’n Bespreking van die Afrikaanse poësienetwerk sedert 2000

  • 2

Netwerkontleding word in een van my ander publikasies (Senekal 2012) gedek, sowel as in ander opkomende publikasies wat verskillende toepassings van die netwerkteorie op die studie van die Afrikaanse letterkunde ontgin. Vir hierdie artikel kies ek doelbewus nie ’n akademiese formaat nie, aangesien die netwerkteorie elders breedvoerig uiteengesit word. Ek het egter ’n groot datastel versamel wat wyer besprekingsmoontlikhede verleen as wat ek binne ’n artikel kan behartig, en daarom gebruik ek hierdie forum vir ’n bespreking van die poësienetwerk in Afrikaans sedert 2000.

Let egter daarop dat dit nie hier gaan oor ’n rekenaarprogram nie: die netwerkteorie bestaan reeds bykans ’n eeu, en is in honderde studies oor verskeie dissiplines getoets, en ook in die praktyk, waar dit aangewend word om geldwassery sowel as terrorisme te ontleed. Andrew Haldane, die uitvoerende direkteur van finansiële stabiliteit by die Bank of England, het al oor die praktiese gebruike van die netwerkteorie geskryf, en David Petraeus, op daardie stadium die bevelvoerder van die multinasionale magte in Irak, het ook geskryf oor die gebruike van die netwerkteorie in militêre intelligensie. As sodanig word die netwerkteorie gesteun deur drie dinge wat min ander teorieë steun: ’n baie lang geskiedenis, interdissiplinêre toepassings, en praktiese toepassings. Vir meer besonderhede kan ek veral die volgende bronne aanbeveel: Newman (2003), Freeman (2004), Amaral en Ottino (2004), Boccaletti, Latora, Moreno, Chavez en Hwanga (2006), Barabási (2007), Scott (2012), en Prell (2012).

Vir hierdie studie is die lys van digbundels wat sedert 2000 gepubliseer is, soos saamgestel deur Marlise Joubert en beskikbaar by http://versindaba.co.za/publikasies/indeks-van-poesiepublikasies-2000-2009, ontleed. ’n Databasis in die vorm van ’n Microsoft Excel-dokument is saamgestel, waarop besonderhede rakende hierdie publikasies, sowel as hul skakels met ander rolspelers, aangedui is. Joubert was ook gaaf genoeg om skakels na resensies te plaas, maar aangesien sy geen aanspraak daarop maak dat haar lys volledig is nie, is verdere soektogte gedoen met behulp van die profiele van skrywers op www.litnet.co.za soos grotendeels saamgestel deur Erika Terblanche, én daar is verdere soektogte op Sabinet se ePublications-databasis sowel as Google gedoen om te verseker dat die datastel so omvattend moontlik is, met inagneming van resensies in koerante, tydskrifte, akademiese joernale en webblaaie. Hierdie inligting is vervolgens ook op die databasis aangedui, met ander woorde wie watter digbundel resenseer, en waar die resensie verskyn. Akademiese studies is ook met behulp van soektogte op Sabinet se ePublications-databasis sowel as Google gedoen, ten einde ook verdere studies van hierdie digters se werke op die databasis aan te teken, insluitend akademiese artikels én MA-verhandelinge en PhD-proefskrifte. Weer eens is die publikasieplatform, sowel as die skrywer van die studie, aangeteken.

Alhoewel ek nie die bewering wil maak dat hierdie datastel absoluut volledig is nie, is sover moontlik gepoog om die datastel so omvattend moontlik te maak, en hierdie datastel is vir seker meer omvattend as dié wat beskikbaar is op www.versindaba.co.za óf www.litnet.co.za, óf beide: addisionele soektogte het gereeld tot verdere ontdekkings gelei as die somtotaal van hierdie twee webblaaie.

Hierdie data is vervolgens binne Sentinel Visualizer ontleed, ’n program wat spesifiek vir die VSA se intelligensiedienste ontwikkel is.

Eerstens lyk die totale netwerk van 695 entiteite en 1826 onderlinge skakels natuurlik uiters kompleks:

Figuur 1. Die Afrikaanse poësienetwerk van 2000-2013

Hier is ’n inkrementele uitleg gebruik wat soortgelyk is aan ’n kraggebaseerde uitleg omdat dit die onderlinge kragte binne die netwerk voorstel, maar die inkrementele uitleg is beter geskik om groeperinge uit te lig. Let egter daarop dat die inkrementele uitleg gebaseer is op ’n algoritme wat entiteite outomaties posisioneer: dit is dus die uitleg van die rekenaarprogrammatuur, nie ’n uitleg wat ek met die hand gedoen het nie. Hierdie feit is belangrik in die bespreking wat volg, omdat dit beteken dat begrippe soos sentraliteit en marginaliteit gebaseer is op ’n wiskundige algoritme en nie my eie (voor)oordeel nie.

So ’n uitbeelding laat ’n mens natuurlik nie toe om die besonderhede van individuele entiteite (ook genoem nodusse of akteurs) te sien nie (behalwe natuurlik op ’n groot skerm). Om hierdie hindernis te oorkom, kan dele óf vergroot word, óf soorte entiteite (byvoorbeeld individuele digbundels) kan uit die sosiogram verwyder word, of entiteite kan onttrek word na ’n nuwe sosiogram.

Eerstens kan die sentrum vergroot word:

Figuur 2. Die sentrum van die poësienetwerk

Natuurlik veroorsaak die digtheid van skakels dat individuele nodusse steeds nie onderskei kan word nie, en groot netwerke soos hierdie kan beter benader word met behulp van wiskundige berekenings as met sosiogramme, omdat die aantal entiteite en skakels ’n sosiogram onleesbaar maak.

Binne die programmatuur is ’n aantal formules ingebed wat graadsentraliteit, nabyheidsentraliteit, tussenliggingsentraliteit, Eigenvektorsentraliteit en spilwaarde meet, soos hier onder geïllustreer (sien Senekal 2012 en Prell 2012 vir ’n bespreking van die teorie en ook vorme van sentraliteit). Uit die digte verbindings in hierdie sentrum kan egter ’n voorlopige opmerking gemaak word: die sentrum dui op baie hegte verbintenisse in die Afrikaanse poësie, en moontlik beteken dit dat dieselfde kritici dieselfde bundels resenseer. Of dit wel die geval is, word later bespreek.

Wanneer met die totale netwerk gewerk word, het netwerkontleding die voordeel dat dit alle verhoudinge binne die netwerk in ag kan neem, wat belangrik is, aangesien die literêre prestige wat byvoorbeeld Tafelberg op ’n nuwe digter oordra, verkry is deur daardie uitgewer se publikasielys. Ook is dit belangrik wié ’n digbundel resenseer, aangesien sommige kritici en letterkundiges meer gesaghebbend is as ander, en daardie gesag is verwerf op grond van vorige resensies en akademiese studies. Daardie gesag word dan oorgedra op ’n nuwe digter in ’n resensie: as Bernard Odendaal of Joan Hambidge ’n resensie oor ’n debuutbundel skryf, beteken dit uiteraard meer as wanneer ek so ’n resensie skryf. Wanneer die verhouding tussen resensies en digters dus bestudeer word, moet vorige resensies en akademiese studies dus ook in ag geneem word, en dit kan slegs met netwerkontleding uitgevoer word.

In die volgende tabel is entiteite gerangskik op grond van graadsentraliteit, wat ’n aanduider is van entiteite se aktiwiteit binne ’n netwerk: hoe hoër die graadsentraliteit, hoe meer aktief. In hierdie netwerk beteken hoë graadsentraliteit van ’n kritikus dat hy meer resensies en studies publiseer, terwyl hoë graadsentraliteit by ’n digter beteken dat hy meer digbundels publiseer as ander. Vir uitgewers beteken dit dat hulle óók meer digbundels uitgee, en vir bundels self beteken dit dat hierdie bundels die meeste geresenseer en bestudeer word. Bernard Odendaal is dus die aktiefste binne hierdie netwerk (as kritikus):

Figuur 3. Graadsentraliteit in die poësienetwerk

Die vernaamste voordele wat so ’n wiskundige berekening het, is eerstens dat alle verbintenisse in ag geneem kan word, maar ook dat entiteite se rolle wetenskaplik bepaal kan word. Wanneer die programmatuur bereken dat Bernard Odendaal byvoorbeeld die grootste tussenliggingsentraliteit binne hierdie netwerk het, wat beteken dat hy die potensiaal het om die meeste invloed uit te oefen en in die grootste mate ’n hekwagter genoem kan word, speel my persoonlike mening geen rol nie.

Bernard Odendaal se posisie binne die netwerk is in die volgende sosiogram omkring:

Figuur 4. Bernard Odendaal binne die Afrikaanse poësienetwerk

In hierdie datastel is ’n onderskeid getref tussen kritici en digters: Bernard Odendaal, Joan Hambidge, Marius Crous en Heilna du Plooy kom dus byvoorbeeld voor as beide digters en kritici.

In die volgende sosiogram is Joan Hambidge as digter omkring:

Figuur 5. Joan Hambidge se posisie in die poësienetwerk, as digter

In die volgende sosiogram is Hambidge as kritikus omkring:

Figuur 6. Joan Hambidge se posisie in die poësienetwerk, as kritikus

 

Dit is dus duidelik dat Joan Hambidge tot die sentrum van die Afrikaanse poësienetwerk behoort, beide as digter en as kritikus, maar effens meer as laasgenoemde, waar sy langs Odendaal in die netwerk geposisioneer is.

’n Interessante vraag is waar Bernard Odendaal en Joan Hambidge se resensies en studies oorvleuel: resenseer hulle dieselfde werke? In die volgende sosiogram is hulle eerstegraadskakels vir ontledingsdoeleindes onttrek:

Figuur 7. Odendaal en Hambidge se oorvleueling

Hier kan duidelik gesien word dat hulle ’n groot aantal van dieselfde werke resenseer.

Dit geld vir Marius Crous (as kritikus), wat eerstens as kritikus met die derde hoogste graadsentraliteit in die volgende posisie geposisioneer is:

Figuur 8. Marius Crous binne die poësienetwerk

Sy publikasies oorvleuel ook sterk met Hambidge, Odendaal en beide (beide is deur die rooi sirkel aangedui):

Figuur 9. Marius Crous se oorvleueling met Joan Hambidge en Bernard Odendaal

Hier is interessantheidshalwe die bundels ten opsigte waarvan hierdie drie kritici oorvleuel:

Figuur 10. Oorvleueling tussen Hambidge, Odendaal en Crous

Individuele bundels se posisies binne die netwerk kan ook nagespeur word. So toon die berekening van graadsentraliteit aan dat Kleur kom nooit alleen nie die hoogste graadsentraliteit het, wat beteken dat hierdie bundel die meeste geresenseer en bestudeer is.

Die bundel se posisie binne die netwerk is in die volgende sosiogram omkring:

Figuur 11. Kleur kom nooit alleen nie binne die poësienetwerk

Hierdie bundel se eerstegraadskakels is die volgende:

Figuur 12. Kleur kom nooit alleen nie se eerstegraadskakels

In hierdie geval beteken die eerstegraadskakels dat hierdie bundel deur hierdie letterkundiges of kritici bestudeer en geresenseer is. Let egter op wié hier voorkom: uit bostaande tabel kan gesien word dat baie van die kritici wat die hoogste graadsentraliteit het, byvoorbeeld Heilna du Plooy, Andries Visagie, Marthinus Beukes, Marlies Taljard, Bernard Odendaal, Louise Viljoen en Fanie Olivier, ook aandag aan hierdie bundel skenk. Dit is hierdeur dat hierdie bundel binne die sentrum geposisioneer word.

Wat daartoe bydra dat bundels, digters en resensente tot die sentrum behoort, kan eintlik beter verduidelik word aan die hand van die periferie. Die periferie leen homself tot ’n beter grafiese uitbeelding, aangesien die verbindings nie so heg is nie, en hieruit kan verdere afleidings gemaak word oor die funksionering van die netwerk. Eerstens kan die groepering heel bo in die netwerk vergroot word:

Figuur 13. Groepering rondom FAB-Uitgewers, Floris A Brown en Triggertree

Interessant is dat die programmatuur dus glo dat FAB-Uitgewers en Floris A Brown periferale rolspelers binne die Afrikaanse poësie is, ten spyte daarvan dat Floris A Brown volgens die graadsentraliteitsberekening die hoogste graadsentraliteit van al die digters het, wat beteken dat hy die meeste digbundels gepubliseer het.

As  totale aantal digbundels nie ’n posisie binne die sentrum waarborg nie, wat lei dan daartoe dat ’n digter die sentrum betree? ’n Verdere ontleding van beide se tweedegraadskakels (die onmiddellike skakels van die onmiddellike skakels van hierdie nodusse), nadat die entiteite in die groepering vir ontledingsdoeleindes onttrek is, verskaf ’n idee waarom dit die geval is:

Figuur 14. Die groepering rondom Floris A Brown

Brown se enigste skakels met die res van die netwerk is deur Michael le Cordeur se verbinding met www.litnet.co.za en Melvin Whitebooi se verbinding met Die Burger. In praktiese terme beteken dit dat Floris A Brown min geresenseer word, en ook nie deur die resensente wat tot die sentrum van die netwerk behoort nie. FAB-Uitgewers het ook nie ander digters op hul uitgewerslys wat tot die sentrum van hierdie netwerk behoort nie, en reeds op hierdie stadium wil dit voorkom of die sisteem- en veldteorie se bewering dat digters by spesifieke uitgewers moet publiseer en deur spesifieke resensente geresenseer moet word, deur die sosiogram uitgewys word. Senekal (1987:177-8) skryf byvoorbeeld: “’n Boek wat nie geresenseer word nie, en nie deur een van die erkende, gekeurde, resensente geresenseer word nie, kan moeilik as letterkunde beskou word, of in letterkundegeskiedenisse opgeneem word.”

Maar een voorbeeld is moontlik te min om nou al afleidings te maak, en daarom is die groepering links in die middel van die sosiogram vergroot:

Figuur 15. Groepering rondom selfpublikasies

Hier het ’n groepering gevorm rondom selfpublikasies, wat ondersteuning bied vir die bewering dat dit ook van waarde is wáár ’n digbundel verskyn. Maar hierdie groepering is nader aan die sentrum as Brown se groepering, en die vraag is natuurlik: Waarom? Weer eens is die entiteite binne hierdie groepering vir ontledingsdoeleindes onttrek:

Figuur 16. Groepering rondom selfpublikasies

Hier kan gesien word dat ook resensente soos Bernard Odendaal, Lucas Malan en Louis Esterhuizen betrokke is by die resensering van selfpublikasies, en dit is dan juis die gesag wat sulke resensente het wat hierdie bundels nader aan die sentrum trek as wat die geval was met Brown.

Musieklirieke word gewoonlik gesien as ’n periferale genre in die Afrikaanse poësie, en wanneer die resensie-/studiekonteks van Jak de Priester, Fokofpolisiekar, Anton Goosen en Valiant Swart se digbundels in die konteks van die hele netwerk ondersoek word, is dit duidelik dat die programmatuur tot dieselfde gevolgtrekking kom.

In die volgende sosiogram is hierdie kunstenaars se posisies omkring:

Figuur 17. Musieklirieke

Jak de Priester is links, Valiant Swart bo, Fokofpolisiekar regs, en Anton Goosen onder.

Waarom is Anton Goosen en Valiant Swart effens nader aan die sentrum as Fokofpolisiekar en Jak de Priester? ’n Netwerkontleding van hulle eerstegraadskakels (resensieskrywers en uitgewers) werp meer lig hierop:

Figuur 18. Tweedegraadskakels van Jak de Priester, Fokofpolisiekar, Anton Goosen en Valiant Swart

Hier kan gesien word dat Fokofpolisiekar hul bundel by The President uitgegee het, ’n uitgewer wat geen verdere skakels binne hierdie netwerk het nie. Jak de Priester het sy bundel self uitgegee, terwyl Valiant Swart s’n by Lapa en Anton Goosen s’n by Protea verskyn het – twee uitgewers wat ’n deurslaggewende rol binne hierdie netwerk speel (sien die tabel hier bo). Maar let ook op wié hierdie bundels geresenseer het: Anton Goosen word deur Lucas Malan geresenseer, terwyl Valiant Swart deur Andries Bezuidenhout, Joan Hambidge en Elbie Adendorff geresenseer word. Veral Hambidge is ’n sleutelfiguur in hierdie netwerk (soos blyk uit bostaande tabel en sosiogram), en daarom beteken die feit dat sy Swart se bundel resenseer dat hy onmiddellik nader aan die sentrum beweeg. Hierteenoor het Klopper geen ander resensies bygedra tot hierdie netwerk nie, en Jak de Priester is ook nie geresenseer deur die resensente wat die meerderheid resensies tot hierdie netwerk bygedra het nie.

Vergelyk byvoorbeeld ook die eerstegraadskakels van Fokofpolisiekar se Woorde en ’n ander debuutpublikasie, Bernard Odendaal se Onbedoelde land:

Figuur 19. Onbedoelde land en Woorde se eerstegraadskakels

Odendaal se bundel verskyn by een van die mees gerekende uitgewers in Afrikaans, Tafelberg, en word boonop geresenseer deur Lina Spies, Joan Hambidge, Heilna du Plooy, Daniel Hugo, Henning Pieterse en TT Cloete – almal belangrike resensente van die Afrikaanse poësie, soos blyk uit bostaande tabel.

Odendaal se Onbedoelde land se posisie in die netwerk is op die volgende sosiogram omkring:

Figuur 20. Onbedoelde land binne die poësienetwerk

Duidelik is hierdie bundel heelwat nader aan die sentrum as die musikante se werke, wat ’n goeie argument daarstel vir die geldigheid van die polisisteem- en veldteorie: uitgewer verskyn het, en deur die "regte" kritici geresenseer is, en veral dat beide die geval was, trek dié bundel nader aan die kern.

Twee ander digdebute se posisies is moontlik ook interessant: Heilna du Plooy se In die landskap ingelyf en Hennie van Coller se Soom:

Figuur 21. In die landskap ingelyf binne die poësienetwerk

Figuur 22. Soom binne die poësienetwerk

Soos duidelik uit hierdie drie sosiogramme gesien kan word, is Soom verder van die kern as Onbedoelde land en In die landskap ingelyf. ’n Onttrekking van hierdie nodusse met hul eerstegraadskakels aangedui, wys waarom:

Figuur 23. Onbedoelde land, In die landskap ingelyf en Soom se eerstegraadskakels

Wat duidelik uit hierdie drie bundels se publikasie- en resensiekontekste gesien kan word, is dat die posisionering binne die sentrum nie uitsluitlik op kwantitatiewe gronde berus nie: Soom is deur ses kritici geresenseer, terwyl In die landskap ingelyf deur slegs drie geresenseer is. Tog is In die landskap ingelyf die bundel wat die diepste binne die sentrum staan van hierdie drie bundels. Wat is die verskil? In die landskap ingelyf verskyn by Protea, wat as uitgewer sowel die hoogste graadsentraliteit as die hoogste tussenliggingsentraliteit binne hierdie netwerk het. Terselfdertyd is dié bundel geresenseer deur Bernard Odendaal, wat óók beide die hoogste graadsentraliteit en die hoogste tussenliggingsentraliteit binne hierdie netwerk het (as kritikus).

Dit is dus duidelik dat kwantiteit nie die deurslaggewende faktor is vir posisionering binne die kern nie: dit gaan oor wié’n bundel resenseer, en wáár daardie bundel verskyn het.

Vertalings word gewoonlik gesien as marginaal binne ’n literêre netwerk. Is dit ook die geval in hierdie netwerk? WJ Henderson het in hierdie datastel drie bundels Griekse poësie uitgegee: Op Griekse lier (2004, Protea), Vir Griekse fluite (2009, Protea) en Die berispende stem (2011, Universiteit van Johannesburg). Hierdie bundels se posisie is op die volgende sosiogram omkring:

Figuur 24. WJ Henderson se bundels

Kyk ’n mens na die tweedegraadskakels van Henderson, is dit duidelik waarom Henderson en sy bundels op die periferie verkeer:

Figuur 25. Henderson se tweedegraadskakels
 

Die resensente wat tot die sentrum van die netwerk behoort, is duidelik afwesig. Let ook op wáár hierdie resensies verskyn:

Figuur 26. Henderson se publikasieplatforms

Terwyl Die Burger, Volksblad en Tydskrif vir Letterkunde in die tabel hier bo uitgewys is as belangrike publikasieplatforms waar resensies oor bundels verskyn, is Acta Classica, Mnemosyne en Akroterion onbekend binne die Afrikaanse poësienetwerk. Trouens, die publikasieplatforms met die hoogste graadsentraliteit, soos uitgewys in die tabel hier bo, is almal geposisioneer binne die sentrum van die netwerk, wat ook suggereer dat dit belangrik is waar ’n bundel geresenseer word. Maar: alhoewel Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) as ISI-gelyste joernaal vir sommiges binne die akademie meer gesaghebbend is as byvoorbeeld Literator, is TGW op die rand van hierdie netwerk, terwyl Literator in die sentrum verkeer:

Figuur 27. TGW en Literator binne die poësienetwerk

Vergelyk ’n mens hierdie twee joernale se eerstegraadskakels, is dit duidelik waarom Literator binne die sentrum verkeer en TGW op die periferie:

Figuur 28. TGW en Literator se eerstegraadskakels

Uit hierdie sosiogram is dit duidelik dat Literator aansienlik meer aktief is binne hierdie netwerk; en let ook op watter kritici met Literator verbind word: Louise Viljoen, TT Cloete, Marlies Taljard, Marius Crous, Fanie Olivier, Marthinus Beukes, Bernard Odendaal, Heilna du Plooy, Phil van Schalkwyk en Johann Lodewyk Marais publiseer almal in Literator oor die Afrikaanse poësie (onthou egter dat dit studies sowel as resensies insluit, en dat die datastel slegs publikasies insluit wat oor bundels handel wat sedert 2000 verskyn het). Hierdie is almal akteurs wat baie aktief is binne die netwerk, en self tot die sentrum behoort. Hieruit kan afgelei word dat die prestige wat tot hierdie kritici/literatore behoort, ook op die publikasieplatform oorgedra word, en die feit dat Literator nie alleen baie oor die Afrikaanse poësie publiseer nie, maar boonop dat die skrywers van resensies en artikels wat in Literator gepubliseer word, literatore en kritici is wat besondere gewig binne hierdie netwerk dra.

’n Logiese opvolgvraag is dan waar Stilet lê:

Figuur 29. Stilet binne die poësienetwerk

En waar lê LitNet Akademies?

Figuur 30. LitNet Akademies se posisie binne die poësienetwerk

LitNet Akademies lê dus net buite die kern, maar www.litnet.co.za, is binne die sentrum:

Figuur 31. www.litnet.co.za binne die poësienetwerk

Let ook daarop dat www.litnet.co.za die publikasieplatform is met die hoogste graadsentraliteit, met ander woorde dit is die plek waar die meeste resensies en onderhoude verskyn, meer as in byvoorbeeld Volksblad of Rapport. Hierdie sentraliteit kan ook waargeneem word deur die sterstruktuur wat rondom www.litnet.co.za vorm:

Figuur 32. Die sterstruktuur rondom www.litnet.co.za

Alhoewel www.versindaba.co.za ’n laer graadsentraliteit as www.litnet.co.za het, lê dit nog dieper in die sentrum:

Figuur 33. www.versindaba.co.za binne die poësienetwerk

In die volgende sosiogram is hierdie twee rolspelers vir ontledingsdoeleindes onttrek, en hul eerstegraadskakels aangedui, met ander woorde watter kritici by www.litnet.co.za en www.versindaba.co.za publiseer:

Figuur 34. www.litnet.co.za en www.versindaba.co.za se outeurs

’n Ander vraag wat by ’n mens opkom, is hoe die publikasieplatform en digbundel die prestige van literatore/kritici beïnvloed. Kyk byvoorbeeld na die posisie van Jacomien van Niekerk:

Figuur 35. Jacomien van Niekerk binne die poësienetwerk

As jong akademikus lê sy op die rand van die sentrum. Met ’n graadsentraliteit van 8, teenoor Bernard Odendaal se 103, is dit moontlik verrassend dat sy so betreklik na aan die sentrum is (as jong akademikus het sy sekerlik nog nie die geleentheid gehad om ’n vergelykbare publikasierekord op te bou nie). Maar onttrek ’n mens haar eerstegraadskakels, word die patroon bevestig:

Figuur 36. Eerstegraadskakels van Jacomien van Niekerk

Nie alleen het sy in Literator en Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer nie, maar let ook daarop dat sy oor Verweerskrif gepubliseer het – die bundel met die tweede hoogste graadsentraliteit, wat beteken dat hierdie die bundel is wat die tweede meeste geresenseer en bestudeer is, naas Kleur kom nooit alleen nie. Hieruit kan afgelei word dat dit ook nie alleen gaan oor hoeveel ’n kritikus publiseer nie, maar ook waar en oor wie.

Slot

Sonder netwerkontleding is die sisteemteorie ’n kapstok waaraan ’n bespreking gehang word, sonder die moontlikheid om die invloed van verhoudinge binne die sisteem te bewys. Netwerkteorie laat ’n ontleder egter toe om te kwantifiseer en op objektiewe wyse aan te toon hoe interaksies tussen rolspelers hul posisies binne die netwerk beïnvloed. In hierdie artikel is aangetoon hoe wie ’n bundel resenseer, en waar, ’n bundel en skrywer se posisie binne die netwerk bepaal, maar ook dat oor wie en waar resensies en studies verskyn ’n kritikus of letterkundige se rol binne die netwerk bepaal.

Netwerkteorie bewys dus die sisteemteorie, maar juis daarin doen die netwerkteorie iets wat die sisteemteorie self nooit kon doen nie: sy eie beginsels bewys.

Hierdie benadering is sekerlik kontroversieel, maar ek sal verras wees as enigeen van hierdie ontleding sou verskil dat Antjie Krog en Joan Hambidge tot die sentrum van die netwerk moet behoort, terwyl Fokofpolisiekar en Floris A Brown tot die rand behoort. In dieselfde sin behoort dit nie kontroversieel te wees dat Protea en Tafelberg tot die sentrum van die netwerk behoort nie, terwyl selfpublikasies en ’n uitgewer soos The President tot die rand behoort.

Die belangrike punt hier is dat die posisies wat digters, digbundels, kritici, uitgewers en publikasieplatforms in hierdie netwerk inneem, nie deur die ontleder bepaal word nie, maar deur algoritmes wat binne die programmatuur ingebed is. ’n Mens sou die algoritmes kon bevraagteken, maar afgesien van die feit dat die netwerkteorie stewig gevestig is, bewys dit in elk geval sy eie geldigheid deur digters binne die sentrum te plaas wat gewoonlik as sentraal gereken word, en digters in die rand te plaas wat ook so gereken word.

Ek moet wel bieg dat ek in een opsig nie objektief is nie: wanneer ek voorbeelde uit die netwerk kies, kies ek mense wat ek by kongresse leer ken het, en my keuse is min of meer lukraak – enige ander digter of letterkundige kon in ’n bespreking uitgelig gewees het. Maar wanneer dit gaan oor die rolle wat akteurs binne die netwerk inneem, is dit nie vir my moontlik om die ontleding te manipuleer nie.

Netwerkontledings soos hierdie kan ’n belangrike stap wees daartoe dat die bestudering van die literêre sisteem meer wetenskaplik gedoen word. Maar dit het ook breër implikasies: word ’n kongres gereël oor marginaliteit in die poësie, hoe word die digters gekies wat as marginaal bestempel word? Word ’n samestelling van Afrikaanse poësie gepubliseer, of ’n boek soos Perspektief en profiel, hoe word besluit watter digters ingesluit word en watter nie? Word ’n spesiale uitgawe van ’n joernaal oor die Afrikaanse poësie beplan, wie behoort die redakteur te wees? Die netwerkteorie verskaf ’n wetenskaplike basis om sulke besluite te neem.

Bibliografie

Amaral, LAN en JM Ottino. 2004. Complex networks. Augmenting the framework for the study of complex systems. European Physical Journal, 38:147–62.

Barabási, Albert-László. 2007. The Architecture of Complexity. From Network Structure to Human Dynamics. IEEE Control Systems Magazine, 27(4):33-42.

Boccaletti, S, V Latora, Y Moreno, M Chavez en D-U Hwanga. 2006. Complex networks: Structure and dynamics. Physics Reports, 424:175–308.

Freeman, Linton C. 2004. The development of Social Network Analysis. A study in the sociology of science. Vancouver: Empirical Press.

Newman, MEJ. 2003. The Structure and Function of Complex Networks. SIAM Review 45(2):167–256.

Prell, Christina. 2012. Social Network Analysis. History, theory and methodology. London: Sage.

Scott, John. 2012. What is Social Network Analysis? London: Bloomsbury Academic.

Senekal, JH. 1987. Literatuuropvattings: 'wese' en 'waarhede' van 'n nuwe literêre teorie. Bloemfontein: Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Senekal, Burgert A. 2012. Die Afrikaanse literêre sisteem: ? Eksperimentele benadering met behulp van Sosiale-netwerk-analise (SNA). LitNet Akademies 9(3):614-638.

 

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • ‘n Uitstekende en lofwaardige poging om waarde toe te voeg tot evaluasie van waardering van Afrikaanse poësie.  Dit kom neer op ‘n kwantitatiewe, objektiewe ontleding van lesers en kritici se (subjektiewe)  reaksies op (onlangs) gepubliseerde digwerk.  Ek wonder of verkoopsyfers van bundels nie ook by die sisteem betrek kan word nie, alhoewel ek vermoed dat daar min impak op die resultaat sal wees.  Ek dink as uitgewers hierdie model sou gebruik om beslissings oor publikasie te maak, daar ‘n neiging sal wees om die status quo te bevestig.   Die navorsing is uiters kreatief, maar ek dink dat dit nie kreatiwiteit en vernuwing in die poësie as sodanig sal bevorder nie - wat kennelik nie die doel van die navorsing was nie.  Eerder “More of the same by the same”.  

  • Die voorgestelde toepassing van hierdie hele oefening in die slotparagraaf is natuurlik totaal misplaas. Besluite soos wie 'n redakteur/ keurder moet wees of wie opgeneem word in 'n versameling, berus (en behoort te berus) suiwer op bewese ervaring en kwaliteit van literêre werke, nie op die posisie van 'n persoon in 'n sosiale netwrk nie. Mens kan in elk geval meeste van die gevolgtrekkings van hierdie studie maak deur eenvoudige 'google' soeke van persone en te kyk watter trefslae jy kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top