SêNet-briewe | Letters

 
'n Storie soos wors

Meeste van die stories hier op LitNet is fiksie. My stories daarteenoor, ware ongenaakbare werklikhede.

Sommige stories smaak soos hardgebakte wors wat na brand ruik. Donker en uitgerek. Dié verhale bevat ook hul held en ’n skurk. Soms beland ek, Trienie, binne in hierdie narratief-nagmerrie, ongevraagd.

Soos Rachel (nie regte naam) se storie. Rachel is naby aan my, my naaste. Binne in my gemeente, selgroep, kerkraad. Eintlik só naby, dat sy my vriendin genoem kon word as ek nie die motto uitleef van: ‘Moenie intiem betrokke raak by enige gemeentelid.’ Rachel het egter self besluit om die kerkraad te bedank. Die skande, te groot. 

Rachel was egter die Antagonis in hierdie hartseer verhaal.

Die verhouding het skielik ontstaan. Soos ’n tipiese Ridder op sy witperd het Leon haar lewe ingebars. Aantreklik, donker gelaatskleur met ’n spierwit glimlag. Later verneem ons dat hy eintlik Rachel se eerste liefde na skool was. Sy glo, dat sy hom eintlik nog altyd liefgehad het. Daarom dat hy terug is in haar lewe. Die herontmoeting was vurig en vreugdevol. En nie lank daarna, ’n diep eenwording in gees, siel en liggaam.

Die probleem? Rachel en Leon was albei getroud.

Elke speler in ’n storie het sy eie karaktertrekke. Rachel, is ’n sterk vrou. Dominerend en manipulerend. Daarteenoor is Leon sag met ’n innemende persoonlikheid. Op daardie stadium was hy naarstigtelik opsoek na rigting in sy lewe. Finansieel plat. So het hy emosioneel en verward in Rachel se lewe ingestap. Hy het geleef vanuit valse emosies, want die werklike was onderdruk deur anti-depressante. ’n Waarskuwende rooilig!

Rachel self is in ’n huwelik met ’n ouer man wat haar nie emosioneel en finansieel bystaan nie. Of so verklaar sy. Syself het egter ’n goeie werk, en staan onafhanklik op eie voete. Rachel se huwelik sou seker so voortgegaan het, as Leon nie op die toneel verskyn het nie.

My betrokkenheid by hulle, was reg in die middel van die uitgerekte wors. Ons is by die hoofstuk waar Leon ’n afspraak gemaak het om my te kom sien.  Met Leon se intreerede aan my, voordat hy nog veel kon verduidelik, was die influistering van die Woord van Kennis daar. Dadelik het ek geweet - Leon gaan teruggaan na sy eie vrou. Maar die skeisaak aan albei kante van die families, het al ver verloop. Die eintlike waarheid is, dat Leon my gesmeek het om hom te help om terug te gaan na sy vrou en pragkinders. Sy verhouding met Rachel, ’n emosionele, seksuele bindingstrik waaruit hy nie kon loskom.

Eintlik, was dit Rachel self wat hom gedwing het om ’n afspraak met my te maak. Hopende dat ek sy kop finaal in haar rigting sou swaai. Maar ek het verder gesien, dieper gekyk, en die kosbare Heilige Gees het my dieper afgevat tot in sy donker siel. Leon, het geweet wat die regte ding was om te doen, soos uitgestip in Gods Woord. Gewete en skuldgevoelens brandend in sy hart. Wanhoop was oor sy gelaat geskryf, en het ons Goddelike wysheid nodig gehad, om sy dilemma op te los.

Voorheen, sou Rachel my probeer oortuig dat die Here hulle eintlik van kleins af ‘saamgevoeg’ het. Sy het dit vas geglo. Dan sou sy hulle persoonlike liefdes-mails of sms’e vir my aanstuur. Toe die wors nou lekker begin braai, bel sy my omtrent elke dag. Ekself het die gevaar geloop om so emosioneel betrokke te raak, dat die Waarheid van die Woord soos ’n miswolk uit my hart wou verdwyn. Vasgevang in rasionele wan-redenasies van die hartslogika.

Intussen het Leon begin terugverlang. Na dit wat voorheen was. Sy kinders het hom begin verwerp. Sy vrou moes die huis verkoop. Soos ’n Rietrot het hy begin knaag aan ’n bitter riet wat hy self gepluk en nou moes sluk!

Rachel weer, het aan my geklou soos ’n kind. Gehoop dat ek sou bid oor hierdie eenwording en selfs in die spirituele sy siel na haar sou draai. Die saak was egter vir my geskei van die geestelike en moes Rachel self haar toekoms bepaal. Die keuse-sleutel in eie hand. Verder het die Bybel se morele waardes soos ’n stok uit hierdie wors gesteek. Ek kan nie die Woord verander. God weet die beste vir die mens. Hy haat die idee dat families opbreek. Indien jy krap aan hierdie wet van: ‘wat God saamgevoeg het, mag niemand skei’ - soek jy moeilikheid.

Ek was bitter jammer vir Rachel. Want volgens haar het sy uiteindelik geluk gevind. Sy het ure geredeneer en beplan. Sy het selfs gewig begin verloor. Soms het ek haar hard aangespreek, ander keer gesmeek: ‘Laat los, Rachel, laat los!’ Ekself moes ook versigtig trap. Die wors-storie was nie aanvaarbaar vir almal, en omrede ek Rachel met my lewe bygestaan het, het die kerk begin dink ek keur die verhouding goed. My bediening in gevaar.

Rachel was egter in die sewende hemel, verblind deur liefde. Haar woorde aan my was: “Vir hierdie man sal ek veg, tot die dood toe.” Maar Rachel se heuning sou in gal verander. Die wors, verbrand.

Leon het teruggekruip na sy vrou. Sou sy vrou hom vergewe? As sy kind van God is, is die kanse goed. Net Hulp van bo verander sake. Maar soveel onnodige harte het seergekry. Sal sy verhouding met die kinders herstel? Die hardgebakte wors sit met onkoubare senings.

Hier is ’n paar grepe uit Leon se mail aan my laas week, die 16de.

Trienie,

Dit was 'n baie rowwe jaar en is ek geestelik uitgeput. Sien amper nie kans vir die res van hierdie jaar nie.

My gedagtes dwaal baie rond. Ek het waarlik geleer dat 'n mens moet inskakel by 'n kerksel.

Ek en my vroutjie se verhouding gaan van krag tot krag. Sy het so verander teenoor my en voel ek weer ek word toegelaat om myself te kan wees. Ek kan dus nie wag om volgende jaar in te spring met werk vir die Here soos ek lankal moes gedoen het nie.

Trienie, ek het nooit gedink dat vir ons, wat die Here altyd gedien het, so iets sou gebeur nie. Verkeerde keuses. Ek en my vroutjie word weerhou daarvan om ons kleinkind te sien. Dit is hartverskeurend. Ons het besluit om NIE saam met onregverdigheid te gaan nie en sal nie toegee aan die vyand se aanval nie.

Wat ek en (Rachel) betref, het ons nou kontak met mekaar verbreek. Elke keer was daar weer emosies wat wou weghol met ons. Trienie, ek is so jammer oor alles want ek moes nie so opgetree het teenoor my familie nie. (Rachel) is nog steeds van mening ons hoort bymekaar. Die nostalgie van die jongtyd het met ons weg gehardloop. Ek wens net dat sy kan geluk en vrede vind. Die verwyte soms, al het ek myself al vergewe, is nie aangenaam nie. Dit sal tog maar altyd daar wees in my gedagtes en die letsel sal bly. Een ding wat ek weet, dit is dat Jesus vir ons kom sterf het vir al ons ongeregtighede. Sy genade is ook genoeg vir my. Nou eers kan ek werklik getuig van Sy genade.  (Leon)

Rachel was gebreek. Haar trane – onophoudelik. Hoe verskriklik om te dink dat indien sy gehoorsaam gebly het aan Gods Woord, en haar pad volgens dit ingerig het, het sy nooit in hierdie dilemma beland. Nou kou sy aan die bitterpil van verkeerde keuses.

Maar, ek ken Rachel. Sy sal weer herstel. God sal haar pad rig en vir haar wys waar om reg te maak. Uit haar foute leer. Die Here alleen kan die mens vanuit die stof oprig.   

Is jy tans besig met ’n wors-storie?

Leer van Rachel dat jy nie jou geluk op iemand anders se ongeluk kan bou.

Trienie Mahne


Comments 6 Reaksies | 6 Comments
Delete Comment
avatar
Chris Dippenaar
2012-11-21 @02:53
Ai, ai, ai toggie (Sug-sug-sug). Dis nou wat ek noem 'n WORS van 'n storie.
Delete Comment
avatar
Trienie
2012-11-21 @11:04

Chris,

Dankie jou moeite dat jy dit darem gelees het.

Delete Comment
avatar
Panda
2012-11-21 @12:03
Nie klaar gelees nie – hou my nie op met skinderstories nie! Stuur dit vir Hygliteratuur Trienie
Panda

Delete Comment
avatar
Angus
2012-11-21 @14:26
En dan is daar mense wat so ’n worsbelewenis NAARSTIGTELIK opsoek. Ag, heretjie tog, hoe naar is ek nou!
Delete Comment
avatar
Trienie
2012-11-22 @11:05

Hiehiehie,

Jinne, maar julle manne is warm!

Ek voel skoon ‘special’ oor al die aandag. Panda, Hygliteratuur? Nee sorry, daar gaan ek nie in. Gelukkig kan ek kies tussen eie opbouing of besoedeling. Tyd – ook te kosbaar. Daar is te veel dinge wat ek nog wil leer. Die visie – groot.

Dankie dat ek my skryfkursus prakties op julle kan oefen. Janie werk nog hard aan my. Een van die dae skryf ek net so vlyt soos julle. Ek slaap al die hele week met die nuwe Afrikaanse skryfgids. Daarom gaan my vingers op die rekenaar nie vir ewig onder julle kielie. Die bestemming, veel groter.

Niks gebeur in die lewe sonder doel. Vat maar KdK se skrywes. As julle hom nie uitgelok het, het hy nooit die stuk oor Eva en die slang geskryf. Daardie kosbare skrywe het ek in my ‘Skeppingsdoel’ file gebȇre. Volgende keer as ek weer die see van vrouegesigte voor my sien sit, angstig om te hoor omtrent hul Skeppingsdoel, is my geweer gelaai! Selfs KdK se skrywe oor Die Woord – ongelooflik! Pitkos. Ek weet julle lok hom baie uit, maar eintlik versterk julle ander se karakters daardeur.

Ag man, ek lief julle, al voel jul nie dieselfde oor my. Mag jy ook jou doel hier op aarde bereik. Want hierdie lewe, is nie vir sissies nie.

Sterkte

Trienie

Delete Comment
avatar
CorneliusHenn
2012-11-23 @20:47
Trienie,  

Die intragiese is juis dat uit die lessies vir ander bedoeld die teenoorgestelde eintlik waar is.   Ja, jy het jou eie sedelessie toe op die end die meeste nodig.  

Nes Kobus de Klerk is jy baie duidelik daarop uit om vir jou naam te probeer maak (geluk te bou) op die hartseer van ander. Hoe anders kon jy so goedsmoeds die hartseer van ander aan jou toevertrou hier op die werf kom uitblaker?  

Anders as almal voorheen wat hulself so laat vertrap het tot eer van die gesiglose Kobus de Klerk (ewe verskuild agter sy 'private profiel'), is Trienie Mahne 'n maklik vindbare 'wedergebore, bloedgewaste, duurgekoopte, vrygemaakte kind van die 3-enige God (Vader, Seun en Heilige Gees) en gekwalifiseerde berader aan die Commonwealth Calvary University' daarby.  

Behalwe dat jy nou al jou vriende verdag gemaak het met jou 'wors storie', sal dit geen genie kos om uit te werk wie jy by jou sensasie soek hierbo betrek het nie. Voeg daarby dat jou 'wors storie' met kommentaar en al nou baie lank op openbare rekord gaan staan; die karakters in jou 'naammaak  storie' hulself dalk nog gaan raak lees hier. Hoe teleurgesteld moet hulle boonop in jou breek van hul vertroue met jou soort 'vriendskap' en 'berading' wees?  

Agge nee wat Trienie, van die begin af was dit duidelik hoe jy met jou eie beul blaas aankoms op die werf ook geen Moeder Theresa is nie. Jou strategie  om Kobus de Klerk aan te moedig maak jou inderdaad ook net nog 'n KdK-paranimf - dit wyl die Evangelie jou saak hier moes wees.  

Trienie, Kobus de Klerk is 'n gerekende dweper op die werf. As jare lange staande sensasie gaan jou getuienis soos 'n warm wind iewers onder uit op 'n vol trein in die skaduwee van die ou grote se omstredenheid verbygaan; almal ruik en weet waar dit vandaan kom hierdie keer maar sal jou gesig gou weer vergeet. Die oneervol geskrapte prokureur Kobus de Klerk sal nie sy infernale hoëpriesterskap op die werf aan jou afstaan nie.  

Ek kon jou maklik by Thys Human en Kobus de Klerk se haatbende voeg na jou woernaal hier tot eer van die ou grote met sy afsku teenoor almal wat hulde aan die ontslape Ralph Rabie bring [http://www.litnet.co.za/Article/die-kerkorrel-sindroom].    

Maar Trienie, wat dink jy nou nadat Kobus de Klerk se seun op sy een-en-twintigste verjaarsdag eensaam en alleen op 'n vuil toilet iewers in Hillbrow aan 'n oordosis dwelms beswyk het wyl die ou grote Kobus in die Wildtuin op sy eie plesier was? Sou jy nie ook verwag het dat 'n pa (selfs 'n aanneempa) op sy seun se mondigwording moet wees nie? Is dit nie juis op daardie dag wat 'n kind se opvoeding wat hy by sy ouers ontvang het in ophef gevier word nie? Waar was die selfsugtige Kobus de Klerk wat soveel te sê het oor ander se persoonlike sake en verhouding met die HERE, toe hy sy seun se hand op sy mondigheidsfees moes vashou op sy eerste tree as meerderjarige?    

Nee wat Trienie, jy het jouself by die duiwel geskaar op die werf. Kobus de  Klerk en sy meelopers voer eintlik net 'n hekelspel hier. Kobus de Klerk glo so min soos Angus en Thomas op die werf. Als wat Kobus de Klerk hier uitborrel is net tot sy eie eer. Dis in baie genade dat dit ook nou duidelik is dat Kobus de Klerk en 'n ateïs soos Thys Human dieselfde afsku teenoor hul medemens koester; Godsdiens het daarmee min te make.  

Trienie, ek maan jou in die liefde en genade van Jesus Christus onse HERE om jouself te bedink en jou doel hier op die werf sonder eer aan enige ander behalwe God en met respek  in naasteliefde te dien.  

Cornelius
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address