|
Dis nou ek
Carel Boshoff
ISBN: NVT
Prys: R295
Dis nou ek
Dis nou ek deur Carel Boshoff behoort by ’n verskeidenheid lesers aanklank te vind. Vir die kompulsiewe lesers van outobiografieë, is hier ’n hele tagtig jaar se lewe in al sy menslikheid neergepen. Veral die eerste deel van die boek gee ’n goeie beeld van die landelike kultuur en plaaslewe in die eerste helfte van die vorige eeu. Maar daar is veel meer. Voor- en teenstanders van die volkstaatgedagte sal die deel oor Orania insiggewend vind.
Carel Boshoff se verhaal van sy en sy vrou se lewe in die sendingveld is ’n openbaring. Min mense besef waarskynlik wat so ’n lewe weg van alles en met die minimum bronne behels het.
Om meer gewig aan die boek te gee as net dié van ’n lewensverhaal, is daar heelwat besinning oor die teologie, oor die plek van die sending in die kerk, en oor die rol van die kerk in die samelewing. Dié besinning het daartoe gelei dat Boshoff in die NG Kerk gebly het, ondanks die woelinge van die tagtigerjare. Meer as kerkwoelinge is egter hier ter sprake: As voorsitter van die Afrikaner-Broederbond, waaruit hy bedank het toe sy paaie van dié van die Nasionale Party geskei het, hoofleier van die Voortrekkers en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (SABRA) het Boshoff, wat boonop die skoonseun van dr. H.F. Verwoerd was, in die brandpunt van die Afrikanerwoelinge van daardie jare gestaan en hy vertel die volledige verhaal van sy kant gesien.
Carel Boshoff was ’n mens wat alle mense met wie hy in aanraking gekom het, swart of wit, met respek behandel het. Tot aan die einde het hy hom besonder sterk teen rassisme uitgespreek. Met ’n besoek aan Orania het pres. Jacob Zuma opgemerk dat die ganse tyd dat hy vir prof Boshoff geken het, hy oor dekades aan dieselfde visie bly glo het.
Dis nou ek is beskikbaar by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za.
|