Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Tanya van Buuren

  • 0

Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

Die titel van my verhaal was oorspronklik "Kopskuif" en ek het dit op 'n fiktiewe karakter, Chamonique, gebaseer. Chamonique se karaktereienskappe is 'n kombinasie van my alledaagse waarnemings van mense en ook van karakters in die televisiereeks Nip/Tuck. Chamonique is 'n karikatuur van die sogenaamde "poppie", maar – soos altyd – is daar 'n rede vir haar gedrag.  

Chamonique is nie noodwendig dom nie, maar sy is die slagoffer van haar eie oppervlakkigheid en ook haar liefdelose kinderjare en mense wat haar nooit na waarde geskat het nie.

Die verhaal wil wys tot watter laagtes mense sal daal vir 'n bietjie aandag en dat baie van ons liefde en aanvaarding soek op die verkeerdste plekke denkbaar.

Die titel van my verhaal het ná baie swoeg en sweet na "'n Happy ending" verander.  

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Die samestellers het my gevra om my oorspronklike slot heeltemal te herskryf en aanvanklik was ek in die diepste duisternis daaroor, maar later het ek besef dat hul raad my storie baie verbeter het.

Die keurverslae het my ook daaraan herinner dat die leser eerder bond met 'n karakter van vlees en bloed as een wat bloot 'n abstrakte konsep is. 

Die hele proses was soms frustrerend, maar as geheel was dit baie insiggewend en ek is dankbaar dat professionele mense my die leiding gegee het om my storie so goed moontlik te maak. 

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Die moeilikste deel van die skryfproses is om die konsep te kry en die eerste paragraaf te skryf. Sodra jy dít het, is jou kop deur. Begin net skryf! Dit is ook belangrik dat jy jou deur die storie en die karakters laat lei – 'n verhaal kan dalk heeltemal anders uitdraai as hoe jy dit aanvanklik beplan het. 

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Plaaslik is dit Annelie Botes – sy vertel die mees hartverskeurende stories met soveel deernis. Ek hou van skryfwerk wat my skok, en Annelie se boeke doen dit keer op keer.

Internasionaal hou ek baie van Chris Cleave – hy het 'n hartroerende manier van skryf en slaag daarin om my te laat lag met 'n traan. Little Bee is seker my gunstelingboek van alle tye.  

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Ek vryskut deeltyds en het ook 'n blog. Ek sal nooit ophou skryf nie. Ek sal ook graag eendag my eie boek wil skryf – iets soos 'n twisted sprokie met 'n onvoorspelbare einde. 

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Tanya van Buuren se kortverhaal "'n Happy Ending" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top