Niël Rademan nié ver van hier nie

  • 0

Die sanger en musikant Niël Rademan het pas ’n nuwe CD vrygestel. Hy beantwoord ’n paar vrae hieroor en oor sy loopbaan.

Goeiedag, Niël. Hoe’s dinge?

Goeie dag Henry! Lekker om so te kubergesels met jou. Ek luister barok, brand kerse en is bly dat die herfsaandwind die motorgeluide effe wegwaai. Verder loop my beker oor met geleenthede, sperdatums en dinge wat reeds gister gedoen moes word.

Eerste dinge eerste – jy’t onlangs ’n nuwe CD, Ver van hier, vrygestel. Hoe voel jy oor die produk?

Ek is ongelooflik trots! Ek't alles behalwe twee snitte self geskryf en/of getoonset. Drie van die liedtekste is geskryf deur my held – die vader van die Afrikaanse kabaret: Hennie Aucamp. Daar is ’n lied van my aweregse skoolvriend Neil McDonald (ons het altyd gesê hy is verNIEL en ek is seNIEL) waarvan ek ongelooflik hou. Dis die enigste rock-song wat ek nog ooit gedoen het – werklik iets nuuts vir my. Daar is ’n lieflike nostalgiese gedig van Louis Jansen van Vuuren – die skilder-digter – uit sy bundel Tempermes. Verder is dit alles my eie tekste. 

Hoe lyk die ontvangs onder aanhangers tot dusver, veral vergeleke met jou vorige vrystellings?

Die mense hou daarvan. Daar is nie nog so iets in Afrikaanse musiek nie. Dis selfs vreemd hier en daar, maar vang jou die heeltyd onkant. Mense vind dat die liedere oor hulle self gaan. Maar dit is die funksie van die kabaretlied: om jouself en/of die gehoorlid te konfronteer. Ek konfronteer met die self! 

Volgens die dagboek op jou webwerf is jy van 20 Mei tot 17 Junie in Europa vir ’n toer. Dis lekker lank – waar gaan jy aandoen en watter materiaal sal jy hoofsaaklik uitvoer?

Ek het ’n konsert in Utrecht, drie in Amsterdam, een in Den Haag, drie in Friesland en een in Wenen in Oostenryk. Ek doen hoofsaaklik die musiek op die CD – dit is dus amptelike Europese bekendstellings.  

Jy bly ook besig met die Dasjesdrift-teaterhuis, wat jy bestuur, op Heidelberg in die Suid-Kaap. Vertel bietjie meer van die teater se ontstaan? Wat gebeur deesdae alles daar?

Daar waar dit stil is vir meer as ’n uur/ Daar's rus vir jou siel en kos vir jou gees/ Waar in die wêreld wil jy anders wees? ... Soos ek in een van my liedtekste sê. Inderdaad is ek lief vir en trots op my teaternes, my konsertkamer, my wegkruipplek en ook uitstalruimte. Dis ’n alles- en ook niksplek. Ek kan daar wees en doen net wat ek wil en my ouers ondersteun my daarin. Al my gunstelinge vertoon ek daar in my konsertvertoonkas: Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Lizz Meiring, Lize Beekman, Stef Bos, Elna van der Merwe en Zorada Temmingh, noem maar op! My Suid-Kaap CD-bekendstelling is ook daar, 12 April. 

Jy het al as regisseur van verskeie produksies opgetree. Waarop is jy die trotsste en waarom?

Ek is die heel trotsste op Die Heks van C Louis Leipoldt, waarin Paul Eilers, Isadora Verwey, ’n groep jonger akteurs en ook ’n reuse-koor gesing het. Hierdie eerste drama in Afrikaans het ek spesiaal laat herleef vir die Cederbergfees – die heimat van Leipoldt. Ons het dit in ’n historiese Anglikaanse kerk met oa mandolien-begeleiding en a cappella-sang gedoen. Dit was een van my eerstes en tot dusver seker die grootste ervaring nog. Die een aand toe ons die hele produksie agv ’n kragonderbreking met honderde kerse moes doen, het ek geweet: ek is vir ewig verbind tot teater. 

Die regie het blykbaar vir eers agtergebly ter wille van optree as musikant. Hoe het dié besluit gebeur, of kyk ek verkeerd?

Die twee baklei maar gereeld met mekaar. Ek is as verhoogkunstenaar hoofsaaklik gemoeid met musiekteatervorme, en as ek regie doen, is dit musiekmatige teater of ek wriemel bloot ’n lied of twee daarin. Maar ek moet erken: ek leef wanneer ek sing en ek sing soms as ek moet regie doen ... Ns. Ek lyk glo of ek dirigeer wanneer ek regisseer.  

Waarmee wil jy jou in hierdie opsig graag vir die afsienbare toekoms grotendeels besig hou? En daarna?

Ek wil elke dag doen wat ek nou doen! Ek wil graag wel kyk of ek ’n speelvak vir my eie musiekkonserte/-produksies kan bewerkstellig sodat ek nie altyd so rond hoef te spring en jaag agter "klein" geleenthede aan nie. En daarna? Ek sal klavierspeel tot my vingers afval. Ek sal sing tot ek soos Tom Waits klink en daarna nog verder sing tot die ouetehuis se kamerbediendes my tande uithaal dat ek nie meer perfek kan artikuleer nie. Ek sal regie doen tot ek nie meer energie het om iets goeds vir elke liewe sanger en akteur te sê  het nie, en dan sal ek soos Limpie Basson in my bed lê en sê wat hy vir Juanita Swanepoel gesê het: "Val die son nie mooi op my nie?"

 

As uitvoerende kunstenaar het jy al op verskeie plekke in die land opgetree. Kan jy enkele hoogtepunte/laagtepunte/staaltjies deel wat hiermee gepaard gaan?

Ek moet erken dat ek bykans geen laagtepunte onthou nie. Ja, ja, kere toe ek nie in goeie stem was nie (soos ons sangers sê: "I'm not in a good voice!"). Kere wanneer die gehoor bloot eenvoudig omdat hulle kabaretmatig om tafels sit en die konsert bywoon, dink dat hulle net kan gesels en lawaai soos hulle wil. Daar is niks so vernederend soos dit nie! Wel , ek moet erken dat ek onlangs gevra is om saam met ’n akkordeonspeler "agtergrondmusiek" te verskaf by ’n mediese kongres – wat oor menopouse gehandel het – se afsluitingsfunksie. Dit is gewoonlik die heel ondankbaarste werk in die wêreld! Jy sal my nie glo nie. Die klomp medici het die hele aand met mekaar gefluister, lustig aan hul glasies wyn geteug, heerlik hulle vyfgang-ete geniet en na elke lied wat ek gesing het, applous gegee! Ek was oorstelp! Ja-nee: behalwe om voor ’n reuse-saal Nederlanders in Amsterdam ’n staande ovasie te kry is hierdie klein seëninge tog ook hoogtepunte.

Jy’s natuurlik nog ver van klaar, maar hoe sal jy onthou wil word as kunstenaar? Watter aspek van jou werk voel jy is in hierdie opsig die sterkste weerspieëling van wat jy wil bereik?

Definitief my musiek. My stem. My vermoë  om ’n storie te vertel op die verhoog. Die manier waarop ek mense van alle rasse en statuur kan/kon saamsnoer tot ’n eenheid – met musiek! Dit is werklik my grootste talent. Daar waar ek, jy en musiek saam is, is daar geen segregasie, geen hartseer of pyn nie ... 

Kom saam met my
deur die dag en die nag
Loop saam met my
ek trap sag en ek wag
vir die medes en die mense
wat ons betrag
want dis vreemde liefde
hulle lag, hulle lag.  

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top