’n Lewe lank agter een gedig aan ... René Bohnen praat oor in die niks al om

  • 2


Titel: in die niks al om
Skrywer: René Bohnen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799348835
Prys: R120.95

Klik hier om in die niks al om te koop by Kalahari.com.

Hi René, en baie geluk met die goeie ontvangs van in die niks al om. ’n Mens kan blykbaar nie van brood alleen leef nie, en dis nog méér waar van die digkuns. Ek neem aan gedigte betaal nie jou rekeninge nie. Hoe maak jy ’n bestaan, en hoe maak jy binne jou alledaagse bestaan tyd vir dig?
 
Baie dankie Bibi. Ek is regtig dankbaar vir die komplimente en ondersteuning wat ek sover gekry het. Gedigte betaal beslis nie my rekeninge nie, ek kan skertsend verklaar dat dit dikwels die rede is hoekom ek wél soms van brood alleen leef! Ek doen maar alles wat ek kan, Ek het vir ’n lang tyd die voubiljette binne-in pilleboksies vertaal vir farmaseutiese maatskappye. In my vorige lewe was ek ook al navorser, boekhouer, praktykbestuurder en proefleser en ek het by ’n foto-biblioteek gewerk. Ek is darem al genader om stories of kort artikels te skryf omdat iemand my verse gelees het, en die gedigte het ook gehelp dat ek betrokke geraak het by kreatiwiteitswerkswinkels.
 
Ek is gelukkig dat ek letterlik enige plek kan skryf. Blykbaar skakel my brein die omgewing maklik uit en ek word nie gesteur deur lawaai, musiek of mense nie. Ek dink hierdie “vermoë” is ook maar uit nood gebore, omdat ek werklik nog nooit die luukse van ’n skryfkamer of afgesonderde skryftyd gehad het nie.

Van tyd gepraat: daar het 11 jaar verloop tussen die publikasie van jou debuut, spoorsny, en jou tweede bundel, in die niks al om. Ek het twee vrae hieroor: Was jy erg senuweeagtig oor die gevreesde Tweede Bundel? En is jy van nature ’n stadige digter?

Ek sit met ’n tas vol verse – ek het nooit ophou skryf nie. Vir ’n lang tyd was publikasie nie vir my ’n prioriteit nie; ek moes eerstens oorleef. Afskeid en verlies in vele vorme het net sonder ophou plaasgevind, tot op ’n stadium waar ek gedink het ek verdrink, ek sal nooit weer kan lug skep nie. Nadat my bundel aanvaar is vir publikasie, is produksie ook vertraag deur eksterne faktore en ’n hele jaar het daardeur verlore gegaan. Nee, ek sou nie sê ek is ’n stadige digter nie. In elk geval nie van wat ek “beginnings” noem nie.

Ja, ek is vanselfsprekend bewus van die Tweede Bundel-sindroom. Ek het baie gewonder watter finale seleksie hierdie tweede bundel moet vorm. Ek het soveel verskillende verse dat ek ook ’n heel ander bundel kon saamgestel het – een met ’n ander toonaard, ander temas. Bang is maar bang, en ek het oorgenoeg bewerasies en twyfel gehad, glo my. Maar ek het nooit gevoel dat niepublikasie ’n opsie is nie; ek het gevoel dat ek maar net ’n medereisiger is – die gedigte moet hulle paadjie loop en ek moet maar net my vrese in die gesig staar.

In die gedig "fonteinbeeld" gebruik jy die woord "rymteskip". Die hele idee van ’n "ruimteskip" is iets wat vir my vervleg is met kindertyd, onskuld, ’n droomwêreld. Ek het gewonder of jy al van kleins af dig, of wanneer jy die rymteskip die eerste maal betree het?
 
Ek was al van kleins af ’n “rymtewese”, ja! Sover ek kan onthou was ek sewe jaar oud toe my eerste gediggie gepubliseer is. Daarvoor het ek ’n poswissel vir R2 gewen en ek was tog so in my noppies, ek wou dit eerder raam as om die geld te kry. Ek wens ek kon die versie weer lees, om te sien wie ek toe was. Ek weet net dit was baie kort.

Ek wou vroeg in die bundel reeds ’n sekere gevoel van vreemdheid verklaar en die woord “rymteskip” het hierdie funksie vir my vervul. Dit suggereer op die geringste manier ’n buitestanderskap wat ek ervaar en wat ek net baie liggies wou stel. Ek dink almal is al bietjie moeg vir die geweeklaag van mense wat hulle sogenaamde “outsiderskap” soos ’n medalje dra. Elkeen is mos maar ’n outsider op sy eie manier, as ek Tolstoi se woorde mag verdraai. Ek het natuurlik ook gehou van die interteks met Opperman ... en ek verwys later in die bundel weer na “skip”.

Ek wil ook weet hoe jy aan ’n bundel skryf. Skryf jy enkele gedigte of dig jy met die oog op die groter prentjie, die bundel? Het jou lewensfilosofie en siening van spiritualiteit ’n invloed op hoe jy die skryfproses benader?

Net soos met die vuurvlieg, is die mens se lig aan sy stert vasgesweis! Hoe jy eet, hoe jy bestuur, hoe jy soggens jou oë oopmaak, dít is jou spiritualiteit. Nie al die woorde wat jy uiter wanneer jy oor godsdiens praat nie. Ek dink nie spiritualiteit is iets wat aan- of afgeskakel word na gelang van die situasie nie.

My lewensiening is ook maar ’n organiese proses – hopelik groei ek darem. My benadering tot die skryfproses word beslis hierdeur beïnvloed. Net soos die sprekende ek in my gedig “wan” op bladsy 23, vertrou ek die begin van ’n gedig bo alle dinge. Onvoorwaardelik vertrou ek dit. Nog nooit het ’n gedig my in die steek gelaat nie. Ek skryf ook nie met die groter prentjie in gedagte nie. Die afgelope dekade veral het my geleer dat die groter prentjie in ’n oogwink kan verander – dit is nie iets waaraan ek kan vashou nie. Ek skryf enkele gedigte en kyk later watter lappies by mekaar pas, watter verskombers ek wil maak.

Marlies Taljaard skryf in haar resensie van jou bundel: "Spiritualiteit is die oorkoepelende tema van die bundel - ’n spiritualiteit wat in die Zen-Boeddhisme gewortel is, maar dogma oorskry deur ’n kleurvolle hibridisering van die numineuse belewenis." Spiritualiteit is natuurlik niks vreemds in die Afrikaanse digkuns nie. Probeer jy spesifiek aansluit by en ’n bydrae lewer tot die tradisie van spirituele poësie in Afrikaans?
 
Ek is besonder dankbaar vir die sensitiwiteit en helder insig waarmee Marlies Taljaard die bundel benader het. Haar gevolgtrekkings laat my ook voel dat ek darem in ’n mate daarin geslaag het om iets oor te dra. Dit is veral vir my belangrik dat daar opgelet word ek is nie ten gunste van een dogma net maar verruil vir ’n ander nie.

Nee, ek sou dit nie klassifiseer as ’n doelbewuste poging om ’n bydrae te lewer tot spirituele poësie nie. Dit was trouens vir my dalk belangriker om te probeer sê KwaZulu-Natalse digters het regtig ’n heeltemal ander imprinting as Karoo-digters, byvoorbeeld. Maar ’n voëltjie tjirp mos maar omdat hy móét, nie omdat hy wil hê die landskap moet mooi klink nie. Alhoewel ek die bedryf respekteer en graag wil deel wees daarvan, skryf ek nie primêr vír die bedryf nie. Die vers is baas.

Ek het wel nagedink oor wat ek met my tweede bundel wil sê en vir wie ek dit wil sê. Uiteindelik het ek gevoel dat ek ’n sekere posisionering wou vestig waarvandaan ek ander gedigte later ook kan lanseer. Waar ek in my debuutbundel miskien uitgereik het na die dood en ’n sluimerende doodsbegeerte, wou ek in hierdie bundel meer begin uitreik na die lewe, met ’n konstante bewustheid van die afgrond wat my nooit verlaat nie. Ek wou dit op ’n gekonsentreerde, digverpakte wyse doen, sonder histrioniese momente.

Terwyl ons nou by die tradisie draai: Wie is die digters wat die sterkste invloed op jou werk uitoefen?

Ek dink digters oefen meer invloed op my gemoed uit as op my werk. Maar die versreël wat die grootste indruk op my gemaak het as kind, bly steeds vir my ’n inspirasie en is dikwels soos ’n mantra in my kop. Die digter is Gerard Manley Hopkins, die openingsbeeld is oorweldigend visueel – “As kingfishers catch fire and dragonflies draw flame” – en die kernreël is ’n religie op sy eie: “What I do is me, for that I came.” Tog sou ek nie verklaar dat ek soos hy probeer skryf nie. Ek doen dit nie. Hy is ook nie my gunstelingdigter nie. Ek is baie lief vir Dylan Thomas en Baudelaire se werk, maar ek probeer ook nie soos hulle skryf nie. So ook Williem Blake. Ek sou eerder sê ek wil graag foto’s neem wat lyk soos wat hulle werk klink. Veral Blake s’n.

Ek is besonder lief vir die kunstenaar Hokushai se werke en dalk wou ek in hierdie bundel gedigte plaas wat klink soos wat Hokushai vir my voel. Dit vra ’n delikate insig en meditatiewe benadering. Bibi, jou waarneming is in die kol.

Hokushai se naskrif by sy reeks One hundred views of Mount Fuji lui: “From around the age of six, I had the habit of sketching from life. I became an artist, and from fifty on began producing works that won some reputation, but nothing I did before the age of seventy was worthy of attention. At seventy-three, I began to grasp the structures of birds and beasts, insects and fish, and of the way plants grow. If I go on trying, I will surely understand them still better by the time I am eighty-six, so that by ninety I will have penetrated to their essential nature. At one hundred, I may well have a positively divine understanding of them, while at one hundred and thirty, forty, or more I will have reached the stage where every dot and every stroke I paint will be alive. May Heaven, that grants long life, give me the chance to prove that this is no lie”. In my hart voel ek die waarheid van hierdie woorde aan.

Heelwat van die verse in jou bundel gebruik fotografiese of filmiese metafore om die onderwerpe te ondersoek. Kom hierdie beelde spesifiek na jou omdat jy ook as fotograaf werk, of is hierdie beskouing van die lewe deur ’n lens kenmerkend van ons hele samelewing? Is daar ooreenkomste tussen dig en fotografie?

Al oorvleueling wat ek nog kon waarneem tussen my skryfwek en kamerawerk is die voorliefde vir dubbelsinnigheid. Ek werk byna sonder uitsondering met die aanwesigheid van ’n afwesige element, ’n element wat ek slegs suggereer. Dikwels is hierdie element een of ander vorm van onheil, maar nie altyd nie. Soms is dit ook, soos by Rumi, ’n geliefde; menslik of numineus.

Dit is waar dat die lewe toenemend deur ’n lens ervaar word. Die wêreld word visueel aangebied: vanaf flieks tot die “gaming industry” tot by sosiale netwerke en ons selfone wat oomblikke kan vasvang en dadelik op daardie netwerke plaas vir almal om te sien. In welke mate foto’s ons siening van situasies kan beïnvloed, word natuurlik geïllustreer deur die hele fotomanipulasie-debat. Roland Barthes het in sy boek Camera Lucida geskryf dat wanneer hy na ’n foto kyk, hy kan weet iets het werklik gebeur, iemand was werklik daar, voor die lens. Vandag is dit ook nie meer die waarheid nie. Foto’s het ’n ander, hiperrealiteit betree.

Ek manipuleer egter nie my foto’s nie, ek verwyder nie voorwerpe nie en ek voeg niks by nie. Ek verkies om die emosionele inhoud te “sculpt” deur dit wat ek insluit of weglaat. Sodoende prakseer ek ook maar ’n ander “waarheid” as wat daar dalk in daardie werklike oomblik bestaan het. Ook gebruik ek ’n fotografie styl wat by een tipe onderwerp pas om iets heeltemal verskillend af te neem, en sodoende skep ek ook fiktiewe oomblikke wat in daardie spesifieke konteks of emosionele betekenis nooit bestaan het nie. Werk gedigte nie ook maar so nie?

Hier en daar kom ’n gedig in sy voltooide vorm na my toe. Meermale is dit egter stringe woorde en ek moet wegkerf (verál wegkerf), gladvryf en die raampie bedink sodat net die nodige inhoud behoue bly. Dan eers aktiveer die gedig sy outonome eie werklikheid.
Ek put heerlike binneplesiere uit onbenullige feite met betrekking tot die bundel, soos byvoorbeeld dat ek op die laaste nippertjie die gedig wat die buiteblad geïnspireer het, weggelaat het. Nou is die gedig net in sy afwesigheid daar. Ek is mal daaroor.

In die uittreksel van my fotoreeks Watching shadows word dinge gesuggereer wat nie uitgespel word nie. En alhoewel sommige van die foto’s lyk asof die persoon geposeer het, is dit nie so nie, al die foto’s is spontaan “gegryp” in die oomblik. Ek bied foto’s en gedigte nie as eenhede aan of as illustrasie van mekaar nie. Ek het ook nog nie gewerk aan ’n tweegesprek tussen woord en beeld nie. In hierdie stadium hou ek die twee kunsvorme apart. Daar is wel ’n gedig in die bundel wat deur foto’s geïnspireer is: “Fraktaal” is geskryf na aanleiding van ’n voortdurende projek wat ek met ’n transgender-vriendin van my doen, waar die hele gender-kwessie deur middel van foto’s en skilderye verken word. Ek hoop dat hierdie visuele proses iewers aangebied sal kan word wanneer dit die regte tyd is.

In "liefaandadig" skryf jy "armoede is fotogenies." Dit het my laat wonder oor jou siening van die sosiale verantwoordelikheid van kunstenaars. Dink jy dat kuns (en veral digkuns) betrokke moet wees?
 
Ek dink die kunstenaar moet met verhoogde bewustheid te werk gaan, dis al. Voorskrifte en modes is omtrent soos beperkings en sensuur vir die kuns. Net soos daar nie vir die digter gesê moet word “jy mag nie”, behoort daar ook nie gesê te word “jy móét” nie.

Maar laat die kunstenaar nie blind en doof wees nie. Dit pla my dat fotograwe die mees treffende foto’s neem van gemarginaliseerde mense, eintlik die haglikheid waarin sommige gemeenskappe oorleef, verromantiseer. Dan wen hulle kompetisies met die foto’s of verkoop dit aan tydskrifte en dies meer. Ons praat nie hier van nuusfoto’s nie; ek verwys na byvoorbeeld volwasse vrouens wat kaalvoet in die stof sit met pers sari’s aan en een of ander helderkleurige spesery sif. Die fotograaf herken die treffendheid van die toneel. Is dit uitbuiting?

Ek is lief daarvoor om mense af te neem. En of ek nou met straatkinders of met vriende se kinders werk, probeer ek twee dinge vasvang, net soos wanneer ek grootmense afneem: hulle waardigheid en hulle weerloosheid. Hierdie twee dinge maak hulle ten volle mens, voel ek. As dit reg gedoen word, kan dit behoue bly in selfs die skokkendste foto. Die gedig “liefaandadig” is geskryf omdat ek myself en my motiewe ook bevraagteken; omdat ek wil seker maak. Die volledige eerste reël lui: “armoede is fotogenies en jou lens is lank”. Hiermee wou ek ook impliseer dat die fotograaf afstand behou; dis ’n bedekte beskuldiging.

Laat digters dan betrokke skryf omdat hulle daartoe gedwing word deur ’n innerlike stoompot wat wil ontplof en nie omdat dit punte wen by lesers as dit lyk of jy omgee nie. Ek lees te veel gedigte oor gemolesteerde kinders of arm mense wat die digter geskryf het in sy/haar warm studeerkamer in sy/haar omheinde huis – digters wat op papier betrokke is maar nie in realiteit nie. Sulke gedigte plaas die klem veel meer op die digter (en sy/haar ego) as op die maatskaplike vraagstuk wat aangespreek word. Dit sal ’n droewe dag wees as digters betrokke skryf omdat dit goed is vir die beeldpoetsing. En dit sal ’n droewe dag wees as selfaangestelde hekwagters of sensuurpersone vereis dat elke bundel betrokke verse moet bevat.

As die digter oë en ore het, sal die betrokke poësie wel iewers manifesteer. Ons is sosiaal verantwoordelik want ons is deel van ’n geheel. Daar is soveel onreg in die wêreld dat die temas omtrent nimmereindigend is vir hierdie verse. Verskillende temas sal neerslag vind by individuele digters. Anders is ons maar net besig met “label”-poësie, met modes.

Ek is mal oor die strofe van "In die weegskaal" waar jy skryf: "(Ek) haat die lente/ en alles wat daarmee/ allitereer". Dis een van daai reëls wat my laat wens dat ek dit self geskryf het. Hoe kom gedigte na jou toe? Begin jy by ’n beeld, of ’n reël of ’n woord? Of verskil die proses van gedig tot gedig?

Dankie vir die kompliment, Bibi. Twee maniere staan vir my uit. ’n Prentjie. En ’n frase wat draai en draai en draai. Wanneer ek byvoorbeeld musiek luister, sien ek prentjies. Party van hulle wil geskryf word. En wanneer ek iets sien (skilderye, landskappe, diere, wat ook al), hoor ek woorde. Sommige woorde wag jare om geskryf te word. Daar is ’n reël in my kop wat nou al vir tien jaar na sy gedig soek.

Jou gedig "mooi weer en warm" het aardverwarming as onderwerp, en sou waarskynlik as ekopoësie geëtiketteer kon word. Die verkenning van kritiese grense tussen ekologie en poësie is iets wat deesdae wêreldwyd al hoe meer belangrik geag word, en word al byna so algemeen soos ondersoeke van ras, klas en gender in tekste. Sien jy jou werk as ekopoësie en voel jy dit is belangrik vir digters om met ekologiese kwessies doenig te wees?

Ja, die slotvers is:

ysbere vreet aan welpiekoppe
gletsers baar pruimbloeisels en rys
die kuikens verkool in hulle doppe
larwes krul om die suiderkruis.

Dit is ’n bietjie anders as ’n pastorale gedig, waarvan ek ook al ’n hele paar geskryf het. My omgewing, my plek is vir my belangrik. Die bundeltitel bevat twee voorsetsels.

Ek was 15 jaar oud toe ek deur ’n dominee beskuldig is van panteïstiese denke. Ek het toe nie eers geweet wat dit is nie. Intussen is die terme animisme en pagan ook al aan my toegedig. Ek gee nie om nie, maar dit is tog vir my interessant dat ek dieselfde kan bly in my oortuiging, maar die etikette wat ek moet dra verander na gelang van die Zeitgeist of die individu. In 1975 het ek my maandelikse sakgeld gebruik om te behoort aan Beauty without Cruelty. Die mense in my dorp het gedink ek is mal. “Bunny hugger.” “Tree hugger.” “Hippie peace freak.” Later het dit geword: “’new Age’-dwaler.” “Afvallige.” Ek is maar agterdogtig oor die rolspelers in die groen beweging; ek dink nie almal se bedrywighede is ewe suiwer nie. Dus skaar ek my ook nie sommer by groepe wat namens my kan praat nie. Daardie verlore eerste gepubliseerde versie van my het oor ’n wurm gegaan, so dalk was dit ook ’n ekogediggie, ek weet nie! Ek skryf maar wat ek voel en in hierdie geval het ’n Tom Waits-liedjie my kop aan die gang gesit.

Ek het eers verlede week uitgevind van ekokritiek toe die literator Susan Smith daarvan melding gemaak het (ek was ongelukkig nie by die Woordfees om haar praatjie te hoor nie). Ek sal graag meer hiervan wil leer. Ek dink wel mens doen jouself ’n onguns aan as jy net in jou gemaksone skryf. Maar groen kwessies gaan nooit vir alle digters belangrik wees nie, dit is vir seker. Veral “urban” digters wat meer die ouens soos Bukowski aanhang, stel nie juis belang in die “landelike” nie. En dit is goed so. My lang relaas oor voorskrifte geld ook hier.

Daar is baie water in die gedigte, en hulle het meestal ’n stadige, meditatiewe kwaliteit. Die Engelse woord wat by my opkom is "serene". Maar onderliggend is daar ook tekens van geweld en trauma, verwysings na moord en die verwerking van dood. Dis byna asof hierdie dinge onder in ’n stil poel lê, asof ’n mens deur die water daarna kyk. Is die opskryf vir jou ook ’n terapeutiese proses?

Sereniteit is dikwels ’n masker vir melankolie. Terwyl die skeppingsdaad wel helende waarde het, beoefen ek dit nie as terapie nie. Dis beslis ’n emosionele proses, maar ek betree dit as vakman, nie as pasiënt nie. Vir my is dit ’n leefwyse, ’n manier van dink, ’n manier van wees. Vir werklike terapie doen ek ander dinge, soos om collages te maak of op retreats te gaan. Nee, terapie moet juis die verse dien, die kanale oophou, die gemoed “skoonmaak”, sodat die verse kan vloei.

Serene oomblikke is daar wel. Dis met ’n glimlag dat ek onthou hoe ek in 1991 vir Peter Snyders gesê het ek wil net nie die vrede hê wat alle verstand te bowe gaan nie, want dit klink vir my so passief. Vandag verstaan ek dat sereniteit juis die ervaring van alle emosies behels. En dat ek nog ver het om te reis voor ek daardie staat bereik!

Maar ek wou ook in hierdie bundel spesifieke eilande van stilte verken waarvandaan ek die chaos probeer navigeer.

Veral wou ek probeer weergee hoe ons as samelewing die mees abnormale goed, soos die enorme getal plaasmoorde, absorbeer en aangaan met daaglikse dinge. Ons kla, maar ons het ook ’n byna surrealistiese vlak van normaliteit wat ons handhaaf te midde van hoogs abnormale omstandighede in die land. Amper vuisvoos, amper gelate.

En soms is protes, skree en gil ’n sekere vryheid en luukse wat ’n mens doodeenvoudig nie het nie.

Oor die rol van water sou ’n mens baie kon sê, veral gesien in die lig van my liefde vir die sieninge van Carl Gustav Jung. Maar bo en behalwe dit is ek gebore en het ek grootgeword in die Natalse Middellande. Daar is baie berge en baie water. Verder speel die see ’n belangrike rol in my lewe. Die water is sommer vanself in die gedigte; ek hoef dit nier eers in te skryf nie, dit spoel sommer deur alles. Ek kan nie daarsonder nie.

In "eenmot" skryf jy: "Ek luister nie meer love songs nie." In ’n onderhoud met Louis Esterhuizen oor wat die water onthou het hy verwys na die musiek waarna hy tydens die skryf van die bundel geluister het. Het jy ook spesifieke musiek waarna jy wel luister as jy dig? Ek neem aan dis nie love songs nie.

Haha, Bibi, ek gaan jou verbaas deur te bieg dat ek wel vir ure aaneen na love songs kan luister! Ek het maar ’n woeste idealistiese streep in my. En ek kan Nick Cave en Leonard Cohen nie weerstaan nie. Ook nie Florence and the Machine nie. Om nie eers te praat van Piaf nie! Aan die einde van “eenmot” kom ek natuurlik om in ’n love song.
Maar terwyl ek skryf, ja, dan wissel dit. Sigur Ros, of Gregorian chanting. Sommer op repeat. Ook sekere viool- of tjellokonserte. Dit lyk vir my of dit meer gaan oor musiek wat “alpha thinking” induseer, sodat ek in die “zone” kan wees. Dikwels wil ek nie woorde hoor terwyl ek skryf nie, tensy dit in ’n taal is wat ek nie verstaan nie. Maar ander kere wil ek iets hards aansit, soos Rammstein of Seether, omdat die proppe moet uit. In die reël speel ek die musiek waarna ek luister, taamlik hard terwyl ek skryf. Musiek is ook maar mure wat die wêreld buite hou. Ek skryf maklik in stilte ook.

Jou gedig "skaduwees in die stoom" eindig met die woorde "en binne gaan gedigte aan". Dis vir my mooi hoe daar in daardie beeld eintlik twee beelde opgesluit is: gedigte wat aangaan, byna soos ligte, en gedigte wat aanhou, voortgaan. Is daar reeds weer vir jou gedigte wat binne aangaan? Werk jy aan ’n volgende versameling?

Ja, ek het miskien reeds genoeg verse vir ’n volgende versameling; bietjie donkerder en veel meer digbevolk. Die gedigte gaan permanent aan. Dis soos ’n radio wat altyd in die agtergrond speel, of soos die internet wat altyd in cyberspace is. Ons moet maar net in-tune.

Ek hou van jou siening dat hulle ook aangaan soos ligte; ja, miskien loop ek my lewe lank agter die een ontwykende gedig aan wat flikker soos ’n vuurtoring in die mistigheid.

Klik hier om na René Bohnen se foto-essay "Watching shadows" te kyk.

 

  • 2

Kommentaar

  • Peter! Jy is amper voltyds in my gedagtes. Ek het geen adres meer vir jou nie. Bibi, kan jy my e-pos adres vir Peter gee? Asseblief?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top