ATKV Skrywersalbum | Writers

 
Melanie Grobler (1942–)

Sêgoed van Melanie Grobler

“Ek dink nie die poësie gaan in die eerste instansie oor verstaan nie. Poësie is soos musiek wat jy moet toelaat om van jou besit te neem sodat dit emosioneel tot jou spreek.”

“Ek werk eerder met nostalgie as met verwonding. As jy wil skryf, is die uitdaging om die angel uit verwonding te haal, om dit te transformeer tot nostalgie.”

Oor moontlike kritiek op Tye en swye van Hester H: “Mens moenie bang wees vir die konflik van gedagtes nie. In die konfrontasie met ander se denke gaan dit immers nie oor wen nie.”

Wat beteken die letterkunde vir haar? “Dit stel my in staat om beheer oor my leefwêreld te kry en die lelike snykant van die lewe hier te temper.”

“Skryfwerk is anders as musiek en skilder. Skrywers moet die samelewing waarin hulle leef, voortdurend interpreteer.”

Is die skryfproses ook ’n manier van reis? “Om te skryf is vir my soos om asem te haal. En die nimmereindigende reis ’n verruiming van die bewussyn. Alles word ryk en veelvoudig.”


Gebore en getoë

Melanie Grobler is as ’n nooi Haarhoff op 6 Oktober 1942 in Warmbad, vandag Bela-Bela, in Limpopo gebore. Sy is die tweede kind van Pierre en Lucy Haarhoff. Haar stammoeder was Maria le Febré, 'n tweedegeslag Franse Hugenoot, wat met Franz Haarhoff getrou het. Hulle het op die plaas La Motte net buitekant Franschhoek gewoon en gewerk.

Haar ouer broer, Pierre, was geniaal. Hy het die formule vir uraanverryking geskryf en het die Havenga-prys daarvoor gekry. Hy het ’n dubbele doktorsgraad verwerf: in fisiese chemie en meganiese ingenieurswese. In 1987 het hy die Eugène Marais-prys vir sy wetenskapfiksie-verhaal Uit ’n ander wêreld ontvang.

Melanie het later aan Elfra Erasmus oor haar broer vertel: “Pierre was ’n baie besonderse broer. Ek moet rekenskap gee van wat met my gebeur het om saam met hom te lewe. Dit was ’n formidabele ervaring. Ek sou so graag sy menswees wou verstaan. Ek het besef ek moes oor grense wat ek nooit andersins sou nie. Dit was al hoe ek toegang tot hom sal kry. Die grense was op ’n geestelike vlak. Ek kon dit nooit peil nie. Ek het net aan die oppervlak daarvan geraak. Hy het my bo alles geleer om alles wat ek doen, te bevraagteken. Ek skakel nie bloot iemand of gaan kuier nie.”

Melanie se pa was ’n alkoholis en toe sy drie jaar oud was, is hy in die Weskoppies-hospitaal oorlede. Sy het by familie op ’n kleinhoewe by Wolhuterskop gaan bly. Haar ma en Pierre is na Rustenburg, waar haar ma ’n onderwyseres was.

Melanie onthou dat daar op die kleinhoewe ’n plaaswinkel was. “Ek en die drie kinders het in ’n agterkamer geslaap,” vertel sy aan Dine van Zyl in Insig van Oktober 2005. “Daar was ’n kombuis met ’n primusstoof op die agterstoep ingerig. Ek het vir drie jaar daar gebly tot my ma ’n huis gehad het en ek na Rustenburg kon gaan. Daar het my ma tot ’n charismatiese kerk behoort in ’n tyd toe ordentlike mense tot een van die drie susterkerke behoort het. Ek is dus geskoei as ’n outsider. Ek het nooit werklike sosiale gedrag aangeleer nie.”

Die huis in Rustenburg het ’n paradysagtige tuin gehad met ’n dam, leivore en ’n vrugteboord en daar het sy “op ’n absurde wyse die volle trefkrag van die totalitêre en patriargale samelewing misgeloop”. Sy noem haar kinderjare “mitiese dae” waarin sy en haar broer afgesny was van die gemeenskap. Hulle was weens haar ma se obsessiewe godsdienstigheid en hul huis aan die verkeerde kant van die spoor “offerlammers van maatskaplike vooroordele”. En sy en haar weduwee-ma moes saamleef met haar “geniale broer se Goya-temperament en wil van staal”.

As tienjarige dogter het Melanie reeds Tolstoi en Dostojewski gelees.

Haar laerskoolloopbaan voltooi sy aan die Rustenburg Juniorskool en sy matrikuleer aan die Hoërskool Rustenburg.

Verdere studie en werk

Na skool is Melanie na die Universiteit van Pretoria, waar sy ’n BA in sielkunde en filosofie behaal het. Sy verwerf haar BA Honneurs in kunsgeskiedenis met onderskeiding en so ook haar MA in dieselfde rigting. Haar MA, getiteld “Kalligrafie op geografie”, het gehandel oor die landskapskilder Nico Roos se werk. Sy verwerf ook ‘n honneursgraad in sielkunde aan Unisa.

Sy was sedert 1980 vir sewe jaar betrokke as kurator, asook by slypskole vir voornemende skrywers en prosesfasilitering by die Hlumelo Teater, waarvan sy medestigter was. Sy het verskeie kulturele projekte by die Instituut van Voortgesette Onderwys, Unisa, asook die Kultuurburo van die Universiteit van Pretoria aangebied. Sy het vir vyf jaar onderrig ontvang by die Art Studio in Pretoria en het gedurende 1982-2002 aan twaalf groepuitstallings deelgeneem. Haar figuratiewe werk beeld die emotiewe kwaliteite van die enkele beeld uit. Tussen 1992 en 2000 is haar kortverhale in ses versamelings gepubliseer en haar digkuns in sewe.

Sy het Breyten Breytenbach se kuns gedokumenteer: ongeveer een duisend skilderye, tekeninge en installasies is in Parys, Amsterdam, Haarlem, Kaapstad, Durban en Pretoria gefotografeer. Sy het in 1992 ’n beurs ontvang van die Franse Instituut in Johannesburg om die dokumentasie te doen.

In haar twintigerjare is Melanie met ’n niersiekte gediagnoseer wat tot ’n uitgerekte siekbed gelei het. Sy is binne vyf jaar 48 keer vir nierprobleme geopereer en het begin studeer omdat sy sulke lang tye in die bed moes deurbring. Sy was in 2004 nog by tye bedlêend, maar het haar doktorsgraad in kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria behaal met die proefskrif “Against Fixity: a hybrid reading of Breyten Breytenbach’s art, poetry, writing, aesthetics and philosophy”.

Melanie is met Piet Grobler, ’n prokureur, getroud. Hy het later ’n LP vir die Nasionale Party geword. Hulle het twee dogters en ’n seun, asook ’n kleinkind, Milan. Met haar huwelik het sy deel geword van ’n gesiene Pretoriase familie wat “poker gespeel, skemerkelkies geniet, perderesies toe gegaan het en hoofsaaklik in hotels gebly het,” vertel sy aan Francois Smith.

Na Pieter se uittrede uit die politiek in 1998 het die gesin na Stellenbosch verhuis en later na Pringlebaai, waar hulle nog steeds woon.

Sy moes weldra op ’n “rasionele, niepolitieke” manier besluit om deel te word van die samelewingstrukture, omdat dit die “enigste uitweg uit die miasma van emosies van buitestanderskap skyn te wees”.

Haar kunstenaarskap spruit in die eerste instansie uit dié doelbewuste poging om die tydsgewrig wat haar denke gevorm het, te konfronteer, ’n denkpatroon wat sy bestempel as manlik gedomineer en grootliks vasgeval in rasionaliteit.

Haar siekte was ook ’n aansporing. “Ek het later ’n wit laken oor my kop getrek om te wys dat ek gereed was om jonk te sterf,” vertel sy aan Smith. Maar Susan Sontag se boek Illness as metaphor het uitkoms gebied, want ná die lees daarvan het Melanie na haar siekte begin kyk as ’n geleentheid tot bewuswording. Haar poësie is dus in meer as een sin ’n opstand teen gebondenheid.

Op ‘n vraag of haar werk ook ’n verset teen interpretasie en dus opsetlik duister is, het sy geantwoord: “Dit is wat van Breyten Breytenbach se poësie ook gesê is. Dat dit te moeilik is. En dit is weer daardie rasionele poging om te probeer verstaan.”

In 1991 word Melanie se eerste digbundel, Tye en swye van Hester H, gepubliseer en met die intrapslag word dit met die Rapport-prys vir poësie bekroon. En oor dié toekenning het kenners hulle onmiddellik uitgespreek. JC Kannemeyer het gesê dat die toekenning hom met verbystering vervul het. “Ek vra myself af watter enkele gedig in hierdie bundel die beoordelaars bo die beste verse in Elisabeth Eybers se Teëspraak en BJ Toerien se Parte speel stel – twee bundels wat op die kortlys vir die toekenning was. Ek vra my verder af watter enkele gedig in Grobler se bundel beter is as die beste verse in Daniel Hugo se Dooiemansdeur, ’n bundel wat myns insiens om onbegryplike redes deur die beoordelaars onvermeld gelaat is.

“Die raaisel van hierdie toekenning word dieper as ’n mens die flou motivering daarvoor in Rapport van 24 Mei lees. Daar word slegs gesê dat Grobler ‘op verfrissende en toeganklike wyse bydra tot die perspektief op die wêreld van die Suid-Afrikaanse vrou van vandag’. Ek twyfel of hierdie onbeholpe karakteristiek werklik waar is van die betrokke bundel, maar veral of die uitspraak hoegenaamd iets met literêre evaluering te make het.

“Deesdae is daar in sommige literêre kringe sonder meer waardering vir literatuur wat sinspeel op dié van voorgangers en só ’n intertekstualiteit opbou. Met haar aansluiting by Opperman, Eugène Marais, Pauline Smith, CM van den Heever en Marthinus Nijhoff is dit alledaagse praktyk vir Grobler, maar ek wonder of ’n digter van vandag altyd in ontleende luister moet leef. Kan hy nie maar sy eie ding op sy eie wyse sê, sonder dat ’n hele falanks ander skrywers in ’n koor saamdreun nie? Rapport behoort die volledige motivering oor Grobler se bundel vry te stel. Ek sou dit ook verwelkom as die beoordelaars ’n segsman kon aanwys om namens hulle ’n polemiek te voer oor die meerdere meriete van Grobler se verse.

Joan Hambidge het gesê: “Literêre pryse is gelyk aan die beoordelaars, en dit is lank nie meer die beste boeke wat wen nie.”

Die digter Johann de Lange het gesê hy vind dit interessant dat daar elke jaar ’n bohaai oor literêre pryse is. “Dit sal nooit soos ’n optelsom wees met een enkele regte antwoord nie. Ek meen egter dit is die eerste keer in die geskiedenis van literêre pryse dat ’n bloemlesing bekroon word. Ek hoop Melanie Grobler gee op die aand van die prysoorhandiging erkenning aan almal by wie sy geleen het. Ek vind dit bedenklik dat ’n reël waaraan ’n digter maande lank gewerk het, goedsmoeds oorgeneem word deur ’n ander digter. Dit is digterlike roofbou wat slegs aanvaarbaar is as die nuwe reël beter is as die tekste waarvan jy roof.”

Oor hierdie polemiek verduidelik Melanie in 2005 aan Francois Smith dat dit haar erg geraak het. “En dit was ’n manneklub se besware. Dit het my byna vir altyd stilgemaak. Maar uiteindelik het hulle my tog ’n guns bewys, want ek het daarna probeer vasstel wat dit was wat hulle so laat reageer het. Ek dink hulle het dit gehad teen ’n soort vroulike aggressie. Dit het tien jaar geduur om my van daardie bitterheid te suiwer, om my nuwe bundel (Die waterbreker) skoon te kry van verwonding.”

Tye en swye van Hester H is ongeveer in 1988 geskryf, vertel sy aan Elfra Erasmus. “In die bundel het ek geworstel met vaste idees wat ek nie kon relativeer nie. Die bundel handel eintlik oor my pa. My nuwe bundel oor my ma. Ek sal tot die einde van my lewe oor my pa, ma en broer kon skryf. Hulle is my belangrikste bron. Ek het sterk emosies oor hulle.

“Ek het dit geskryf om rekenskap te gee van goed wat my gepla het. Om my pa af te lê, af te handel. Ek glo nie ek het nie. Ek glo nie ’n mens kan ooit iemand afhandel nie.”

Sy beskryf ook die bundel as ’n “politieke daad”. Die laaste verkiesing waarin haar man, die presidentsraadslid, as NP-kandidaat in Roodeplaat verloor het, was ’n persoonlike keerpunt.

“Daardie aand het ek vir die eerste keer ’n sosiale bewussyn gekry. Vantevore was ek te besig met my siekte en my kinders. As ek ’n invloed moet hê, sal ek graag met die bundel my mede-wittes se gesindhede wil verander. Ek dink mense het werklik ’n opvoeding nodig om anders te dink en van hul vrese bevry te word.”

Sy meen die bundel sal meer by vroue aanklank vind. Dit is ’n voortsetting van wat Antjie Krog gedoen het. “Sy het ’n groot bevrydingsproses vir vroue begin in die manier waarop sy die taal gebruik het.”

Sy vertel verder: “Die digbundel het ook grootliks te make met die versplintering van die self wat teruggevoer kan word na ‘lesse’ van Marx, Schopenhauer, Nietzsche, Freud, Wittgenstein en Heidegger wat elkeen bygedra het tot die insig dat die Cartesiaanse- Kantiaanse subjek minder outonoom is as wat die metafisiese tradisie ons wysmaak: biologies, irrasioneel-psigologies, ideologies en linguisties.

“Ek het dominante diskoerse soos kolonialisme, rassisme en paternalisme geneem en in die proses van skryf grensbedons geraak. Hierdie diskoers was veronderstel om my te lei na die diskoers van die lewe. Wat vir my ook belangrik in die bundel is, is die manifestasie van 'n filosofiese paradigma wat deur Descartes geïnisieer is. Die Newtonse dinamika speel ook ’n rol.”

Sy is verbaas en half gesteur oor die verwysing daarna as enigsins akademies. “Wat ek daar geskryf het, is vir my so eenvoudig. Dis vir my soos ’n kinderrympie. Dis so deel van my. Dit kom so ’n lang pad.”

Tye en swye is in die eerste plek deel van haar wordingsproses as Afrikaan. “Hoeveel mense het vanjaar (1992) gesterf sonder dat hulle hierdie individuasieproses as Afrikane voltooi het? Ek sou werklik ver wou gaan om deel te word van Afrika, maar ek wil, ironies, nie met ’n jammer hart na myself as wit Afrikaan kyk nie. Dis ’n skisoïede bestaan.”

Buite haar digbundel gaan dit vir Melanie nie soseer oor Suid-Afrika nie, maar oor Afrika, ’n meer holistiese eenwordingsproses. Sy verduidelik aan Charl-Pierre Naudé: “Ek moet ten volle Afrikaan word, maar vir my moet dit noodwendig deur middel van Europese konsepte geskied. Ek kan glad nie met ’n sterk blank Afrikaner-identiteit identifiseer nie. Soos Nadine Gordimer gesê het dat as jy jouself eerstens as wit en dan as Afrikaan ervaar, sal jy dit in Afrika nie maak nie. Dan moet die wit diaspora maar begin.”

Reeds uit die eerste versreëls van Tye en swye van Hester H is dit duidelik dat die lewensloop van die sentrale figuur in hierdie bundel voorgestel gaan word in terme van ’n reis. Hierdie reis word dan losweg gebaseer op die suidpoolreis van Hestertjie Haarnaald wat uit die kindervers in DJ Opperman se Klein verseboek aan ons bekend is, skryf Louise Viljoen in Rapport van 1 Maart 1992.

Naas die titel verskaf die aanvangsgedig verdere leidrade vir die ontsluiting van die bundel. Die identifikasie met Hestertjie van die kindervers impliseer dat die lewensreis gesien word as ’n ontdekkingstog wat soms met naïewe entoesiasme onderneem word die onbekende in. Dit is ook ’n reis wat hom op ’n verskeidenheid vlakke voltrek, fisies sowel as psigies.

Viljoen beskryf Tye en swye van Hester H as geen gewone debuutbundel nie. “Die omvang, reikwydte, volgehoue ontginning van motiewe en gespanne kwaliteit van temas soos die ‘bloedskandelike swye’ is die werk van iemand wat reeds ’n besondere mate van digterlike rypheid bereik het. Tog kan die leser nie op sekere punte ontkom van die indruk dat daar by dit wat nuut is in die bundel, ook sprake is van ’n soort afgeleide poësie nie. Die invloed van  verskeie digters is merkbaar in die taal- en beeldgebruik sowel as die strukturering van die bundel: Opperman (Komas uit ’n bamboesstok), Antjie Krog (Otters in bronslaai en Lady Anne), Elisabeth Eybers en Sheila Cussons. Tog is die stem van hierdie nuwe digteres ’n besondere toevoeging tot die Afrikaanse poësie.”

Vir TT Cloete is daar nog ’n tekort aan formele dissipline in die verse in Tye en swye van Hester H, asook ’n sekere oordadigheid van beelde, motiewe, klanke. Baie van die gedigte is vir hom nog te irreëel en té geëmosioneerd, met soms te veel patos. Die gedigte is ook nie vry van ’n te bewuste soeke na effek in die taalgebruik nie. Maar dit is ’n bundel uit een stuk, ’n profiel wat uit ’n boeiende legkaart saamgestel is.

Joan Hambidge beskou Tye en swye van Hester H as ’n moeilike bundel, maar ’n lonende leeservaring, en ’n bundel met ’n lieflike omslag deur die digteres self ontwerp, terwyl Lucas Malan gevoel het dat Grobler met die bundel ’n opsigtelike intrede gedoen het en dat as sy met hierdie bundel nie al haar skapies in een kraal gejaag het nie, ons nog veel van haar kan verwag.

Die pad van isolasie wat sy gekies het, was vir Melanie “hard en eensaam”. “Ek volg nie die samelewing se voorskrifte nie. Ek doen soos my menswees vir my sê om te doen.” Op ‘n vraag of dit nie vermoeiend is om so te leef nie, sê sy sy sal resultate kry. “My interaksie met mense is ongelooflik. Omdat ek myself isoleer, as ek die slag met ’n mens te doen kry, is dit vir my ’n geweldige ervaring. Ek verkies nie om alleen te wees nie. Ek geniet mense. Ek sit met pyn alleen. Die keuse het vir my so gekom. Hy’t my nog altyd gelok, byna soos ’n lig wat maak dat jy daarvoor ja sê en die ander eenkant toe skuif.”

Aanvanklik het sy die isolasie negatief ervaar, maar nou is dit ’n positiewe ervaring. Dit het gelei tot die bewuswording van haar geestelike kwaliteit. “Dis ’n baie konsepsuele begrip, maar vir my is dit ’n werklikheid.. Ek het my sosiale kontak (in 1992) geweldig verminder. ’n Siftingsproses het plaasgevind. Ek het hierdie droom dat ek sou kon wees soos baie vroue wat ek ken, wat funksioneer in die samelewing en gemaklik inpas. Maar
dit is nie vir my beskore nie. Ek is nie so nie. Ek het vrede in myself oor die pad van isolasie.”

Dertien jaar na haar debuut met Tye en swye van Hester H word Melanie se tweede bundel, Die waterbreker, gepubliseer. Hierdie keer word die bundel met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys vir 2005 bekroon.

In ’n onderhoud met Izak de Vries en Coenraad Walters op LitNet het Melanie gesê om Die waterbreker as ’n novelle in versvorm te sien, een manier is om na die spel met verskillende identiteite te kyk. “En die digbundel is beslis nie ’n versameling van los verse wat bloot met mekaar resoneer nie. Dis gebaseer op drie drome wat oor ’n tydperk van vyf jaar in die vorm van ’n verhaal gedroom is. Daar is eggo’s van al drie drome in verskillende verse – die beeld van die boegbeeld wat deur die water klief is egter die sterkste.”

Sy beskou ook beslis Die waterbreker as ’n reisverhaal, op ’n persoonlike vlak ’n wegreis van ’n sosiaal-politieke omgewing en al sy inhoude waarin ons aktief betrokke was. In Die waterbreker het sy deur versvorme ’n persoonlike mitologie geskep; die eggenoot en die kinders is ankers tydens hierdie oseaniese vaart.

Izak de Vries sien die vier dele waarin die bundel verdeel is, so: Deel 1, Baltiese binnesee: Dié deel handel oor ballingskap in die koue. Koue laat die water vries. Deel 2, Middelwater ’n Terugkeer na Suid-Afrika se hitte, aanvanklike aanvaarding, maar dan weer ’n hunkering na die dae van ballingskap as die ongebore kinders té gou die water breek en sterf. Dit eindig egter op ’n hoogtepunt wanneer die reis na Noord-Afrika verskuif en water weer vloei. Deel 3, die binnevrou: ’n Reis op papier en ’n ballingskap na binne, in die self in, weg van die mens wat die verteller liefhet. En deel 4, die waterbreker: ’n Terugkeer, ’n tuiskoms in die waterbreker wat geanker staan in Suid-Afrika en daarmee saam ’n verwonde aanvaarding – nie net van die lewe nie, maar ook van die maat wat die verteller liefhet.

Oor die kompleksiteit van die bundel vertel Melanie dat dit haar persoonlik jare geneem het om die bekende en aanvaarbare manier van kyk na dinge en die lewe te verander. “Na die onbewuste kriewelrige gedommel van die apartheidsjare het ek begin om bewustelik te lewe, bewustelik met my prosesse om te gaan. Die digbundel het organies ontvou en nie rasioneel nie. Dis nie uitgedink nie, en het gebeur omdat ek alle vorme van beheer afgelê het. En ek glo dat as iemand die moeite doen om die digbundel deur te werk, dan is daar sekere prosesse vir hom/haar afgehandel. Dan kan die persoon meer bewustelik lewe. Dis dus nie ’n moeilike bundel nie, maar eerder ’n reis na ’n sekere vlak van bewustelike denke.

“Ek is nou al lank getroud, en hoe meer ons mekaar skuur, hoe meer leer ons mekaar ken. Ek het dieselfde gevoel met die bundel. Ek het aanvanklik baie gesukkel, maar hoe meer ek gelees het, hoe meer het ek wonderlike, erotiese stukkies in die vertelling ontdek. As skrywer glo ek dat ek grense vir mense kan verskuif. Een van daardie grense is die erotiek. Ek voel baie tuis om oor die gebied van die erotiek te skryf en sal dit graag in verdere skryfwerk verder wil ondersoek.”

Melanie se fassinasie met die koue Noorde van Europa het gekom nadat hulle op ses geleenthede in Rusland was en drie bootvaarte op die Baltiese See onderneem het. “Om Rusland, veral Moskou, te leer ken was ’n aangrypende ervaring. My dogter was as diplomaat daar. Wat die Baltiese See betref - ek voel totaal tuis daar. Asof ek lank daar gebly het en op daardie see uitgegaan het.” Melanie het groot bewondering vir die digters van die koue Noorde, soos Jseph Brodsky en Czeslaw Milosz, se werk. Ook  Osip Mandelstam s’n.

Louise Viljoen het in haar resensie van Die waterbreker geskryf dat Melanie opnuut beïndruk het met haar vermoë om ’n komplekse en liriese bundel te weef rondom die motief van ’n reis op water. “Sommer uit die staanspoor waaier daar ’n hele aantal betekenisse uit die titel oop. Die waterbreker is die skip waarop die spreker in hierdie gedigte die reis na die ‘binnewaters’ van die onbewuste onderneem én die naam van die wind-omspoelde huis waarin sy woon. Sy teken egter ook haarself as waterbreker omdat sy as boeg (of ‘boegvrou’) van die skip deur die water breek om nuwe wêrelde te verken.

As sodanig word die waterbreker dus ook beeld van die ondersoekende, geteisterde en getemperde vroulike liggaam. Dit blyk onder meer wanneer die spreker in ‘die belydenis’ wonder: ‘wat maak ek met die boegryding/ wat haar hier langs my ruggraat/ kom versin het’.

Waar Ilse van Staden se bundel Watervlerk water as medium van metamorfose hanteer, werk Grobler met die see as simbool van die onbewuste, die vroulike, ook van kreatiwiteit en vernietiging as noodwendige teenpole van mekaar. Beelde van die see, water, reën, wind, lig, voëls en die maan werwel deur elkeen van die bundel se vier afdelings, ‘baltiese binnesee’, ‘middelwaters’, ‘binnevrou’ en ‘die waterbreker’. (...)

“Grobler se verse is nie almal maklik om te deurgrond nie, maar oorrompel die leser met die verrassende  beelde, die evokatiewe klankgebruik en die intense psigiese lewe daarin vervat. Nadat ’n mens die verse gelees het, bly daar steeds veel wat geheimsinnig is en jou nooi om hierdie fassinerende digterswêreld te herbesoek. Dit is ongetwyfeld een van die sterkste bundels van die vorige twee jaar.”

En weer is ’n bekroning van ’n bundel van Melanie onder die soeklig geplaas toe Melanie op LitNet deur die jong digter Loftus Marais daarvan beskuldig is dat sy plagiaat gepleeg het. Sy het volgens Marais die Kanadees Anne Michaels se gedig “There is no city that does not dream” vertaal en onder die titel “stad” in Die waterbreker opgeneem. Marais het verder geskryf dat daar nêrens naby Grobler se gedig staan dat dit ’n vertaling is of dat dit deur Michaels geïnspireer is nie.

Melanie het gesê sy ontken nie die gedeeltelike ooreenkomste tussen die twee gedigte nie, maar dit was nie doelbewus gedoen nie. “Dit was ’n fout en ek sal graag ’n regstelling wil maak deur erkenning te gee aan Anne Michaels. Ek het Anne Michaels se digbundels op my boekrak. LitNet het twee reëls uit my gedig aangehaal wat soos Michaels s’n klink, maar daardie ritme is soos ek skryf.

“Ek was self werklik verbaas toe ek die ooreenstemming sien; dit is eenvoudig iets wat ingesluip het. Ek het my digbundel voor publikasie vele kere oorgegaan om regtig te probeer vasstel dat só iets nie gebeur nie. Dit is ’n fout, ’n imperfeksie aan my kant en ek vra om verskoning daarvoor. Ek sou eintlik baie graag erkenning aan Michaels wou gee.” Melanie het later erken dat daar nog ’n gedig in Die waterbreker is wat nie haar eie is nie.

Die polemiek het verder uitgebrei toe Melanie se redakteur, Petra Müller, in ’n brief aan Die Burger geskryf het dat Grobler nie nodig het om bewus te probeer afskryf nie, aangesien sy ’n uiters vrugbare digter is met ’n opvallend eie stem. Müller het voortgegaan: “Sy is ook ’n hartstogtelike leser wat teks in haar opneem. Miskien het sy die Michaels-gedig in haar opgeklad – dit kan gebeur. In die uitgewersbedryf is jy dikwels besig om sulke invloede uit te wys aan skrywers. Maar ons gebruik nie die woord plagiaat nie; dis nie ter sake nie. Ons praat van osmoses, insypeling of doodgewoon migrasies.”

Oor hierdie uitsprake het JC Kannemeyer gesê Müller “probeer lesers wysmaak dat perdedrolle vye is” en dat hy lanklaas “sulke begoëlende onsin gelees het”.

“Is dit die uitgewersredakteur van Grobler se bundel wat hier aan die woord is en haar eie bas probeer red? Wil sy nie maar haar relaas voortsit en ook die literêre teorie met begrippe soos intertekstualiteit en postmodernisme inspan om haar sikofant se manewales te verbloem nie?”

Loftus Marais het gemeen Müller en Grobler se reaksie “laat digters onprofessioneel en verslons lyk. Om te sê dis oukei as gedeeltes uit ander mense se werk in jou eie insluip, of dat Grobler bloot vergeet het om ’n bron aan te gee, is vir my heeltemal onaanvaarbaar. Die gebeure is ’n simptoom van ’n literêre wêreld wat nie nuwe bloed kry nie,” sê Marais. “Dis omdat dit so ’n bloedskandelike, benepe affêre is dat ons sulke onvolwasse reaksies kry waar digters probeer wegkruip agter sogenaamde intertekste en intellektuele speletjies.”

Hier volg die gedigte:

                             stad

daar is geen stad wat nie droom vanaf
sy fondamente nie, die verlore meer
krummel in hande van baksteenlêers
lig op die vloer van die kanaal
walle breek onder die gewig van riviere
eeue van winters gestoor in geologiese tuine
dinosourus by die tremspoor
ingebed in beendere onder rommelende treine
wind en huweliksmusiek en alles wat sing
van koolstof, klip en been

 

          There Is No City That Does Not Dream

There is no city that does not dream
from its foundations. The lost lake
crumbling in the hands of brickmakers,
the floor of the ravine where light lies broken
with memory of rivers. All the winters
stored in that geologic
garden. Dinosaurs sleep in the subway
at Bloor and Shaw, a bed of bones
under the rumbling track. The storm
that lit the city with the voltage
of spring, when we were eighteen
on the clean earth. The ferry ride in the rain,
wind wet with wedding music and everything that
sings in the carbon of stone and bone
like a page of  love, wind-lost from a hand, unread.

Die uiteinde van die saak was dat Melanie van die Eugène Marais-prys afstand gedoen het en die geld terugbetaal het. Die bundel is ook aan die mark onttrek. Anne Michaels se uitgewer het besluit om geen regstappe teen Melanie te doen nie.

Oor die hele debakel het Koos Kombuis, sanger en skrywer, as volg gereageer: “Die ironie is as Grobler dit as ’n vertaling aangebied het, dit ’n ­absolute fantastiese kunswerk is.”

George Weideman se resensie in Taalgenoot het verskyn na die polemiek oor die plagiaat. Hy het gevoel dat, hoewel die hele storie Melanie skade berokken het, ’n mens nie die kind met die badwater moet uitgooi nie, want in Die waterbreker is daar heelwat skittergedigte, en in baie van dié gedigte waar daar juis in gesprek getree word met ander digters.

Vir Weideman is Die waterbreker veel komplekser as Melanie se eerste bundel. Wat die versbou betref, is daar ooreenkomste met Tye en swye van Hester H: ’n voorliefde vir die assosiatiewe, vryer vers wat sterk steun op emosionele ladings, en ’n nog duideliker voorkeur vir die enigmatiese woord en stemming. Al is ’n sikliese ingesteldheid duidelik, moet ’n mens trouens nie ál Grobler se gedigte in een sitting lees nie. Die patroon word dan te gou herkenbaar; die intelligente wisselinge van haar debuut word gemis. Dit gaan hier eerder om binne- as buitelandskappe. Wat steeds opval, is Grobler se vermoë om in haar binnelandskappe op verrassende wyse visueel met woorde om te gaan.

In beide Melanie se Die waterbreker en Ilse van Staden se bundel Watervlerk speel water ’n sterk rol. Op die Woordfees in 2005 is die twee bundels saam verwerk in ’n produksie (met die ondersteuning van De Kat) saam met Eugenie Grobler, Melanie se dogter, as gaskunstenaar.

“Dit het nie doelbewus gebeur nie,” was Ilse se reaksie oor die watermotief in haar werk. Sy voel dat water onbewustelik deel is van ons almal se lewens, veral omdat dit so ’n belangrike faktor in ons land is.

Melanie het weer ’n boegbeeld in haar drome gekry en só het die verse vir Die waterbreker ontwikkel.

Eugenie, wat van Melanie se getoonsette verse gesing het, is ná ’n ruk van stilte weer terug in die media se oog. ’n Tyd waarin sy nuwe energie geskep het. Dit is verder vir haar wonderlik om saam met ma Melanie te werk en voel dat hulle uit die kreatiewe proses baie saam leer. “Dit is soms nodig om afstand te kry en te luister. Kreatiwiteit is nooit iets wat in isolasie gebeur nie,” sê Eugenie. “Ek is besonder gelukkig omdat Melanie nie net my ma is nie, sy is ook een van dié wat gedurig deel vorm van die kreatiewe proses.”

Die bekende musiekvervaardiger Johan Kotze was die samesteller. “Dit is nogal ’n besonderse proses om musiek met gedigte te vermeng sonder om die verse te toonset as liriek,” het Kotze gesê. “In ‘Watervlerk’ skep die beelde klanke en die klanke word beelde. Daar is die hele tyd seegeluide wat opgeroep word, maar die musiek bly uit die pad van die woorde. Dit versterk eerder die woorde.”

Om die regte atmosfeer te skep, was die talentvolle Jan-Hendrik Harley (viool) en John Pringle (perkussie) ook te beleef in Watervlerk.

Melanie is egter nie net ’n skrywer nie. Soos so baie ander skrywers, veral digters, in Afrikaans, is sy ook ’n skilder. Haar voorhuis hang vol olieverfskilderye wat sy self oor jare geskilder het. Sy sê haar skilderye het geen verskuilde boodskap nie. Dit is net “daar” ter wille van die visuele spel van lyne, merke en teksture.

Haar ander groot liefde is jazz-musiek. Sy skou dit as “’n blote spel met klank”. In ’n mate stem dit ooreen met haar manier van skilder.

Melanie lees baie en het haarself ’n ruk terug veral toegespits op Afrika en die filosofie van dié kontinent. Chinua Agebe is haar gunsteling onder Afrika-skrywers/filosowe. “Om oor Afrika te lees, moet ’n mens leeg word en konsepte wat jy oor baie jare versamel het, agterlaat.”

Publikasies

Publikasie

Tye en swye van Hester H

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624030296 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Rapportprys vir Poësie 1992

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die waterbreker

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042294 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 2005

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Artikels oor Melanie Grobler beskikbaar op die internet:

Artikels deur Melanie Grober beskikbaar op die internet:

 




Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment