Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Akkedis"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


 

Akkedis

’n Taxi toeter. Haastig. Kwaad. Ek hoor iemand in die verte skreeu. Iemand skreeu terug. Wiele kners en spoeg gruis. Die graad drie-seuns storm dol agter die ryssak-sokkerbal aan. Lefu skop die bal vir Piti, en Piti dan vir Sehlolo. Dan mik Sehlolo om die bal net mooi tussendeur die twee takke aan die end van die veld te skop. Die twaalfuur Afrika-somerson skel teen die rooi grond en die hitte weerkaats terug. Die bloedige stof wat in die lug hang, is smorend. Alles ruik en proe na stof. Ek loop en soek na ’n skadukol teen die skoolgebou se muur. ’n Skraal skerf maak skaars die punte van my netjiese skoene toe as ek met my rug styf teen die muur staan. My gesig is in die son. Vandag brand hierdie son my weer pienk. Ek neem ’n slukkie uit my waterbottel. Louwarm. Honger hoenders skrop net buite die skoolheining.

Die kinderstemme jil en hul kaalvoete skop rooi stofwolke met elke sprong. ’n Groep meisiekinders speel ’n speletjie: ’n klip word gegooi, en dan spring ’n kind, en dan gooi die ander weer ’n klip en spring. Die spel herinner my aan jare terug se klippie-hink op geplaveide blokke onder die diep skaduwees van flambojante en koraalbome. Blou en rooi linte vasgeknoop rondom stywe poniesterte, vlegsels en boksterte wat wip met elke sprong. Moeg gespeel het ons onder die bome gaan sit en sorgvuldig voorbereide toebroodjies, soos klein kunswerke, oopgevou en met die hand geëet. Woolies se gesonde vrugtesappe het ons asem gegee vir die volgende speletjie.

Botshabelo se taxi’s jaag toeterend verby die skoolgrond. Heen en weer. Besig. Altyd besig. Altyd raserig. Hierdie geraas word ’n mens nooit gewoond nie. Elke kamer en blyplek word deurdring deur hierdie geweld van klank. Ek het selfs al ’n skoot hoor klap. Toe wonder ek. ’n Broer? Of’n suster? ’n Pa? ’n Oom? In hierdie wêreld is geweld net ’n tree buite die klaskamer.

Sewe weke gelede het ek hier aangekom. Pas klaar geswot, pas graad gevang en oë oningewyd vir hierdie werklikheid. Bang. Want ek het nie geweet wat om te verwag nie. ’n Student het baie drome: ’n klas met helder plakkate en sagte matte waarop die kinders met houtblokke leer spel en met albasters wiskunde leer doen. Leer lees uit boeke wat kraak van nuutheid. Toe stap ek op ’n Januarie-oggend ’n klaskamer binne waar daar net ’n stofvloer en stukkende vensters is.

Met die eerste sien was die skrik al daar. Die akkedis. Sy kop het laaggelê en sy oë was op my. In die hoek.

Allemintig.

Toe ek later weer kyk, was hy weg.

Die kinders het my vinnig geleer dat die sand gebruik kan word as skryfoppervlak en dat wiskunde pret kan wees met klippies in rye gepak. Spel-speletjies in die sand het ’n vermaaklikheid geword, ’n tyd vir grappies en staaltjies. ’n Leerling moes ’n woord neerskryf in die sand, en dan ’n storie vertel. Dan het ’n ander leerling ’n volgende woord geskryf, en die storie verder vertel. Dit is Letlotlo se beurt.

Sy kies die woord ‘akkedis’. So vertel Letlotlo haar storie:

“My groot, groot, groot-oumagrootjie het vertel:

‘Ba re e ne re. ’

‘Qooiiii’ antwoord die kinders ademloos.

‘Die man, hy was baie lief vir sy meisie en hy was opgewonde oor die trou. Hy bid vir God en vra dat God hom en sy vrou baie gelukkig sal maak. God stuur ’n boodskap vir die man saam met die verkleurmannetjie: hierdie vrou het hom vreeslik lief en gaan vir hom ’n kind gee. Sy sal alles doen om hom gelukkig te maak. Die skelm akkedis, hy luister toe God die verkleurmannetjie stuur om die boodskap na die man te vat. En hy is kwaad. Hoekom stuur God die stadige verkleurmannetjie en nie vir hom nie? Hy is baie vinniger. Hy besluit dat hy die boodskap voor die verkleurmannetjie sal aflewer. Die volgende dag begin die verkleurmannetjie en die akkedis hul reistogte. Die verkleurmannetjie, stadig, terwyl die akkedis baie vinniger was. So kom die akkedis voor die verkleurmannetjie by die man uit. Teen hierdie tyd was die man en sy vrou al getroud, en hulle het ’n jong seuntjie. Die akkedis gaan fluister in die man se oor terwyl hy slaap:

‘Die vrou, sy is baie sleg. Sy is nie getrou nie, en sy is nie regtig lief vir jou nie. ’

Die man word die volgende oggend wakker en hy is baie hartseer. Hy glo dat ’n voorvader of God met hom in sy slaap gepraat het, en hy weet dit is belangrik dat hy luister. Hy word stiller en stiller. Dit het sy vrou verskriklik weemoedig gemaak, want sy kon nie verstaan wat fout is nie. Sy het opgehou eet. Sy het maer geword. En sy is dood. Die man het sy droefheid weggesteek.

Teen die tyd wat die verkleurmannetjie uiteindelik by die man se huis aankom, sien hy die vrou is dood. Toe die man die aand aan die slaap raak, gaan die verkleurmannetjie na die man toe en fluister in sy oor:

‘Jou vrou was ongelooflik lief vir jou. Sy was getrou, sy het jou ’n kind gegee. Sy sou haar lewe vir jou gee. Sy het jou oneindig lief gehad.’

Die man was ontsteld toe hy wakker word die volgende oggend. Hy besef dat sy vrou hom en sy kind liefgehad het.”

Letlotlo maak ’n klein buiginkie en ons klap hande. Só het hulle stories uit hul wêreld vir my geweef.

Vir kuns het ons driedimensionele verkleurmannetjies met krulsterte uit koerantpapier gevou, en versier met kleurryke doppies en papiertjies en allerlei optelgoed. Ons het musiek gemaak met slaginstrumente: plastiekbottels met klippies binne-in word ratels. ’n Ou koffieblik word op sy kop gedraai, en met die trommel van houtstokke word dit’n drom. Piti het ’n groot gat in ’n kartonboks gesny, rekke om die gat gedraai, en so het ons ’n kitaar. ’n Ou hanger het stukke vislyn gekry, en daaraan het ons optelpype gehang. Aan die punte het ons verskillende groottes moere vasgemaak, en met die veeg van ’n stok oor die vislyn die mooiste klokkespel daaruit getoor.

Aan die begin het die gesiggies gelewe met hoop. ’n Meisiekind het haar hand opgesteek: “Dumela, Juffrou! My naam is Letlotlo. As ons’n nuwe juffrou het, beteken dit ons kry boeke, Juffrou?” Toe ek teen die derde week my moed bymekaarskraap om met die hoof te praat oor die boeke, het hy slegs sy skouers opgetrek en gesug.

“Juffrou, dit is maar hoe dit is hierso. Ons baklei nie meer teen hierdie dinge nie.”

Die regering het al weer drooggemaak. Ek het self begin om lyntjiespapier, potlode en storieboeke aan te dra. Dat ’n kind só opgewonde kan wees oor ’n potlood en ’n stuk papier. Na die eerste vyf weke het ek die papier in die helfte begin sny en die potlode ook deurgesny. ’n Nuwelingonderwyser se salaris rek ook maar net so ver. Die kinders het dit nie eers agtergekom nie.

Op my verjaarsdag, verlede week, het die kinders my ná pouse aan die hand kom vat en buitentoe geneem na die verste hoek van die speelterrein. “Juffroujuffroujuffroukomkyk!” singskree hulle.

Op die grond was ’n kunswerk: bruin blare was as blomme rangskik met ’n stokkie vir die stam. Die son is ’n coke-bottelprop en stokmannetjies staan en hou hande vas met ’n meisie-mannetjie in die middel. Sy dra ’n driehoekige Fanta-rok. Waar die kinders die tyd gekry het, weet ek nie, maar die tyd staan stil en ek voel ’n hand in myne glip. Letlotlo kyk na my. In haar palm is ’n rooi Wilsonstoffie.

“Letsatsi le monate la tswalo!” roep die klas. “Mag jy ’n lekker verjaarsdag hê.”

“Van die klas af, Juffrou,” sê Letlotlo met die toffie in haar hand. Die klas se oë is op my. Afwagtend. Wat ek toe nie geweet het nie, is dat haar boetie die toffie gesteel het by die kafee by die taxirank.

Die son bak net al warmer, maar ek weet daar is geen hoek of gat met net ’n bietjie skaduwee nie. Die meisiekinders klap hande en sing liedjies. Ek luister na die lispelklanke van die vreemde tong. Soveel anders as die klikklanke aan die Ooskus, van my grootwordtyd. Ek onthou kinderrympies en liedjies wat vir my geleer is in ’n koel klaskamer waar elke lyf sy eie skoolbank gehad het. Ons het vrolik saamgesing, ongeërg, en geweet dat ons die volgende dag met dieselfde maatjies in dieselfde klaskamer weer sou kom vrolik wees. Hier was daar orde. En ’n God.

Ek hoor die twee stoeiende jong lywe en dit ruk my terug. Kinders hou op speel en hardloop om te sien wat aangaan. Ek loop vining nader om te sien wie die moeilikheidstokers is. Lefu stamp vir Sehlolo op die grond.

“Wat gaan hier aan! Lefu, hoekom het jy vir Sehlolo op die grond gestamp?”

Lefu is stil. Hy kyk na sy kaalvoete.

“Lefu?” Stilte.

“Lefu het my gestamp, Juffrou, omdat ek te lank gevat het om die bal vir Piti te skop,” sê Sehlolo vies.

“Lefu? Dit is nie mooi nie. ”

Steeds sê Lefu niks. Sy stoftone boor in die sand.

“Nou toe. Sê jammer vir Sehlolo.”

Geen antwoord.

“Nou ja, dan sal jy môre detensie sit. ”

Lefu sê steeds niks.

Die skoolhoof stap buitentoe en blaas sy fluitjie. Pouse is verby.

Toe sien ek hom weer. Die akkedis se stert wat tussen die bedrywige kinderlywe by die klas inglip. Toe ek die kinders vra oor die akkedis, het niemand hom gesien nie.

Die sleepsels op die grond het die skrik aangeja. Die bewys: hy wás daar.

Die kinders is nukkerig. Ek kry die meisiekinders sover om een vir een uit ’n storieboek te lees.

Dan sien ek dit onder my lessenaar. Hier reg by my voete. ’n Sleepsel.

Onderlangs bly die seuns praat en woel. Dit is ’n stryery.

“Wat gaan daar agter aan? Hoekom is julle seuns so bakleierig vandag?” Daar is geen antwoord nie en ons gaan aan met die leeswerk. Na ’n rukkie is daar weer ’n gestryery en ek het genoeg gehad.

“Sehlolo, gaan staan buite die deur. Nou! Lefu, agter in die hoek. ”

Die kinders staan vies op maar gehoorsaam my. Ek gee vir die klas wiskundeoefeninge om te doen en ’n potlood en papier.

Ek voel dit broei. Maar wat?

Ek sit en merk die opstelle van vroeër die dag. Die hitte is krapperig en die kinders is ook onrustig. Een vir een merk ek die opstelle. Die onderwerp: ‘’n Dag in my huis.’ Derde van onder vind ek Lefu s’n.

‘My hys is klyn met twee kamirs. In een kamir is daar twee mitrasse. Ek en my twee ouer broers deel een. Ma en dad en my bybie sussie deel die anir een. Die anir kamir is klyner. Dit is waar ons vuur maak en kos maak. Gistraand het dad gan drink. By die shibien en ma is nie happy nie. Ma is baie kwaat, sê sy vir dad. Dad het Sehlolo se pa geslat omdat Sehlolo se pa lelik gepraat het met dad. Ma is kwaat! Sehlolo se pa het dad gevloek!’

Teen die einde van die dag is ek moeg vir die spul en vir Botshabelo met sy hartseer huise en nimmereindigende geraas. Dit is amper huistoegaantyd en ek laat Sehlolo terug in die klas en die kinders sit op hulle plekke. Ek skryf die huiswerk op die bord, terwyl die kinders dit op flenterpapiere neerskryf. Ek draai vies om, want daar is ’n onrustigheid.

Stilte.

Agter, uit die hoek van die klas, kyk die akkedis met die duiwel se oë na my. Hier is geen orde nie. Net ’n akkedis. Toe ek weer kyk, is die oë weg. Ek draai terug en skryf verder. Ek voel die sweet teen my rug afdrup. Die onrustigheid bly.

“Hlokomela!” roep ’n meisiestem. “Pasop!” Ek draai om.

Die akkedis blaas.

Reg voor my staan ’n kind. In sy hand, ’n lem wat flits.

Agter in die klas lê ’n kind.

Bloed.

Botshabelo stink na akkedis en bloed.

 



Lees die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top