Neerlandistiekdag verruim grense

  • 0
  Digter uit Nederland. Ester Naomi   Perquin

Saterdag 8 Maart, 09:00 – 14:00 kykNET Erfurthuis
US Woordfees

Ondersteun deur die Nederlandse Taalunie, Kaapse Forum vir Neerlandistiek, Van Ewijck-stigting, Vlaamse verteenwoordiger in Suid-Afrika, Vlaamse Kultuurstigting en Fonds Neerlandistiek.

Aangebied deur Wium van Zyl

  Skrywer uit Vlaandere. Bart   Moeyaert.
  Foto: Ruan Scheepers

Die Neerlandistiekdag is ‘n jaarlikse instelling op Stellenbosch waar die literêre bande tussen Nederlands en Afrikaans versterk en gevier word. Elke jaar word een Nederlandse en een Vlaamse skrywer na die US Woordfees uitgenooi om uit eie werk te lees, onderhoude te voer, vir Afrikaanse lesers ‘n venster na Europa oop te maak en self ‘n voet oor die ewenaar te waag.

Vanjaar het die bekende Nederlandse digter Ester Naomi Perquin en die Vlaamse skrywer Bart Moeyaert besoekers – wat onder meer studente van ses verskillende universiteite insluit – met hulle woorde nadergelok.

Die Vlaamse sanger Wannes Capelle

Perquin is een van die mees suksesvolle jong Nederlandse skrywers van haar generasie. Sy het vir haar eerste twee bundels, Servetten halfstok (2007) en Namens de ander (2009), ses pryse ontvang, onder andere die Jo Peters-poësieprys. Haar derde bundel, Celinspecties (2012), het haar die gesogte VSB-Poësieprys besorg. Bart Moeyaert is ‘n bekende digter en kinder- en jeugboekskrywer en vier vanjaar sy 50ste verjaarsdag. Hy was vir twee jaar (2006–2008) stadsdigter van Antwerpen. Hy is kreatieweskryfkuns-dosent in die afdeling Woordkuns van die Koninklike Konservatorium van Antwerpen.

 

 

Emma Lesuis

Tydens die Neerlandistiekdag was die sanger Wannes Capelle ook teenwoordig en het vertel van sy ervarings as liedjieskrywer en sy lirieke in ‘n Wes-Vlaamse dialek waarvoor ondertitels nodig is, omdat dit dikwels nie eens deur Vlaminge self verstaan word nie. Hy tree self tydens die Woordfees by ‘n paar geleenthede op.

 

Die Vlaams-Nederlandse kultuurhuis deBuren se citybooks Stellenbosch is tydens die Neerlandistiekdag aangebied.

Vyf skrywers – die Nederlandse digter Arjen Duinker, die Vlaamse skrywer Saskia de Coster (wat al twee verlede jaar Stellenbosch tydens die Woordfees besoek het), Marlene van Niekerk, Clinton du Plessis en die jong skrywer Rentia Bartlett-Möhl het al vyf ‘n citybook – ‘n reeks gedigte, ‘n verhaal of ‘n essay oor Stellenbosch in opdrag van deBuren geskryf.

Rentia Bartlett-Möhl. Koördineerder citybooks Stellenbosch

Elke citybook is in Afrikaans, Nederlands, Engels en Frans vertaal en tydens die Neerlandistiekdag in boekformaat bekend gestel.    Die videokunstenaar Emma Lesuis het vertel van haar reeks cityoneminutes wat sy tydens verlede jaar se Woordfees ook vir citybooks Stellenbosch gemaak het.

Verder was daar interessante gesprekke oor vertaling gelei deur Shané Kleyn, en daar is ook ‘n vertalingswerkswinkel vir studente aangebied. ‘n Heerlike middagete is saam in die tuin van die Erfurthuis geniet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top