hom of haar binne die konteks van ons huidige grondwetlike demokrasie handhaaf of gedra?

Afrikaans het beslis nie meer die beskermde posisie van die verlede nie. Die grootste probleem vir die taal is die aantal Afrikaanssprekendes wat dink dis meer voordelig om te verengels.

In die bruin gemeenskappe in Gauteng gebeur dit omdat mense nie noodwendig weet die taal is hulle s’n nie. Om my deel te doen om hierdie verkeerde persepsie te takel, gee ek een keer per jaar ’n lesing oor bruin mense en Afrikaans aan enigiemand wat wil luister. Die lesing is op bruin mense gemik, maar enigiemand is welkom om dit by te woon en dis verbasend hoeveel mense na die lesing sê hulle was nie bewus van die feite rondom die ontstaan van Afrikaans nie. Dis seker te verstane, aangesien die geskiedenis van die taal nie in die sillabus van bruin skole aangebied was voor 1994 nie en beslis nie nou nie.

Afrikaans is een van die 11 landstale en het bestaansreg in dié verband. Ons almal moet ’n veeltalige samelewing ondersteun en bevorder. Geen taal moet op enigiemand afgedwing word nie en almal moet moeite doen om ’n derde taal aan te leer.

Wyle Kader Asmal het destyds in sy hoedanigheid as minister van onderwys wyle Jakes Gerwel aangestel as voorsitter van die Gerwel-kommissie, wat die toekoms van Afrikaans op universiteitsvlak moes ondersoek en aanbevelings in dié verband moes doen. Dié kommissie, waarop ook gerekende en gesiene intellektuele soos Hein Willemse en Antjie Krog gedien het, het voorgestel dat twee Afrikaanse universiteite – een in die suide en een in die noorde – in die vooruitsig gestel moet word. Dié universiteite sou dan spesifiek gemoeid moet wees met die ontwikkeling, uitbouing en bewaring van Afrikaans se hoër en wetenskapfunksies. Is dié voorstelle van die Gerwel-kommissie nog relevant? En meer spesifiek: Is daar nog plek vir ’n Afrikaanse universiteit in Suid-Afrika na apartheid?

Natuurlik is daar plek vir Afrikaanse universiteite, maar daar sal geld uit ander oorde as slegs staatsgeld moet kom om dit te laat realiseer. Die probleem is dat die huidige regering dit nooit sal ondersteun nie, omdat ’n Afrikaanse universiteit gouer op die been sou kom as byvoorbeeld ’n Tswana-universiteit.

Die laaste sensus het getoon meer bruin mense as in die verlede is gemakliker om Afrikaans as hul moedertaal op te eis of te aanvaar. Waaraan sou jy hierdie paradigmaskuif onder bruines toeskryf?

Ek is bewus van die sensusdata, maar ongelukkig is dit nie wat ek self ervaar nie. Die meeste bruin mense wie ek ken, insluitend my familie, verengels steeds. Ek het dus nie ’n idee waar die paradigmaskuif vandaan kom nie. Dalk kry mense weer rede om trots te wees op hul herkoms. Om bruin mense te oortuig hul geskiedenis is die moeite werd om te ondersoek en daaruit trots te kry, is een van die redes vir die lesing oor die geskiedenis van Afrikaans wat ek sedert 2005 aanbied.

Sou jy in die toekoms ’n rektor van ’n Suid-Afrikaanse universiteit wou wees? Indien wel, hoekom, en wat sou jy beskou as jou grootste uitdaging in so pos?

Ek sal graag eendag rektor wil wees, om die eenvoudige rede dat ek weet ek sal dit kan doen. Die ervaring wat ek as dekaan sal opdoen, sal beslis my vermoëns verder uitbrei. Dis deel van mens wees om jouself so ver moontlik te toets, en om rektor te wees is die hoogste rang vir ’n akademikus.

http://radialinfo.com/science-lab-safety-precautions.php
  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Ek weet dit is in die mode, maar die ras- en geslagsgedrewe opmerkings aan die begin behoort nie in die akademie ter sake te wees nie. Ek hou ook nie van die "sogenaamde Westerse uitvindings" nie. Erken liewer die oorsprong van uitvindings (of wat ook al) vanwaar hulle ook al kom. Debra Meyer kan gerus haar lesing oor die ontstaan van Afrikaans (of 'n opsomming daarvan) op LitNet publiseer, sodat ons kan besluit in hoeverre dit akademies-wetenskaplik verantwoord kan word. Haar redenasie dat Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite, anders as Engels, deur nie-regeringsbronne befonds moet word, is verwerplik. Dit is 'n redenasie wat, sover ek weet, deur Willie Esterhuyse begin is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top