Waarom vermy soveel onderwysers en ouers die moeilike vrae wat kinders stel? Waarom skuil hulle as volwassenes agter onkunde of ’n houding van “vra jou pa of ma” of “’n mens vra nie sulke goed nie”? ’n Ander standaardantwoord is: “As God wou gehad ons moet alles weet, sou hy jou so gemaak het. Ons is nie veronderstel om alles te weet nie.”
Die skoolhoof en biologiedepartementshoof, wat ’n toegewyde onderwyser by ’n hoërskool in die noordelike voorstede van Kaapstad laat bedank het omdat hulle geweier het dat sy evolusie in die leerplan met leerders bespreek, het my laat dink aan die Britse kosmoloog Hermann Bondi se woorde oor die moeilike vrae wat kinders stel.
“Soms is ek ’n bietjie onvriendelik teenoor al my baie vriende in die onderwys deur te sê dat vandat hulle leer om te praat, alle kinders vreeslike lasposte word deur te vra ‘Hoekom?’ Om dié onsin te stop, het die samelewing ’n wonderlike stelsel ontwerp wat onderwys genoem word, en wat by die meerderheid mense die begeerte om daardie vraag te vra, tot ’n einde bring. Die min mislukkings van hierdie stelsel staan bekend as wetenskaplikes.”
Een van my kollegas by die Universiteit Stellenbosch vertel my onlangs hoe haar leerders verhoed word om aan evolusie as wetenskaplike feit in die biologieleerplan blootgestel te word omdat dié verskoning gebruik word: “Die onderwysers verstaan nie evolusie nie en dis in elk geval net ’n teorie, nie ’n feit nie.”
Skoolhoofde, biologieonderwysers en ouers wat hierdie skans van onkunde onbeskaamd omhoog hou om moeilike vrae van studente te deflekteer, versaak eerstens hul plig om geldige, bewese wetenskaplike kennis en bevindings te versprei. Maar tweedens dra hulle by tot die onderdrukking van kennis, en is hulle soos die brandweerbrigade in Ray Bradbury se Fahrenheit 451 wat boeke verbrand, ’n falanks van hedendaagse Beattys en Montags.
 |
| Ray Bradbury se Fahrenheit 451 |
Evolusie net ’n teorie? Ek het uitvoerig hieraan aandag gegee toe ek in 2010 op uitnodiging van prof Julian Müller die Universiteit van Pretoria se teologiefakulteit toegespreek het oor die werklikheid van evolusie as verskynsel in die ontwikkeling van lewe. Miskien is dit nodig dat ek ’n uittreksel uit my inleidende hoofstuk herhaal wat vroeër vanjaar in my en Frits Gaum se boek, God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (Tafelberg), verskyn het. Daarin verduidelik ek waarom evolusie nie net ’n teorie is nie, maar ’n geldige wetenskaplike feit wat in biologiehandboeke en ‑leerplanne hóórt. En nie sommer goedsmoeds deur onkundige, beangste en stormtroepagtige onderwysers uit die sillabus gelaat kán en mág word nie.
Toe Darwin se The Origin of Species die eerste keer in 1859 die lig sien, verklaar die vrou van ’n bekende biskop in Engeland aan haar man: “Oh my dear, let us hope that what Mr Darwin says is not true. But if it is true, let us hope that it will not become generally known!”
Die leier van die internasionale span wetenskaplikes wat die menslike genoom in 2001 gekarteer het, dr Francis Collins – ’n bekende gelowige – skryf hierdie verskynsel toe aan wat hy noem “a simple misunderstanding of the word theory”.
In sy topverkoper, The language of God – A scientist presents evidence for belief, skryf Collins: “Critics are fond of pointing out that evolution is ‘only a theory’, a statement that puzzles working scientists who are used to a different meaning of that word.” Collins wys op die woordeboekdefinisies van “teorie” as “a speculative or conjectural view of something; fundamental principles underlying a science, art, etc.: music theory, theory of equations” (volgens Funk & Wagnalls se Dictionary of English).
Op dieselfde wyse toon HAT (die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal), ook dié duidelike verskil aan: “Grondreëls van ’n wetenskap om waargenome feite of verskynsels te verklaar; voorstelling in ’n mens se gedagte sonder om rekening te hou of voordat rekening gehou is met die werklikheid.”
Collins skryf verder: “The examples reported here from the study of genomes, plus others that could fill hundreds of books of this length, provide the kind of support for the theory of evolution that has convinced virtually all working biologists that Darwin’s framework of variation and natural selection is unquestionably correct. In fact, for those like myself working in genetics, it is almost impossible to imagine correlating the vast amounts of data coming forth from the studies of genomes without the foundations of Darwin’s theory.”
Jerry Coyne, genetikus van die Universiteit van Chicago, benadruk twee belangrike punte oor die wanopvatting dat evolusie net ’n teorie is. “First, in science, a theory is much more than just a speculation about how things are: It is a well-thought-out group of propositions meant to explain facts about the real world ... [T]he theory of evolution is more than just the statement that ‘evolution happened’: It is an extensively documented set of principles ... that explain how and why evolution happens ...”
Verder skryf Coyne: “For a theory to be considered scientific, it must be testable and make verifiable predictions.”
Dit beteken dat wetenskaplikes in staat moet wees om waarnemings oor die werklike wêreld te kan maak wat die teorie ondersteun of verwerp. Omdat ’n teorie net as “waar” aanvaar word as die teorie se aansprake en voorspellings oor en oor getoets is, en ook herhaaldelik as korrek bevestig is, is daar nie ’n spesifieke moment wanneer ’n wetenskaplike teorie skielik ’n wetenskaplike feit word nie. So word ’n teorie ’n feit (of ’n “waarheid”) wanneer soveel bewyse ten gunste daarvan opgestapel is en daar geen beslissende bewyse daarteen is nie dat omtrent alle rasionele mense dit aanvaar, aldus Coyne in sy boek Why evolution is true (Oxford University Press, 2009).
Wetenskaplikes toets hul teorieë teen alternatiewe teorieë. Kom ons neem die Jong Aarde-kreasioniste se vaste geloof dat die aarde net tussen 6 000 en 10 000 jaar oud is en weeg dit in die lig van wat ons weet oor kontinentale wegdrywing. Die meeste van ons is deeglik gefassineer deur die satelliettegnologie van die globale posisioneringstelsel, in die volksmond bekend as GPS. Oorweldigende, onbetwisbare bewyse bestaan dat die kontinente eens aan mekaar vas was, hoewel Alfred Wegener lank reeds dood was voordat John Tuzo Wilson se bevindings oor tektoniese plaatbeweging Wegener se teorie in 1965 bevestig het.
Deur middel van GPS-waarneming weet ons die kontinente beweeg van mekaar af weg teen snelhede van ongeveer 5 tot 10 cm per jaar. Maar, soos Coyne tereg aantoon, as ons die Jong Aarde-kreasionisme van ’n aarde niks ouer nie as 10 000 jaar aanvaar, sou dit beteken dat as jy op die heuwels bo Lissabon op die weskus van die Iberiese Skiereiland staan, jy die wolkekrabbers van New York sou kon sien omdat Europa en Amerika ’n bietjie meer as 1,6 km van mekaar af sou wegbeweeg het. Dink maar aan hoe Europeërs op 11 September 2001 dan eerstehandse getuies van die aanval op die Twin Towers sou kon wees.
Die leidende Russiese bioloog Theodosius Dobzhansky stel dit effe anders as Collins, maar nie minder sterk ter ondersteuning van evolusie as kragtige wetenskaplike feit nie: “Nothing in biology makes sense except in the light of evolution.” Waarom eien biologieonderwysers hul dan die reg toe om sélf te besluit wat mag maar in en wat nie – wat kinders mag weet en wat nie?
Vandag sit ons in die ernstige dilemma dat terwyl Charles Darwin se epogmakende werk ons konsep van die wêreld onomkeerbaar verander het, daar steeds miljarde mense is wat glo evolusie is net ’n teorie, nie ’n feit nie. Maak nie saak wát die wetenskap sélf oor evolusie te sê het nie en dat regerings en die gewone burgerry daagliks besluite neem op grond van hierdie absurditeite. Ek haal net drie ander wetenskaplikes hieroor aan:
Jared Diamond, Amerikaanse evolusionêre bioloog en Pulitzerpryswenner, skryf: “Evolution is the most profound and powerful idea to have been conceived in the last two centuries.” Dan die mening van Ernst Mayr, die Duits gebore Amerikaanse evolusionêre bioloog, waarskynlik een van die grootstes sedert Darwin, en ’n duideliker uitspraak kan jy nie kry nie: “Evolution is the most important concept in biology. There is not a single ‘Why?’ question in biology that can be answered adequately without a consideration of evolution. But the importance of this concept goes far beyond biology. The thinking of modern humans, whether we realize it or not, is profoundly affected – one is almost tempted to say determined – by evolutionary thinking.”
Laastens die Britse bioloog Julian Huxley: “Evolution ... is the most powerful and the most comprehensive idea that has ever arisen on Earth.”
 |
| Evolusie van die mens |
Vra maar die mediese navorsers wat reeds meer as drie dekades lank stry om die slim MI-virus te uitoorlê en ’n teenvoeter vir die dodelike vigs te kry waarheen die virus onvermydelik op pad is as dit eers vastrapplek in die mens gekry het: Dis evolusie, daagliks, voor ons oë aan die gebeur.
Guy Montag se siening oor die verbranding van boeke verander wanneer hy in aanraking kom met die afgetrede professor Faber, wat sy eie stilswye oor die wet dat geen boek meer mag bestaan nie en verbrand moet word, betreur. “... [D]o you see why books are hated and feared?” vra hy Montag. “They show the pores in the face of life. The comfortable people only wax moon faces, poreless, hairless, expressionless.”
Pas sy woorde toe op The Origin of Species en jy het Suid-Afrika se skoolklaskamers waar evolusie vermy en van kinders weerhou word omdat dit ouers en onderwysers ongemaklik laat voel – laat rondskuifel en anderpad kyk omdat hulle nie wil verduidelik waarom die aarde dan nie net 6 000 jaar oud is soos húlle op skool en in die Sondagskool geleer is nie.
Nee, onderwysers en ouers kan nie soos die biskop se vrou die ondenkbare wil wegwens en maar hoop evolusionêre wetenskaplikes se bevindings word nie raakgesien nie. Darwin se teorie is nie net ’n teorie nie – dit is ’n “universele suur” wat so bytend is dat dit deur alles vreet, soos die skrywer en wetenskapfilosoof Daniel Dennett dit beskryf. Dit vreet deur omtrent elke tradisionele konsep en laat ’n revolusionêre wêreldvisie agter, met die meeste ou bakens steeds herkenbaar, maar getransformeer op verskillende maniere.
 |
| Charles Darwin |