Meerfout by US Woordfees 2014

  • 0


Daar is meer as een faset aan Mariechen Vosloo. Sy vertel vir Naomi Meyer waarom dit nie 'n fout is nie (en ook van Meerfout by die Woordfees, waarin sy een van die hoofrolle vertolk).

Hallo Mariechen, vir almal wat al polonie geëet het, maar nog nie van Polony gehoor het nie: vertel asseblief wie is julle?

Ons is ’n groep jong teatermakers. In 2012 het ’n groep van ons vriende besluit om ons eie werk te begin skep eerder as om vir werk te wag. N is vir Neurose was ons heel eerste produksie onder die vaandel van Polony en het ’n ongelooflike reaksie gekry en ons laat besef dat jongmense tog honger is vir goeie uitdagende teater. Polony se ander produksies sluit in Ont (2012), Tjop en Dop (2013), Die Lelike Eend (2013) en dan ons nuutste produksies, Waterpas en Meerfout (albei by die US Woordfees 2014 te sien).

Polony is meer ’n teaterkollektief as ’n geselskap, dus is baie mense betrokke in terme van toneelspel en regie. Die naam Polony ... Ek’s seker almal het al polonie geëet en sal met my saamstem dat mens nie regtig weet wat als in daai pienk rol is nie, maar tog is dit so ’n gewilde eetding. Die hele idee van polonie as kos is die samestelling van alles – jy weet nie presies wat dit is nie, maar dit werk. Die teater wat ons maak, is nie veel anders nie. Ons maak spoeg-en-plak-teater. Ons streef daarna om teater te maak wat relevant is, maar tog toeganklik. Ons wil hê die gehoor moet daarmee kan assosieer en identifiseer, maar terselfdertyd daag ons uit.

En wat van jou: wat is jou agtergrond en wie is jy in Meerfout?

Ek is ’n akteur by die agentskap Artists One. Ek is ’n Stellenbosch-meisie. Hier geskool en geswot en ek bly op die oomblik in Kaapstad. Ek doen vryskutwerk, van teaterproduksies tot advertensies, televisie en selfs kinderteater. In Meerfout speel ons nie spesifieke karakters nie, maar eerder fasette of persoonlikheidstrekke van een vrou.

Meerfout – spelfout? Wat beteken die naam van hierdie drama?

Haha, nee dis nie ’n spelfout nie – ek sou myself nooit vergewe nie. Of al is dit, sal ek heel waarskynlik sê dat dit nie is nie, om ons die verleentheid te spaar. Maar dit is inderdaad bedoel om verkeerd gespel te wees. Die produksie handel oor die verskillende fasette van ’n vrou en wat gebeur as die verskillende kante/eienskappe van ’n vrou teen mekaar te staan kom. Die woordspeling lê in die idee dat mense, vrou of man, meervoudige wesens is. Meervoudig in die sin dat ons ’n menigte eienskappe, kante, stemme binne-in elkeen van ons het wat bepaal wie ons is en watter keuses ons maak. Die meervoudigheid van die mens maak dat die geleentheid daar is vir meer foute. Wanneer daai verskillende fasette of kante teen mekaar staan, kan daar óf harmonie óf konflik wees. Die meervoud veroorsaak drama en tesame daarmee hordes “foute” of konflikte.

Ons streef altyd na eenvoud, maar sonder meervoud sal die mens nie so ’n komplekse en interessante wese wees nie.

Julle persverklaring verwys na al die verskillende rolle wat vroue in die samelewing moet vertolk. Maar jy’t nou self ook tereg gesê dis nie net vroue wat sukkel met al die baie rolle nie. Mans word pa’s en moet baie meer versorgend leer optree nadat hulle al die jare vertel is “seuntjies huil nie”. Wil jy dalk hierop uitbrei?

Ja, natuurlik is dit nie net vrouens wat rolle moet vertolk in die samelewing nie, of die nodigheid voel om dit te doen nie. Mans sukkel inderdaad ook en dra soms ’n groter gevoel van verantwoordelikheid omdat hulle al die jare as die broodwinner en patriarg bestempel is, en daai stigma sukkel om afgeskud te word. Maar toevallig was ons twee vrouens (ek en Cintaine Schutte) wat saam met Gideon Lombard die produksie Meerfout geskep het en dus het ons die nodigheid gevoel om op die vrou te fokus, aangesien ons self vroue is (wel, twee van ons, Gideon het die stuk geregisseer en ook saam geskryf). Ons wou uit ons eie oogpunt en ervaring praat oor hoe ons as vroue op hierdie ouderdom voel oor daardie rolle en hoe ons die druk van die samelewing hanteer of nie hanteer nie. Natuurlik sal dit interessant wees om vanuit ons as vroue se oogpunt of perspektief te kyk en daai rolle van die man in die samelewing te bestudeer. Miskien doen ons volgende jaar ’n opvolg van Meerfout met twee mans.

Watter produksies of ander items wil jy graag vanjaar by die Woordfees gaan kyk?

Oooooeee ... daar is ’n hele paar produksies wat ek graag wil gaan kyk. Die program is nogals vol interessante aanbiedings. Ek het nog nie ’n kans gehad om Wie’s bang vir Virginia Woolf? met Sandra Prinsloo te sien nie, so ek gaan dit beslis gaan kyk. Dan sien ek vreeslik uit na Na-Aap, die eenmanvertoning met De Klerk Oelofse, geregisseer deur Jaco Bouwer. Ek sal ook graag God van Klank wil sien, aangesien dit so goed gevaar het by Woordfees 2013. Dan sou ek, as ek julle was, beslis ons ander Polony-produksie, Waterpas, gaan kyk as julle lus is om lekker te lag. Daar is baie ander wat ek wil sien, maar ek gaan eers bietjie deur die boekie moet blaai so tussendeur die repetisies. Maar die fees beloof om wild en woes en wonderlik te wees! Ek sien daarna uit!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top