Onderhoude | Interviews

 
Nuwe Stories 2013-onderhoud: Kerneels Breytenbach

Hoe het jy begin (kortverhale) skryf – van waar die inspirasie? Wat was jou eerste gepubliseerde storie en waar het dié verskyn?

Ek het ‘n storie gehoor in Oberammergau van die dorpenaars wat vies was vir die kêrel wat Christus in die Passiespel speel, dat hy hom begin verbeel het hy is werklik Christus. Ek moes eenvoudig iets daarmee maak. Dit was 1980. Dit het uiteindelik saam met ‘n klomp ander kortverhale in Morsdood van die honger verskyn, twaalf jaar later. My eerste gepubliseerde stuk was “Die Drie Hasies” in die Akkerjol van 1973. Ek sal baie dankbaar wees as daar nêrens op aarde meer ‘n eksemplaar daarvan bestaan nie.

Hoe sien die literêre landskap vandag daar uit wat kortverhale aanbetref? Wat het verander sedert jou dae as jong of aspirantskrywer?

Kortverhaalbundels is iets wat in alle tale taamlik skaars is – ‘n sameloop van markinvloede, aankoopgewoontes van handelaars en nugter weet wat nog alles. Ek het altyd met bewondering gelees aan die kortverhale van Chris Barnard, Braam de Vries, Hennie Aucamp, John Miles en later André le Roux. As mens jouself wou meet, was hulle die maatstaf. Maar ek het ook gedroom dat iemand in Afrikaans die verfyning sou bereik van die skrywers wat ek in Engels bewonder het: Eudora Welty, Raymond Carver, Peter Taylor, Donald Barthelme, John Updike, Richard Ford, Jorge Luis Borges (in vertaling, uiteraard).

Die probleem vir my is nou dat mens in feitlik geen boekwinkel meer hul kortverhaalbundels kry nie, en die Afrikaanse kontingent kry mens net enkele voorbeelde elk van in Abraham H de Vries se Groot Afrikaanse Kortverhaalboek. Dit is moeilik om vir jong skrywers ‘n leesprogram aan te beveel, want die boeke is nie meer geredelik beskikbaar nie. Hopelik sal dit met die koms van die e-boek weer beskikbaar word.

Hoe vergelyk die destydse publikasieproses met vandag se digitale omgewing?

Dit is sekerlik makliker om jou skryfwerk iewers op ‘n webblad gepubliseer te kry, as die feit van publikasie jou mikpunt is en remunerasie nie ‘n oorweging is nie. Ek sou verkies dat iets van die ou publikasieproses, waar daar gehaltebeheer (tov set- en spel- en taalfoute) toegepas kan word, en waar ‘n bekwame redakteur vir jou kan sê jy is besig om kak droog te maak, verander asb. Of sny asb. Die opkoms van die e-boek hou ontsaglik baie belofte in, maar die probleem is dat nie almal wat hulle op daardie terrein begewe, in die eerste plek daaraan dink om ‘n skrywerskap te vertroetel en te help groei nie. En nie almal van hulle het die taalkennis van Marinda Ehlers nie.

Wat is vir jou die kenmerkende eienskap(pe) wat kortverhale van ander skryfvorme onderskei?

Dit is histories gesproke die brug tussen die orale tradisie en die eerste vorme van langer narratiewe fiksie. Dit het noodwendig nie ‘n groot “rolverdeling” nie, en die vorm dwing jou om uiters gekonsentreerd te skryf. Jy het minder ruimte om temas te ontwikkel, en jou grootste wins is gewoonlik die ontsluiting van kompleksiteit deur eenvoud.

Wat is die beste skryfraad wat jy ooit ontvang het, of die grootste slaggat wat skrywers (van kortverhale) moet vermy?

Dieselfde raad as wat Hennie Aucamp aan my gegee het: maak nie saak hoe mal jy is oor iets wat jy geskryf het nie, as dit nie inpas in ‘n kortverhaal nie, moet jy bereid wees om dit uit te gooi. André le Roux het ook eens vir my ‘n stuk aangegee wat Elmore Leonard gesê het oor skryf: alles wat mens skryf, kan korter. Ek dink dít is twee van die drie belangrikste dinge wat ‘n kortverhaalskrywer moet onthou. Die derde is dat as jy niks het om te vertel nie, jy nie die moeite moet doen om dit te vertel nie.

Het jy enige mentors in die vorm van mens of boek (gehad)?

Hennie Aucamp en André le Roux.

Wat is volgens jou die beste kortverhaal?

Dit wissel soos tye verander. Maar daar is ‘n klompie wat ek nog nie kon uitput nie: Chris Barnard se “Hoogsomernag”; Hennie Aucamp se “Vir vier stemme”; Abraham H de Vries se “Siënese dagboek” en “Die uur van die idiote”; André le Roux se “Die skoolhoof het dit moeilik”; Rita Gilfillan se “Taalles”; Koos Prinsloo se “Die wond” – om enkeles te noem. Onder die skrywers in Engels is daar Donald Barthelme se “Rebecca”; Raymond Carver se “Whoever was using this bed”; John Updike se “A Sense of Shelter”. Altyd Peter Taylor se “The Old Forest”. En diegene wat aan die begin van hul skryfloopbaan staan, wil ek aanraai om Johan en Ria Smuts se “Tydskrifverhaal” te gaan lees.

Hoe lyk jou eie skryfroetine/skryfgebooie?

Vroegoggend, nooit saans nie. En soos Uma Thurman vir John Travolta in Pulp Fiction sê: trek die raam, daarbinne is die prentjie.


Klik hier vir nog inligting oor die Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013.

Klik hier vir die kortlys.
 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter
Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address