Soos gewoonlik gaan die kruks van die saak oor sogenaamde ‘meme’ by Angus verby.
Die skrywers van spiral dynamics, waarna ek in my artikel verwys, gebruik sogenaamde meme as die basis vir hulle bespreking en koppel dit aan mites wat deur meme ontstaan.
Eintlik is die definisie wat ek daar weergee, in lyn met hulle gebruik daarvan en is ook heeltemal te versoen met die definisies wat Angus voorsien.
Die kruks van die saak is dít – die term ‘meem’ is geskep deur (vermoedelik) Dawkins om iets te probeer beskryf wat hy nie weet waar dit vandaan kom, nie. Wat weet hy immers as agnostikus van die dinamika en werking van spiritualiteit? Deur te erken dat hy ’n agnostikus is, nogal die ateïstiese weergawe daarvan, erken hy noodwendig dat hy nie net ongevoelig is oor sake Gods, nie, maar ook wesenlik onkundig.
Die paar Dawkinsse van hierdie ou wêreld sit nou met dié dilemma wat hulle onderskei van die biljoene, normale, gelowiges om hulle heen – hoe nou gemaak met hierdie eienaardige, rare onvermoë wat veroorsaak dat hy sy eie spiritualiteit nie kan herken, erken en ontgin, nie? Skep ’n mite daaromheen. Dus, ’n ‘meem’ is vir daardie agnostikus die selfgeskepte prop vir sy eie onkunde oor sake Gods. Daar sê Angus dit by noodwendige implikasie ook self – Dawkins het die term geskep om sy eie onkunde en insigloosheid omtrent die oorsprong en werking van spiritualiteit (waarvan die agnostikus niks wil weet nie) by die mens te probeer verklaar.
Dit moet seker báie moeilik wees om uit selferkende onkunde en insigloosheid (die selferkende titel van agnostisiteit) ’n verklaring te bied vir ’n fenomeen (spiritualiteit) wat hy voor sy oë sien manifesteer, maar self dood en onkundig is daarvoor. Nou is dit mos logies dat hy vanuit sy eie verwysingsraamwerk daaromtrent – dié van volslae insiglose onkunde – ’n verklaring gaan fabriseer om die knaende vrae daaromtrent in sy eie gemoed mee te probeer stil – en siedaar, die ‘meem’ neem gestalte aan. ’n Mite gebou uit onkunde en insigloosheid wat die werklikheid rondom hom te probeer verklaar. Só dien die meem dan as prop vir ’n bottel vol onkunde, ’n deksel vir ’n emmer onkunde. Só word die sigbare, die manifestasie – die gevolg van menslike spiritualiteit, dus - geneem en misbruik daardeur tot oorsaak te probeer verhef.
Daar is baie maniere om ’n meem as mite, as onsin, uit te wys. Ons kan verhandelinge daaroor skrywe. Kom ons raak net hier en daar ’n aspek aan.
Dit sal nie help om Angus weer te maan om my artikel te lees nie, want hy begryp nie wat ek skrywe nie. As ’n meem werklikheid was, sou geen kind of kleuter enige teken van spiritualiteit toon, nie. Ek noem juis die geval van die spiritualiteit van kleuters en kinders wat dit nie kón bekom anders as inherente spiritualiteit, nie, weens die feit dat hulle nog nie lank genoeg blootgestel is aan die sosiale en kulturele strukture om dit op dáárdie manier ‘aan te leer’ of te ‘ontvang’ – soos wat die ‘meem’ noodwendig suggereer - nie en dit weerlê die poging om te verklaar dat die fenomeen van spiritualiteit (as kamstige meem) by wyse van oordag van kulturele gebruike, idees, ens., ‘geskep’ en oorgedra, word.
Dan is die volgende aspek wat die kwessie van die bestaan van ’n meem verongeluk, juis die fenomeen waarvan die meeste agnostici self, voorbeelde is – agnostisiteit. As spiritualiteit werklik ’n meem sou wees, dan sou hulle algar gelowiges wees, want hulle sou noodwendig die kultuur volg waarbinne hul hulle blootstelling as sodanig gekry, het. Maar weens hulle gebrek aan ontwikkelde inherente spiritualiteit, het hulle direkte en langdurige blootstelling aan die ‘kultuur’ van religie, geen vrug afgewerp nie. Kyk maar na Angus, Thomas (’n pastoriekind), Chris, Redelinghuys, Gericke, ens. Algar kom vanuit ’n vaste en gevestigde kultuur van gelowiges. Maar tóg had dié blootstelling en kulture nie uitwerking op hulle nie - hulle is agnostici – dus, geen ‘meem’, nie.
Daar is ook die ander kant van die saak. As meme werklikheid sou wees, sou daar in ’n kultuur van agnostisisme, soos in die destydse Sowjetunie en in Rooi-Sjina, tot baie onlangs, ’n vaste kultuur van agnostisiteit en gebrek aan religiositeit, geen gelowige wees, nie. Tog het massas gelowiges ten spyte van daardie kulture, aan hulle inherente oorspronklike spiritualiteit wat vir baie jare latent was, gevolg gegee toe die geleentheid hom voordoen. Ook geen teken van die bestaan van ‘’n sogenaamde ‘meem’ nie.
Daar is dieselfde te siene met kinders van geharde agnostici, selfs van ateïste – meeste van dié kinders word mettertyd diep gelowiges, ten spyte van die ouerhuis kultuur. Geen meem dáár, nie.
Dan is daar ook die onomstootlike werklike ervaring oor baie eeue heen van talle der talle ware gelowiges wie ’n vaste en sinvolle persoonlike verhouding met die lewende God en SY Woord, het, wat met géén mite, hipotese, teorie of sinisme weerlê ken word, nie en wie hulle kulture en Godsdiens rondom hul Spiritualiteit en persoonlike verbintenis met God vestig en beslis nie andersom, soos ’n meem noodwendig sou suggereer, nie.
Dit is dus juis die feit dat spiritualiteit op sigself nóóit kan ontstaan as gevolg van kulturele blootstelling of gebruike of idees, nie, want dit is inherent tot die mens deur God só geskape, maar kultuur kan slegs deur gebruike en idees ’n invloed hê van hóé die mens sy spiritualiteit sal beoefen – ons sien dit met die Katolieke, Jode, Indiërs, ens. elke met sy spesifieke en besonderse religieuse gebruike. Hierdie fenomeen inherent aan die mens is ook al by wyse van onafhanklike, objektiewe studie van die Oxfordse universiteit aangetoon – ironies genoeg, dieselfde universiteit as waar Dawkins sy snert vandaan verkwansel.
Maar dit is juis die feit dat suiwer Spiritualiteit inherent tot die mens is, wat dan later veroorsaak dat mense vanuit hulle religieuse kulture wegbeweeg na suiwer Godsdiens wat ’n persoonlike verhouding met God, sal verseker – dit sien ons daagliks gebeur.
As Dawkins reg was met sy meem, sou daar nie soiets soos agnostici gewees het wat uit kulture van gelowiges gekom het, nie. Maar die blote bestaan van sulke agnostici vanuit ’n kultuur van gelowiges (meeste kom juis uit kulture waar religie die norm is), is juis die bewys daarvan dat daar nie soiets soos ’n meem bestaan, wat die ontstaan van spiritualiteit kan verklaar, nie.
Mense soos Dawkins kan dus nie onderskei tussen spiritualiteit as oorsaak en die kulture waarin dit vryelik manifesteer op verskeie maniere, nie, bloot omdat hy (en ander soos hy) self dood is vir sy eie (en ander soos hy, vir hulle) spiritualiteit. Dus, al wat hy deur observasie kan agterkom weens sy spirituele ongevoeligheid en doodsheid, is die manifestasie van die beoefening daarvan in die verskeie kulture, bloot omdat dit fisies sigbaar en tasbaar is. Dan neem hy oploop weens sy eie gebrek aan kennis en insig omtrent die spirituele oorsaak daarvan en skep vir hom ’n prop om die bottel vol onkunde omtrent die oorsprong en werking van sake Gods en sake Spiritueel, toe te stop – die meem.
Die sogenoemde meem is ’n mite, wat die agnostikus juis skep en aanwend om sy onkunde rakende sake Spiritualiteit mee te onderdruk.
Dawkins se ‘meem’ is dus niks meer as ’n agnostiese mite nie (hulle is erg oor mites en fabels – vra maar vir Angus) en sommige agnostici volg hom soos ape in ’n trop, sonder dat hulle self in staat is om te evalueer wat daardie mens hulle probeer wysmaak weens sy eie onkunde – maar dit sien ons gewoonlik met dié dat hulle klakkeloos ander aanhaal sonder om te (kan?) evalueer wat werklik aangaan.
Groete,
Kobus de Klerk