SêNet-briewe | Letters

 
Michael Ruse, neutrinos en die ouderdom van die aarde

De Klerk se respons op my skrywe toon al die kenmerke van kreasionistiese en fundamentalistiese denke: die dwars ontkenning van bewese en verifieerbare feite wat nie met hul eiesoortige werklikheidsbeeld strook nie; die byhaal van irrelevante “argumente” wat meestal berus op selfopgemaakte “feite” en/of ’n totale onkunde van die onderwerp onder bespreking; die subtiele of soms minder subtiele verwringing van stellings en die daaropvolgende gebruik van hierdie verwronge stellings ter ondersteuning van hul drogredenasies en laastens die aandoenlike geloof dat al bogenoemde truuks die feitelike basis van die bose, goddelose en leuenagtige evolusieteorie weerlê – trouens, nie net evolusie nie maar ook die ganse korpus van die hedendaagse natuurwetenskappe.

Voordat ek vlugtig kyk na De Klerk se antwoord, net eers een opmerking: ek word verkwalik omdat “... [dit] blyk dat u slegs met enkele aspekte wat deur my uitgewys is, handel en die ander (geriefshalwe?) ignoreer asof ek dit nie geskrywe het, nie.”

Data oor hierdie aspekte is wyd bekend en maklik beskikbaar, enigeen wat belang stel kan dit sonder veel moeite bekom. Om dit selfs kortliks te bespreek sal meer tyd benodig as wat ek tot my beskikking het en ook enige brief te lank laat word. Die bedoeling met my vorige skrywe was nie om die nou reeds oorbekende feite oor evolusie te bespreek of om daaroor met De Klerk in gesprek te tree nie maar om slegs twee aspekte van De Klerk se wanvoorstellings aan te spreek: die sogenaamde fluktuasies in die tempo van radio-aktiewe verval en Michael Ruse se gewaande beskouing van evolusie as sogenaamde religie.

Kom ons kyk nou in meer detail na De Klerk se kommentaar: “Hoewel die jong aarde kreasioniste se deurdringende ondersoek en ontbloting van die darwinistiese evolusieleuen...” Dit klink asof De Klerk gebruik maak van Pieter Pelser se boeke, aangesien “deurdringende” en “indringende” sogenaamde “kritiek” van die evolusieteorie sommige van Pelser se geliefkoosde woorde is.

Ek sal De Klerk se fantasievlugte oor sogenaamde vorige lewe op aarde maar daar laat.

De Klerk: “Ons kyk nou weer na die Purdue universiteit se navorsing omtrent die invloede wat die konsekwentheid van radioaktiewe verval beïnvloed. Die gebruiklike persoonlike aanvalle op die integriteit van die betrokke kenners is natuurlik weer in u beredenering te vinde, asof dit enige effek sou hê op die feite van hulle bevindinge.”

Bogenoemde is ’n uitstekende voorbeeld hoe kreasioniste iemand se stellings subtiel verwring in ’n poging om die werklike argument te systap. Om iemand se integriteit in twyfel te trek is geheel en al ander iets anders as om iemand se professionele vermoëns te bevraagteken. Ek is seker dat Fischbach en sy trawante eerlik was en geensins bedoel het om doelbewus oneerlik te wees nie. Wat ek wel gedoen het was om hul data te betwyfel omdat ek baie beslis voorbehoude het oor die wyse waarop hulle eksperimente uitgevoer is. Oftewel, ek dink doodeenvoudig dat hulle ten minste in hierdie geval nie soos goeie wetenskaplikes opgetree het nie. Daar is ’n hemelsbreë verskil tussen die twee begrippe onbevoegdheid en oneerlikheid,  maar De Klerk beweer summier en sonder enige bewyse dat ek die betrokke navorsers as gebrekkig aan integriteit bestempel.

Dit is verder interessant om daarop te let dat De Klerk self nou nie juis agter in die ry staan wanneer dit kom by persoonlike aanvalle nie. Een van die dae gaan ek seker ook bestempel word as voortvlugtig voor die gereg en met vervalste kwalifikasies.

De Klerk:  “U argument dat ek kwalitatief eerder dan kwantitatief na die saak kyk, is net half waar. Wat u nie raaksien nie, is dat die kwalitatiewe juis noodwendig ’n wesentlike invloed het op die kwantitatiewe produk of resultaat. As die kwalitatiewe ’n aberrasie tot gevolg het dat daar ’n fluktuasie is, is daar geen manier om met dieselfde toetsmetodes en materiaal vas te stel wat presies die kwantitatiewe aberrasie sal wees, nie.

Dit is duidelik dat De Klerk nie in staat is om  die kwalitatiewe van die kwantitatiewe te onderskei nie. Enige aberrasie of afwyking is uit die aard van die saak kwantitatief en die grootte daarvan kan vasgestel word. Dit is meestal baie maklik om afwykings van die normale of verwagte syfers te kwantifiseer en indien ons vir die doeleinde van die argument aanvaar dat Fischbach en kie se eksperimente geloofwaardig is dan is dit in hierdie geval inderdaad gekwantifiseer.

De Klerk: Die beskikbare toetsmetode wys slegs ’n deel uit, waar dit tevore verbloem verbygegaan het weens die ontoereikendheid van die metode. Daar is geen manier om te verseker dat die effek van geoneutrinos, byvoorbeeld, deur die toetsmetode uitgewys sal word, nie.

De Klerk gee hoog op oor die sogenaamde “ontoereikendheid” van die toetsmetode. Ek sal graag die volgende wil verneem:
1) Watter metode(s) het ander wetenskaplikes gebruik en waarom is dit ontoereikend
2) Watter metode(s) is deur Fischbach en kie gebruik
3) Was dit ’n nuwe metode wat nie voorheen deur ander wetenskaplikes aangewend is nie, en indien wel
4) Wat was nuut, anders, meer akkuraat of meer geloofwaardig aan hierdie metode.
5) Ek hoor ook graag waarom hy die metodiek en resultate bevraagteken wat in die volgende twee publikasies gebruik is:

http://donuts.berkeley.edu/papers/EarthSun.pdf
http://arxiv.org/ftp/arxiv/papers/1108/1108.5326.pdf
Veral laasgenoemde artikel spreek die oorsake van die gevonde fluktuasies aan.

Dit lyk nie juis asof De Klerk enige kennis dra van die “beskikbare toetsmetode” nie, om dit saggies te stel. Die vasstelling van ’n radio-aktiewe element se halflewe is nie baie moeilik nie. Die hoeveelheid van die element word presies bepaal, die hoeveelheid radio-aktiwiteit word gemeet, die proses word by ’n paar latere geleenthede herhaal en die nodige berekeninge word gemaak. Kom ons neem ter wille van die argument aan dat Fischbach en trawante korrek is in hul bespiegeling dat neutrinos die tempo van verval kan beïnvloed. In daardie geval sal alle neutrinos, maak nie saak wat hul oorsprong is nie, daardie element se vervaltempo beïnvloed (dit is tog voor die hand liggend) en sal die effek dus waargeneem word. Die atome in die betrokke eksperiment “weet” nie wat die oorsprong van die neutrinos is nie.

Om dit nóg duideliker te stel: ’n groep atome van die betrokke element word opgestel. ’n Neutrino wat vanaf die son afkomstig is kom verby en interreageer met een van die atome. ’n Subatomiese partikel word vrygestel en word deur die detektor gemeet. Volgende aan die beurt is ’n neutrino van elders in die melkweg. Dit interreageer net soos die solêre neutrino met een van die atome in die element en ’n subatomiese partikel word weereens vrygestel, op presies dieselfde wyse as wat met die solêre neutrino gebeur het. Weereens neem die detektor dit waar. Dan kom ’n geoneutrino verby en ditto. Om te wil beweer dat die effek van byvoorbeeld geoneutrinos nie waargeneem kan word nie is, om dit saggies te stel, doodgewoon nie in kontak met die werklikheid nie. Indien de Klerk van mening is dat dit nie die geval is nie dan verneem ek graag sy redes en ook watter bronne hy kan aanhaal om sy mening te staaf – oftewel, waarom sou die effek van neutrinos van elders as die son nie waarneembaar wees nie.. Die enigste rede waarom Fischbach na solêre neutrinos verwys het is omdat verreweg die grootste persentasie neutrinos wat die aarde bereik van die son afkomstig is.

De Klerk: “Trouens, dit is nie eens seker of dit dalk ander, tot dusvêr onbekende, partikels is wat die radioaktiewe verval frekwensie beïnvloed, nie”

Dit is ook nie seker dat daar nie ’n klein teepot in ’n wentelbaan om die son is nie. De Klerk vra altyd graag vir bewyse. Watter bewyse het hy vir die bestaan van hierdie gewaande partikels? Is daar enige teoretiese of eksperimentele basis vir hierdie bewering? Dis darem nou werklik na strooihalmpies gryp, om dit saggies te stel. Dit is ook opvallend dat De Klerk geen melding maak van die feit dat die betrokke navorsers baie duidelik en ondubbelsinnig gesê het dat hul bevindings nie die resultate van radiometriese datering beïnvloed nie.

De Klerk: “Die Cassini ruimtetuig plutonium argument berus op dieselfde toetsmetodes.“

Juis. Baie akkurate en gesofistikeerde toetsmetodes wat Fischbach en kie se resultate weerspreek.

Dit is onmoontlik om sin te maak uit De Klerk se inhoudlose woordeslaai waarin hy poog om te toon dat radon nie die eksperimentele resultate kon kontamineer het nie. Vorige eksperimente waarin halflewes van radio-aktiewe elemente bepaal is het verseker dat sulke kontaminasie nie kon plaasvind nie, anders as wat Fischbach en trawante gedoen het. Wat op aarde die “termodinamiese effek”, ’n gewaande “vakuum” en “kompaksie” met die hele saak te doen het weet nugter en ek twyfel of de Klerk dit self sal kan verduidelik, of bronne kan gee wat sy bewerings staaf.

Nietemin, kom ek probeer weer. ’n Kubieke meter atmosfeer wat onder andere radon bevat sal by ’n sekere temperatuur ’n bepaalde hoeveelheid gasmolekules (onder andere radon) bevat. Wanneer die radon afbreek sal dit ’n sekere bestralingsintensiteit per oppervlakte-eenheid van hierdie kubieke meter tot gevolg hê en hierdie bestralingsintensiteit kan natuurlik maklik gemeet word. Wanneer ’n gas se temperatuur daal dan neem die digtheid daarvan toe, oftewel, daar sal meer gasmolekules per inhoudseenheid wees. By ’n laer temperatuur sal dieselfde kubieke meter atmosfeer dus meer radonmolekules bevat. Omdat daar meer radonmolekules is sal meer van hulle per tydseenheid afbreek en sal die bestralingsintensiteit per oppervlakte-eenheid van daardie kubieke meter dus hoër wees. Sien, dis nie so moeilik om te begryp nie. En dis nie eers nodig om sinnelose en irrelevante stellings oor vakuums, termodinamiese effekte en wat nog alles aan die hare by te sleep nie – terme wat De Klerk ooglopend ook verkeerd verstaan.

Dit is eweneens duidelik dat De Klerk nie begryp presies wat ’n hipotese en ’n teorie is nie maar kom ons laat dit maar daar.

De Klerk: “Die hantering van Michael Ruse se gesprek is maar net ’n herhaling van wat hy gesê het. “

Dit was aansienlik meer as net ’n herhaling, ek het duidelik aangetoon hoe sy woorde doelbewus deur kreasioniste verdraai is. Dit is interessant om daarop te let dat De Klerk swyg oor sy eie blatant onware weergawe van die gebeure toe die voorsitster kwansuis probeer het om die podium van hom weg te neem.

De Klerk: “Maar dat hy ’n ommekeer gemaak het ten aansien van sy vorige standpunt tydens sy getuienis voor die hof, word ook in u eie aanhalings uitgewys.”

Ek versoek De Klerk om met vers en kapittel aan te toon waar hy die “ommekeer” gemaak het.

De Klerk:  “Ruse se brief aan u neem hierdie punt nie vir u verder nie, maar bevestig eerder wat ek sê.

In stede van vae stellings soos hierbo versoek ek De Klerk weereens om aan te toon hoe dit “bevestig” wat hy gesê het.

De Klerk: “Die feitelike resultate van Evo devo is vir alle praktiese doeleindes doelmatig besig om weg te beweeg van die oorspronklike fondasie premis van die darwinisme ...” en: “… die feitelike bevindinge daar is veel eerder getuienis vir hoogs gerigte, intelligente ontwerp”

Ek sal dit waardeer as De Klerk kan toon waar en hoe dit weg beweeg, asook spesifieke voorbeelde kan noem. Vae stellings soos hierbo is nie genoeg nie.

De Klerk: “Punctuated equilibrium is deur Gould en Eldredge (as ek reg onthou) ontwikkel om die leemtes, wat die fossielrekord uitwys in die darwinistiese aanspraak op die nodigheid van volledige reekse oorgangsfossiele om evolusie te demonstreer, mee te vul. Hoe u dit kan probeer ontken, is kwalik regverdigbaar.”

Hierdie is nog ’n ou truuk van kreasioniste – om punktueerde ekwilibrium (PE) te bestempel as ’n desperate poging deur evolusioniste om die sogenaamde stase in die fossielrekord te systap. Die teendeel is egter waar. Soos die geval is met enige lewenskragtige teorie in die natuurwetenskappe sien nuwe idees gedurig die lig, sommige idees word afgeskiet, ander word in hul geheel aanvaar en nog ander word in ’n modifiseerde vorm in die teorie inkorporeer. Laasgenoemde was ook die geval met PE en heelwat voorbeelde van stadige oorgang tussen spesies of hoër taksa word gevind.

Voorbeelde van gradualisme kan gevind word in:

  • Chaline J en Laurin B 1986 Paleobiology 12, 203-216
  • Gingerich PD 1974 Nature 248, 107-109
  • Gingerich PD 1976 Am J Sci 276, 1-28
  • Gingerich PD 1980 Ann. Rev. Earth Planet Sci 8, 407-424
  • Gingerich PD 1983 Science 222, 159-161
  • Gingerich PD 1985 Paleobiol. 11, 27-41
  • Krishtalka L en Stucky RK 1985 Ann Carnegie Mus 54 413-486.
  • Macfadden BJ 1985 Paleobiology 11, 245-257
  • Martin RA en Barnosky AD, reds. 1993 Morphological Change in Quaternary Mammals of North America. Cambridge University Press, New York.
  • Pearson, PN, Shackleton, NJ en Hall, MA 1997 J Geol Soc Lond, 154, 295-302
  • Ward LW en Blackwelder BW 1975 US Geological Survey Professional Paper 861

Talle meer resente publikasies in hierdie verband bestaan maar ek is werklik nie lus om nóg meer in te tik nie. (Dis ook nodig om te noem dat Darwin self geskryf het dat sommige spesies lang tye van stase ondergaan, dus is die begrip nou nie juis iets nuut of verrassend nie.)

Gingerich het voorbeelde gevind van 24 stadige (gradualisme) en 14 vinnige (PE) spesiasie-gebeurtenisse in die vroeë Eoseen, Macfadden het 5 stadige en 6 vinnige sulke gebeurtenisse gevind en so voorts. Chaline gee heelwat verwysings na ander publikasies waar sulke “stadige” of dan egalige spesiasiegebeure beskryf word. Oor die algemeen kan mens sê dat die literatuur gewoonlik tussen 1/4 en 2/3 van spesiasiegebeure as “stadig” of egalig beskou. Mens vind dikwels dat kreasionistiese literatuur die sg “afwesigheid” van gradualisme uitbasuin en versigtig verswyg dat dit wel plaasgevind het. ’n Aanhaling van Gingerich (1985) oor Eoseen-soogdiere is van toepassing op die ganse fossielrekord: “The fossil record of early Eocene mammals appears to be both gradual and punctuated.”

Daar is natuurlik ook Suid-Afrika se bekende Karoo-fossiele, een van die beste voorbeelde van oorgange tussen spesies asook tussen hoër taksa.

Mens moet noodgedwonge wonder ... die ganse korpus van die hedendaagse natuurwetenskappe, soos bedryf deur gelowige en ongelowige wetenskaplikes (en daar is baie gelowige wetenskaplikes) dui op ’n ou aarde/heelal en evolusie. Wat is dit wat iemand met ooglopend geen kennis van enige van die betrokke vakgebiede dwing om alle beskikbare feite dwarsweg te ontken en hom selfs te beroep op aantoonbare leuens wat deur kreasioniste versprei word? The mind boggles ...

Ek weet nie wat De Klerk doen om sy daaglikse brood te verdien nie maar ooglopend het hy heelwat tyd op hande. Ongelukkig is ek nie in dieselfde situasie nie. Of ek dus die tyd en lus gaan hê om op sy repliek te respondeer is tans ’n ope vraag maar ek sien desnieteenstaande uit na sy antwoorde op die vrae wat ek gevra het.
https://mail.google.com/mail/u/0/images/cleardot.gif

Leon Retief


Comments 4 Reaksies | 4 Comments
Delete Comment
avatar
Angus
2012-12-20 @15:05
Beste Leon,
Dankie dat jy jou kosbare tyd afgestaan het met hierdie brief. Lank terug het ek ook my asem gemors toe ek gedink het ek sal die parallaks, en hoe afstande gemeet kan word deur eenvoudige skooldriehoeksmeting, aan die heer De Klerk kan verduidelik. 
 
Groete
Angus
Delete Comment
avatar
Thomas
2012-12-20 @15:43
Dagsê Leon
 
Dis lekker om 'n goedingeligte stuk te lees - jy het duidelik breuke en langdeling baasgeraak!
 
Ons wag saam met jou op die vermaaklike kommentaar uit mamparraland.
 
Groetnis
Thomas
Delete Comment
avatar
Panda
2012-12-23 @17:06
Beste Leon,
Angus is ongelukkig reg as hy by implikasie sê dat jy jou asem op de Klerk gemors het — soos hyself en ek en talle ander wat ook al in dieselfde gat getrap het. Ek wil ook my stem by syne voeg en jou bedank vir jou tyd wat jy hieraan afgestaan het. Jou inset is uiters leersaam — soos ook die artikels oor evolusie van jou wat ek al onder oë gehad het. Hierdie kommentaar van jou sal hopelik bydra om hom te ontbloot vir die pseudowetenskaplike ploert wat hy werklik is en miskien sal sy twee of drie dissipels mettertyd sien dat hulle koning sonder klere voor die skare paradeer.  
Groete
Panda

Delete Comment
avatar
Karel de Pauw
2013-01-02 @10:01
Dankie Dr Retief vir hierdie verdere ontmaskering van ou Kosie de Klerk se kafpratery.  ’n Ondankbare taak, inderdaad, en heel waarskynlik sal dit weining impak op Kosie se stompsinnigheid hê.  Nogatans bly ek van mening dat die res van ons daarby gebaat het - sy leuens en verdraaiings is weereens grondig weerlê en in die proses het ek talle nuwe feite geleer.  Bravo!
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address