Nee, Enjee, nee ... (’n man moet kan kosmaak)
… ’n man moet kan kosmaak. Met my vrou se oorlye het ek en my een seun (hy was nog in die huis) maande lank op eiers en braaivleis gelewe. Op ’n stadium het ons besef dis tyd om christelik-nasionale kos in te kry en iewers ’n resep van Deense frikkadelle in die hande gekry; ons het daarop besluit want dit het redelik eenvoudig gelyk. Ek weet nie waar ons verkeerd gegaan het nie maar die goed het wit uitgekom, amper soos bolletjies afvalteëlsement gelyk. Die honde wou dit ook nie eet nie.
Kapokaartappels het na die volgende opsie gelyk, ek meen, hoe moeilik kan dit nou wees? Logies vir my op daardie stadium was die eerste stap om die aartappels so fyn moontlik te kry want jy gaan dan mos moeite spaar; jy gaan mos later die goed nog fyner druk. Ons rasper toe ’n klomp aartappels, rágfyn kan jy sê, en kook dié. Jy kan nie glo nie, dit was ’n pot gom.
Op ’n ander keer bel ek ’n skoonsuster en vra haar hoe rek mens ’n sous vir vleis en sy noem iets van maizina. Ek het seker nie mooi gehoor van die hoeveelheid nie want toe ek die sous oor die vleis gooi val daar ’n silinder jellie op die vleis, presies in die vorm van die binnekant van die koppie en lê daar op die vleis en dril. Ons smeer dit toe maar soos botter op die vleis. Dit was nie te sleg nie maar dis nie die regte ding nie.
Later het ek half reggekom en kan darem nou so nou en dan ’n kosmaakbeurt vat met ’n pasta of ’n vis of ’n ding (ek is intussen weer getroud voor ek nou heeltemal ’n kosmaakfundi kon raak). Die snaakse ding is, nou dat ek self so af en toe kosmaak kan resepteboeke nie weerstaan nie; dis vir my van die interessantse goed wat jy aan kan dink. En ’n ou kyk met nuwe oë na ander nasies soos die Viëtnamese, Indiërs, Japanners, Italianers, Sjinese, selfs Engelse ens. Ek voel kos kan nasies net so versoen soos sport, meer as sport nog want na ’n ete gaan daar nie hooliganism uitbreek nie.
Nee ou Enjee, koop vir jou ’n paar resepteboeke vir ’n voller lewe. Karboeke gaan nie help nie; die goed is vandag so van de elekronika g’n mens kan meer self daaraan werk nie (tensy jy nog ’n ou kar het met ’n christelik nasionale vergasser, petrolpompie en vonkverdeler).
Dis ook beter om om die braaivleisvuur resepte uit te ruil; ek was nog nooit by waar politiek gepraat is en die vrouens ons moes paai en huistoe sleep nie. Vat nou maar ou Jaco, as ek en hy om ’n vuur beesstertpotjie bespreek gaan ons pelle uitmekaar waar, met politiek, ons skaars vir mekaar kan skryf sonder om nukkerig te raak.
Groetnis
Jan Rap