SêNet-briewe | Letters

 
Om Afrikaans te kry en te behou

'n Mens begin al vir lief daarmee neem dat 'n gedrukte nie-fiksieboek, soos Christo van Rensburg se So kry ons Afrikaans (Pretoria: Lapa, 2012, 159p, R165), meer as 'n rand per bladsy kos. Maar selfs dit is 'n gesubsidieerde prys, danksy die LW Hiemstra-trust. Publikasie sal ongetwyfeld al hoe meer (en soms selfs uitsluitlik) elektronies geskied.

'n Gedrukte boek, anders as elektroniese teks, is 'n vaste gietsel. 'n Mens sou dus verwag dat so 'n publikasie behoorlik geredigeer word. Met Van Rensburg se boek is dit nie die geval nie. Let op die volgende sin: "Trekkers wat weer teruggetrek het, het die oorlewing van die taal vir die agterblywendes ook bemoeilik (soos byvoorbeeld in Angola)" (p 69). Dwarsdeur die teks word "weer" en "ook" onnodig in sinne gevoeg en sowel "soos" as "byvoorbeeld" word saam gebruik.

Daar is slordige formulerings. "Op die plase het slawe ook gewerk. Daar was ook knegte in diens geneem" (p 33). Wit knegte word bedoel, maar dit word nie gesê nie. "Die trek uit die binnelandse grensgebied het geweldige taalimplikasies vir die taalsituasie in suidelike Afrika gehad" (p 73 - skrap "vir die taalsituasie"). "Die getalleverhouding van Afrikaanssprekendes in verhouding tot ander groepe" (p 74 - skrap "in verhouding").

Daar is enkele taalfoute. "Afkeer oor" (p 24 - afkeer van), "elektiese voorsiening" (p 74 - elektrisiteitsvoorsiening), "spot gedryf oor" (p 83 - spot gedryf met), "soos die kontak toeneem" (p 98 - namate ...).

Die ergste vergryp kom by jaartalle voor. "Teen die einde van 1500" (p 17) beteken nie 31 Desember 1500 of iets soortgelyk nie, maar die einde van die 1500's, dus die einde van die 16de eeu. Die opmerksame leser kom die outeur se eienaardige gewoonte agter as hy lees van "die eerste dekade van 1700" (p 25), "die eerste 70 jaar van 1700" (p 42), "ná 'n paar dekades van 1700 ... In die loop van 1700" (p 66) en "voor die einde van 1700" (p 62, bedoelende die einde van die 18de eeu). Later word "'s" soms bygevoeg, maar waar dit ontbreek, moet die leser telkens besluit of bv 1700 of 1700's bedoel word. "Teen die middel van 1800" (p 64) - waarom nie eerder skryf "omstreeks 1850" nie? "Die einde van die eerste kwart van 1900" (p 73) - waarom nie "1925" skryf nie? "Die griepepidemie van die tweede dekade van 1900" (p 74) - waarom nie "1918" skryf nie? "Die eeu wat in 1800 begin het" (p 109) - daardie eeu het in 1801 begin.

In die teks word na talle outeurs verwys, soms na net die van. Dit is bv nie maklik om te weet na watter Nienaber verwys word nie; nog minder na watter bron. Die boek is skynbaar as 'n populêre teks bedoel, gevolglik is teen voetnote besluit. Daar is geen behoorlike bronnelys nie, blykbaar om die drukkoste laag te hou. Die laaste afdeling bied op 'n onkonsekwente manier 'n mate van bibliografiese hulp, maar in die voorafgaande teks word die leser nie hierheen verwys nie.

In ooreenstemming met die tydsgees was die uitgangspunt blykbaar dat die aandeel van nie-wittes in die ontstaan van Afrikaans belig, selfs (oor)beklemtoon, moet word. Michael le Cordeur bevestig dit in die voorwoord: "Die doelwit was om eens en vir altyd die misverstand oor waar Afrikaans vandaan kom, finaal by te lê" (p 9). 'n Mens vind dus dat die outeur van baie vroeg af die aangeleerde taal van die slawe en Khoi-Khoin Afrikaans pleks van Aanleerdersnederlands of proto-Afrikaans noem. Die skaarste aan betroubare inligtingsbronne (bv "Besonderhede oor hoe die slawe gepraat het, is maar skraps," p 55) bied ruimte vir vertolkings in pas met wat tans om etniese en ideologiese redes in politiek-korrekte kringe verlang word. Dit kan op "miteskepping" (p 92) neerkom. Die wittes was geneig om Nederlands stadiger as die nie-wittes te ontgroei, veral as skryftaal.

Miteskepping uit hierdie oord is nie nuut nie. Jan van Riebeeck het oor die Kaapmans geskryf dat hulle "pretenderen" dat hulle "dit Caepse lant van allen eeuwen" besit (p 151). Dit is die oorsprong van Hermann Giliomee se boektitel, Nog altyd hier gewees (2007).Dat nie-wittes 'n rol in die ontstaan van Afrikaans gespeel het, word reeds baie lank erken. Byvoorbeeld, hierdie feit vind sedert 1975 sigbare uitdrukking en erkenning in die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl (p 94). "Na 'n eeu was daar min verskille tussen Khoi-Grensafrikaans en Veeboer-Grensafrikaans" (p 47), maar "die [wit] veeboere se Afrikaans [het] nie 'n Khoi-onderbou gehad ... nie" (p 48). Oor hierdie twee soorte Grensafrikaans skryf Van Rensburg: "Dit was nie maklik om die ... twee uitmekaar te hou nie" (p 54). Daar word beweer dat "die bakermat van Afrikaans juis dáár in die binneland lê" (p 55).

Die punt is dat Afrikaans plaaslik as 'n aanpassing van hoofsaaklik Nederlands ontstaan het. Ook dat Afrikaans ten minste aanvanklik eerder 'n Nederlandse dialek as 'n taal uit eie reg was. "Die Nederlandse aandeel aan Afrikaans kon nog altyd herken word, soos vandag ook" (p 66).

Van Rensburg tref 'n onderskeid tussen Moesliemafrikaans (of Bo-Kaaps, p 86) en ander sprekers van Kaaps (p 87). Daar word verskeie kere verwys na die dislojaliteit wat baie bruines teenoor Afrikaans openbaar. Achmat Effendi het bv verkies om sy verkiesingsveldtog vir 'n setel in die Kaapse parlement in Engels te voer (p 87). Nadat die Kaap 'n Engelse kolonie geword het, het die sprekers van Kaaps verengels. "Kaaps het nou ook 'n duidelike invloed getoon van die Engels wat die hooftaal van Kaapstad geword het" (p 88). "Engelse invloed [was] al van vroeg af deel van Kaaps" (p 115-116).

Die geskiedenis word deesdae in verskeie opsigte herhaal. Tydens die Bataafse bewind, dus aan die begin van die 19de eeu, het Jan Willem Janssens tydens sy besoek aan die grensgebied agtergekom dat die inwoners self vir hulle veiligheid en orde gesorg het. "Die regerings ... het nie werklik in hulle sake belang gestel nie" (p 66). In die nuwe Suid-Afrika doen nie soortgelyke situasie hom voor.

In 1822 het Charles Somerset met sy verengelsingsbeleid begin (p 87). "Die plattelandse gebiede, Stellenbosch, Paarl en Franschhoek, het dieselfde patroon van verengelsing gevolg as in die sentrale Kaapse gebied. Dit het gebeur ten koste van Afrikaans. Buite die Kaap was die tempo van verengelsing net stadiger" (p 88). Die onderrigtaal van die Universiteit Kaapstad en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) is deesdae uitsluitlik Engels. Die Universiteit Stellenbosch (US) verengels al hoe meer ten koste van Afrikaans. Al verskil is dat dit aan die US stadiger as aan die UWK geskied.

Sedert 1902 het Alfred Milner se verengelsingsbeleid veroorsaak dat mense teen wil en dank Engels in bv winkels moes praat (p 112). Deesdae is dit dieselfde storie. Anders as voorheen verstaan die assistente in my plaaslike Woolworths nie eens Afrikaans nie, wat nog te sê van dit praat. "Daar [is] ook te maklik met die verengelsingsbeleid van Milner saamgewerk" (p 112). Dieselfde kan van die ANC se voorkeur vir Engels aan bv die US gesê word. Van Rensburg verwys na "die onsensitiewe afdwing van Engels deur nuwe bewindhebbers" (p 137).

Wat vir Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika van wesenlike belang is, is nie hoe hy ontstaan het nie. Die vraag is veel eerder hoe hy kan oorleef. Deel van dié oorlewingstrategie moet wees om die kankers wat hom kan vernietig, te identifiseer. Dit moet nie net gaan om die erkenning van soveel sprekers moontlik wat "Afrikaans in al sy variëteite" praat nie. Die gehalte van Afrikaans is van deurslaggewende belang. "Die beeld van 'n taal verander positief as prestasies van gehalte daaraan gekoppel word" (p 111). "Kwaliteitswerk in Afrikaans het gehelp om Afrikaans sy sprekers se voorkeurtaal te maak" (p 112).

Van Kaapse Moesliemafrikaans word gesê: "Soms kan kenmerke van hulle Afrikaans ook in hulle Engels gehoor word" (p 127). Andersom is dit natuurlik nie 'n kwessie nie; daardie "Afrikaans" is deurspek met Engels. "Kaaps is ook glad nie meer net 'n praattaal nie" (p 128). "Engels was eintlik die taal waarmee hulle aan die Kaapse gemeenskapslewe deelgeneem het, en is die voorkeur as skryftaal en kultuurtaal" (p 127). Piet Uithaalder/Abdullah Abdurahman se "Kaaps illustreer daardie variëteit se lang kontak met Engels" (p 129). "Dit is interessant om die keuse van Kaaps in [Adam Small se] literêre werke te sien as 'n protes teen die gebruik van gestandaardiseerde Afrikaans" (p 130). Van Rensburg verwys na tale wat heeltemal deurmekaargeklits word (p 54). In soverre Kaaps 'n mengeltaal (van sowel Engels as Afrikaans) is, moet dit onomwonde as 'n hedendaagse euwel geïdentifiseer en veroordeel word, want dit ondermyn Afrikaans in sy oorlewingstryd. In hierdie opsig behoort bv die Afrikaanse Taalraad sy beheptheid met politieke korrektheid af te skud, want dit gaan hier om suiwere taalkundige oorwegings.

In laaste instansie berus die toekoms van Afrikaans myns insiens by taalgetroues, by lojales, dus by diegene wat 'n passie vir veral Standaardafrikaans het, trots daarop is en dit uitleef. Van Rensburg verwys na "geborgenheid in Afrikaans" (p 142). "Taalintegriteit [moet] nie ingeboet word nie" (p 138). "Standaardafrikaans [is] eintlik 'n dialek wat bokant Afrikaans se dialekte staan" (p 117). "'n Bodialektiese standaardtaal ... dwing dialekte ... na die standaardtaal" (p 125). Dit is waarom dit so belangrik is dat die massamedia (pers, rolprent, radio en televisie) Standaardafrikaans kompromisloos moet uitdra. In die praktyk is dit egter glad nie die geval nie.

Daar moet nie toegelaat word dat Afrikaans op groot skaal deur Engels vermurwe word nie. "In variëteite waar die remmende invloed van Standaardafrikaans nie so sterk gevoel word nie, kan Engelse invloed die maklikste gesien word. In Kaaps, waar Engelse invloed die langste geskiedenis het, het dit al deel van die eie taaltradisie geword" (p 139). Watter etniese groepe by die ontstaan van Afrikaans betrokke was, is deesdae van mindere belang. Die vervloë vermoë om Nederlands skeef en krom te praat, was nie 'n uitsonderlik kreatiewe prestasie nie. Aan wie veel eerder afdoende erkenning gegee moet word, is aan diegene wat Afrikaans ontwikkel, gestandaardiseer en uitgebou het.

Daar is die rol wat die Genootskap van Regte Afrikaners gespeel het, asook diegene wat vertaalwerk (bv die Bybel in Afrikaans) gedoen, spelreëls opgestel, asook grammatikaboeke, woordeboeke en skoolhandboeke gepubliseer het. Van Rensburg verwys hierna en ook na skrywers wat romans, gedigte, verhoogstukke en liedjies (ook die Psalms en Gesange) in Afrikaans geskryf het. Dan is daar ook die Afrikaanse koerante, tydskrifte, rolprente, radio- en televisie-uitsendings. Die rol wat dosente en navorsers in die Afrikaanse letter- en taalkunde gespeel het, is nog nie na behore erken nie. In baie gevalle kan hulle "taalidealiste" (p 120) genoem word. 'n Nie-politiek-korrekte feit wat Van Rensburg nalaat om te noem, is dat dit hoofsaaklik wittes (en veral mans) is wat hierdie arbeid so voortreflik verrig het.

Vir my was daar drie woordwinste in hierdie boek. Wanneer iets bestudeer word soos hy nou lyk, word dit 'n heterdaadstudie genoem (p 125). 'n "Black hole" is 'n gravitasiekolk en 'n "early bird" is 'n doutrapper (p 118). Is laasgenoemde woord nie pragtig nie?

Johannes Comestor

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Thomas
2012-11-20 @12:34
Johannes

Die gravitasiekolk een het ek al gehoor maar doutrapper is uitstekend.

Al stem ons nie altyd oor alles saam nie geniet ek jou skrywes - welgedaan.

Thomas
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address