Oestyd-skryfuitdaging: "Parstyd" deur Zandra Bezuidenhout

  • 0

Parstyd

Ná die dag se sny
en kromstaan in die wingerd
word oorvloed vrag op vrag
na kelders aangery.
Die oes is af; somer word sap.
Sentrifugaal skei dop en stingel
van die vog, gis borrel deur die bry;
slurpe spoeg en spetter
die reste van die pars.

Herinnering aan lig veredel
in die koelte van ’n tenk,
rus vol belofte
teen die ronding van ’n vat.
Iemand draai ’n kraantjie oop, en tap;
neus die geheim, kantel die glas.
Wind en son dans in die distillaat –
’n jong seisoen rol oor die tong.

Pryse lyk goed; bottels word beplak
met nuwe etikette vir die buitelandse mark,
die gewelwit motief ’n sierstuk
bo die elegante landgoednaam.
Sukses laat swel die boer se bors:
sy harde werk dra vrug,
sy grond is goed verseker,
sy vrou en kinders spoggerig versorg;
arbeidershuisies is voorsien van krag en water,
kompleet met sonpanele en ’n spoeltoilet – wat vra hul meer?
Dis immers beter as ’n opslaanhut!

Saans dwaal ’n handvol werkers oor die werf,
loer in by ruim vertrekke vol antieke
wat die eienaar se nageslag sal erf;
merk hoe geelhoutbalke in die maanlig
skadu’s gooi oor kandelare
met hangende kristal.

Dan draai hul terug, vryf die vermoeide arms en sug;
kruip in tussen ’n span gekooide raakvatters
elk met ’n uitgebreide kroos
wat wag op die seisoen se rus,
sien in ’n droom hoe daar vir nederiges
’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde kom.

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-uitdaging.

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top