Dagsê Jan Rap
Jy dink nie dis straks bietjie voorbarig om namens my te besluit hoekom ek optree en dink soos ek doen nie en dan sommer van Damaskus-oomblikke te praat nie? Jy is geregtig op jou eie opinie maar beslis nie geregtig om jou eie feite oor my beweegredes te konstrueer nie.
Volgens jou is ’n definisie van ’n Afrikaner onnodig omdat enige persoon wat na homself as ’n Afrikaner verwys, ’n Afrikaner is. Dit klink na ’n rein en nobel voorstel totdat jy jou volgende sin begin met “Hy sal dan logieserwys doen wat Afrikaners doen ...”. Op daardie oomblik begin jy met jou definisie van die Afrikaner – een wat logieserwys alles doen wat jy doen.
Die indruk wat ek kry is dat jy eintlik maar ’n rassekonnotasie aan die woord Afrikaner wil heg en meen dat die rasverdelings van die verlede voortgesit moet word. Doen jy nie maar lustig mee aan die ANC se rasbenepenheid met jou aandrang dat wit, bruin en swart Afrikaanssprekende as drie duidelik verskillende groepe gesien moet word nie? Soos ek gesê het soek ek na ’n soepel naam vir die Afrikaanse taalgemeenskap. Afrikaanse of Afrikaanssprekende is vir my lomp name en val die woord Afrikaner lekker op die tong. Ek besef dat dit dalk ’n idealistiese benadering is. Mense soos jy beskou die naam as die eksklusiewe eiendom van die blankes wat weer die effek het dat dat nie-blankes nie aan die idee wil byt nie. Deur egter voort te gaan om ons obsessie van die verlede oor ras voort te sit, sterk ons eenvoudig die ANC in hulle diepgewortelde rasbeheptheid en verskaf geil teelaarde vir die huidige beleid van regstellende aksie.
My gevoel van vryheid na 1994 het te make met my belewenis as individu. Ek noem slegs vyf voorbeelde. Eerstens, ek reis graag en ons Afrika-reis van 2010 byvoorbeeld, sou gewoon onmoontlik gewees het voor 1994. Daar is natuurlik nog vele ander bestemmings soos Skandinawië wat ek skielik na 1994 ongehinderd kon besoek. Tweedens, kan ek nou lees en doen wat ek wil. In die sewentigerjare het ek en my vrou as pas gegradueerdes in die geheim André P. Brink se Kennis van die Aand gelees. Soos misdadigers moes ons die boek smokkel van plek tot plek omdat “iemand” namens my besluit het ek nie die boek mag lees nie – 1994 het my vrygemaak hiervan. Derdens, gedurende die tagtigerjare het ek ’n bestuurspos by ’n industriële groep beklee. In daardie tyd was ek voorsitter van die Rapportryers in die dorp en wou ek die plaaslike verteenwoordiger van die Wêreld Raad van Kerke uitnooi om ons te kom toespreek. My sekretaresse het die uitnodiging getik en in die proses ’n paar mislukte probeerslae in die snippermandjie gegooi. Ek is een middag deur die veiligheidspersoneel voorgekeer en ondervra oor my bande met die WRK – niemand gaan nou meer deur my snippermandjie nie! Vierdens voel ek skaam as ek lees hoe die vryhede van mede-Afrikaners soos Max du Preez en André Brink aangetas is. In die laaste plek is ek baie lief vir sport en het ons internasionale deelname aan sport sedert 1994 vir my wonderlike vryheid gebring.
Natuurlik is die nuwe Suid-Afrika vol probleme en is die onbekwaamheid en vergrype van die ANC afgryslik maar daar is werklik baie om voor dankbaar te wees. Soos ek al vantevore vir jou gesê het, sien ons dieselfde situasie bloot uit twee perspektiewe – vir jou is die Suid-Afrikaanse glas halfleeg terwyl dit vir my halfvol is.
Groetnis
Thomas