Hygliteratuur | Erotic literature

 
’n Blote woord
Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.


Erla Diedericks

Ek staan voor jou. Naak. ’n Ontblote woord. Jou oë beweeg oor my, vind my... léés my. Ek sug van verligting. En plesier.

Want nou is dit ek en jy, my Geliefde.

Ek en jy.

Kom, laat jou oë oor my gly, laat jou gedagtes gaan. Saggies, saggies voer ek jou mee. Jou fantasieë, jou donkerste drome, jou diepste verlange – dit alles kan ek laat waar word – met ’n blote woord of twee.

Vir jou gee ek betekenis. Een vir een, sorgvuldig en versigtig bied ek myself in verskillende vorme aan jou. Woord vir woord verlei ek jou. Op jou tong lê ek myself: afwagtend, ontbloot, gereed vir jou penetrerende interpretasie.

Vir jou oë alleen speel ek met myself. ’n Woordespel. Een vir een verbind ek myself, verdraai ek myself – lê  ek my aan jou voor – elke keer ’n ander keuse, vir jou om van te kies:

Voorspel
Naspel
Owerspel

Losknoop
Losskeur
Losbandig, losbandig,
Los ...

Één woord is skielik vrugbaar, volrond met betekenis. En jy, jy  wonder daaroor. Ek lok jou nader, en trek jou tussen my blaaie in, met net één woord.

Net een ...

Soen ...

Maar wáár soen ek jou? Hóé soen ek jou? Hoe lank? Vir ’n sensuele sekonde? Of vir ’n ewigheid? Soen ek jou vlindersag, vir ’n vlietende oomblik ... of is dit ’n blote aanraking wat boekdele spreek?

Is dit ’n soen wat smeek? ’n Soen nat met gesoute trane? Is dit ’n soen wat tongtastend jou lot beseël – ’n soene-voorspel totdat my woorde jou soen vir soen en een vir een aan die brand steek?

Jy soek nog ’n woord? Regtig? Wel, hier is my volgende woord, my Minnaar. Sien dit. Dink daaroor. Voel dit aan jou lyf.

Tas.

Maar voordat jy dit joune maak, rol dit eers in jou mond rond, my Minnaar. Sê dit. Ek daag jou uit.

Sê dit HARDOP. 

Tas ...

Dit ontplof op die tippie van jou tong en hang dan sissend in die lug soos ’n slang wat wil pik. Voel hoe die ssssss teen jou rug afgly. Saggies, saggies, sissend-sag ...

Dan, net vir jou, paar ek met ander woorde, vorm ek woordpare. Net vir jou, my Minnaar. Net vir jou:
Betas
Getas
Tasbaar.

So sal ek jou betas en betas. Op die tas afgaan – totdat ek dit vind – die slagaar van jou seks.

Saggies streel ek oor jou slagaar. Met ’n woord of twee. Totdat jy my smeek en smeek vir nog. Dan voer ek jou nog woorde: twee op ’n slag. En skielik is dit nie meer ’n paring nie, maar ’n bevel.

Trek uit
Wys my
Vat my.

En voordat jy kan dink, kan keer, vee ek jou twyfel uit met ’n allitererende bevel:

Doen dit.

Woord vir woord trek ek jou tussen my lyne in. Jy begin tussen my lyne te lees, waar die ink nog nat is ... Skielik is daar nie omkeer nie. O nee, my Minnaar. Nou is dit net ek en jy. Ek. Jy. En my ontblote gedagtes.

Want tussen my nat lyne is als sinvol. Hier vind jy insig. Sinne, swaar en druppend met passie. Sinne gelaai met dieper betekenis en gevaarlik vol fantasie.

Met elke woordehaal gee ons mekaar sin totdat ons saam mekaar se sinne streel en begrippe vorm soos: Bind my vas. Neem my stadig. Ontgin my. Delf in my. Knel my. Gryp my. Met my vingers kneus ek jou. Met my naels merk ek jou. Moenie my vergeet nie. Onthou my, oor en oor en oor.

En soos ons saam die golwe ry, verloor ons sin en bly net woorde oor. Woorde wat stotterend, hygend oor ons lippe kom: Vinniger. Dieper. Harder. Nou ... nou!

Woord vir woord kom ons nader aan mekaar. Kom en kom en kom.

Totdat ons sáám sin maak.

Kan jy dit voel, my Minnaar?

Is jy daar?

“Dis waansin,” fluister jy.

“Maar dis ons sin,” fluister ek terug.

Erla-Mari Diedericks is 'n oudjoernalis en rubriek-/kortverhaalskrywer, en die outeur van Sin, Sushi & Survival. Haar tweede boek, Still Standing, word volgende jaar uitgereik. Sy bied 'n aanlynkursus in kortverhale aan; om in te skryf vir die kursus, stuur 'n e-pos aan erlad@me.com of besoek haar webwerf. Sy skryf ook gereeld blogs op die Sarie-webwerf, en 'n Engelse een op die Women24-webwerf). Lees gerus haar jongste blog.

 

 

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address