Nie ’n kultuurskans nie, ’n nasionale bate

  • 0


Omdat Afrikaans ’n spesiale taal is in dié opsig dat dit daartoe in staat is om hoër funksies te verrig, is dit nie ’n blote kultuurskans nie: dis ’n wonderlike, nasionale bate en Stellenbosch moet daarvan getuig. Dis jammer dat die debat nog steeds, na hoeveel jaar, wentel om die meriete van die taalbeleid self. Die taalbeleid is dan juis ontwikkel om toegang tot die universiteit te bewerkstellig, terwyl dit moedertaalonderrig en onderrig in Afrikaans verseker. Ek hoop nie enigiemand betwyfel nog die meriete van moedertaalonderrig nie. Dis ’n feit. Dis empiries bewys.

Én dis beleid.

Ek skaam my vir ons woordvoerders wat amptelik verklaar dat taalmonitering op Stellenbosch plaasvind. Dis ’n leuen. In my fakulteit is daar T-opsie-modules waar daar nie ’n woord Afrikaans gebruik word nie: nie in lesings nie, nie in notas nie, nie in die handboek nie. Gelukkig is die vraestel darem dan in albei tale, sodat enigiemand sy of haar taalkeuse vryelik kan uitoefen.

Wys jy die betrokke dosente daarop, kry jy snedige e-posse terug wat sê dat die taal van die vak “te moeilik” is om in Afrikaans te vertaal. Later in die e-pos word jy vertel dat “sommige mense” nie bereid is om die nuwe Suid-Afrika te omhels nie.

Wys jy die bestuur op die wantoepassing van hul beleid, word jy óf vertel dat daar “aandag” aan die situasie gegee word (en die volgende jaar nog steeds) óf dat hulle nie graag vir dosente wil aansê watter taal om in hul lesings te gebruik nie.

En dan word ’n mens dalk sommer ’n slag ingeroep en vertel dat jy “leuens” oor die fakulteit versprei en ’n “moeilikheidmaker” is.

Ek het al van verskeie swart studente gehoor dat hulle met die belofte van beurse gewerf word en dan vertel word dat Afrikaans “glad nie ’n kwessie is” op ons kampus is nie – jy sal glo jou graad met gemak kan slaag sonder om enige Afrikaans te hoef te leer.

Niemand soek ’n “Afrikaanse” universiteit as dit beteken dat ons nie-Afrikaanse landgenote uitgesluit word nie. Maar ja, ons soek ’n toepassing van die beleid waarvoor ons baie geld betaal. Om jou notas in Afrikaans te ontvang, vry te voel om die werk in Afrikaans te bespreek, en elke nou en dan bietjie Afrikaans uit ons dosente se monde te hoor: dis tog sekerlik nie “eksklusief” nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top