LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) | LitNet Academic

 
’n Menswetenskap in onmenslike tye: Dreyer Kruger en die fenomenologiese sielkunde in Suid-Afrika, 1976–1990

 

 Abstract

A human science in inhuman times: Dreyer Kruger and phenomenological psychology in South Africa, 1976–90

This article discusses the development of phenomenological psychology in South Africa from the mid-1970s to 1990, with specific reference to the pioneering work done by Dreyer Kruger and his contemporaries at Rhodes University. It focuses specifically on the limitations of this approach as a critical psychology during this period – that is, as a psychology that could meaningfully engage the distortion of human subjectivity, experience and relationships brought on by apartheid and racial-capitalist policies, practices and structures. The point of departure is Kruger's formulation of phenomenological psychology as not just an epistemological critique of positivism, but also a form of societal and political critique. It is argued that the eventual discrepancy between Kruger's critical vision and what passed in practice as phenomenological psychology by him and his contemporaries cannot simply be attributed to their inability to express Kruger's critical vision in practice. The failure of phenomenological psychology to shape a critical psychology reveals limitations that are inherent to phenomenological psychology. Through a reading based on Bourdieu's concepts of habitus, field and distinction, phenomenological psychology is presented here as having been overly committed to an epistemology that treated knowledge production as a detached, neutral and transparent practice, consequently upholding a particular class habitus, that of a middle-class, white South African reality, as normative.

Opsomming

’n Menswetenskap in onmenslike tye: Dreyer Kruger en die fenomenologiese sielkunde in Suid-Afrika, 1976–1990

Hierdie artikel bespreek die ontwikkeling van die fenomenologiese sielkunde in Suid-Afrika van die middel-1970's tot 1990, met spesifieke verwysing na die pionierswerk van Dreyer Kruger en sy tydgenote by Rhodes Universiteit. Dit fokus spesifiek op die beperkinge van die fenomenologiese sielkunde as ’n kritiese sielkunde gedurende die periode onder bespreking – dit wil sê, as ’n sielkunde wat betekenisvol sou kon reageer op die vertekening van menslike subjektiwiteit, ervaring en verhoudings deur apartheid en rasse-kapitalistiese beleide, praktyke en strukture. Die vertrekpunt is spesifiek Kruger se formulering van die fenomenologiese sielkunde as nie bloot ’n epistemologiese kritiek op die positivisme nie, maar ook en veral as ’n vorm van maatskaplike en politieke kritiek. Daar word aangevoer dat die uiteindelike diskrepansie tussen Kruger se kritiese visie en wat in die praktyk deur hom en sy tydgenote as fenomenologiese sielkunde bedryf is, nie sonder meer toegeskryf kan word aan hulle onvermoë om in die praktyk aan Kruger se kritiese visie uitdrukking te gee nie. Die mislukking van die fenomenologie om ’n kritiese sielkunde tot stand te bring, dui op inherente tekortkominge by die fenomenologiese sielkunde as sodanig. Aan die hand van Bourdieu se konsepte habitus, veld en onderskeiding word geargumenteer dat die fenomenologiese sielkunde soos Kruger en sy tydgenote dit bedryf het, oormatig verstrengel was met ’n epistemologie wat kennisproduksie as ’n verstandelike, neutrale en deursigtige praktyk hanteer het, met die gevolg dat ’n spesifieke klassehabitus, ’n middelklas, wit Suid-Afrikaanse realiteit, as normatief bestendig is.

 

’n Menswetenskap in onmenslike tye: Dreyer Kruger en die fenomenologiese sielkunde in Suid-Afrika, 1976–19901

 

Inleiding

Hierdie artikel fokus op die opbloei en beperkinge van die fenomenologie as ’n kritiese benadering tot die sielkunde in Suid-Afrika tussen 1976 en 1990, met spesifieke verwysing na die pionierswerk van Dreyer Kruger en sy tydgenote by Rhodes Universiteit.

Die fenomenologiese sielkunde het histories ontwikkel in kritiese reaksie op, en as ’n alternatief vir, die positivistiese wetenskapsbeskouing wat die hoofstroom-sielkunde gedurende die twintigste eeu oorheers het. In hierdie sin was die fenomenologiese sielkunde waarskynlik redelik suksesvol, ten minste wat betref die skep en bestendiging van ’n breë humanistiese alternatief binne die sielkunde. Benewens epistemologiese kritiek het fenomenologiese sielkundiges egter ook maatskaplike en politieke kritiek gelewer (Kruger 1988a). Dit is die sukses al dan nie van hierdie maatskaplike en politieke dimensie van kritiek wat voorop staan in hierdie artikel, en wat in die Suid-Afrikaanse konteks aan die orde gestel word.

Alhoewel daar in die tydperk onder bespreking natuurlik individuele sielkundiges was, verbonde aan verskillende Suid-Afrikaanse universiteite, wat fenomenologies-georiënteerde werk gedoen het (byvoorbeeld fenomenologie as ’n "kwalitatiewe" navorsingsmetode gebruik het) of hulself eksplisiet as fenomenologiese sielkundiges geïdentifiseer het (Van Vuuren 2008), was diegene gewoonlik minderhede in hulle onderskeie departemente. ’n Positivistiese wetenskapsbeskouing het sielkundige navorsing in hierdie tyd oorheers, terwyl die belangrikste psigoterapeutiese alternatief tot gedragswetenskaplike modelle psigodinamies eerder as humanisties/fenomenologies was. Die status quo in Suid-Afrika wat die sielkunde betref, was dus nie veel anders as elders ter wêreld nie (Van Ommen en Painter 2008).

In hierdie opsig was Rhodes Universiteit uniek.2 Onder leiding van Dreyer Kruger was die fenomenologie vir ’n tydperk van ongeveer 15 jaar die dominante benadering in die Sielkunde-departement aan daardie universiteit. As ’n selfbewustelik alternatiewe oriëntasie in die sielkunde (teenoor die positivisme van die hoofstroom) het die fenomenologie tot ’n oorkoepelende intellektuele etos ontwikkel wat die kurrikulum, navorsingsagenda en psigoterapeutiese opleiding in die departement ten diepste beïnvloed het. Om hierdie rede, en omdat Kruger fenomenologie eksplisiet as ’n krities-sielkundige benadering gedefinieer het (in die epistemologiese sowel as die politieke sin), val die fokus in hierdie artikel dan ook op hom en die departement waarvan hy aan die hoof was vanaf die middel-1970's tot en met sy aftrede aan die einde van 1989.3

Omdat ruimte beperk is, word twee temas wat weliswaar relevant is vir ’n vollediger begrip van die fenomenologiese beweging in die Suid-Afrikaanse sielkunde, nie hier bespreek nie. Die eerste is ’n deeglike besinning van die historiese ontwikkeling en huidige internasionale status van die fenomenologie as ’n filosofiese stroming sowel as van die fenomenologiese sielkunde. Daar word volstaan daarmee om bloot te noem dat die Suid-Afrikaanse verwikkelinge wat hier bespreek word, deel was van ’n breër intellektuele beweging in die Engelssprekende wêreld gedurende die 1970's en 1980's (Van Vuuren 2008). Hierdie beweging, aangevoer deur akademici aan die Duquesne Universiteit in die VSA en ander instellings, het die fenomenologie deel gemaak van ’n breër diskoers oor ’n Derde Mag of humanistiese alternatief in die sielkunde (Kruger 1979). Die fenomenologie het natuurlik veel ouer Europese wortels, maar dit was grootliks deur die Amerikaanse appropriasie daarvan, veral in die tipies empiristiese idioom van ’n "metodologie", dat fenomenologiese temas tot uitdrukking gekom het in die moderne sielkunde (Giorgi 1985), ook in Suid-Afrika. Alhoewel Kruger en ander fenomenologiese sielkundiges in Suid-Afrika dus deur Europese filosofiese strominge beïnvloed is, was die setel van die breër beweging op daardie stadium in die VSA.
 
Tweedens word die beduidende bydraes van swart Suid-Afrikaanse akademici en intellektuele tot ’n fenomenologiese sielkunde, dikwels in gesprek met ander benaderings soos die Swartbewussynsfilosofie, die Marxisme en psigoanalise, nie in hierdie artikel bespreek nie. Ten spyte van die fenomenologiese band val hulle werk polities en ook teoreties buite die fenomenologiese projek soos dit verwoord en ook geïnstitusionaliseer is deur Kruger by Rhodes Universiteit en van daar uitgekring het na ander (veral Afrikaanse) universiteite soos die Universiteit van Suid-Afrika en die Universiteit van Pretoria (Van Vuuren 2008). Dit is egter belangrik om hierdie voorbeelde van alternatiewe (sielkundige) omgang met die fenomenologiese tradisie wel te noem, al is dit net om die moontlikheid te onderstreep dat striemende sielkundige kritiek op ongeregtigheid, en op die vertekening van menslike ervaring deur sistemiese politieke onderdrukking, wel vanuit ’n fenomenologiese oriëntasie geloods kon (en kan) word. Manganyi (1973, 1981), byvoorbeeld, het swaar gesteun op die eksistensialisme en die fenomenologie in sy beskrywings van "being-black-in-the-world", om sodoende ’n kragtige sielkundige bydrae tot die Swartbewussynsfilosofie van Biko (1996) en ander te lewer. Hiermee was hy een van die min sielkundiges wat gedurende die 1970's sistematies kritiek gelewer het op apartheid en rasse-onderdrukking. Nzimande (1983), in latere jare ’n leiersfiguur in die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, het die fenomenologiese metode aangewend in sy navorsing oor die ervaring van swart arbeiders in Suid-Afrika tydens apartheid.

In stede van bogenoemde val die fokus in hierdie artikel eerstens op ’n aantal tekste deur Dreyer Kruger (1979, 1984a, 1984b, 1988a), waarin hy sy begrip van die fenomenologiese sielkunde as ’n kritiese sielkunde in Suid-Afrika uiteensit.4 Tweedens word daar ook verwys na die fenomenologiese werk wat gedurende die era onder bespreking deur Kruger en sy kollegas en studente by Rhodes Universiteit gedoen is.

Omdat die klem op die tekortkominge van die fenomenologiese sielkunde as ’n vorm van kritiek geplaas word, is dit nodig om eerstens aan te toon hoe Kruger kritiek verstaan het in die konteks van ’n alternatiewe sielkunde. Tweedens is dit nodig om aan te toon hoe hierdie konsepsie van kritiek te kort geskiet het in die spesifieke sosiopolitieke en akademiese omgewing van die Suid-Afrika van daardie tyd; en derdens om te spekuleer oor die aard en redes vir hierdie "tekortkoming" of "mislukking". Anders gestel: gesien die feit dat die fenomenologie eksplisiet gebruik is om ’n vroeë "kritiese sielkunde" mee te formuleer, watter redes kan aangevoer word vir die relatief marginale status van hierdie benadering binne die "kritiese sielkunde"-beweging in Suid-Afrika en elders (Fox en Prilleltensky 1997; Hook 2004)?

Verskillende verhale sou vertel kon word oor die "mislukking" van die fenomenologiese sielkunde om sigself as ’n kritiese sielkunde te reproduseer.5 In hierdie artikel word net een so ’n moontlikheid ontgin, aan die hand van begrippe wat Bourdieu (1984, 1992, 1998) ontwikkel het in sy studies van die dinamiek van kulturele produksie en verbruik, naamlik habitus, veld en onderskeiding (in Engels: "distinction"). ’n Analise van die fenomenologiese sielkunde aan die hand van hierdie begrippe suggereer dat, eerder as ’n kritiese sielkunde van ervaring, dit van meet af aan ’n bepaalde ervaringswêreld, ’n objektiewe veld van posisies en disposisies (’n habitus), veronderstel en gereproduseer het: ’n geïsoleerde, uiteindelik afsydige en skynbaar neutrale oriëntasie ten opsigte van die omliggende wêreld. Hierdie objektiewe, maar ongeartikuleerde "ligging" van die fenomenologiese sielkunde is in stand gehou deur die oorvleueling van epistemologiese, institusionele sowel as sosiopolitieke (dis)posisies; kortweg, ’n tradisionele wetenskapsbeeld, die vereistes en belonings van die akademiese en professionele sielkunde, en die voorregte en beperkinge van ’n middelklas, wit Suid-Afrikaanse omgewing.

Bourdieu se begrippe maak dus die versweë, "onbewuste" gronde van waar die fenomenologiese sielkunde om akademiese en politieke "onderskeiding" (en "kapitaal") meegeding het, teoreties sigbaar. Sodoende word dit ook moontlik om ’n verklaring te bied vir waarom die fenomenologiese sielkunde, met die koms van meer radikale teoretiese alternatiewe en die verval van die sosiopolitieke orde van die 1980's, in so ’n groot mate as ’n kritiese alternatief in die sielkunde vervaag het – sonder om terselfdertyd in die hoofstroom opgeneem te word.

Daar word nie hier enige aansprake gemaak oor die oorspronklikheid van die analise nie. Dit is nie noodwendig die beste beginpunt vir ’n historiese oorsig oor die fenomenologiese sielkunde in Suid-Afrika nie, en is beslis ook nie ’n volledige beskouing nie. Wat wel aangevoer word, is dat Bourdieu se begrippe ’n interessante, miskien selfs unieke, blik op die fenomenologiese sielkunde bied – ’n blik wat dit nie eerstens as ’n onafhanklike, selfgenoegsame teoretiese benadering sien nie, maar as onlosmaaklik deel van die sosiopolitieke, epistemologiese en ook institusionele opset waarvan dit deel was. Deur die objektiewe gronde van "subjektiwiteit" en van "ervaring" sigbaar te maak, word Bourdieu se werk as't ware aangewend as ’n soort "metafenomenologie" van die fenomenologiese sielkunde self.

Maar meer hieroor in latere afdelings. Die volgende afdeling word gewy aan die loopbaan van Dreyer Kruger en die belangrikste kenmerke van die fenomenologiese sielkunde aan Rhodes Universiteit.

 

Dreyer Kruger, fenomenologie en kritiese sielkunde aan Rhodes Universiteit

In 1974, toe Dreyer Kruger Fort Hare Universiteit verlaat en by Rhodes Universiteit aansluit, bevind hy hom in ’n omgewing wat aanvanklik maar taamlik kil teenoor sy fenomenologiese projek gestaan het. Op daardie stadium was die sielkundedepartement by Rhodes Universiteit nog primêr eksperimenteel georiënteer wat navorsing betref, terwyl ook die filosofiedepartement weinig intellektuele toevlug aan ’n fenomenologiese denker verskaf het. As aanhangers van die Britse analitiese tradisie was die filosowe by Rhodes lugtig vir enigiets wat te veel op kontinentale filosofie gelyk het.

Kruger was self ook opgelei in die eksperimentele tradisie, en het vir die grootste gedeelte van sy loopbaan in tradisionele sielkunde-omgewings gewerk – in die destydse Departement van Arbeid, byvoorbeeld, en as psigoterapeut in privaatpraktyk. Weldra het hy egter vertroue begin verloor in die vermoë van ’n natuurwetenskaplik-georiënteerde sielkunde om menslike ervaring op ’n betekenisvolle manier te belig – of, anders gestel, om voldoende aandag te gee aan daardie aspekte van menslike ervaring wat ons met die begrippe betekenis en betekenisvolheid sal beskryf. By Fort Hare Universiteit, waar hy in 1965 professor word, begin Kruger filosofiese werke oor die fenomenologie en die eksistensialisme lees, asook vroeë toepassings van hierdie filosofiese beginsels in die psigopatologie, psigiatrie en psigoterapie – die werk van Ludwig Binswanger, onder andere. Die katalisator wat hierdie private intellektuele verkenning van Kruger omvorm het tot ’n missie om die dissipline as ’n geheel te verander (ten minste in Suid-Afrika), was ’n besoek deur die bekende Nederlandse psigiater en fenomenoloog J.H. van den Berg aan Fort Hare in 1969 (Kruger 2001). Dit sou die eerste van ’n reeks besoeke wees deur Van den Berg aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite gedurende die 1970's (Van Vuuren 2008).

Die intellektuele diskoers tussen Van den Berg en Kruger het ’n belangrike rol gespeel om laasgenoemde tot die fenomenologie oor te haal, en nadat hy as departementshoof oorgeneem het by Rhodes, het Kruger begin om die kurrikulum en navorsingsagenda in hierdie rigting te stuur. In die jare vanaf 1974 tot 1990 is hierdie departement dan ook toenemend oorheers deur ’n humanistiese benadering tot die sielkunde en kwalitatiewe navorsing, en deur die fenomenologie in die besonder. Deur middel van ’n strategiese vestiging van internasionale verbintenisse en uitnodigings aan prominente besoekende akademici soos Van den Berg, Giorgi en Romanyshyn, het Kruger dit reggekry om sy departement te verhef tot, en in stand te hou as, ’n redelik prominente skakel in die internasionale netwerk van fenomenologiese sielkunde – dit ten spyte van die isolasie wat Suid-Afrika weens die kulturele boikot ook toenemend gedurende hierdie tydperk ondervind het (Van Vuuren 2008).

Kruger het verder ook gesorg vir die ontwikkeling van sy fenomenologiese program deur die strategiese aanstellings van voltydse personeel, dikwels oudstudente wat by Rhodes fenomenologies-georiënteerde nagraadse studies voltooi het. Heelparty van hierdie kollegas, insluitend Peter Parker (1977, 1986), Les Todres (1978, 1990), Christopher Stones (1979) en Roger Brooke (1988, 1991), het belangrike bydraes tot die fenomenologiese sielkunde in Suid-Afrika gelewer (Kruger 2001).

Die meeste van hierdie geslag fenomenologiese sielkundiges was, soos Kruger self, opgeleide en praktiserende kliniese sielkundiges. Gevolglik het die kliniese-sielkunde-program nie net die akademiese vlagskip van Rhodes se sielkundedepartement geword nie, maar ook geboorte gegee aan die eerste, en vir lank die enigste, doktorale, kursus-gebaseerde program in psigoterapie aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit. Die fokus op kliniese sielkunde het ook bygedra tot van die belangrikste teoretiese en empiriese navorsing wat tydens hierdie jare uit die departement gekom het. Benewens Kruger (1988b) se RGN-monografie oor interpretasie in psigoterapie, is dit nodig om Roger Brooke te noem. Sy ontwikkeling, in ’n doktorale proefskrif onder leiding van Kruger, van ’n sinergie tussen Jungiaanse dieptesielkunde en fenomenologiese sielkunde (Brooke 1988), is later as ’n invloedryke boek, Jung and phenomenology (Brooke 1991) gepubliseer.

Maar tussen 1974, die jaar toe Kruger die eerste keer ’n kursus in fenomenologiese sielkunde aangebied het, en 1989, die jaar van sy aftrede, het hy, Brooke en hulle kollegas gesamentlik ook meer as 150 fenomenologiese tesisse geskryf en begelei. Interessant genoeg oorvleuel die Kruger-era met die era tussen die studente-opstande van 1976 en die vrylating van Nelson Mandela aan die begin van 1990. Die politieke agtergrond waarteen hierdie fenomenologiese era in die Suid-Afrikaanse sielkunde afspeel, is dus die finale, maar ook mees gewelddadige en onderdrukkende fase van apartheid – ’n tyd van kru menseregteskendinge deur die staat, van opeenvolgende noodtoestande, en van die opbloei van binnelandse verset uit burgerlikesamelewingsbewegings soos die United Democratic Front (vanaf 1983).

Dit is ook gedurende hierdie tyd, en in reaksie op die intensivering van verset, internasionale isolasie en ’n wankelende ekonomie, dat die eerste treë in die aftakeling van apartheid deur die regerende Nasionale Party geneem is. So was daar die halfhartige poging om breër politieke verteenwoordiging te bewerkstellig deur middel van die sogenaamde driekamerparlement, die herstrukturering van die arbeidsmark (na die Wiehahn-verslag; kyk Commission 1982) wat blanke bevoorregting in veral die mynwese begin inperk het; en die beëindiging van baie van die maatreëls van "klein" apartheid, soos die "oopstel" van openbare geriewe, strande en sekere woonbuurte en die opheffing van die verbod op gemengde huwelike.

Dit is dan ook teen hierdie agtergrond van grootskaalse en dikwels dramatiese verskuiwings in die sosiopolitieke orde dat ek die fenomenologiese studies wat in hierdie tyd geproduseer is, beoordeel. Die gewildste onderwerpe kan, sonder om van hiperbool beskuldig te word, onder die rubrieke van seks, sport, eensaamheid en geestesversteurdheid opgesom word.6 Die meeste van hierdie studies is nie krities in enige betekenisvolle sin van die woord nie. Hiervoor is die studies, eerstens, oor die algemeen te gretig om persoonlike eerder as werklik sosiale en politieke dimensies van ervaring te belig – met die fokus hier ongeveer gelyk verdeel tussen "alledaagse" en "transpersoonlike" of "mistieke" ervarings. Tweedens is die studies grotendeels gemik op die ervaringswêreld van wit, middelklas-individue, meestal studente, eerder as op die onderdrukte swart meerderheid. Derdens, danksy ’n naïewe en tegnosentriese geloof in die voorrang van metodiek in wetenskaplike praktyk, was daar by die meeste van die studies ’n ernstige gebrek aan ’n volgehoue krities-teoretiese betrokkenheid by hulle onderwerpe. In al drie hierdie opsigte verskil die fenomenologiese studies waarna ek hier verwys, dus nie fundamenteel van positivistiese navorsing in die sielkunde nie, ten spyte van die groot gewag wat van die fenomenologie as epistemologiese alternatief in die sielkunde gemaak is. 

Selfs die enkele studies wat sosiale en politieke kwessies aangespreek het en sigself eksplisiet geposisioneer het as "krities", het nie hierdie wêreldvreemdheid en uiteindelik self-referensiële ingesteldheid vrygespring nie. ’n Studie oor die ervaring van werkloosheid, byvoorbeeld, met die subtitel "a critical study in the South African context" (Jaffray 1989), het redelik vinnig vergly tot ’n baie algemene fenomenologie eksposisie van "die ervaring" van werkloosheid. Daar was baie weinig poging om die wit navorsingsdeelnemer se verhaal binne die Suid-Afrika van 1989 te plaas – wat gedoen sou kon word deur byvoorbeeld te kyk na die interaksie tussen hierdie individuele verhaal en die breër sosiale kontekste van ras, klas, geslagsrolle, ’n veranderende arbeidsmark en ’n sukkelende ekonomie in ’n tyd van toenemende internasionale isolasie.

Ten spyte van die duidelike tekortkominge in hierdie verband het Kruger deurgaans aangevoer dat die fenomenologie ’n morele verpligting het om ’n kritiese sielkunde te wees – om, in ’n sekere sin, ’n menslike wetenskap te wees in onmenslike tye.

Op ’n fundamentele, wetenskapsfilosofiese vlak, natuurlik, was die fenomenologie "krities" omdat dit ontwikkel het as ’n reeks eksplisiete reaksies op die aannames en implikasies van die sielkundige hoofstroom: ’n epistemologiese kritiek op die positivisme; ’n ontologiese kritiek op meganistiese konsepsies van die sielkundige subjek; en ’n moreel-politiese kritiek op die vervreemde en vervreemdende vorme van menswees en ervaring wat deur hierdie sielkunde, in dienstigheid aan ’n industriële en tegnokratiese maatskappy, geproduseer en in stand gehou word (Kruger 1979).

Alhoewel daar dus reeds ’n soort "politieke" dimensie geïmpliseer is by hierdie wetenskapsfilosofiese stellinginname, het Kruger besef dat kritiek op hierdie vlak steeds te algemeen en abstrak is vir ’n land wat so ’n spesifieke en dwingende politieke krisis beleef het, naamlik geïnstitusionaliseerde rasse-onderdrukking. Hy het gevolglik sy stelling, “A properly human psychology will inevitably contain a critical element” (Kruger 1988a:6) vinnig opgevolg met ’n nadere spesifisering van daardie kritiese bestandeel: “a critical input into South African society”. Kruger was verder daarvan bewus dat, in Suid-Afrika, hierdie kritiese inset noodwendig ’n konfrontasie sou moes behels met die politieke werklikheid van rassisme – insluitend rasse-kapitalisme, of, soos hy dit geformuleer het, die “dehumanized type of societal and production systems brought to South Africa by the white man …” (Kruger 1984b:120).

Kruger en sy kollegas het gevolglik een van die eerste "kritiese sielkunde"-kursusse in Suid-Afrika geloods, ’n kursus wat, alhoewel dit gerig was deur die fenomenologiese tradisie en metode, studente ook die geleentheid gebied het om met ander krities-teoretiese tradisies, insluitende die Marxisme, Kritiese Teorie van die Frankfurt-skool en die politieke psigoanalise, kennis te maak. Een van die belangrike intellektuele invloede op Kruger en die kritiese-sielkunde-kurrikulum by Rhodes Universiteit was De Boer (1983) se Marxisties-georiënteerde Foundations of a critical psychology.

Kruger se eie opvatting van wat ’n kritiese sielkunde behoort te wees het egter lynreg verskil van teoretiese tradisies soos die Marxisme, en is eksplisiet in teenstelling met die kritiese sielkunde van De Boer (1983) geformuleer – al het Kruger natuurlik waardering vir laasgenoemde se werk gehad en is hy sterk daardeur beïnvloed. Die volgende uittreksel uit ’n programrede wat Kruger by die jaarkongres van die Suid-Afrikaanse Sielkunde Vereniging in 1987 gelewer het, en wat die daaropvolgende jaar in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Sielkunde gepubliseer is (Kruger 1988a), bied ’n goeie voorbeeld van sy begrip vir die belangrikheid en aard van sielkundige kritiek en kritiese sielkunde. Hierdie toespraak (en later artikel) was ’n belangrike apologie vir ’n "menswetenskaplike" (teenoor ’n "natuurwetenskaplike") sielkunde in Suid-Afrika. Kruger het dit hier ook duidelik gemaak dat ’n kritiese agenda, volgens hom, tot die kern van ’n "humanistiese" projek behoort (Kruger 1988a:7):

[S]ince psychology, in my view, must be a science of and for man, it must question the received reality, i.e., reality as it is presented in the mass media and the structure of society. Reality is socially constructed (Berger & Luckman, 1967) and in this social construction vested interests of the status quo are heavily represented.

Ten spyte van sy verwysing na die sosiale konstruksie van ideologiese weergawes van die werklikheid was Kruger steeds verbind tot ’n sielkunde wat ’n soort "onskuld" sou behou, ’n soort teoretiese en politieke naïwiteit, as deel van ’n breër epistemologiese en ontologiese verbintenis tot die fundamentele rol van onmiddellike, ongemedieerde, subjektiewe ervaring. Kruger se kritiese visie, sy vermoë om ’n sielkunde te konseptualiseer wat nie net op die samelewing nie, maar ook op sy eie ideologiese "ligging" en sosiaal-gekonstrueerde belange kritiek sou kon lewer, het op hierdie punt gewankel. Vir ’n menswetenskaplike sielkunde om krities te wees, volgens Kruger, moes dit eers fenomenologies wees. Dit het beteken dat die sielkunde sigself moes verstaan as ’n deursigtige en neutrale "bewussyn" wat die dimensies van teorie en politiek, hoe belangrik hierdie dimensies ook al sou wees, voorafgaan. Dit behoort dus nie ’n verrassing te wees dat Kruger soveel klem daarop gelê het om sy "kritiese" fenomenologie van veral die Marxisme te distansieer nie, soos hier blyk uit sy beroep op ’n "suiwer persepsie" in die aangesig van maatskaplike vertekeninge:

I think, the problem of what is called false consciousness can be solved by a return to the things themselves, i.e., by returning to the intentionality of consciousness. Thus, if we want to find out whether people are oppressed or tyrannized, and to delineate the structure of these phenomena, we have to start by asking them how they experience their situatedness. From the phenomenological research done on both white and black subjects, I have no doubt that they are able to describe their situatedness without being conditioned by dominant definitions of reality. I am not in favour of turning psychology into a political power enterprise but I am pleading for an unbiased study of the situatedness of individuals and groups including their experiences of power and powerlessness. (Kruger 1988a:8)

Die prys wat betaal is vir hierdie soort "onbevooroordeelde" studie was natuurlik dat die "situatedness", om Kruger se woord te gebruik, van die navorser en van die fenomenologiese sielkunde self buite rekening gelaat is. Die werk van Pierre Bourdieu, hier aangebied as ’n soort metafenomenologie, kan aangewend word om hierdie gesetelheid, of die "ligging" van die sielkunde en die sielkundige, verder te belig.

 

Veld, habitus en onderskeiding: Bourdieu se metafenomenologie

Bourdieu se sentrale analitiese konsepte, veld, habitus, en onderskeiding, bied ’n vrugbare manier om die mislukking van die fenomenologie as ’n kritiese sielkunde in Suid-Afrika te analiseer. Hierdie konsepte, deel van ’n algemene teorie van sosiale praktyke (Bourdieu 1992; Bourdieu en Wacquant 1992), is ontwikkel in ’n teoretiese poging om die ongelukkige maar hardnekkige opposisie tussen subjektivisme en objektivisme in die sosiale wetenskappe te transendeer – veral soos dit in Bourdieu se intellektuele milieu, die Parys van die 1950's en 1960's, beliggaam is deur onderskeidelik die eksistensiële fenomenologie en die strukturalisme.

’n Analise aan die hand van hierdie konsepte veronderstel dat sosiale praktyke, soos die produksie en verbruik van kommoditeite (of hierdie kommoditeite nou romans, navorsingsmetodes of kinderspeelgoed is) binne struktureel outonome sosiale arenas, wat Bourdieu velde noem, gevorm word. Die handelinge van deelnemers binne hierdie velde is verder op onderskeiding gemik – nie noodwendig bewustelik nie, maar as deel van ’n implisiete investering in die belonings wat beskikbaar is uit die speel van ’n spesifieke sosiale spel. Hierdie belonings kan verskillende vorme aanneem, van status tot finansiële gewin. Onderskeiding is dus heel letterlik die produk van kapitalisering op die belonings wat deur ’n bepaalde spel beloof word: onderskeiding word, in Bourdieu se terminologie, beliggaam in verskillende vorme van kapitaal, beskikbaar op ’n reeks interafhanklike markte. Thompson (1984:49) bied ’n goeie beskrywing hiervan:

Just as there are different kinds of market, so too there are different kinds of capital ("economic", "cultural", "symbolic"), and one of the most important properties of fields is the way they allow one kind of capital to be converted into another.

Die akademiese veld, byvoorbeeld, het as spesifieke vorme van kapitaal grade, publikasies en akademiese posisies, wat omgesit kan word in meer algemene vorme van onderskeiding soos status, prestige, en – in ’n era van bemarkbare kennis – selfs finansiële gewin. Indien ’n "deelnemer" suksesvol is, sal die opgaar van kapitaal (publikasies in die regte soort tydskrifte, byvoorbeeld) lei tot allerlei vorme van wins (bevordering, befondsing, uitnodigings), wat weer die individu se algemene vlak van onderskeiding in die veld verhoog. Onderskeiding van so ’n aard verleen mag wat, in die akademiese en intellektuele veld, grootliks simbolies van aard is. As gevolg van die verband tussen onderskeiding en mag is enige veld altyd ’n arena van stryd tussen verskillende spelers wat almal na onderskeiding soek. In die akademiese veld kan die simboliese mag wat reeds genoem is, baie maklik gepaard gaan met simboliese geweld. ’n Voorbeeld hiervan is die sistematiese uitsluiting, weens ekonomiese ongelykhede of taalverskille, van navorsers uit die ontwikkelende wêreld van kongresse en netwerke in die ontwikkelde wêreld – ten spyte daarvan dat hulle dikwels nie doelbewus gemarginaliseer word nie.

Daar kan dus geen analise van ’n bepaalde veld wees wat nie terselfdertyd ’n analise van stryd rondom die distribusie van mag is nie. In die akademiese veld kan die stryd tussen individue wees, maar ook tussen departemente of fakulteite, of tussen interpretasies, teorieë en metodes. Heel dikwels is dit die definisie of die strukturele samestelling van die veld self wat op die spel kom in sulke interne worstelinge. Om dit eenvoudig te stel, sommige spelers, byvoorbeeld hulle wat ’n kritiese sielkunde wil ontwikkel, bly verbind tot die algemene kenmerke van die spel en die belangrikste winste of belonings wat dit bied. Hulle wil wel die reëls verander waarvolgens die spel gespeel word, en die manier waarop kapitaal bymekaargemaak en verdeel word. Vir ’n meer formele uiteensetting van hierdie idee haal ek weer uit Thompson (1984:49) aan:

What is at stake in the struggles within particular fields is the structure of the field itself, that is, the distribution of the capital which is specific to it. Those who, in a given state of the distribution, possess the greatest capital are inclined towards strategies of conservation, towards preserving a state of doxa in which the established structure is not questioned.

Die belange van kritiese uitdagers in die veld kan soos volg opgesom word: “those engaged in struggles may have antagonistic aims, nevertheless they generally share a basic interest in the preservation of the market or field” (Thompson 1984:50). Die soort stryd vir onderskeiding wat in die wetenskap ’n "botsing van paradigmas" genoem word, kan net plaasvind teen die agtergrond van ’n gedeelde belegging in die veld en die belonings wat dit bied: ’n begeerte vir onderskeiding gebaseer op dinge soos navorsingsbefondsing, akademiese aanstellings, publikasiegeleenthede, kongresse, ens. Die fenomenologiese sielkunde en die intellektuele aktiwiteite van ’n Dreyer Kruger kan in hierdie lig gesien word. Alhoewel dit geformuleer is as ’n radikale alternatief tot die hoofstroom van positivistiese sielkunde, het fenomenologiese sielkundiges verbind gebly tot die algemene strukture van, en hulle belange in, die velde van die akademie, die sosiale wetenskappe en die sielkunde. Wat meer is, die fenomenologiese navorsingspraktyk, gebaseer op teoretiese naïwiteit en ’n blywende gehegtheid aan ’n veronderstelde metodologiese neutraliteit, het nooit die ideologiese posisie van waar dit vertrek het, ’n ekonomies bevoorregte en sosiopolities afgesonderde wit omgewing, epistemologies verreken nie.

Dit is hier waar Bourdieu se begrip habitus nuttig te pas kom. Die genaturaliseerde epistemologiese en sosiopolitieke ligging, of praktykproduserende stel disposisies, is presies wat deur die term habitus weergegee word. Terwyl sosiale praktyke in outonome velde gestruktureer word, is individuele handelinge terselfdertyd nie ten volle struktureel gedetermineerd nie. Dit is nie die veld as sodanig wat handeling genereer nie; handeling word deur die habitus gegenereer, wat soos volg gedefinieer word: “a system of durable, transposable dispositions which mediates between structures and practices” (Thompson 1984:53). Hiermee verwoord Bourdieu dan die dinamiese aard van menslike handeling – die feit dat dit tegelyk sosiaal en histories gekonstrueerd is én dikwels intuïtief en geïmproviseerd is. Hierin is die liggaam van kardinale belang. Sosiale strukture word op die liggaam gegraveer, deur opvoeding en oefening byvoorbeeld, en oor tyd geplooi tot disposisies vir funksionering in verskillende lewensdomeine; maniere van beweeg, smake, aksente en registers van emosionele responsiwiteit. Die habitus is “capable of generating practices in fields other than that in which they were originally acquired” (Thompson 1984:53), en dus is deelnemers in ’n spel altyd alreeds toegerus met of ’n oormaat of ’n tekort aan kapitaal.

Die konsep van die habitus maak dit moontlik om te beskryf hoe die politieke ekonomieë van verskillende velde, soos dié van wetenskapsbeoefening en ’n bepaalde sosiopolitieke omgewing, saamvloei in ’n veralgemeende eksperiensiële oriëntasie wat histories gekonstrueerd is, maar nogtans as ’n transendentale, en dus oorsienbare, uitgangspunt hanteer word. Dit maak dit verder moontlik om aan te dui hoe hierdie habitus persepsie, oordeel en handeling genereer oor ’n verskeidenheid van sulke ineenskakelende velde. Wat die habitus van die fenomenologiese sielkundige in Suid-Afrika gedurende die jare onder bespreking ontbloot, is presies die objektiewe gesitueerdheid van ’n navorsingsblik waarvan die wetenskaplike en sosiopolitieke koördinate, en dus die ligging van die navorser binne ’n dissipline, ’n tradisie en ’n land, buite rekening gelaat was.

Die mislukking van die fenomenologiese sielkunde om die dominante sielkunde in Suid-Afrika te word, of om selfs net te oorleef as ’n alternatief, kan verklaar word as die gevolg van ’n onvermoë om die veld van die sielkunde in sigself te herstruktureer; of, met ander woorde, om die distribusie van intellektuele kapitaal te herkonstrueer. Dit is verstaanbaar, gegee die numeriese en ideologiese oorheersing van positivistiese konsepsies van sielkunde as wetenskap. Meer interessant is dat die fenomenologiese sielkunde in die 1980's en 1990's verbygesteek is deur meer radikale bewegings in kwalitatiewe en kritiese sielkunde – nie die minste nie omdat hierdie laasgenoemde, dikwels selfverklaarde "postmodernistiese" benaderings bereid was om die politieke ekonomieë van die dissipline, die vorme van "toepassing" en die epistemologiese sowel as sosiopolitiese liggings wat deur sogenaamde wetenskaplike neutraliteit verdoesel is, op meer radikale maniere omver te werp. As ’n kritiese sielkunde het die fenomenologiese sielkunde dan nie misluk omdat dit te min kapitaal versamel het in die veld van die sielkunde nie, maar juis omdat dit te veel belang daarby gehad het.

 

Samevatting

Eerder as ’n breë historiese oorsig van die ontwikkeling van die fenomenologiese sielkunde in Suid-Afrika het hierdie artikel gefokus op die werk van Dreyer Kruger en sy studente aan Rhodes Universiteit tussen 1976 en 1990. In ’n poging om te verklaar waarom die fenomenologie as spesifiek ’n kritiese sielkunde misluk het (ten spyte van Kruger se eksplisiete beskrywing daarvan as sodanig), is konsepte van Pierre Bourdieu, naamlik veld, habitus en onderskeiding, gebruik. Daar is aangevoer dat die fenomenologiese sielkunde binne ’n akademiese en politieke veld gefunksioneer het waarin onderskeiding aan ’n spesifieke soort habitus geheg is: een gekenmerk deur objektiwiteit en neutraliteit – en dus ’n soort berekende onbetrokkenheid.

Die argument hier was dat hierdie onbetrokkenheid wedersyds in stand gehou sowel as wedersyds verdoesel is deur onderskeidelik ’n naïef-empiristiese epistemologie en ’n normatiewe en veral eksistensieel geïsoleerde sosiopolitieke werklikheid. Deur die epistemologiese en sosiopolitieke onderbou van die veld buite rekening te laat, het die fenomenologiese sielkunde onderskeiding en kapitaal nagejaag op maniere wat die habitus verder gefortifiseer het. Dit het uitdrukking gevind in wetenskaplike werk wat net so afsydig gestaan het teenoor die politieke omgewing waarin dit gefunksioneer het as die hoofstroom, positivistiese sielkunde waarop die fenomenologie so sterk kritiek gelewer het. Met die politieke wegkalwering van wit bevoorregting en die diepgaande epistemologiese kritiek deur meer radikale alternatiewe in die sielkunde sedert die middel-1980's, en veral in die 1990's, het die fenomenologiese sielkunde as ’n kritiese alternatief (anders as bloot ’n metodologiese alternatief in die tradisie van kwalitatiewe navorsing) dan ook in ’n groot mate van die toneel verdwyn.

Die doel van hierdie artikel was nie om Dreyer Kruger se werk, of dié van sy eertydse kollegas en studente, gering te skat nie. Kruger veral het ’n belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse sielkunde gelewer, en verdere navorsing oor sy rol en bydrae behoort aangemoedig te word. Die artikel het verder ook geensins probeer om die rol van ’n fenomenologiese fokus op ervaring in die kritiese sielkunde te ontken nie. Die argument wat hier ontwikkel is, vloei juis uit ’n belangstelling in die bydrae wat die fenomenologie tot die kritiese sielkunde in Suid-Afrika sou kon lewer, veral rondom die dikwels verwaarloosde konsep van ervaring. Hierdie tema sal in toekomstige artikels verder ontwikkel word. Om dit reg te kry is dit egter noodsaaklik om die fenomenologiese tradisie in die sielkunde, veral soos dit in Suid-Afrika bedryf is, teen die grein in te lees. Hierdie artikel verteenwoordig een so ’n moontlike leesstrategie, en sal hopelik tot verdere navorsing oor hierdie onderwerp aanleiding gee.

 

Bibliografie

Biko, S.B. 1996. I write what I like: A selection of his writings. Randburg: Ravan Press.

Bourdieu, P. 1984. Distinction: A social critique of the judgement of taste. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.

Bourdieu, P. 1992. The logic of practice. Cambridge: Polity Press.

—. 1998. Practical reason: On the theory of action. Cambridge: Polity Press.

Bourdieu, P. en L. Wacquant. 1992. An invitation to reflexive sociology. Cambridge: Polity Press.

Brooke, R. 1988. Towards an existential phenomenological interpretation of C.G. Jung's analytical psychology. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Rhodes Universiteit.

Brooke, R. 1991. Jung and phenomenology. Londen: Routledge.

Commission of inquiry into labour legislation, South Africa. 1982. The complete Wiehahn report. Johannesburg: Lex Patria.

De Boer, T. 1983. Foundations of a critical psychology. Pittsburgh, Pa.: Duquesne University Press.

Fox, D. en I. Prilleltensky. 1997. Critical psychology: An introduction. Londen: Sage.

Giorgi, A. (red.). 1985. Phenomenology and psychological research. Pittsburgh, Pa.: Duquesne University Press.

Hook, D. (red.). 2004. Critical psychology. Lansdowne: UCT Press.

Jaffray, T. 1989. An empirical phenomenological investigation of the experience of being unemployed: A critical study in the South African context. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling, Rhodes Universiteit.

Kruger, D. 1979. An introduction to phenomenological psychology. Kaapstad: Juta & Kie.

—. (red.). 1984a. The changing reality of modern man, essays in honour of J.H. van den Berg. Pittsburgh, Pa.: Duquesne University Press.

—. 1984b. A first encounter with psychology. Pretoria: Academica.

—. 1988a. In search of a human science psychology. South African Journal of Psychology, 18(1), 1988.

—. 1988b. The problem of interpretation in psychotherapy: An exploratory study. Pretoria: RGN.

—. 2001. A short history of phenomenological psychology in South Africa. Indo-Pacific Journal of Phenomenology, 2, 2001.

Manganyi, N.C. 1973. Being-black-in-the-world. Johannesburg: Ravan Press.

—. 1981. Looking through the keyhole: Dissenting voices on the black experience. Johannesburg: Ravan Press.

Nzimande, E.B. 1983. An investigation into the experience of being a black factory worker in South Africa. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling, Universiteit van Natal.

Parker, P. 1977. An ideographic study of bisexuality. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling, Rhodes Universiteit.

—. 1986. An empirical phenomenological study of happiness. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Rhodes Universiteit.

Stones, C.R. 1979. The meaning of becoming and being a member of a small and structured religious group. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Rhodes Universiteit.

Thompson, J.B. 1984. Studies in the theory of ideology. Cambridge: Polity Press.

Todres, L. 1978. An exploration into the meaning of death. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling, Rhodes Universiteit.

—. 1990. An existential phenomenological study of the kind of therapeutic self-insight that carries a greater sense of freedom. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Rhodes University.

Van Ommen, C. en D. Painter (reds.). 2008. Interiors: A history of psychology in South Africa. Pretoria: Unisa Press.

Van Vuuren, R. 2008. Existential-phenomenological psychology. In Van Ommen en Painter (reds.) 2008.

 

Eindnotas


1 Hierdie is ’n bygewerkte weergawe van ’n referaat wat voorgedra is tydens ’n simposium oor sielkunde en politiek in Suid-Afrika by die 10de tweejaarlikse kongres van die International Society of Theoretical Psychology in Istanbul, Junie 2003.

2 Benewens Kruger (2001) se kort oorsig van sy loopbaan en Van Vuuren (2008) se meer uitgebreide geskiedenis van die fenomenologiese sielkunde in Suid-Afrika, het ek vir die historiese oorsig veral baat gevind by gesprekke met oudkollegas van Kruger, onder andere professore Chris Stones, Dave Edwards en Andy Gilbert. Die Departement Sielkunde by Rhodes Universiteit beskik ook oor ’n argief waarin tesisse en proefskrifte sedert die vroeë 1970's bewaar word, wat vir my ’n belangrike bron van inligting was.

3 ’n Anonieme beoordelaar van die artikel het gevoel Kruger en Rhodes Universiteit word onregverdig uitgesonder vir kritiek. My bedoeling is nie om Kruger en die departement waar hy gewerk het, gering te skat nie. Kruger was vir lank die belangrikste verteenwoordiger van die fenomenologiese sielkunde in Suid-Afrika en sy departement onlosmaakbaar verbonde aan die geskiedenis van hierdie beweging in Suid-Afrika (en selfs internasionaal). Dit alleen is al genoeg rede om op Kruger en Rhodes te fokus. Daar is egter ook ’n verdere, meer teoretiese rede vir my fokus. Ek gaan van die aanname uit dat die fenomenologiese sielkunde die navorser se sosiopolitieke posisionering epistemologies deursigtig maak. Dit maak dus sin om die beweging radikaal te kontekstualiseer, iets wat ek doen deur ’n historiese konteks te skets en dit dan aan die hand van Bourdieu se teoretiese begrippe te interpreteer. Ander, meer simpatieke interpretasies is sekerlik ook moontlik; vergelyk in hierdie verband die werk van Van Vuuren (2008).     

4 Ek gee nie hier aandag aan artikels wat Kruger in die middel-1970's oor die onderwerp van Afrikaners en apartheid in die Afrikaanse pers gepubliseer het nie (Van Vuuren 2008). ’n Lesing van Kruger se werk wat hierdie publikasies insluit, sou egter fassinerend wees en behoort aangemoedig te word.

5 Ek wil nie die indruk skep dat die kritiese sielkunde die enigste manier is om die verhouding sielkunde en samelewing te bedink nie. Dit sou sekerlik moontlik wees om aan te voer dat die fenomenologiese sielkunde nie tot die kritiese sielkunde geassimileer kan of behoort te word nie. Van Vuuren (2008) staan simpatiek teenoor hierdie soort interpretasie. Alhoewel hy sekere sosiopolitieke tekortkominge van die fenomenologiese sielkunde uitwys, lê die oplossing vir hom nie in die ontwikkeling van ’n kritiese of eksplisiet “politieke” oriëntasie in die sielkunde nie, maar in die ontwikkeling van ’n “etiese” dimensie. ’n Sistematiese uiteensetting van hoe ’n etiese van ’n kritiese sielkunde sou verskil, sou fassinerend wees.   

6 Hierdie stelling is nie gebaseer op ’n sistematiese inhoudsontleding van navorsingstitels nie, maar is nogtans die produk van ’n eerstehandse oorsig van navorsingsprojekte in die Rhodes Universiteit-argief gedurende 2003. Alhoewel ek nie persentasies uitgewerk het nie, oorheers die vier temas wat ek hier noem, wel die korpus van navorsing wat tussen ongeveer 1974 en 1990 uitgevoer is.

 



Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address