Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Dalena Theron

  • 0

Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

Die verhaal “Hond” was vir my 'n stukkie terapie. 

Die struktuur is geïnspireer deur 'n kortverhaal van die Brasiliaanse skrywer Michel Laub. Maar met die redigering het Suzette Kotze-Myburgh my daarop gewys dat die nommering van die paragrawe nie eintlik werk nie, en sy was reg. Toe ek weer Michel Laub se storie “Animals” lees, het ek besef dat hy die nommering op 'n ander manier toegepas het – een wat nie met my storie werk nie. 

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Die raad wat Suzette my gegee het oor hoe om tydsverwisseling in my storie meer effektief te gebruik (wat ook te doen gehad het met die nommering wat ek hier bo noem) het baie gehelp. Dis iets waarmee ek dikwels sukkel en ek sal eintlik nog meer daarvan wil leer.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Stephen King se boek oor skryf, On Writing, was vir my baie interessant. Een van my ma se vriendinne wat ook skryf, het dit vir my aanbeveel. King praat van die skep van 'n skryfroetine: Kies 'n tyd van die dag wat vir jou werk en daag dan getrou op by jou skryftafel. As jy dit elke dag doen, sê hy, kom jou brein later vanself in “skryf-mode” as daardie tyd van die dag aanbreek. 

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek is mal oor Antjie Krog se werk, spesifiek Country of my Skull, A Change of Tongue en Begging to be Black. Ek dink dit is ongelooflik sensitief en eerlik, en ek bewonder die manier waarop sy oor ons land se onderliggende sosiale spanning skryf. 

Alexandra Fuller se Don’t Let’s Go to the Dogs Tonight, Sarah Winman se When God was a Rabbit en Arundhati Roy se God of Small Things is drie van my gunstelingboeke. 

Ek is ook mal oor Marian Keys, want haar boeke is skreeusnaaks.

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Ek het onlangs die nuus gekry dat die manuskrip wat ek by Random House Struik voorgelê het, aanvaar is vir publikasie. Ek is baie opgewonde (en 'n bietjie senuweeagtig) daaroor!

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Dalena Theron se kortverhaal "Hond" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top