Fiksie | Fiction

 
Nog ’n dag

Die verkeerslig word rooi net toe sy daaraan dink om miskien oor die kruising te glip. Dit is spitsverkeer en die motors vorm ’n veelkleurige slang agter haar.

In haar regterkantste spieëltjie gewaar sy die seun met sy stuk karton waarop hy in baie swak Engels om hulp vra. Hy het iewers van agter deur die motors verskyn en beweeg nou stadig na die voorkant van die tou; sy hand bly bak voor hom uitgesteek. Een na die ander draai die motoriste hulle vensters op en vermy oogkontak. Hier en daar skud een sy kop en beduie dat die seun moet loop. Die seun kom staan langs haar venster en waai met sy regterhand om haar aandag te trek. Sy het egter ook alreeds haar motorvenster opgedraai en stel nou die volume op die radio harder.

Die verkeerslig word groen en die slang begin stadig vorentoe beweeg. Sy dink daaraan dat dit so maklik geword het om swaarkry te ignoreer. Jy kan met die druk van ’n knoppie jou afsonder van die wêreld daar buite. Jy draai jou venster op en skielik hoef jy jou nie meer te steur aan die seun wat kaalvoet langs jou motor staan nie.

By die huis is sy besig om kruideniersware weg te pak toe die hooftrekke op die televisienuus begin. Nog ’n staking deur mynwerkers, ’n moord op ’n gesin in Centurion en ’n reuse-ongeluk waarin ses motoriste en ’n voetganger gesterf het.

Sy wonder waar die ongeluk gebeur het en of die voetganger die oorsaak was. Sy wonder hoe die mynwerkers, wat klaar so min geld kry, dit kan bekostig om te staak. Sy wonder of die gesin in Centurion ryk was.

Sy kyk na die pakkie bevriesde mikrogolf-lasagne in haar hand en wonder of sy gou ’n slaai daarby moet maak.


Lees ’n onderhoud met Lezandra Thiart hier.


Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Anna Ahllers
2012-10-05 @14:35
Eina!  Ja, so raak ons lewens op 'n dag aan mekaar en ons dink steeds ons kan die lewe 'side-step' en ons eie reëls skryf!!
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address