Neville Alexander (22 Oktober 1936 – 27 Augustus 2012)

  • 1

Ek het Neville Alexander hoofsaaklik in taalpolitieke verband geken. Oor die jare het ons saam op verskeie komitees en rade gedien, en dikwels ook deelgeneem aan dieselfde plaaslike of internasionale konferensies en simposiums. Op ’n stadium in die middel-1980’s was ek die raadsvoorsitter van die National Language Project (NLP) en Neville een van die stigterslede. Ek het nooit die gevoel gekry dat hy as stigterslid uitsluitlik die rigting van die organisasie wou bepaal of sy stempel daarop wou afdwing nie.

Sy intellektuele tradisie was die Marxisme en hy het nie omgegee om sy passie te verklaar nie. In 1984 maak hy byvoorbeeld hierdie stelling in ’n konferensiebydrae: “[...] if we want to move forward [...] we should accept without further debate the validity of the historical materialist approach, question where necessary the validity of the categories such as ‘race’, ‘ethnic group’ and ‘nation’ and generate a conceptual universe through a new, consciously cultivated scientific language [...]” (Sow the Wind, 128). Alhoewel ’n mate van proselitisme blykbaar in sy jeug nie onbekend was nie, sou hy in later jare, ná sy gevangenskap op Robbeneiland, selde in persoonlike gesprekke sulke stellighede kwytraak. Hy was ’n boeiende gespreksgenoot wat respek gehad het vir sy gespreksgenote. Hy kon aandagtig luister en dan sy standpunt reguit stel. Tog was hy ook ’n man van vele kante en het hy die verskillende fasette van sy lewe in duidelike kompartemente gehou. Hy was ’n uitsonderlike intellektueel vir wie idees en die worsteling met idees belangrik was.

As ’n intellektueel wat geglo het dat sy bestaansdoel is om verandering teweeg te bring, sou Neville nie omgee dat werkerstryde hierdie huldeblyk onderbreek nie. In die loop hiervan haal ek Bertolt Brecht se gedig oor die mynwerkeropstand van Boedapest in die 1920’s, “Achttausend arme Leute kommen vor die Stadt” (“Agtduisend arm mense vergader voor die stad”), volledig in Engels aan. Die skreiende kontradiksies van ons hedendaagse sosiale formasie praat ook saam.

We went down to the biggest city
1 000 of us were in hungry mood
1 000 of us had had nothing to eat
1 000 of us wanted food

The general looked from his window
You can’t stop here, he said.
Go home peacefully like good chaps
If you need anything, write instead.

On the open road we halted:
Here they’ll feed us before we croak.
But nobody took any notice
While we watched their chimneys smoke.

In die Afrikaanse intellektuele omgewing word Alexander meesal verbind met sy standpunte oor meertaligheid. Sy standpuntinname rondom die plek van Afrikaans, naamlik dat dit nie ’n “witmenstaal” is nie en dat dit naas ander inheemse tale in die na-1994-Suid-Afrika moet bly voortbestaan, word dikwels met goedkeuring aangehaal. Heel tereg. Sy taalaktivisme vir meertaligheid was egter nie ’n oproep tot ’n soort kulturele afsonderlikheid of kulturele uitsonderlikheid nie. Sy verbintenis tot veeltaligheid was uiteraard ten diepste polities en sosiaal.

Reeds in die vroeë 1980’s, kort na die opheffing van sy interne ballingskap, formuleer hy die standpunt dat meertaligheid die verdelende etniese bewustheid en kulturele separatisme van die apartheidstaat moes teenwerk. Tóé reeds voorsien hy dat, veral deur ’n voortdurende klassestryd, maar ook polities en kultureel, ’n gemeenskaplike kultuur kon ontwikkel wat deur die wye verskeidenheid van Suid-Afrikaanse tale oorgedra kon word. In idealistiese terme voorsien hy dat wat as afsonderlike geestes- of kulturele goedere geag word, gemene goed word: dat Suid-Afrikaners dieselfde legendes en stories deel en daarmee, soos dit destyds gestel is, ’n Azaniese etos sal vestig. Later sou hy die metafoor van die Gariep, die samevloei van verskillende strome in een groot rivier, gebruik om dieselfde gedagte oor te dra.

But the general came along then.
We thought: Here comes our meal.
The general sat on a machine gun
And what he cooked was steel.

The general said: There’s too many of you bunched together
And started to count straightway.
We said: Just as many as you see here
Have had nothing to eat today.

Sy idealisme oor ’n toekomstige gedemokratiseerde staat met ’n toeganklike taalbeleid het hy aanvanklik uitgeleef in sy betrokkenheid by die NLP. Sy bekommernis was die rol van inheemse tale en die wyse waarop hierdie tale ekonomiese en politieke belang kon verkry. Dit is in hierdie fase van sy lewe in die tagtiger- en vroeë negentigerjare dat hy onder meer ’n kontroversiële taalbeplanningsvoorstel geformuleer het wat geïmpliseer het dat die onderskeie Nguni- en Sothotale in Suid-Afrika “geharmoniseer” en “gestandaardiseer” moes word om sodoende ekonomies, onderwyskundig en polities betekenisvolle belang te verkry.

Veral inheemse taalkenners het hierdie voorstel skerp gekritiseer, maar weinig van hulle kon die onderliggende beweegrede vir dié standpunt insien. Ek herinner my hoe Neville eendag tydens ’n NLP-raadsvergadering nogal skerp gereageer het op ’n breedsprakige artikel van ’n kenner wat ’n “lack of sociolinguistic insight” sou meng met ’n “perverse sense of ethnic pride”. In dié geval, soos telkens in sy loopbaan, was sy kreatiewe harmoniseringsvoorstel geanker in ’n daadwerklike poging om die verlammende uitwerking van etnisiteit in die land teen te werk. 

Toe hy in 1992 sy projek vir alternatiewe onderwys (PRAESA) by die Universiteit van Kaapstad aan die gang gesit het, was dit ’n poging om op ’n proefondervindelike wyse die moontlikhede van moedertaal- en meertalige onderwys vir inheemse Afrikatale te ondersoek en daardeur verskeie laerskoolprojekte te implementeer. In dié opsig is PRAESA myns insiens een van sy uitstaande monumente. Hy en sy span het op klein skaal begin, maar geleidelik ’n projek opgebou wat ’n betekenisvolle bydrae lewer tot gehalteonderwys, nie net in Suid-Afrika nie, maar toenemend ook in die res van Afrika.

We did not build us a shanty town
We washed no shirt again.
We said: We can’t wait much longer.
The general said: That’s plain.

We said: But we cannot all die
The general said: Why not?
Things are warming up over there, said the people in the city
When they heard the first shot.

Alhoewel ek Neville vir nagenoeg dertig jaar hoofsaaklik in die konteks van ons taalpolitiek meegemaak het, was hy aanvanklik vir my allereers die vaandeldraer van ’n bepaalde stroming in die  Suid-Afrikaanse politiek. Hy sou hom by voorkeur as ’n revolusionêre sosialis wou beskou en kon identifiseer met die Russiese Marxis Leon Trotski se ewigdurende revolusie. Hoe diep daardie verbintenis was, kon ek eerstehands ervaar toe hy een aand in die loop van 1986 met tasbare entoesiasme met Trotski se agterkleindogter, die Mexikaanse digter Verónica Volkow, in gesprek getree het.

In  haar verslag van haar Suid-Afrikaanse verblyf, Dairio de Sudáfrica (Siglo XXI, 1988), beskryf Volkow die dikwels fel woordestryde tussen Kaapse linksgesindes so: “La división de la izquierda parece ser aquí, por lo visto, parte de un fenómeno universal.” (“Die verdeling van die linkses hier, so kom dit voor, is deel van ’n universele verskynsel.”) Alexander was ’n gerespekteerde bydraer tot sulke Kaapse en nasionale debatte en die geskille waar hy van ander linkse tradisies verskil het, was alombekend.

As openbare intellektueel het Alexander sedert die vroeë 1980’s belangwekkende kommentaar gelewer op die vorming van die Suid-Afrikaanse nasie, die sogenaamde “nasionale vraagstuk”, die rol van die swart werkersklas en meer onlangs die ontsporing en kleptokrasie van die huidige Suid-Afrikaanse politieke elite. Hy het sy rol as rigtende denker en intellektueel ernstig opgeneem. Hy was van nature briljant en teoreties altyd goed onderlê. Neville was ’n formidabele debatsvoerder en sy kalm insette het dikwels nuwe lig op netelige kwessies gewerp. Sy publikasies, hetsy sosiolinguisties, kultureel of polities-analities, getuig van ’n navorser en skrywer wat sy werk ernstig opgeneem het. Vir jare hierna sal hy nog deur sy geskrifte tot ons spreek en bydra tot die skepping van ’n jonger geslag kritiese denkers.

Dit was ’n voorreg om Neville Alexander te ken. Sy afkeer van vertoon, sy medemenslikheid, sy ewigdurende stryd om gewone mense se potensiaal bloot te lê en sy beginselvaste antirassigheid is navolgenswaardig.

Ons buig ons hoofde in erkentlikheid.

Pretoria, 29 Augustus 2012

Lees ’n huldeblyk van Michael le Cordeur aan Neville Alexander.

Lees ’n huldeblyk van Theo du Plessis aan Neville Alexander.

Lees Christo van der Rheede se huldeblyk.

  • 1

Kommentaar

  • Prof Willemse, dankie vir jou volronde huldeblyk aan Neville. Dis hoe soveel mense hom leer ken het en dit is wat ons verander het.

    Elize Koch

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top