Midnight’s Children: Meesleurend, epies, wonderbaarlik

  • 0

Midnight’s Children

Regisseur: Deepa Mehta

Spelers: Satya Bhabha, Siddharth, Shahana Goswami, Rajat Kapoor


 

Midnight’s Children is ’n meesleurende, epiese, wonderbaarlike, kleurryke, beeldskone, oordadige, groothartige film – “there is a generosity of story,” soos my fliekgenoot gesê het.

Vir dié wat nie Salman Rushdie se Booker-pryswenner gelees het nie (soos ek) is die goeie nuus dat Rushdie self die draaiboek geskryf het. In enige ander skrywer se hande sou die fliek moontlik ’n misoes gewees het, want dit lyk na ’n besonder moeilike boek om te verfilm. Dit betrek ’n hele paar families, daar is ’n groot aantal karakters, daar is konflik tussen drie belangrike godsdienste (Moslem, Hindoe, Christen) en dit strek oor etlike dekades, drie oorloë en drie landsgrense en verskeie bewindhebbers.

Die storie in kort: om middernag op 15 Augustus 1947, die dag van Indië se onafhanklikwording van Brittanje, word twee seuns in dieselfde hospitaal gebore. Hulle word omgeruil: die arme beland in die ryke se huis en andersom. Al die kinders gebore op hierdie “auspicious day” het towerkragte, met Saleem (Satya Bhabha) en Shiva (Siddharth) s’n die sterkste. Tussen hulle ontstaan die stryd tussen goed en kwaad wat simbolies alles oorspan.

Kinematografies is dit een van die mooiste flieks wat ek al gesien het – ’n sterk punt van regisseur Deepa Mehta (vergelyk haar trilogie Earth, Fire en Water). Die fliek se 146 minute raak wel lank, maar dis tog verstaanbaar as jy na die veelvlakkige storie kyk. Hierdie skouspelagtige film, ryk aan simboliese betekenis, word aanbeveel vir ernstige fliekvlooie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top