Onderhoude | Interviews

 
Nuwe Stories 2013-onderhoud: Izak de Vries

Hoe het jy begin (kortverhale) skryf – van waar die inspirasie? Wat was jou eerste gepubliseerde storie en waar het dié verskyn?

Gerdus, ek was gelukkig om ’n oupa en ouma te hê wat my die letterkunde leer liefkry het. Ek het woes gelees as skoolkind. (Selfs boeke wat in daardie dae nog verban was, het Oupa en Ouma my toegelaat om te lees.) Verder het ek ook baie oulike onnies op skool gehad wat my “opstelle” geprys het. Ek het in my eerste jaar op universiteit in studentetydskrifte begin publiseer.

Hoe sien die literêre landskap vandag daar uit wat kortverhale aanbetref? Wat het verander sedert jou dae as jong of aspirantskrywer?

Kortverhale is, soos gedigte, besig om die stryd te verloor in vandag se algemene uitgewersmark. Daar was dae toe mense soos Hemingway ’n lewe kon maak uit kortverhale skryf. Vandag sukkel jy om gepubliseer te word ... Dankie tog vir LitNet en vir die klompie uitgewers wat versamelbundels doen.

Hoe vergelyk die destydse publikasieproses met vandag se digitale omgewing?

Ek dink hier is twee goed ter sake: die drukproses en die digitale tydskrif ... Wat die gedrukte media betref: dis deesdae baie makliker om boeke te maak; dis baie moeiliker om hulle te verkoop. Wat die internet betref – LitNet (en soortgelyke platforms) doen geweldig baie om publikasie moontlik te maak.

Wat is vir jou die kenmerkende eienskap(pe) wat kortverhale van ander skryfvorme onderskei?

Hmm. Dis korter. Die uitdaging is om ’n volledige storie te vertel wat die leser op ’n reis neem – maar in ’n beperkte aantal woorde. Die kortverhaal kan modernisties wees (soos dié in Jan Rabie se 21), postmodern, soos baie van Braam de Vries s’n, of sommer net lekker, soos die Sarie se verhale al die jare.

Wat is die beste skryfraad wat jy ooit ontvang het, of die grootste slaggat wat skrywers (van kortverhale) moet vermy?

Dranus Vermeulen, een van my dosente, het vir my gesê ek moet my eie stem kry. Ek soek steeds daarna, maar ek dink die beste raad wat ek deesdae vir enige skrywer kan gee, is: Vertel ’n storie. Moenie nét probeer slim wees nie. Jy kan geweldig baie vlakke inbou in ’n goeie storie. Maar die storie moet eerste staan. Ons skryfsels ding mee met die TV. As ons nie in die eerste plek vermaak nie, kan ons maar vergeet om lesers te lok.

Het jy enige mentors in die vorm van mens of boek (gehad)?

Talle. Ek lees wyd. Anton Tsjechof (in vertaling) en Jeffrey Archer se kortverhale het my net soveel beïnvloed as Braam de Vries en Jan Rabie s’n. Marita van der Vyver se kortverhale is wonderlik ... Ek is ook gelukkig om Nederlands vlot te kan lees en my Duits is redelik.

Wat is volgens jou die beste kortverhaal?

Hopelik die een wat ek volgende gaan skryf ...

Hoe lyk jou eie skryfroetine/skryfgebooie?

Sit. Skryf. Skryf oor. Skryf weer oor. Laat lê en skryf nog ’n keer oor.
 


Klik hier vir nog inligting oor die Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013. 

Klik hier vir die kortlys.
 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter
Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address