Netdigters 2.0 is gevaarlik

  • 1

“The dangerous time when mechanical voices, radios, telephones, take the place of human intimacies, and the concept of being in touch with millions brings a greater and greater poverty in intimacy and human vision,” skryf Anaïs Nin in haar dagboek  – in 1946.

Dit was natuurlik dekades voor die internet toe sy hierdie woorde geskryf het. Sedertdien is hierdie soort vrese vir tegnologie deur vele ander geëggo. Allerhande vrese dat tegnologie mense se interaksie en intimiteit met mekaar sal benadeel, meer oppervlakkig sal maak. Dat tegnologie moontlik ons vermoë om te dink en te besin, sal inboet. Dat die elektroniese boek “die boek” sal vervang, dat biblioteke sal toemaak, mense nie meer sal lees nie, nie meer sal kan konsentreer nie.

Vandag kan daar geensins meer getwyfel word dat ons in ‘n elektroniese era leef en ons identiteit gedeeltelik in ‘n virtuele wêreld vind of aan vorm gee nie. Ons almal lees elke dag toenemend meer tekste, artikels, gedigte, opinies, briewe, blogs, rubrieke op die internet. Verskil hierdie leesproses van hoe ons boeke, koerante en ander vorme van gedrukte media lees?

Om op die internet te lees is om vlugtig te lees, oppervlakkig te lees, in die proses deur vele ander skakels, beelde en skerms onderbreek te word en deur hoeveelhede van stemme, woorde en informasiebrokke oorspoel te word. Verskillende hiperskakels, beelde en skerms trek die leser se aandag af. Ook kan die geloofwaardigheid en gehalte van inligting op die internet in twyfel getrek word. Wat vertrou mens immers in ‘n wêreld waar elkeen wat selfs ‘n halfhartige poging aanwend om inhoud te genereer, kan publiseer?

Die Griekse filosoof Sokrates was ook aanvanklik skepties teenoor die tegnologie van sy tyd – die tegnologie van die geskrewe woord. Hy het geglo dat die geskrewe woord die Griekse tradisie van debat en dialektiek kan beïnvloed en mense onkapabel sal maak om inligting te verstaan en te onthou. Kennis wat gestoor word, was volgens Sokrates geen werklike kennis nie. Sou ons vandag nog enige beswaar toon teen die boek en ander vorme van geskrewe of gedrukte publikasies se vermoë om ons horisonne van kennis te verbreed en ons bloot te stel aan idees en konsepte waaraan ons nooit gedink het nie?

In die digitale era word daar dikwels van die “einde van die boek” gepraat. Tog is die materiële aard van die boek hardnekkig – ook wat nuwe media betref. Is die elektroniese boek of elektroniese literatuur nie ook fisies – materieel – nie? Sou mens nie kon praat van ‘n oorgang na ‘n ander tipe materialiteit met nuwe beperkinge en moontlikhede nie?

Hierdie vrae is bedoel om aspirant- en meer gevestigde digters te inspireer vir ons poësiekompetisie, Netdigters 2.0. Hoe lees ons in die digitale era? Hoe skryf ons vir digitale lesers? Is jy self skepties of geesdriftig oor die internet as platform vir poësie?

   •     Die Amerikaans-Kanadese digter Paul Legault se bundel The Other poems (2011) kyk veral na die manier waarop ons in die internet-era betekenis lees en skryf. Lees ‘n resensie van die bundel hier: http://criticalflame.org/verse/0312_delaney.htm

 

 

Gedig “If I controlled the internet” van die Amerikaanse performance digter John G Rives op Ted-talk:

 

Neem aan ons kompetisie Netdigters 2.0 deel! Voorleggings kan aan rentia@litnet.co.za gestuur word.

Lekker Google, lekker skryf.

Rentia

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top